Megaster Beyoncé en voormalige Amerikaanse visepresident Joe Biden het hulself onlangs aan teenoorgestelde pole van ’n vurige debat oor persoonlike ruimte bevind – en dít terwyl die sosiale media die stuipe wou kry oor die vraag “hoe naby is te naby”.

Dit het alles gegaan oor die konsep van ’n “persoonlike bobbel” – oftewel jou beskermende ruimte, byna soos ’n tweede vel – teen die agtergrond van die #MeToo-beweging. Twee onverwante voorvalle het dié onwaarskynlike duo die onderwerp van praatjies by die teetrollie gemaak. Beyoncé is by die NAACP Image-toekennings as “kunstenaar van die jaar” bekroon, maar ’n skynbaar misplaaste soen het haar bewonderaars behoorlik die josie in gehad: Die akteur Omari Hardwick het Beyoncé twee keer op die wang gesoen, die tweede keer gevaarlik naby aan haar mond, met haar man, Jay-Z, wat toekyk. Sy het niks gesê nie, maar die kamera het haar ongemak opgetel.

Biden, die voorloper in die wedloop om in 2020 die Demokrate se presidentskandidaat te wees, was weer in die pekel omdat hy in 2014 die agterkop van politikus Lucy Flores gesoen het. Terwyl Biden beskuldigings verwerp dat hy onvanpas opgetree het, het verskeie foto’s opgeduik waar hy met vroue touchy-feely raak. “Ek voel daar is op my persoonlike ruimte inbreuk gemaak, al word dit afgemaak as ‘dis maar hoe Biden is’ ... boys will be boys, niks om oor opgewonde te raak nie,” kla Flores.

Volgens ’n ander vrou, Amy Lappos, het Biden in 2009 by ’n geldinsameling sy neus teen hare gevryf. Die 22-jarige Caitlyn Caruso beweer weer hy het drie jaar gelede sy hand op haar been gesit, al het sy van die ongemak in haar stoel gewriemel. Biden het intussen in ’n video op Twitter onderneem om voortaan ander se persoonlike ruimte te respekteer.

Politiek het vir hom nog altyd om persoonlike verhoudings gewentel, maar hy aanvaar dis sy verantwoordelikheid om mense nie ongemaklik te laat voel nie. “Ek het dit [die politiek] nog altyd gesien as ’n manier om bande te smee, hand te skud, jou hande op iemand se skouers te sit, ’n drukkie van bemoediging te gee.” Of, lui ’n ander twiet van hom: “Sosiale norme begin verander, die grensmure van persoonlike ruimte verskuif en ek verstaan dit, ek hoor wat vroue sê.”

Let wel, nie een van die vroue beweer hy het onvanpaste seksuele toenadering gesoek nie – hulle voel eerder sy spontane fisieke kontak het hul persoonlike ruimte betree.

Nou ja, daar ís touchy-feely mans, soos daardie kollega wat jy lanklaas gesien het en wat jou dan liggies op die wang soen. Julle lees mekaar se liggaamstaal en weet albei dis in die haak. Daar is ook daardie skoonfamilielid wat tydens ’n vriendelike omhelsing sy hand doelbewus op ’n plek te hoog of laag sit. Oeps! Nie almal weet waar om die streep te trek, of steur hulle daaraan nie.

Noem dit die elfde gebod: Jy mag nie jou buurman se persoonlike ruimte betree nie. In die dae toe ons waarskynlik nog in grotte gewoon het, lank voor die #MeToo-beweging teen manlike predatore en lank voor vroue die werkplek betree het, het ons reeds ’n persoonlike ruimte gehad. Daardie buffersone wat vreemdelinge (en soms vriende en geliefdes) nie durf binnedring nie.

Volgens ’n studie in die joernaal Nature is die amigdala die deel van die brein wat hierdie buffersone bepaal. Die amigdala, daar waar jou vreesrespons ook gesetel is, word geaktiveer wanneer iemand inbreuk maak op jou persoonlike ruimte, sê een van die navorsers aan die webtuiste livescience.com. Daarom het jy waarskynlik so ’n sterk emosionele respons as iemand te na aan jou kom. “Ons kon dit bevestig danksy ’n unieke pasiënt met letsels op hierdie deel van die brein: Sy voel heeltemal gemaklik, maak nie saak hoe na jy aan haar kom nie, en het skynbaar ook geen persoonlike ruimte nie.” Die abnormale ontwikkeling van die amigdala kan moontlik ook verklaar waarom mense op die outistiese spektrum sukkel om sosiale ruimte te verstaan en geneig is om te na aan ander te staan.

Jy “vergroot” jou persoonlike ruimte wanneer jy aan aggressie blootgestel word, toon ’n ander studie in die joernaal Plos One. “Die brein skep ’n baie buigsame buffersone om die liggaam wat, heeltemal onbewustelik, wissel in grootte na gelang van die konteks,” verduidelik Michael Graziano, neurowetenskaplike en skrywer van The Spaces Between Us: A Story of Neuroscience, Evolution, and Human Nature (2017), aan National Geographic. Jou definisie van persoonlike ruimte verander dus gedurig: Iets wat jou kriewelrig of bedreig in die teenwoordigheid van ’n vreemdeling laat voel, sal jou moontlik glad nie pla as dit ’n vriend of intieme maat is nie.

