Soms het sy net na hom gestaar. Só mooi met sy ronde wangetjies, omkrulwimpers. Lank, soos haar familie, met sy ouma se blou oë. Haar seuntjie met sy blonde krullebol was haar grootste geskenk nog.

Hoe gaan ek jou grootkry? het sy momenteel gewonder toe sy sy warm lyfie die eerste keer vashou. Hy was kléin, die enigste seuntjie maar ook die kleinste baba daardie week in die kraamsaal. Oorheersend egter was die emosie van onvoorwaardelike liefde. Die besef: Jou sal ek soos ’n tierwyfie beskerm.

Mart* was 35. Sy het ’n uitdagende werk gehad, gereis, haar eie huis besit. En ja, so half jaloers op haar vriendinne met babas. Sy wou ook babadoeke koop! Maar haar ridder op die wit perd het weggebly. Toe raak sy swanger.

“Ek het my simpel geskrik,” vertel die goedversorgde vrou met rooibruin hare wat ’n stralekrans om haar kop vorm. Soms gebruik sy ’n bandana om haar krulle in toom te hou, met die punte wat soos vlerkies bo-op haar kop sprei. “Mamma, jy’s snaaks,” sê haar seunskind dan. Haar vel is porseleinfyn, danksy haar Ierse ouma, haar neus besaai met sproetjies. Sy hou van mooi goed. Die 29 jaar wat sy in die polisiediens in Pretoria was, het sy altoos die hoë hakke uit die voorgeskrewe skoenreeks gekies.

“Ek het die man ses jaar lank geken, net ’n kennis. Ons het een keer saamgeslaap, toe ek emosioneel op ’n laagtepunt was, my skanse laat sak het. Ek was op pad Doebai toe om vyf jaar daar te gaan werk toe ek besef ek is swanger. Sy reaksie: Hy gaan nie met my trou nie, ek moet net weet. Nie dat die gedagte mý enigsins aangestaan het nie. Hy was reeds twee keer getroud, ’n rokjagter en ouer as ek. Binne ’n week wou hy my lewe oorneem. Presies weet hoeveel die storie hom gaan kos, als met die klap van vingers uitsorteer. Ek moes my huis verkoop en by sy kasarm intrek, het hy gebied.

Jaco en Mart

“Nè? Ek het in ’n park tussen ’n bos bome gaan sit en dinge deurdink. My hormone was deurmekaar, ek was so ongelooflik naar, maar het besef nou moet ek my kop gebruik. Hy was ’n narsis en het net belanggestel in hoe ek hom gelukkig gaan hou. Hallo? Rêrig? [Haar oë skiet vol trane.] Ek het besef hy gaan my identiteit steel, daar gaan niks van my oorbly nie. As ek blomme in ’n pot druk, kon hy dit beter doen. As ek rys kook, kon hy beter . . .

“Soveel mense om jou skei en dan is dit ’n toutrekkery oor die kinders. My ma en pa, ai, voor sy dood het hulle nog hande vasgehou. Hy was ’n konserwatiewe Afrikaanse man wat van soveel ander goed by dié halwe Engelse nooi geleer het. Sy het haar onafhanklikheid ná die huwelik behou, ’n kontras met hoe hy grootgeword het.

“As speurder het ek boonop gesien wat tussen ’n man en vrou kan gebeur. Die bloedskande in rykmansbuurte, mans wat pornografiese foto’s van hul vrou versprei. En hy dreig haar, vertel haar gereeld as sy uitstap, is dit met net die klere aan haar lyf. Ek het eenkeer gevra vir ’n oorplasing kinderbeskermingseenheid toe. Maar ná my onderhoud besef ek gaan dit nie maak nie. Jy durf nie emosioneel betrokke raak nie en dis kinders, ’n verkragtingslagoffer van dalk net twee. Ek sou daai man wou vermorsel.

