Ouerskap raak ál meer uitdagend. Die deursnee- werkende ma, het een Amerikaanse peiling in 2017 gewys, werk deesdae 98 uur per week. Dit sluit werk- en gesinsverantwoordelikhede in – die ekwivalent van meer as twee voltydse beroepe.

Dis g’n wonder nie dat ouers vandag op hul eie ouers steun om soms na die kinders om te sien, hulle by aktiwiteite af te laai, of hulle op te pas net om ’n aand vry te hê.

Maar soms word grootouers se goedheid misbruik – dikwels sonder dat ouers besef hulle verwag te veel van ouma en oupa.

Drie lesers deel hul stories.

‘My ma het haar voet neergesit’

Petronel*, ’n taalpraktisyn van Johannesburg, sê haar ma het ná die geboorte van hul eersteling gereeld en graag na die baba omgesien. “Sy het eintlik so gereeld aangebied om te help – minstens een aand ’n week – dat ek begin skuldig voel het. My pa het toe nog gewerk en moes baie weggaan vir sakereise, dié dat dit seker vir haar lekker was om nog ’n asem in die huis te hê. Ons dogtertjie het ook kort ná geboorte al begin deurslaap, so sy was ’n maklike baba.”

Hul tweede kind drie jaar later was die teenoorgestelde, en skielik het haar ma minder dikwels aangebied om na die kleinkinders om te sien. “Maar as ek en my man die aand wou uitgaan, het sy nog steeds uit haar eie voorgestel dat sy na die kinders sou kyk.”

En tóé, net ná haar pa se aftrede, het Petronel se ma begin weier. “Toe ek haar een keer vra of sy na die kinders sal kyk sodat ek en my man ’n naweek alleen kon weggaan [hul jongste was toe twee jaar oud], het sy net geweier. Toe kom dit uit die kleinkinders put haar vreeslik uit en dat sy ’n dag lank net stilsit om te herstel as hulle daar was. Sy was vies vir my en het gesê hulle kan voortaan nie meer as een aand op ’n keer kom oorslaap nie.

“Duidelik was sy al ’n ruk lank nie meer gelukkig om na die kinders om te sien nie, waarskynlik sedert my pa se aftrede, maar sy het niks gesê nie. Ek wens sy het iets gesê voor die gevoelens begin oorborrel het, want nou is dit maande later steeds ’n teer punt. Dit kon so maklik voorkom gewees het as sy net gepraat het. Die kinders kuier steeds gereeld by hul ouma en oupa, maar net wanneer ons almal saam daar is. Ek en my man, wie se ouers op die platteland woon, kry nou ’n oppasser as ons ’n aand moet uitgaan. Dis net vir my jammer dat dit in so ’n ongemaklike situasie ontaard het.”

Ouma en oupa help kind oppas: Jy verwag dalk te ve
FOTO Getty Images / Gallo Images

‘My broer-hulle verwag te veel van my ouers’

Marelise*, ’n handelsmerkbestuurder van Johannesburg, voel weer sy moet namens haar ouers intree omdat haar ouer broer en sy vrou aanhoudend verwag dat haar ouers na hul baba moet omsien.

“My ouers woon in Port Elizabeth en my broer-hulle in Pretoria. Toe hulle verlede jaar vir byna drie weke met vakansie was, het hulle eenvoudig aangeneem my ouers sal na die baba omsien – in Pretoria. Hulle het nooit amptelik gevra of dit my ouers sou pas nie.”

Hoewel haar ouers aanvanklik nie omgegee het nie, het dit gou verander toe haar ma besef hoeveel moeite en verantwoordelikheid dit is, sê Marelise. “My ouers ken nie die omgewing nie en moes hul eie lewens ontwrig om na die baba om te sien. My pa het deur ’n baie stresvolle tyd by die werk gegaan en my jonger suster het boonop nog by hulle in die huis gewoon. Dit was haar verjaardag in daardie tyd, én my ouers se huweliksherdenking.”

