Akteur Brad Pitt is nog nie eens van sy beeldskone Angelina Jolie geskei nie, maar glo reeds in ’n verhouding met Neri Oxman, ’n professor by die Massachusetts-instituut van Tegnologie (MIT). Die eerste man (of vrou) wat so vinnig ander weivelde soek, is hy nie. Ook nie die laaste nie. Die vraag is of daar iets soos die regte tyd is om weer te date?

Daar is verskeie redes hoekom mense nuwe verhoudings aanknoop kort ná ’n egskeiding. Een daarvan is dat hulle verwag dit gaan hulle heelmaak, sê die sielkundige Ronel du Toit van Pretoria. “Die probleem is, wanneer die ‘verwonde’ gesond raak en weer onafhanklik word, het hulle die ‘terapeut’ (die nuwe romantiese persoon wat na al hul sorge luister en troos) nie meer nodig nie – en gewoonlik sneuwel dié verhoudings.”

Volgens Cornelia Swart, ’n voorligtingsielkundige en imago-terapeut van Pretoria, word rebound-verhoudings dikwels net ná die egskeiding aangeknoop, wanneer daar nog nie afsluiting (closure) is nie. Dit kan ongesond wees, ’n tydelike fling – jy moet jouself eers vind en deur die pyn en teleurstelling werk voor jy kan aanbeweeg, meen Cornelia.

Dikwels word rebound-verhoudings gebruik om die voormalige eggenoot te “straf” en jouself op dié manier te beskerm. “Dit is ’n vorm van passiewe aggressie. Die paradoks is egter dat navorsing wys hierdie verhoudings is nié altyd onsuksesvol nie. Mense wat hulle daarin begeef, het dikwels meer selfvertroue om te date – hulle tob minder oor die vorige verhouding en vertrou makliker. Soms is dit inderdaad die meer stabiele mense wat kan aanbeweeg.”

Die ander kant van die munt is dat mense wat skielik verwese, alleen en gespanne voel, alkohol of middels soos slaappille begin misbruik, maan Ronel, skrywer van Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk (Christel Foord, R200).

“Dronkverdriet is tydelike heling, dit maak jou tong los en help jou om dinge uit te praat, maar alkohol is ’n depressant en sal tot groter neerslagtigheid en moontlike afhanklikheid lei. Slaappille verdoof die pyn tydelik en laat jou ontvlug.”

Kundige hulp is wat jy eerder moet kry, sê Ronel. “Want dikwels kan jou ondersteuningsnetwerk nie met al jou kwellings help nie. Hulle het nie die kennis of tyd nie.”

Maar wanneer kry jy afsluiting? Dit hang van die individu af. Lizma van Zyl, kykNET-aanbieder wat ook vir die Wes-Kaapse departement van landbou op RSG-radio ’n program aanbied, is nege jaar gelede vir die tweede keer geskei.

“Duisend dae” nadat sy die egskeidingspad geloop het, toe sy een oggend Kampsbaai toe ry om met haar honde te gaan stap, hoor sy John Lennon se “Imagine” oor die radio. “Eers was ek onbewus daarvan dat ek saamneurie, maar toe ek myself hoor, weet ek daar het ’n skuif plaasgevind. Ek was weer reg – die wolk het gelig, die ergste was verby.”

Iets soos “die regte tyd” om weer te begin afsprake maak ná jou huwelik verbrokkel het, bestaan nie. Dit is nie, soos baie mense beweer, drie maande, een jaar of selfs drie jaar later nie. Dit sal verskil van mens tot mens. “Ek het geweet ek is emosioneel gesond toe ek my eks weer geluk in sy nuwe verhoudings toegewens het,’’ sê Lizma.

Ronel voeg by: “’n Egskeiding is een van die pynlikste ervarings. Verhoudings gee betekenis aan jou lewe en jy verloor meer as jou lewensmaat. Jy verloor netwerke wat julle saam opgebou het, drome, dikwels finansiële veiligheid en ‘identiteit’ – vir ’n wyle. Jy moet treur oor jou verlies. Teken jou daaglikse belewenisse in ’n joernaal aan, skep nuwe betekenis deur verhoudings met vriende en familie te verstewig.