“Só tiek jy dinge in jou kop af wat jy nie vir jouself wil hê nie. Ek het ’n prokureur gaan sien wat ’n ooreenkoms opgestel het soortgelyk aan dié vir ’n geskeide pa. Tye is gestipuleer wanneer hy die baba kon sien, soos deur die wet voorgeskryf word. Ek het hom ook vir onderhoud gedagvaar. Toe kry ek ’n brief van sy prokureur waarin ek ’n slegte vrou genoem word. Formeel geskryf, maar die implikasie was duidelik. [Sy kyk af, vee oor haar oë.] Omdat hy nie sy sin kon kry nie, is ek ’n slegte vrou. Dit het jare by my gespook.

“Dieselfde week besoek ek my ginekoloog, ’n eksentrieke Griek met ’n geel hemp, strikdas, kruisbande en Crocs, sodat hy vinnig by die teater kan uitkom. Hy wil weet: ‘Wat’s fout? Jou baba is onrustig en jy lyk nie goed nie.’ En toe ek hom vertel: ‘Listen, you don’t need this shit.’ Toe stuur ek daai man, my kind se pa, hel toe met ’n enkelkaartjie. ‘Ek wil jou nooit weer sien nie.’ Hy is glo intussen weer getroud.

“Ek het Jaco* gedoop, hom sy oorlede oupa se name gegee. Net so duskant sensuur omgedraai en die predikant het my goed bepreek. Ek wou hom laat doop terwyl die son sak by die gastehuis waar ons sy dooponthaal gehou het. Maar die predikant het gesê, basta, jy doop in die kerk. Ek was baie opstandig daaroor, dis ’n mensgemaakte reël. Nou ja, dit het baie guts gevat om alleen voor die preekstoel te staan, maar ek het dit gedoen. Met die geskinder om my en die tannies wat my beloer . . .

“My seun is nou 13 en word met liefde omring. My ma se woorde destyds toe sy hoor ek is swanger: ‘Ag, uiteindelik gaan ek ouma word!’ Sy het intussen by ons ingetrek, ’n toegewyde, kwaai ouma wat nie nonsens vat nie. My broer, Hans*, is ongetroud en woon naby ons. Ons is albei hardekoppe, iets is reg of weg. Jy moet eers ma word om die grys tussenin raak te sien. Ons lag baie, ek, Jaco, Ouma en Boetie.

“Jaco het laat begin praat. Tot ná sy derde verjaardag was dit ‘Mamma’, ‘Gogo’ en ‘Huh’, vir Hans. Ouma het tot op drie bedags na hom gekyk, daarna wou ek hom kleuterskool toe stuur. En my kind praat nie. Tussen Kersfees en Nuwejaar sê hy eensklaps: ‘Mamma, ek is dors.’ ’n Volle sin! Ek skreeu en gil, tel hom op en dans die gang af. ‘Mamma, hoekom dans jy?’ vra hy. ‘Want ek’s bly!’ ‘Hoekom is jy bly?’ Hans kom ingestap. ‘Mamma dans,’ sê Jaco. Hans: ‘Hy praat!’ En vat hom vir ’n roomys wat hy self moet bestel.

“Nou het ek my oog gehad op ’n kleuterskool met net twintig kinders. Van Jaco se geboorte af het ek die eienaar jaarliks gebel. ‘Nee, dis reg, bring hom.’ Toe ek hom gaan inskryf, wil sy weet wie betaal. ‘Wee’ jy wat, ek is alleen,’ sê ek. ‘Ek betaal.’ In daardie geval is daar nie plek vir hom nie, antwoord sy. En ek: ‘Ekskuus, ekskúús?’ Seker nie goed vir die omgewing en hul beeld nie. Indien sy bang was ek sou nie kon betaal nie: Ek kon dit dalk makliker bybring as baie jonggetroude paartjies. Ek het goeie bevordering in die polisie gekry, nie op een plek gesit nie, maar geswot . . . geklim.