En toe, met Kerstyd, het haar broer en skoonsus weer van haar ma verwag om na die baba om te sien omdat hulle nie verlof kon kry vir die dae wat hul baba se dagsorg sou toemaak nie. “Dit was weer ’n probleem, want dit sou my suster se laaste week in die huis wees voor sy vir ’n jaar oorsee gaan en my ma wou natuurlik by haar wees. Sy moet mos my ma se eerste prioriteit wees, nie die kleinkind nie – al het sy die kleintjie natuurlik ook lief.”

Haar ma het egter niks gesê nie. “Sy sê altyd sy wil nie verhoudinge versuur nie. Dit is moeilik: Sê jy iets, dan is daar onaangenaamheid. Bly jy stil, duur die frustrasie voort. Ek het tog vir my broer genoem hy moet onthou dat dit moeilik is vir my ouers om net alles te los en te kom help. Dis ’n voorreg as grootouers ’n rol in kleinkinders se lewe speel, nie ’n reg nie. Dis beslis nie hul verantwoordelikheid om as kinderoppassers in te staan nie. My ouers moes reeds kinders grootmaak en is klaar met daardie fase van hul lewe.”

Ouma en oupa help kind oppas: Jy verwag dalk te ve
FOTO Getty Images / Gallo Images

‘Ek doen moeite om dit vir my ma maklik te maak’

Anél*, ’n ouditeur van Johannesburg, is drie jaar gelede geskei en het ’n vyfjarige seun. Sy pa woon in Australië en hul seun gaan kuier een maand per jaar daar. “Die res van die tyd is ek basies ’n enkelouer wat voltyds moet werk, so my ouers, veral my ma, help baie.

“My seun is bedags in ’n skooltjie, maar wanneer ek laat moet werk of vroeg kantoor toe moet gaan, kan ek altyd op my ma se knoppie druk om hom te gaan haal. Sy sê ook gereeld vir my sy wil ‘tog net hê’ ek moet ook ’n bietjie uitkom. Dan sal ek hom op ’n Vrydag- of Saterdagaand na hul huis toe neem om oor te slaap en by vriende gaan kuier.”

Anél se pa (67) werk deeltyds as lektor by ’n kollege, maar haar ma (66) was al die jare ’n tuisteskepper. “Sy is een van daardie vroue wat altyd ’n ma wou wees en ons is vier kinders. Ek dink sy mis dit tog om kinders in die huis te hê.

“Maar ek doen moeite om vir haar te wys hoe dankbaar ek vir haar hulp is. Hulle sukkel nie finansieel nie, maar het dit ook nie breed nie. Ek sal soms vir haar ’n massering bespreek of ander klein bederfies koop. Wanneer my seuntjie daar oorslaap, sal ek ook vooraf inkopies doen vir al die etes sodat hulle nie enigiets hoef te koop nie. Ek weet sy is lief vir hom, maar ek weet ook sy doen dit omdat sy my wil help, al sal sy dit nooit erken nie. Dit beteken vir my die wêreld om te weet hulle gee so baie vir my én my kind om.”

Ouma en oupa help kind oppas: Jy verwag dalk te ve
FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe lyk ’n gesonde balans?

Linda van Niekerk, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê die beste manier om misverstande uit te skakel, soos in Petronel se geval, is om net ná die geboorte van jou baba al ’n gesprek met jou ouers te hê oor hoe baie hulle betrokke wil en kan wees. Moedig jou ouers aan om deurentyd ook eerlik te wees oor waarvoor hulle kans sien, en respekteer hul besluit. Hoe vroeër julle die gesprek het, hoe beter.

