Tienerswangerskap. Wêreldwyd ’n kwessie. Baie jong vroue is radeloos en worstel, net soos dié leser oor hoe hulle die kleintjie gaan grootkry. Party kry ’n aborsie, ander gaan voort met die swangerskap en laat die kind aanneem. Dikwels is dit die grootouers wat moet uitspring en help.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is meisies tussen 15 en 19 verantwoordelik vir 11% van alle geboortes ter wêreld en 95% van hulle kom uit laetot middelinkomstelande, soos Suid-Afrika, berig News24. Syfers van Statistieke SA wys in 2017 het meer as 100 000 meisies in Suid-Afrika ma geword en 3 000 van hulle was tussen 10 en 14 jaar oud. (iol.co.za)

Verlede jaar is die “taboe-onderwerp” van tienerswangerskap in een van die storielyne in die gewilde gesinsdramareeks Alles Malan aangeroer gewees. Hulle wou wys familie en vriende kan saamstaan om hul dogter te ondersteun, sê die skeppers, redigeerders en vervaardigers van die reeks, Corné en René van Rooyen. “Navorsing wys baie ouers sukkel om dit te verwerk en ons wou dit op ’n gesonde manier voorstel.”

Die talentvolle jong Greteli Fincham was in die rol van die swanger skoolmeisie Elani in Alles Malan te sien. Vir haar voorbereiding het Greteli ’n meisie wat saam met haar in die laerskool was en baie jonk swanger geraak het, gaan opspoor. In die reeks wat op kykNET te sien was, is Elani die oudste van Frik en Tessa Malan, vertolk deur Ivan Zimmermann en Nadia Valvekens. Haar jonger boetie, Freek, is deur Mateo Olivier vertolk. 

Liebné Liebenberg FOTO Phyllis Green
Liebné Liebenberg FOTO Phyllis Green

Liebné Liebenberg van Bethlehem in die Vrystaat, in 2019 een van SARIE se 10 Voorbladgesigfinaliste, vertel sy het in graad 11 aan die Hoërskool Bethlehem swanger geraak – maar dit sewe maande lank geheim gehou. “Dit was die ergste en alleenste tyd in my lewe, ek was so bang my ouers verwerp my.” Maar haar ma, Leonie, en pa, Lieb, het hul arms oopgemaak toe sy dit uiteindelik bely. Vandag is sy die trotse ma en hulle ouma en oupa van die vierjarige Henje.

Liebné is ’n assistent-onderwyser by die Bethlehem Akademie en studeer deeltyds onderwys aan die NoordwesUniversiteit se Potchefstroom-kampus. Sy hoop om eendag Engels oorsee te gee en met ’n goeie pa vir haar seun te trou.

Vandag is sy dankbaar dat sy die swangerskap deurgesien het. “Dit klink selfsugtig, maar ek het in ’n stadium gedink om my eie lewe te neem. Ek het so ontoegerus gevoel ir die situasie, maar ook besef hy kies nie om gebore te word nie. Ek was gekant teen ’n aborsie en moes aangaan.” Haar kêrel het boonop ontken dat dit sy kind is en dít het haar verder geruk. 

“My grootste les was dat ek besef het baie mense kan nie kinders kry nie en dit is ’n seën. Daar is ’n rede vir sy lewe.” Sy raai meisies in dieselfde situasie aan om hul ouers so gou as moontlik te vertel van hul swangerskap. “Dit maak nie sin om alleen te ly nie. Ek is op sewe maande vir my eerste ginekologiese ondersoek. Gelukkig was daar nie probleme nie.”

Maar daar is so baie praktiese dinge wat uitgesorteer moet word. “Jy moet die babakamer regkry, babaklere koop. Ek het net twee maande gehad om alles te doen. “As skoolkind het jy geen inkomste nie, so jy moet dink aan die finansiële implikasies van ’n baba. Dit is baie duur. Wat van ’n mediese fonds? Oorweeg ’n geldinsameling of vra familie om aanvanklik te help. Jy moet beplan. Nie almal se ouers kan hulle help soos myne gedoen het nie.”

