Jy wil so graag weer as gesin – met jou twee kinders én ’n man – saans om die

etenstafel oor die dag se dinge praat. Saans as jy bed toe gaan, mis jy iemand se aanraking, die lepellê.

Jy hét dit mos eens geken, voor jou egskeiding, in die goeie dae vóór al die seerkry!

Isabel Deist, ’n 30-plus fisioterapeut van Pretoria, kan hiervan getuig. Ná ’n huwelik van tien jaar is sy en haar man, ’n professionele persoon, in 2008 geskei weens huweliksontrou.

“My hele lewe het in ’n oogwink aan skerwe gespat. Ons twee kinders, Christiaan (nou 11) en Mia (nou 7), was toe nog baie klein. Die veranderings in ons lewe was reusagtig. Ek het grootgeword in ’n hegte huisgesin met twee baie gelukkige ouers.”

Die eerste twee jaar was sy gestroop van ’n identiteit en moes sy haarself leer ken en opnuut ontdek waarvan sy hou, vertel sy. “Ek moes my rol vestig as enkelma en leer om met selfvertroue my plek as gesinshoof in te neem.”

Hoewel sy gedink het sy sou nooit weer aan romanse dínk nie, het sy ná twee jaar begin date.

“Wat ’n ervaring om in dié stadium van jou lewe weer iemand te leer ken.” Sy het ’n paar reëls vir haarself neergelê.“Ek het my kinders deel gemaak van elke afspraak deur hulle te vertel met wie ek uitgaan, hoe ek die ou ontmoet het. Ek sou hulle ook nooit na iemand nooi of ’n man huis toe nooi nie. Dít beperk die tyd wat jy kan uitgaan, maar beskerm jou kinders en skep by hulle ’n gevoel van veiligheid. Nou is hulle net so opgewonde soos ek oor elke afspraak. Ek glo ook dit leer hulle waardevolle lesse oor verhoudings.”

Marina Genis, ’n kliniese sielkundige van Fourways, Johannesburg, reken kinders is emosioneel kwesbaar ná ’n egskeiding. “Dit is belangrik om met hulle te praat voor jy begin date, soos Isabel. Maak ook seker hulle verstaan hoekom jy dit doen. Nie om hul pa te vervang nie, bloot om ’n vriend te hê om lekker dinge mee saam te doen,” sê sy.

Moet ook nie die kinders laat voel dat elke man met wie jy uitgaan ’n ernstige kêrel is nie, waarsku Susan Jordaan, ’n kliniese sielkundige van Pretoria. “As jou kinders heeltyd geheg raak aan verskillende spesiale vriende van jou, moet hulle elke keer ’n gevoel van seerkry en verlies hanteer as julle opbreek.”

Cornelia Swart, voorligtingsielkundige en Imago-terapeut met ’n praktyk in Lynnwood, Pretoria, en Sunninghill, Johannesburg, sê kinders kan selfs geheg raak aan ’n nuwe vriend wat nie so “ernstig” is nie, veral as so iemand hulle bederf en aandag gee. Jy moet dus steeds oordeelkundig wees met vriendskappe sodat hulle nie seerkry nie as jy die vriendskap (al was dit nie ernstig nie) sou beëindig.

Isabel meen jy kom sommer gou agter of iemand sal inpas by jou kind se lewe of nie. “Dít is die eienskappe waarna jy in ’n maat soek. Iemand wat nié kinders het nie, sal nie noodwendig verstaan dat kinders soms siek word net sodra al die planne vir ’n heerlike aand in werking tree nie.”

Volgens Isabel is een van die grootste probleme met “maat soek” dat baie mans nie “werk”deur die alleentyd ná ’n egskeiding om afsluiting te kry en “gesond” te word nie. Baie spring van een verhouding na die volgende en hoop om iemand te ontmoet wat hulle gesond of heel sal maak. (Cornelia sê vroue maak dikwels ook hierdie fout.) “Dit is slegs wanneer jy´ selfvertroue het dat ‘maat soek’ opwindend kan wees. Jou selfbeeld moet groter as die Statue of Liberty wees. Buiten al die veranderinge waardeur jou lyf gaan ná die geboorte van jou kinders, trek swaartekrag elke jaar swaarder en daar is plooitjies wat net nie meer met ’n skoonheidslaap uitgestryk word nie. En almal het bagasie! Jy moet net besluit waarvoor jy kans sien …” beduie Isabel.