Baie kinders neem eenvoudig aan hul ouers sal na die kleinkinders omsien, wat onregverdig is, sê sy. In sommige gevalle grens dit aan misbruik, soos wanneer ouers aand ná aand uitgaan en in die vroeë oggendure tuiskom terwyl ouma en oupa hul kind oppas. “Onthou, jou ouers het ook ’n sosiale lewe, werk dikwels self nog en het ook tyd nodig vir hul eie stokperdjies en belangstellings. As hulle bejaard is, het hulle dalk ook nie die finansiële vermoë om jou kinders rond te ry en etes te koop nie. Hoe ouer jy word, hoe minder energie het jy ook. Hoewel dit goed kan wees vir grootouers se geestesgesondheid om by hul kleinkinders betrokke te wees, is balans die wagwoord.”

Jenny da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê jy moet onthou jou ouers het hul beurt gehad. “Hulle het reeds kinders grootgemaak. Jou kinders is jou verantwoordelikheid alleen – dis ’n voorreg as jou ouers wel soms wil help, nie ’n reg nie. Sommige grootouers wil graag meer betrokke wees, terwyl ander weer voel hulle het nie die energie nie. Dis hul reg om daaroor te besluit.”

Jy kan ook nie verwag dat hulle dieselfde reëls as jy sal toepas wanneer hulle na jou kinders omsien nie, sê sy. “Dis ’n ouma en oupa se voorreg om hul kleinkinders soms te bederf as hulle daartoe in staat is. Jy kan nie verwag dat hulle surrogaat-ouers moet wees en dieselfde dissipline toepas nie.” Dís hoekom kommunikasie so belangrik is, beklemtoon die kenners, want as ouma graag elke dag die kinders ná skool wíl oplaai, kan sy natuurlik nie elke keer vir hulle roomys vir middagete gee nie. Die reëlings en voorwaardes van dié ooreenkoms gaan in elke familie verskil.

Ouma en oupa help kind oppas: Jy verwag dalk te ve
FOTO Getty Images / Gallo Images

Linda sê jy moet so eerlik moontlik wees oor wat jy van jou ouers nodig het, wat jy verwag wanneer hulle wel na die kinders omsien en watter reëls steeds gevolg moet word. “Jou ouers moet ook besef hulle het reeds die geleentheid gehad om hul eie kinders groot te maak en dis nie meer hul plek of verantwoordelikheid om in te meng of kommentaar te lewer oor die manier waarop jy jou kinders wil grootmaak nie.”

Kommunikeer dus deurentyd, want behoeftes verander ook oor tyd. Dalk was dit vir jou ouers lekker om jul baba op te pas, maar jou tweejarige put hulle uit. As daar probleme is, praat dit dadelik uit, sê Jenny. “Gebruik die ‘toebroodjie-tegniek’ sodat julle nie mekaar se gevoelens seermaak nie, want dis beslis ’n sensitiewe kwessie. Begin met iets positiefs (ma’s kan sê hoe baie hulle die grootouers se moeite waardeer; oumas kan sê hoe baie hulle dit geniet om die kleinkinders te sien), sê dan wat pla, en eindig weer op ’n positiewe noot. Só wys jy jou waardering vir die ander party en hulle sal dan meer ontvanklik wees om oor die probleem te gesels en ’n kompromie te bereik.”

Linda sê julle kan ook saam sit om oplossings te bedink, en dan die oplossing kies wat albei partye pas. “Indien iemand aandring op ’n oplossing wat nie vir albei werk nie, moet jy ferm wees en jou grense duidelik stel.” Uiteindelik wil almal tog die beste vir die (klein)kinders hê, en solank julle dít onthou, sal dit makliker wees om ’n reëling te tref waarmee almal tevrede is.

* Skuilname

Dis ’n voorreg as grootouers ’n rol speel, nie ’n reg nie Marelise*
Hulle is nie surrogaat-ouers wat dieselfde dissipline toepas nie Jenny da Silva, opvoedkundige sielkundige
Kontak Linda van Niekerk: 082 567 9156, lhvanniekerk@gmail.com Jenny da Silva: 082 777 4768, www.childpsych.co.za