“Ek ry huis toe en huil. Besef opnuut daar kleef maar ’n stigma aan ’n ongetroude ma. Wat doen ek nou? Ek stop by ’n kleuterskool waar ek gereeld verbyry. Hulle skryf my kind sonder vrae in (nadat hulle miljoene vrae moes beantwoord en ek die plek persoonlik inspekteer het).

“Jaco se pa het nooit met hom kontak probeer maak nie. Op tien vra hy die eerste keer hoekom hy nie ’n pa het nie. Die gedagte daaraan het my keel van sy geboorte af laat toetrek. ‘Wee’ jy wat, hy was nie goed vir Mamma nie en sou nie goed vir ons twee saam gewees het nie.’ Hy het sy koppie op sy kenmerkende manier na regs gekantel, my so gekyk. Na Ouma toe gehol en dieselfde vraag gevra. Ek het op die bed gesit, gevries. Ouma sê presies dieselfde ding. En daar hol hy uit en gaan klim boom saam met die bure se kinders. Hy’t nog nie weer gevra nie. Toe hy klein was, het ek ’n brief geskryf en in sy skatkisboksie gesit, waar ek al sy eerstes bêre: sy eerste lepeltjie, skoentjies . . . Ek sal hom dit gee as hy sestien is. Daarin vertel ek hom van sy pa. ‘As jy ooit wil weet, sal Mamma jou vertel wie hy is. Jy is baie spesiaal en die grootste geskenk in my lewe.’

“Hy’s so goed aangepas, baie van my hartsvriende is getroude pare wat hom baie aandag gee. Rustig, met ’n sterk wil, nes sy ma. Hy word omring deur grootmense en as ek hom vergelyk met kinders van sy ouderdom, die manier hoe hy praat, baie volwasse.

“So twee jaar gelede het ek uit die polisie bedank. Die stres was baie en my gesondheid het daaronder begin ly. Ek wou boonop my kind meer sien. Voor Jaco se geboorte het ek as stokperdjie bruide grimeer. Nou is ek voltyds ’n grimeer-kunstenaar en doen ook dekor. As jy moeg is vir jou plek, kan jy dit nuwe lewe gee met ’n bank wat jy hier skuif en ’n paar kussings daar. My besigheid, Personal Touch Make Up and Décor, is pas geregistreer. Ek het in die polisie op my voete leer dink en kan enigiets binne ’n japtrap reël, ek floreer onder druk.

“Ek het myself in ’n stadium as ’n slagoffer gesien, maar nie meer nie. Dinge het eers regtig met my goed begin gaan nadat ek die man vergewe het. Jaco was so tien, toe weet ek ek’s nie ’n slegte vrou nie. Daai woordjie, al het die prokureur dit nie presies so gestel nie, het bly pla. Totdat ek besef het ek moet dit vat van wie dit kom.

“Ek is terug na daai bos toe, dié keer was die takke kaal. Ek het besef dié pad moes ek stap sodat ek dieper aan goed kan dink. Ek moet die regte besluite vir my kind neem, want dis net ek en hy. As ek die man nie gepos het nie, sou ons beslis geskei het. Ek sou my huis verkoop en verloor het, maar dis materiële goed. Dit wat jy emosioneel verloor, hoe kry jy dit terug? Daardie letsel bly.”

Sy sprei haar hande met die mooi gemanikuurde naels. “Ja, ek het nie dinge op die konvensionele manier gedoen nie. Ek is nooit getroud nie en waar moet ek in elk geval nou tyd kry? Dis soms alleen, ek stry nie. Jy bly maar mens. Maar my lewe is so vol, ryk.”

* Skuilname is gebruik.

Die NG gemeente Rietfontein-Noord, Pretoria, begin vanjaar buite kerkverband met ’n ondersteuningsgroep vir enkelouers, mans en vroue (ngkrn.co.za).