Die Griekse wysgeer Sokrates het gesê dit is wys dat ’n man trou. “As jy ’n goeie vrou trou, sal jy gelukkig wees. Trou jy ’n slegte een, sal jy ’n filosoof word ...”

“’n Goeie wegspringplek is om régtig van mekaar te hou,” meen die akteur Tom Hanks, wat al 31 jaar met Rita Wilson getroud is. Hulle is glo nog net so verlief soos toe hulle op die ABC-sitkom Bosom Buddies ontmoet het.

Maar al hoe minder mense is gretig om ewige trou aan mekaar te sweer en al hoe meer mense skei. Inderdaad ’n donker prentjie wat voorgehou word deur Statistieke SA.

Tog is daar huweliksmaats wat glo hul lewe sou aansienlik valer sonder die huwelik gewees het ...

Dr. Marjo Terreblanche en haar man, Stefan de Villiers, van Stellenbosch:

Marjo en Stefan het ontmoet op ’n toeoog-afspraak ... en verskil soos dag en nag.

Sy hou onder meer van sosiale interaksie. Hy probeer dit vermy. Maar die huwelik blom steeds ná 22 jaar.

Marjo was 27 en Stefan 36 toe hulle ontmoet het en hulle meen dit is een van die redes hoekom dit werk. “Ons het toe al gereis, was gevestig in ons werk en het geweet wat ons soek,” sê sy.

Stefan maak geen geheim daarvan dat hy op haar bene verlief geraak het nie. “En ons het dadelik aanklank gevind.”

Sy sê hulle vind mekaar interessant en leer by mekaar. “Hy weet niks van die mediese wêreld nie, ek weet niks van ingenieurswese nie. Ons elkeen dink die ander een is baie slim. Met ons eerste reis na die bos – ek hou nie eens van kamp nie – het hy my van 43 nuwe voëlspesies geleer. Dit was wonderlik.”

Hulle praat oor boeke, kunsflieks, die kinders ... “Ons deel ’n kritiese analise van wêreldgebeure, voer oopkop gesprekke en raak saam meer liberaal en meer verdraagsaam oor kwessies,” sê Stefan.

Sy ondersteun van sý passies. “Onlangs het ek die sani2c-fietswedren, 265 km oor drie dae, saam met hom voltooi. Dit was baie erg, maar ook so bevredigend.” Reis, plaaslik en internasionaal, is nog ’n lekkerte.

“’n Mens moet mekaar intellektueel bly uitdaag. Stefan e-pos daagliks interessante artikels vir my.” Sy vertel hom hoe sy juweliersware maak en liga-gholf speel. Dit is nou as sy nie mense mooimaak by haar estetiese praktyk nie.

Elke middag wanneer hy by die huis aankom, kry sy nog fladderings op haar maag.

“Ons doen moeite met ons voorkoms. Hy sê elke dag: ‘Jy lyk mooi, my ding.’ Ek kan nie anders as om geliefd te voel nie.”Stefan is ’n metroman wat ook hou van masserings en pedikure. En ja, date-aande gebeur gereeld.

Sy wonder skielik of hul lewe nie cheesy, te perfek, klink nie. “Maar ek was baie hardkoppig en wou vir die régte man wag. Ek hét. Miskien was ons net gelukkig dat ons mekaar gevind het. Dit het my beïndruk dat hy nooit speletjies gespeel het nie. Hy was gereed om vir my te wag totdat ek gereed was.”

Hul kinders, Yanti (18) en Stefan (13), spot soms met hul ouers wat so liefiediefie is. Hul oudste seun, Houghie, is vyftien jaar gelede, op vyf, in ’n motorongeluk oorlede. “Dít het ons ook baie na aan mekaar gebring. Baie egpare word weggedryf deur tragedie. Ons het saam deur die rouproses gegaan, saans in mekaar se arms getreur.”

Hy is ’n goeie pa, moedig onafhanklikheid by die kinders aan, vertel sy. “Stefan veroordeel nooit die kinders nie en hulle voel gemaklik om hom enigiets te vertel. Hy glo wel hulle moet hul eie probleme uitsorteer en verantwoordelikheid aanvaar. Ons gesin gaan soms alleen in die bos vakansie hou, doodgelukkig. Elke ou doen sy eie ding.”

