Wie is Narcissus? Narcissus is ’n aantreklike jagter en breek talle vroue se hart. Eggo, weer, ’n pragtige bosnimf wat deur die godin Juno gestraf word omdat sy te veel praat. Sy kan nie meer sê wat sy wil nie, maar net ander se laaste woorde herhaal. Eggo raak dolverlief op Narcissus en smag na sy aandag. Die verwaande vent sien haar nie eens raak nie. Eendag dwaal hy af van sy jagter-vriende en roep: “Is enigeen daar?” Eggo kan net maar sy woorde herhaal. Hy skrik en beveel: “Kom hier!” Vol vreugde storm sy op hom af, maar hy is nie lus vir haar attensies nie. “Ek sterf eerder voor jy aan my vat!” Sý wil sterf van vernedering, maar is sy genees van hom? Nee, haar liefde groei net. Om hom vir sy arrogansie te straf plaas Nemesis, die godin van wraak, ’n vloek op hom. Hy raak verlief op sy eie beeld in ’n poel water en glo hy het uiteindelik iemand ontmoet wat sy liefde waardig is. Al waaraan hy kan dink, is sy mooi gesig. Hy besef nie dis eintlik hyself nie. Eggo, op haar beurt, raak ál meer obsessief en depressief. Sy kwyn mettertyd weg en net haar stem bly oor. Hý val uiteindelik in die water, agter sy eie beeld aan, en verdrink.

Die pynlike dans tussen die narsis en ko-afhanklike word deur dié tragedie in die Griekse mitologie geïllustreer. Die ko-afhanklike, wat sy/haar eie behoeftes opsy stoot vir ander s’n. Die narsis, weer, met ’n selfliefde só groot, dis dikwels sy/haar ondergang.

Elkeen wat vir ’n narsis val, is nou nie soos Eggo nie. Die narsis is immers bekend vir sy ongelooflike sjarme, leuens en beloftes en draai jou maklik om sy pinkie, sê Jorgan Harris, kliniese sielkundige met praktyke in Johannesburg en Kaapstad. Maar dié wat ooreenkomste met Eggo toon, is die stereotipiese ko-afhanklike wat haar haas om net mooi al haar geliefde se behoeftes te bevredig – ten koste van haar eie. Beland sy in ’n verhouding met ’n narsis, begin die drama. Want die narsis plaas homself eerste. En sy ko-afhanklike maat plaas hom óók eerste. Albei glo hy is wonderlik en dat sy maat dus al die opofferings moet maak.

Net eers: Ons moet versigtig wees om almal wat vol van hulself of egoïsties is, met narsistiese persoonlikheid-steuring te diagnoseer, volgens Tjaart van der Walt, kliniese sielkundige met praktyke op George en Mosselbaai in die Suid-Kaap. Ons praat hier van iemand wat narsistiese trekke het, maar nie noodwendig aan ’n persoonlikheidsteuring ly nie. “In my praktyk sien ek dikwels mense wat ko-afhanklik is, spesifiek dié wat (1) die rol van helper/redder en (2) die rol van die slagoffer speel. Een van die algemeenste tipe verhoudings waarin hulle betrokke raak, is met mense wat meer narsisties van geaardheid is. In die begin kan albei partye se behoeftes bevredig word.”

Hulle verhouding werk dus . . . aanvanklik. Die een is op die “verhoog”, die ander klap aaneen hande. Die een wil nodig voel, die ander belangrik. Ons ken almal die gesegde: Verhoudings gaan oor gee en neem. Nou ja, sê Jorgan, “die ko-afhanklike gee, die narsis neem”. ’n Ko-afhanklike (selfopofferend en dienend) weet nie hoe om romantiese verhoudings te vermy met narsiste (selfsugtig en self-gesentreerd) nie. Sy bevind haarself dus gereeld op die “dansvloer” met ’n maat wat ’n perfekte teenpool is vir haar passiewe, onderdanige en instemmende dansstyl, borduur die webblad psychcentral.com verder. Die narsis soek weer iemand wat hom die dans laat lei en hom gewaardeerd, sterk en bekwaam laat voel.

Narsis
FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die ko-afhanklike het eintlik óók onbewustelik ’n narsistiese streep, sê Tjaart: “Sy glo sy kan die narsis verander en help om ’n beter mens te wees, en niemand anders kan dit so goed soos sy doen nie. Daar is ook ’n aspek van afhanklikheid wat haar swak en weerloos laat voel en sy smag na ’n sterk vennoot wat verantwoordelikheid kan aanvaar en haar kan beskerm en gevaar afweer. Ontkenning is daar ook, want vriende of familie se waarskuwings word geïgnoreer. Sy bly vas glo sy kan met aandag, liefde en goeie dade die verhouding laat werk.”

Is dit meestal vroue wat dié rol vertolk omdat ons as die versorger gesosialiseer word? “Hoewel ek meer dikwels vroue in my praktyk sien wat die afhanklike rol inneem, glo ek meer mans as wat ons dalk dink, word in dié soort verhoudings vasgevang. Die meeste verhoudings waar die man verbaal afgekraak word, bevat ko-afhanklike/narsistiese aspekte,” volgens Tjaart.

Mense wat in hul kleintyd konflik tussen hul ouers moes aanskou, is meer geneig om ko-afhanklike volwassenes te word, volgens ’n studie in The American Journal of Family Therapy. Tjaart reken die ko-afhanklike én narsis het ongunstige ervarings in hul kinderjare gehad, maar op verskillende maniere daarby aangepas. “Dis my mening dat albei afgeskeep of verwerp is, hoewel dit soms baie subtiel was. Voorbeelde daarvan is: as jy die swartskaap was; lang tye alleen gelaat is; fisiek of emosioneel mishandel is of geen struktuur gehad het nie. Na gelang van watter soort gedrag meestal ‘beloon’ is. (Dit kan positiewe of negatiewe ‘beloning’ wees, want dit gaan oor aandag; negatiewe beloning kan dus raas of slae wees.) Hiervolgens word een van drie moontlike patrone vasgelê: (1) aggressiewe/misbruiker-/woede-tipe, (2) depressiewe/hartseer/slagoffer-tipe, (3) helper-/redder-/ontkenning-tipe. In Engels die bully, crybaby of pleaser. As jy in ’n huis grootword waar een of albei ouers verslawingsprobleme het, soos alkoholisme, sal jy in ’n mindere of meerdere mate in een van dié patrone pas.”

Nietemin, die dans tussen die narsis en ko-afhanklike knetter aanvanklik van opwinding. Dis perfek gekoördineerd, nie een trap op die ander se tone nie. Maar dan ontaard die opwindende romanse in drama, konflik en gevoelens van afgeskeep en vasgevang voel. Tog verlaat nie een die dansvloer nie, ten spyte van die onstuimige en met konflik belaaide aard van die verhouding. (Dit gesê, die narsis is ’n reeksverneuker en beland saam met almal in die bed wat hom bewonder, sê Jorgan.)

Hoewel albei se behoeftes dus aanvanklik bevredig word, begin die ko-afhanklike ál meer opgekropte frustrasie en selfs woede ervaar omdat haar goeie bedoelinge nooit na waarde geskat word nie. In die narsis se oë is niks boonop ooit goed genoeg nie, maak nie saak hoe hard sy maat probeer nie. Sy voel seergemaak . . . en probeer nóg harder, nes Eggo, volgens Jorgan.

Narsis
FOTO Getty Images/ Gallo Images

Hy onderskei die volgende fases:

1. Die romantiese fase.

2. Jy word met romantiese dade en woorde ingekatrol.

3. Dan bou spanning op en kommunikasie is daarmee heen.

4. Misbruik en mishandeling vind plaas.

5. Versoening volg en die narsis vra verskoning, belowe hy sal verander, blameer sy maat en sê dit was nie so erg nie.

6. Kalmte heers, romanse bloei, die voorval vergete.

7. Die siklus begin van voor af.

Die oomblik wat jy die ekwilibrium versteur en probeer uitbreek, probeer die narsis jou weer inkatrol, sê Tjaart. Hy kan huil, pleit, smeek, selfs op sy knieë gaan. “Die narsis het self ’n sterk, onderliggende afhanklikheid. Hy sal alles doen om die verhouding in stand te hou en beloftes maak dat dinge voortaan anders gaan wees. Dit speel natuurlik perfek in die ko-afhanklike se geaardheid om te wil help en dinge beter te maak. Sy val terug in die ou patroon, terwyl sy dieper ingesuig word as tevore. Dit versterk die ko-afhanklikheid nog verder.” In sy pogings om haar nie te verloor nie, isoleer die narsis haar mettertyd. Van vriende, familie, geld, hulpbronne. Haar selfbeeld gaan ten gronde en sy het nie die selfvertroue om weg te breek nie, volgens Jorgan.

Inderdaad, sê Tjaart. “Geleenthede vir samesyn met ouers, vriende, kollegas, broers en susters word dikwels op ’n subtiele manier gesaboteer. Hulle voel later onwelkom en dikwels moet die ko-afhanklike uiteindelik ’n keuse maak tussen die narsis en mense wat haar ondersteun. Hoe meer geïsoleerd sy raak, hoe kleiner word die kans om weg te breek. Om uit te praat word as verraad beskou en haar skuldgevoelens ’n magtige tronk. Die isolasie beteken niemand kan as klankbord optree nie.

Realiteit en logika kry dus nie kans om manipulasie te onttroon nie.” Kry sy dit wel reg om weg te breek, kan sy dalk oorhaastig (as gevolg van haar afhanklikheid) in ’n soortgelyke verhouding beland, sê hy. ’n Opsie is om los te breek en minstens twee jaar lank nie ’n verhouding aan te knoop nie. En in jou persoonlike groei te belê, sterker te word, sodat jy nie weer dieselfde fout maak nie. Maar uiteindelik in ’n verhouding betrokke raak wat meer gebalanseerd en gesond is.

Nog ’n opsie: Omdat hy jou nie wil verloor nie, kan die narsis dalk instem tot terapie. Dit moet egter nie by dieselfde terapeut as joune wees nie. (Of hy daarby gaan baat vind, sal afhang of hy net narsistiese trekke het. En of dit ’n volskaalse narsistiese persoonlikheidsteuring is. In dié geval is daar nie salf aan hom te smeer nie. Hy dink dan in elk geval hy is volmaak en sal nie vir terapie gaan nie, volgens Jorgan.) As daar ’n groot verbetering is, kan julle selfs later saam terapie by ’n derde terapeut kry, met baie ervaring in huweliks- en gesinsterapie.

narsis
FOTO Getty Images/ Gallo Images

Tjaart sê: “’n Ko-afhanklike verhouding is baie soos die R&B- en pop-lirieke wat basies daarop neerkom: ‘sonder jou kan ek nie lewe nie’; ‘jy is my alles’; ‘sonder jou is ek niks’ of ‘jy is my ander helfte’. Dis eintlik ’n psigologies siek manier van kyk na die liefde en verhoudings. Dit behoort te wees: ‘Sonder jou gaan dit vir my swaar wees om die verlies te verwerk, maar ek gaan steeds lewe’.” Dus: Liewer volledig mens in ’n verhouding met ’n ander volledige mens, as ’n halwe een wat ’n ander helfte nodig het om “heel” te probeer wees.

Die ko-afhanklike gee, die narsis neem Jorgan Harris, kliniese sielkundige Meer mans as wat ons dalk dink, word in dié soort verhoudings vasgevang Tjaart van der Walt, kliniese sielkundige
Só lyk hy As jy die meeste van die volgende stellings herken, is jy dalk in ’n verhouding met ’n narsis: Jy word gebruik. Jy word misbruik (abuse). Alles gaan oor hom. Julle het geldelike probleme, maar hy sal vir hom daai Porsche gaan koop. Hy spog (en lieg baie oortuigend) oor prestasies of besittings wat hy nie het nie. Hy het geen empatie met jou en jou behoeftes nie. Hy is jaloers op jou. Jy word geblameer vir sy foute, als is jou skuld. Hy tree anders voor ander mense op as wanneer julle alleen is. Hy kan dalk in die wêreld van pornografie, affairs en prostitute leef. Bron: Jorgan Harris