“Al is dit pynlik, moet jy besef wat jou aandeel in die gebeure was. Dalk was jy bang vir konflik en kon julle nooit jul probleme bespreek nie – dit het afstand veroorsaak. Dalk was jy te onafhanklik en is jou man ‘emosioneel ontman’. Miskien het jy min moeite met jou voorkoms gedoen en jou man het al hoe minder aandag aan jou gegee, begin rondkyk en jou selfvertroue het getaan. Moet nie jou gevoelens ignoreer nie, want dan gaan jy nooit afsluiting kry nie.”

Dr. Marie-Luce Vogel, sakevrou en akademikus van Hermanus, vertel: “Ek moes onwrikbaar eerlik wees en die waarheid raaksien. Want dít plant die saadjie vir ’n volgende verhouding. Jy kan vir die wêreld ’n front voorhou, maar nie vir jouself nie. Ek moes myself afvra, waarom het ek emosionele oorheersing in my vorige verhouding verdra?

Ek het nie dinge wat van die begin af gepla het, probeer regmaak nie en kon dit nie teen die einde regmaak nie. Ek moes die gevolge dra en het uiteindelik ’n punt agter alles gesit. Hoe gouer ek dit gedoen het, hoe gouer kon ek heel en meer bewustelik aangaan met my lewe.

“Ek het weer wonderlike liefde gevind en besef ek kon nie die blaam verskuif na omstandighede en mense nie. Ek het geleer om sag na myself te kyk en nou kan ek gulhartig na buite leef. Ek was omring met hope liefde van vriende en familie en daar was ook ’n ‘gelukselement’ betrokke in my ‘nuwe lewe’.”

Dr. Ilze van der Merwe, ’n voorligtingsielkundige van Kaapstad, sê Marie-Luce se ondervinding wys dat jou hantering van jou egskeiding van heelparty faktore afhang: hoe goed jy stres hanteer, jou temperament, sielkundige toestand soos depressie en angs tydens jou egskeiding, jou ondersteuningsnetwerk, logiese insig in jou aandeel in die egskeiding en uiteindelik afsluiting en vertroue in jou nuwe lewe. “Afsluiting beteken allermins om die egskeiding te ignoreer of vir ewig as ‘legger dertien’ in ’n stowwerige kabinet te liasseer as afgehandel. Maar dit help om belangrike lewenservaring op te doen sodat jy toekomstige verhoudings anders kan benader en kan groei.”

Cornelia beklemtoon indien jy kinders het, is dit baie belangrik om ná ’n egskeiding ook sensitief te wees vir hul behoeftes. “Jou kind is net so getraumatiseer en moet deur baie verliese werk. Ongelukkig het hulle nie altyd die emosionele vaardighede om dit te doen nie, of as hulle nog klein is, weet hulle nie eens hoe om hulself uit te druk nie. Hulle wys hul pyn gewoonlik deur ‘vreemde’ gedrag.

As hulle nie hou van die nuwe man in ma se lewe nie, sal hulle byvoorbeeld stout wees omdat hulle onveilig voel in sy geselskap. Hulle kan dalk manipulerend wees. Verduidelik van die begin af dat hy nie pa se plek gaan inneem nie, dat hulle nie die oorsaak van die egskeiding is nie. Sorg altyd dat jou kinders die prioriteit in jou lewe is. As hulle nie emosioneel reg is vir ’n man in jou lewe nie, respekteer hul gevoelens – doen dinge geleidelik. En onthou, kinders kan ook baat vind by terapie.”