“Die afstand wat jy tussen jouself en ander plaas, is ’n fyn uitgewerkte dans,” volgens Graziano. “Ons is gedurig besig om ons eie ruimte te beskerm en ander s’n te navigeer.” Hy gebruik die beeld van ’n heuningkoek om almal se aangrensende ruimtes voor te stel. “Dit is die ‘steierwerk’ wat ons sosiale wêreld vorm en wat gereeld oortree word as ’n manier van sosiale kontak én van boeliegedrag. Dit gebeur gewoonlik nie op ’n berekende manier nie ... die reëls is diep onder die oppervlak van ons bewussyn verberg en slegs ekstreme voorbeelde trek bewustelik aandag.”

Pres. Donald Trump se kenmerkende handdruk is ’n goeie voorbeeld. By die Verenigde Nasies se samesprekings in 2017 het hy pres. Emmanuel Macron van Frankryk se hand gegryp en, só het dit gelyk, hom aggressief nader getrek. Sedertdien doen hy dit gereeld: betree ander se persoonlike ruimte of trek hulle na hom toe. Maar dan weer het mense in posisies met sosiale status of gesag ’n veel kleiner persoonlike ruimte, veral teenoor mekaar. ’n Groot man met baie selfvertroue wat pas deur bewonderaars gevlei is (soos Trump) se ruimte die kleinste. Daarteenoor toon studies veral vroue het ’n baie groot persoonlike ruimte wanneer hulle deur mans genader word, skryf Graziano.

Maar wanneer is naby te naby? Die Amerikaanse sielkundige Edward Hall se boek The Hidden Dimension (1966) word as die bakenwerk oor persoonlike ruimte beskou. Hall verdeel dit in vier sones: intieme afstand (so naby dat jou oë nie behoorlik kan fokus nie); persoonlike afstand (sowat ’n meter en tipies van ’n vriendelike gesprek by ’n skemerkelkpartytjie); sosiale afstand (net verder as ’n arm en toepaslik vir ’n sakegesprek of terloopse kennis); en openbare afstand (nóg groter).

Daar is egter nie ’n universele drempel vir ongemak nie. Wat vir een mens ’n gemaklike afstand is, is vir iemand anders heeltemal te naby. Dit hang af van jou persoonlikheid, sosiale angs en hoe jy oor die mens oorkant jou voel. Kulturele verskille kan ’n tameletjie wees. As jy in ’n kultuur grootword waar families mekaar se intieme nabyheid koester, of waar vreemdelinge toegelaat word om jou aan te raak, sal jy gemaklik en veilig voel al is jou persoonlike bobbel klein. As jy egter jou individuele ruimte koester, kan jy veel gouer ongemaklik en selfs onveilig voel.

foto
FOTO Unsplash / Viktor Forgacs

In Londense moltreine bewaak die Britte hul persoonlike ruimte met oorfone, uitgespreide koerante, ineengedoke liggaamstaal en grimmige gesigsuitdrukkings. In Indië, weer, word treine en busse sonder om twee keer te dink volgepak. ’n Studie in die Journal of Cross-Cultural Psychology waaraan sowat 9 000 mense van 42 lande deelgeneem het, het verskillende kulture se benadering tot persoonlike ruimte ondersoek. Een teorie wat hulle wou toets (en wat in ’n mate korrek bevind is), is of klimaat ’n uitwerking op mense se persepsie van persoonlike ruimte het.

Hall verdeel nasies in “kontak”-kulture (Suid-Europa, Latyns-Amerika en Arabië) en “niekontak”-kulture (Noord-Europa, Noord-Amerika en dele van Asië). Argentinië is die mees touchy-feely nasie waar mense dieselfde afstand van ’n vreemdeling staan as wat ’n Brit ’n kennis sal toelaat of ’n Kanadees ’n nabye vriend.

Maar ouderdom en geslag speel ook ’n rol dwarsoor kulture. Vroue plaas oor die algemeen ’n groter afstand tussen hulle en ’n vreemdeling. Ouer mense in warm klimate staan verder van nabye vriende en nader aan vreemdelinge. Volgens The Washington Post (washingtonpost.com) hou vroue in kulture soos Saoedi-Arabië hul afstand nie net van vreemdelinge nie, maar ook nabye vriende, dalk omdat hulle meer sensitief vir sosiale norme is, terwyl mans in macho kulture nader staan, waarskynlik as ’n onbewustelike manier om hul dominansie te laat geld. (Sien ook die kassie hiernaas.) Met ons verskeidenheid kulture behoort ’n studie oor hoe Suid-Afrikaners persoonlike ruimte sien baie interessant te wees, maar ons kon nie ons hand op sulke navorsing lê nie.

Geslag ís belangrik, skryf Graziano, en ook relevant in die era van #MeToo. Dit is ’n ou seksistiese laai, die uitbuiting van persoonlike ruimte om te boelie. “Dit is ’n man wat ’n vrou se persoonlike ruimte betree of vatterig raak, voorgee hy besit dié ruimte, dominansie afdwing.” Soos wat die sosiale media persoonlike ruimte minder belangrik in menslike interaksies maak, kan dit vroue minstens meer kans gee om gehoor te word. En, wonder hy, sou #MeToo en #TimesUp andersins kon gebeur het?

Uiteindelik kom persoonlike ruimte op een ding neer: basiese respek vir ander en hul kultuur. En, tensy jy ’n sertifikaat het wat sê jy is minstens 10% Innuïet, moenie sommer jou neus teen iemand s’n vryf nie!

Bykomende bronne: bustle.com, time.com, Netwerk24