Stefan het op Wits studeer en sy ouers was liberaal. Hy verstaan nie altyd die meer tradisionele, familievaste Afrikanerhuis waaruit sy kom nie. Hul enigste konflik spruit uit verskillende opvattings oor geldsake. “Ek het meer bevoorreg grootgeword en meen jy moet in die oomblik leef, jouself geniet. Hy wil genoeg geld vir ons oudag spaar, wat wys is.” Maar hulle praat dinge uit. “En dit is goed dat die een meer spaarsamig is, terwyl ek dalk soms te impulsief is.”

Marjo se ouers is al 56 jaar getroud. Stefan se ma was tot met die dood van sy pa 25 jaar getroud. Rolmodelle soos dié help. “Ek leer Yanti die huwelik is ’n berekende risiko. Niemand is ooit alles vir mekaar nie. Dit help as jy jou aanstaande se familie ken. Voor die huwelik moet jy praat oor huweliksrolle, of jy kinders wil hê, daai dinge.”

Sy het vroeg in haar lewe besef net jý, nie jou lewensmaat nie, kan jou gelukkig maak. “En as jý gelukkig is, kan jy weer ’n goeie lewensmaat wees.”

Marjo Terreblanche en Stefan de Villiers

René en Willem de Waal van Durbanville:

Hy noem haar “Gorgeous”. Maar as René Willem die dag op die náám noem, weet hy hier kom probleme ...

Willem is ’n projek-konsultant by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), René ’n konsultant by menslike hulpbronne by ’n Kaapse maatskappy.

Hulle is in Oktober 2007 op Stellenbosch getroud en Willem sê dit was die lekkerste bruilof in sy lewe.

Op 56 is hy dertien jaar haar senior, maar die ouderdomsverskil pla hulle min. “René het ’n ou siel en ek is mos ’n bietjie laf.” Dis haar tweede huwelik en hulle het mekaar in 2000 op Richardsbaai by die werk ontmoet.

“Willem laat my spesiaal voel. Ons het drie jaar voor die troue saam huis gekoop. ’n Reuse-commitment. Dit het reg gevoel. Hy doen klein goedjies wat wys hy gee om, soos om ná ete te help afdek en skottelgoed was, hy tap my badwater in, maak my toe onder die duvet, laat my veilig voel.”

René, ’n introvert, het meer selfvertroue gekry sedert sy Willem ken. “Ek bewonder sy natuurlike gawe om vriende te maak. Hy neem homself nie te ernstig op nie.”

En hy weer: “Sy trek die handrem op as ek simpel raak en ek laat haar bedaar as sy stres.”

Omdat hulle kinderloos is, het hulle hope vryheid en weinig roetine. “Sommige aande ná werk skink ek ’n glas wyn, ons kyk eers rustig televisie – en besef eers teen negeuur dit is tyd vir ete, maar is dan doodgelukkig met kaas, beskuitjies en olywe.”

René was nog nooit broeis nie en Willem het gemeen as hulle wel kinders kry, sou hy al bejaard wees as hulle in die hoërskool is. “Ek wou nie met pensioengeld tersiêre onderrig vir ons kinders betaal nie. Dit sou onregverdig teenoor die gesin wees.” Tog dink René hy sou ’n baie goeie pa gewees het omdat hy ’n slag met kinders het. Maar hulle geniet hul pelle se kinders.

Saam hou hulle daarvan om vriende te onthaal, die Krugerwildtuin te besoek, voëls te kyk, die Parkrun vroeg-vroeg op Saterdae te doen ... “Ons verhouding het begin as goeie vriende en dit is steeds so,” sê Willem. René se natuurlike skoonheid, atletiese lyf en gemaklike persoonlikheid het uiteraard dié eens baie gelukkige vrygesel uitgeknikker. Dit is hoekom hy op 44 besluit het om sy vryheid prys te gee. “Sy het ook groot empatie met die underdog en ’n vlymskerp aanvoeling vir woordspelings, wat sorg vir ure se pret.”

Daar’s min konflik. “Ons het albei ’n sterk persoonlikheid, maar as daar fout is, praat ons dinge uit. Willem raak ’n bietjie doof en kla ek praat soms te sag. Dit frustreer hom. Miskien is ’n gehoorapparaat die oplossing. Ons het so twee keer per jaar ’n behoorlike woordewisseling.”