Dit is belangrik dat kinders nie die nuwe persoon in ma se lewe te gou ontmoet nie, sê Ilze. “Maak seker dat die persoon langtermyn-potensiaal het. As die kinders té veel mans wat ma die hof maak te gou ontmoet, raak hulle verward. Sorg ook dat die nuwe man allerlei lekker dinge saam met die kinders doen, sodat hulle sien hy wil ma nie van hulle wegneem nie, en dat hy ook hul beste belange op die hart het.”

Hoewel daar nie iets bestaan soos die “regte” manier om die dating game te benader nie, meen Lizma dit is gaaf as vriende afsprake “bemiddel”. “Ek hou nie van aanlyn afspraakwebtuistes nie, maar het al suksesverhale gehoor. As pêlle egter sê iemand is oulik en gaaf en goed, beweeg jy ’n veilige ruimte in. Maar die eerste afspraak is maar altyd effens ongemaklik.”

Baie mense verloor hul selfvertroue ná ’n egskeiding en onttrek, sê Ronel. “Die enigste manier om nuwe mense te ontmoet is om uit te gaan. Woon geleenthede saam met vriende by, maar wees versigtig om oorgretig te wees. Dit laat mans die hasepad kies. Kom uit jou gemaksone en stel jouself aan nuwe dinge bloot – leer ’n nuwe taal aan, neem danslesse, sluit by ’n fietsryklub aan. Nooi mense uit vir ete, en as vriende ’n blind date reël, wees waaghalsig en aanvaar dit. As hy nie die pyp rook nie, het hy dalk oulike vriende. En jy hoef mos nie te trou met elke man met wie jy uitgaan nie, jy wil ook jou vriendekring uitbou.”

Volgens Ronel bring afspraak-webtuistes jou gouer as in “die werklike lewe” (kerk of ’n partytjie) by ander se emosies uit. “Party mense formuleer hulself beter op die rekenaar as in ’n gesprek. Mense raak só soms maklik verlief op iemand, sonder dat hulle mekaar ontmoet het. Maar die ‘werklikheidstoets’ is wanneer jy iemand persoonlik ontmoet. Op ’n veilige, neutrale gebied, en lig jou vriende in oor waar dit is. Jy kan immers nie op ’n afspraakwebtuiste sien hoe hy hom vererg, of dat hy dalk jok, of sonder respek teenoor kelners optree nie. Moet ook nie dadelik al jou emosies in die kuberruim uitstort nie. Daar is vreemde mense, fortuinsoekers en bedrieërs op aarde – kêrels wat alte graag eensame vroue uitbuit,” maan sy.

Iets soos ’n droomoplossing ná ’n eerste huwelik wat vou, bestaan nie. Lizma reken jy moenie in jou seer verdrink nie, maar dit voel. “Staan egter soggens op, en doen altyd iets. Hou aan beweeg. Genesing het terloops geen kortpaaie nie.”

Sy glo ook dit is belangrik om jouself – en jou eks – te vergeef. “So kan jy waardevolle lesse leer. Onthou: Fool me once, shame on you, fool me twice, shame on me.” Onthou ook, dit is swak smaak om lelike goed oor jou eks kwyt te raak. “Hou jou griewe vir jouself of dié wat jy honderd persent vertrou.” Haar gesondheid en heil ná die traumas was om in vriende en familie te belê: “Hulle is daar deur dik en dun.”

Ronel se raad is dat jy moet besef wat jy in ’n nuwe verhouding soek. “Maak sommer ’n lysie van wat vir jou belangrik is: fisieke aanraking, finansiële versorging, emosionele nabyheid, hulp in die huis en met die kinders, die behoefte aan erkenning, begrip, vriendskap . . .” Vertel dan vir jou geliefde wat jy verlang (moenie aanvaar hy weet nie), en neem jul tyd om mekaar goed te leer ken.

Miskien moet die laaste sê gaan aan Mignon McLaughlin, ’n Amerikaanse joernalis en skrywer: “As die tweede huwelik ’n sukses is, was die eerste een dalk nie ’n mislukking nie.”

KONTAK

Cornelia Swart: www.corneliaswart.co.za

Dr. Ilze van der Merwe: 021 554 4089