Haar ma, met haar eie besigheid as korttermynversekeraar, en pa help haar baie. “Toe ek die dag nie meer my geheim kon hou nie, het ek almal om die tafel vertel. Ek kry steeds hoendervel. Dit was ’n tranerige gedoente. My jongste broer, Henru (nou 27), het gehuil. My ouer broer, RJ (28), was emosioneel. Maar ek het net geweet ons sal saam hierdeur kom en ons het.”

Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, sê verwyte en kritiek gaan niks verander as jou dogter swanger is nie. “Aanvaar dit en probeer jou dogter bystaan en vir haar ’n ondersteuningsnetwerk bied. Want sy gaan baie geïsoleerd voel in haar vriendekring, wat steeds met hul tieneraktiwiteite sal voortgaan terwyl sy skielik ‘grootmens’-besluite moet neem.”

Marlize reken die beste is dat die hele gesin haar nuus so gou as moontlik hoor. “Almal moet besef dat hulle verdraagsaam teenoor hul sussie moet wees. Dit help niks die gesin begin verwyte rondslinger nie. Die sibbe kan trouens belangrike lewenslesse leer uit hoe die ouers die situasie hanteer,” sê sy. “Ouers bied nie net ondersteuning aan hul swanger kind nie, maar help ook die res van die gesin om in ’n uitdagende tyd sterk te staan teen die grappe en allerlei aanslae van buite.”

Om jou kop hoog te hou is soms moeilik, want daar is altyd praatjies. Veral op die platteland, beaam Liebné. “Die skool het dit goed hanteer en ek het matriek geskryf. Kinders kan soms wreed wees en natuurlik kry jy seer as jy ’n geskinder hoor. Maar dit het my sterker gemaak. Niemand kan klippe gooi nie. Gelukkig weet ek dit. En jy dink nooit dit gaan met jou gebeur nie.” Alles wat op jou pad geplaas word, het wel ’n doel, glo sy.

Liebné meen seksvoorligting op skool moet later eerder as vroeër begin. “Hoe jonger kinders van seks weet, hoe nuuskieriger is hulle en dan wil hulle eksperimenteer. Jong kinders is dikwels roekeloos en besef nie die implikasies van hul dade nie. Ouers moet hul kinders teen twaalf vertel hoe hul lyf verander, maar tot en met graad nege is slegs die basiese inligting nodig. As jou kinders jou uitvra, wees eerlik. Maar ek glo eers in die laaste twee hoërskooljare kan dinge in meer diepte behandel word.”

Baie ouers voel hulle het misluk as opvoeders wanneer hul kind swanger word. “Dit word dikwels ’n tyd van introspeksie vir die swanger tiener én ouers. Maar dit kan met enigiemand gebeur en kom ook in hegte, doodgewone gesinne voor,” sê Marlize. Die fokus is op die tienerma, maar wat van die pa, wat dikwels skotvry daarvan afkom? Marlize sê deesdae kan hy of sy ouers gedagvaar word vir onderhoud. “Dit is ’n goeie plan as die nuwe ma, pa en hul ouers bymekaarkom om ’n besluit te neem oor die nuwe aankomeling. Die onderskeie ouerpare behoort voor dié ‘huisvergadering’ reeds die situasie te deurdink sodat hulle sinvolle en praktiese voorstelle kan maak.”

Wanneer ’n tiener swanger raak, sien baie ’n aborsie as ’n kitsoplossing, maar as dit nie behoorlik deurdink word nie, kan skuldgevoelens, selfverwyt en hartseer die vrou nog jare daarna teister, sê Marlize. Dit is belangrik om ’n rasionele besluit te neem en te praat met iemand wat jy vertrou. “Impulsiewe besluite is uit.” Aanneming is nog ’n opsie. “Besin ook deeglik hieroor voor jy besluit. Berading of terapie word sterk aanbeveel.”

Tieners wat nié deur hul ouers ondersteun word nie, kan ’n maatskaplike werker besoek, wat hulle dan kan bystaan in besluite oor die kind se toekoms. “Vra gerus die skoolsielkundige of ’n onderwyser wat jy vertrou om jou te help om dit te reël,” sê Marlize. “Die maatskaplike werker sal allerlei faktore, soos die omstandighede en moontlike breër ondersteuning van die meisie se familie, in ag neem.