Humor help om dinge uit te sorteer, meen Willem. “Sy kry gewoonlik haar sin.” René lag net. Maar albei gee toe dit gaan oor gee en neem. “Dit irriteer my as sy alles wil regpak.” Sy hou weer nie daarvan dat hy so opgaar nie.

Steeds kies hulle die huwelik. Want die lekker is baie lekker. En jy is daar vir mekaar deur die swaar tye.

Jy kry ook ’n kitsfamilie by. “My pa dink aan René as sy eie dogter en my ma dink sy loop op water,” spot Willem. Willem se skoonpa is oorlede, maar hy en sy skoonma het ’n hegte band.

René sê hul suksesresep is: “Wees jouself; moenie jou identiteit opoffer nie.”

Willem en René de Waal

Louwina en Johan de Villiers:

Hulle is 49 jaar getroud en steeds verlief.

Louwina is die bestuurder van die Libertaskoor op Stellenbosch, Johan die dirigent. Hy is ook buitengewone professor in wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch en senior navorser by die Afrika-Instituut vir Wiskundige Wetenskappe op Muizenberg.

Hulle het as Maties op ’n dans by die Wilgenhof-manskoshuis ontmoet. “Ons het skaars twee tree gedans, toe vra hy my na ’n simfonieorkes-uitvoering. Dit was nie eintlik iets wat ek normaalweg op ’n Saterdagaand sou bywoon nie ...” Maar “dié vreemde, vasberade ou” het haar daarna pal uitgevra.

“Hy was ’n ongelooflike gentleman, werk sag met ons kinders en respekteer almal. Hy praat altyd mooi van sy familie. Dit maak my week as hy saam met ons kleinkinders klavier speel of agter hulle aanhardloop. Of as hy sy gholf-kepsie opsit, gelukkig soos ’n seun. Hy is romanties en vir my baie mooi.”

Hulle het die afgelope 30 jaar gesamentlik gebou aan die eerste multi-kulturele koor in Suid-Afrika. “Koorlede is spesiale, sielvolle mense, wat ons omarm met liefde en bydra tot ons gedeelde geluk.”

Johan en Louwina is op 21 Desember 1970 getroud, toe sy 21 en hy 24 was. Kort daarna het hulle per skip na Engeland gevaar, waar hy sy doktorsgraad in wiskunde aan Cambridge behaal het. Vandag is hulle die trotse oupa en ouma van sewe kleinkinders en drie volwasse kinders, die lig in hul lewe.

Johan en Louwina de Villiers

Natuurlik irriteer Johan haar soms. “Hy verloor bykans daagliks sy iPad, sleutels, selfoon of bril. Maar dit is nie meer ’n krisis nie,” lag sy. Hy is oormatig energiek, wat nogal uitputtend is. “Soms speel hy met 23 mense oor die wêreld heen skaak op sy selfoon. Dit bliep aanmekaar. Die kleinkinders het hom darem nou geleer hoe om dit sag te stel. Hy skryf sy derde wiskundehandboek. Maar hy is verdraagsaam en sien vir als kans.”

As daar ’n woordewisseling was, herstel die passie agterna altyd die ekwilibrium. Die raakpunte in die verhouding is gedeelde belangstellings – boeke, musiek, vertonings, kunsflieks, uiteet, kuier met vriende. “En hy laat my lag. Dít maak hom báie sexy.”

Johan het nét oë vir haar, streel haar hare soms as hulle langs mekaar op die bank sit.

Hy sê: “Sy is die onselfsugtigste, lojaalste mens. Als wat sy doen, of dit vir my, ons kinders, kleinkinders of die Libertaskoor is, kom uit ’n plek van liefde. Nooit ooit dink sy eerste aan haarself nie. Sy wil altyd ánder ondersteun.”

Hy is dankbaar dat hy sy groot passie vir koorsang, danksy haar, kan uitlewe. “As dit nie vir haar was nie, sou ek dit nooit kon doen nie.” Jy kan boeke oor haar skryf, vertel Johan.

En dan: “Louwina is die mooiste, stylvolste mens. Sy is karaktervas. In haar geselskap besef jy jy is in die teenwoordigheid van iemand baie spesiaal.”