Susan beaam dit. “’n Egskeiding lei dikwels tot ’n swak selfbeeld en selftwyfel. Maar al manier om terug te veg is om jou weer oop te stel vir nuwe ervarings. Dit beteken nie dat jy dadelik weer intens in ’n romantiese verhouding betrokke moet raak nie. Selfondersoek is noodsaaklik om insig te kry. Laat gaan jou bitterheid van die verlede. Woede is geen resep om weer liefde te vind nie, maar sal dit eerder verongeluk. Die tydperk van ‘rou’ of afsluiting kan enigiets van een tot drie jaar duur, maar verskil van individu.”

Marina reken jy kan net aanbeweeg as jy uitgepluis het wat fout gegaan het sodat jy dit in die toekoms kan vermy. “Raadpleeg ’n sielkundige om jou hiermee te help. En leer iemand eers as vriend ken en kyk hoe hy jou behandel vóór jy emosioneel betrokke raak,” is haar raad.

Die sleutel is eerlikheid, meen Isabel. “As iemand bereid is om my te leer ken, as vriend, sal hy my leefstyl aanvaar. Ek is die ma van jong kinders, wat baie van my tyd in beslag neem. Hy moet dit besef. My kinders is heeltyd by my. Die meeste mans sien hul kinders net elke tweede naweek.”

Wees oopkop as jy iemand ontmoet. Jy raak dalk meer puntenerig soos jy ouer raak. Maar dit is gevaarlik om met die eerste ontmoeting té veel aannames te maak, beduie Marina.

“As jy seker is oor watter eienskappe jy in ’n maat soek en dating as ’n avontuur beskou, kan dit baie vervullend wees,” sê sy.

Petronelle Marais (skuilnaam) van Kaapstad erken ruiterlik haar hart was nog heeltemal te seer met haar eerste afspraak. “Hy het my dadelik bed toe geneem, en ek het dit as liefde interpreteer. Ek het gehoop op romanse. Dit was nie. Dit was ’n harde les. Ek fokus nou eerstens op vriendskap. As dit in ’n romantiese verhouding ontwikkel, is dit ’n bonus.”

Cornelia voeg by: “Of jy geskei is of nie – ’n goeie verhouding begin altyd met ’n goeie vriendskap. Die romanse volg van nature wanneer jy jouself geniet en kan ontspan. Daar is geen plaasvervanger vir iemand werklik leer ken as vriend voor jy in ’n verhouding betrokke raak nie. Sommige mense wil slegs seksueel betrokke wees om onmiddellike behoeftes te vervul – en ná ’n ruk gaan dit nie meer die dryfveer wees nie. Soos die gesegde lui: The best way to get over somebody is not to get under someone else!”

Cornelia reken mense date ná ’n egskeiding om verskeie redes. Vra jouself af hoekom jy in ’n nuwe verhouding wil wees. Van die redes kan wees:

  • Geselskap en kameraadskap. Jy wil bloot jou eensaamheid en isolasie verlig. (Jy moet ’n vol lewe hê en nie verwag dat ’n man jou gaan red van jou isolasie of eensaamheid nie.)
  • Sekuriteit of bloot vir die gerief van’n huis en huislike omgewing.
  • Om vir jou kinders ’n nuwe ouer tekan gee. (Wil hulle een hê?)
  • Finansiële redes (veral as jy ’n vrou is).
  • Die gerief van ’n goeie huishouding (veral as jy ’n man is).
  • Om jou verantwoordelikhede te deel. Of jy hoop selfs jou nuwe maat neem dit oor.
  • Met die hoop op ’n beter verhouding of net om te bewys dat jy wel ’n suksesvolle verhouding kan hê.
  • Vir ’n seksuele verhouding. Sy stel voor jy dink mooi oor jou rede en of dit dui op die behoefte aan ’n tydelike of permanente verhouding. Baie tweede huwelike is onsuksesvol – dit is dus belangrik om kieskeurig te wees en seker te maak jy date om die regte redes as jy werklik ernstig is oor die keuse van ’n lewensmaat. “Ek beveel voorhuwelikse berading sterk aan. Ek sou selfs sê dis 'n vereiste as kinders betrokke is."

VIR HULP

  • Cornelia Swart: 083 625 5686 | cswart4therapy@gmail.com en www.premaritalcounselling.co.za
  • Marina Genis: www.mgpsychologist.co.za
  • Susan Jordaan: 012 322 8318

* Dié artikel het in die Maart 2014-uitgawe van SARIE verskyn en is deur Marguerite van Wyk en Suzette Truter geskryf.