“Skole is deesdae ook baie meer gewillig om swanger tieners by te staan en daar kan gereël word dat sy steeds werk by maats of onderwysers kry en toetse en eksamens skryf, na gelang van die tyd van haar bevalling en of dit vir haar moontlik is om haar studiejaar te voltooi.”

Dit wil lyk asof mense ál meer oopkop is as twintig of dertig jaar gelede, toe ’n swanger dogter ’n klad op die familienaam was en daar in fluisterstemme oor haar gepraat is. Corné sê kykers het baie empaties gereageer op die storielyn in Alles Malan. “Dit het waarskynlik gespruit uit die liefdevolle manier waarop die Malan-gesin saamgestaan het. Hulle het ’n besluit geneem om die baba saam as gesin groot te maak. Die tema van dié gesinsdrama is dat jou familie jou sal help om dinge te bowe te kom, maak nie saak watter draaibal na jou geslinger word nie.” 

‘DIT IS ’N PROSES OM ALLES TE VERWERK . .  ’n Ma vertel:

Rina Steyn*, ’n regsgeleerde en ma van vier van Pretoria, was geskok toe haar graad 11-dogter haar vier jaar gelede vertel sy is swanger. “Jy dink nooit dit gaan met jou kind gebeur nie. Sy was ’n toppresteerder en baie verantwoordelik. Dit was asof iemand ’n lem deur my hart gedruk het.”

Toe dit ’n jaar tevore geblyk het dat haar dogter in ’n ernstige verhouding is, het Rina haar gevra of sy op die Pil wou gaan. “Maar sy het my verseker dit is nie nodig nie. “Ná die skoknuus het ek my dogter kliniek toe geneem vir berading en voorgestel dat sy ’n aborsie of selfs aanneming oorweeg. Ek was ten gunste van ’n aborsie omdat sy volgens my te jonk was vir die eise van moederskap en omdat dit haar toekoms kon benadeel. Ek het haar ook gemaan dat ’n baba baie geldelike implikasies inhou.”

Haar dogter en vaste vriend het egter besluit om die kind te hou. “My eksman het hul besluit ondersteun en ek en my huidige man het dit respekteer.” Haar dogter het matriek voltooi en die kleintjie is nou vier jaar oud. “Hy is vreeslik oulik en ’n sonstraaltjie. My dogter is besig met ’n honneursgraad in sielkunde en doen deeltydse administrasiewerk by ’n oogkundige.” Bedags is die kleintjie in dagsorg.

Die tienerma, nou 21, haar vriend en hul baba het die eerste drie en ’n half jaar by haar biologiese pa gaan woon, maar onlangs het die jong gesin in hul eie woonstel ingetrek. Die vriend, wat ’n paar jaar ouer is as sy, het sy eie onderneming en albei dra by tot die huishouding. “Ons het vir hulle ’n motor present gegee. Sy ouers voorsien hul mediese fonds. Gelukkig is die twee finansieel selfstandig. Die kliniek het ons gemaan om nie te veel te help nie, sodat hulle die volle implikasies van die volwasse lewe kan verstaan,” sê Rina.

Sy het vir haar dogter gesê sy kan nie help om die kleintjie gedurende die dag op te pas nie, want sy het reeds vier kinders grootgemaak en het boonop haar eie beroep. “Jy het gekies om ma te word en moet die verantwoordelikheid neem. Dit klink miskien harteloos, maar ek het nie in hierdie stadium tyd om genoeg aandag aan my kleinkind te gee nie.”

Sy is dankbaar dat albei jong mense goeie, toegewyde ouers is. “Maar dit is ’n proses om alles te verwerk en daar lê nog ’n lang pad voor. As dit nie vir my man, ’n baie oopkop ou, en my vriende se ondersteuning was nie, weet ek nie hoe ek hierdeur sou kom nie. Selfs in die sogenaamde ‘verligte 21ste eeu’ wys baie mense nog die vinger. Ek is trots daarop dat die nuwe ouers hulle vinnig by die situasie aangepas het. Dit kon veel erger uitgedraai het. “Wat ook al jou swanger tiener se besluit, jy moet besef dit gaan vir ewig ’n impak op die dinamika van die gesin hê. Belê in goeie terapie – vir haar, jouself en die res van die gesin.”