Jy is al lankal bekommerd oor jou kind. Jou man sê dis net 'n fase. Jou ma voel 'n mens hardloop nie onnodig na 'n terapeut toe nie - sy´ het nooit. Jou vriendinne stel die jongste ouerskap-kursus voor.

En die internet verwar jou net verder.

Maar ten spyte van al die goed bedoelde raad, voel jy steeds onrustig. Annalie Skein, arbeidsterapeut van Stellenbosch, se uitgangspunt is 'n goeie riglyn as jy jou kwel oor jou kind - ongeag die probleem.
" 'n Ma ken haar kind. As terapeut vertrou ek meestal daardie moederinstink. As jy bang is om te oorreageer bespreek dit gerus met jou kind se onderwyser of ander mense wat hom of haar baie goed ken. As jy onrustig bly, kry eerder vroegtydig professionele hulp."

Hierdie kundiges is 'n goeie beginpunt.

Speel-terapie
’n Spelterapeut help om jong kinders se emosionele nood te verlig met speelmateriaal soos handpoppe, klei, kunsmateriaal en miniatuur-speelgoed, sê dr. