Dit was ’n goeie dag. Jy’s klaar met die projek waarvoor jy ekstra tyd moes inruim (jou baas se versoek); die kos staan reg (jou man se gunsteling) en jy’t baie gholfdagkaartjies verkoop (die skool maak immers staat op jou). Net jou gesigsbehandeling het weer in die slag gebly.

Drie uit vier is nie sleg nie. Of is dit? As jy altyd laaste is op jou eie prioriteitslys, ís dit dalk.

Vroue word gesosialiseer om ander gelukkig te maak: man, kinders, gemeenskap, en ook baas, kollegas...

Natuurlik is dit bewonderenswaardig om ander se behoeftes eerste te stel, maar dit raak ’n probleem as jy dit heeltyd doen - ten koste van jouself. As jy jou energiereserwes só uitput dat jy nie vir jouself tyd het nie, trek jy ’n streep deur jouself. En dít het ’n impak op jou selfbeeld: Jy is minder belangrik.

Sê vir jouself: dis selfsorg, nie selfsug nie.

Baie vroue trap in 'n mindere of meerdere mate in dié slaggat. People pleasers (tevredestellers) het tipiese kenmerke:

Jou eiewaarde hang daarvan af of jy ander tevrede stel. Jy voel sleg oor jouself as jy dit nié doen nie. As jy dit regkry, voel jy goed oor jouself.

Jy doen iets omdat jy verplig voel, nie omdat jy graag wil nie. Jy dink dis verkeerd om nee te sê. Jy sê ja, al is jy onwillig en voel jy wrewelrig.

In gesprekke gee jy nie jou ware mening nie, al stem jy nie saam nie.

Jy bewaar die vrede en vermy konflik.

Jy voel skuldig as jy nie ander se behoeftes kan bevredig nie. As jy pal “selfopofferend” is, kan jy so oorlaai raak dat jy nie na jouself omsien nie. Jy betaal ’n prys: emosioneel en fisiek. Jy raak kortgebonde, wat jou verhoudings affekteer. Jou belange kom altyd laaste, en daar’s kwalik plek vir jóú (die eie ek). En dan tref dit jou op ’n dag: “Ek is ma, vrou, kollega, maar wie is ék nou eintlik?

Dalk herken jy van dié tekens in jouself en wil jy verander. Doen dit só:

* Vra jouself af: Wat kry ek hieruit? Hou ek mense só by my? Kry ek status by die kerk/werk/skool? Vervul dit my behoefte aan goedkeuring?

* Selfkennis is belangrik. Vra: Wat’s vir my belangrik? Wat’s my doelwitte? As jy bevorder wil word, maak dit sin om ja te sê by die werk en dan betaal jy graag die prys - vir jou langtermyn-doelwit. (Die probleem ontstaan as jy onwillig instem.)

* Erken jy gaan ongemaklik voel (bv. onseker of angstig) as jy die patroon verander en nee sê. Byt vas, al reageer mense negatief. Hou net vol.

* Onthou, al uitweg is om dinge anders te doen. ’n Gewoonte neem tyd om te vorm en dit neem tyd om af te leer.

* Elke keer as jy tou opgooi, gee jy vir jouself die boodskap: Ek is onbelangrik. Moenie.

* Skryf bevestigings in jou dagboek, teen jou spieël, tik dit in op jou selfoon en laat mense na aan jou jou daaraan herinner. (Dis dinge wat jy dikwels nog nie glo nie, maar graag wil glo.) Soos: As ek grense stel, toon ek selfrespek. Ek hoef nie skuldig of selfsugtig te voel nie. Dis selfsorg, nie selfsug nie.

* Merk in jou dagboek jou beskikbare ure. Hou jou doelwitte in gedagte. Sê ja omdat jy wíl. Hou jou nee kort, met min detail, verskonings of verduidelikings.

Hoekom almal altyd probeer tevrede stel?? Daar's verskillende oorsake:

* 'n Swak selfbeeld. Jy is nooit geleer om negatiewe reaksie op jou nee te hanteer nie.
* Druk om te produseer: Dit word beskou as dislojaal as jy nie oortyd werk nie.
* Jy kom uit 'n ouerhuis met baie klem op prestasie vir goedkeuring en aanvaarding/jy mag nie sê wat jy dink/voel/ervaar nie; waar ander gesinslede groter behoeftes gehad het (bv. 'n siek broer of suster); en in die ekstreme vorm: 'n Ouerhuis waar jy erg verwaarloos is en jou behoeftes onbelangrik was.

* Elmarié du Plessis is 'n kliniese sielkundige van Durbanville, Kaapstad, 021 975 7834.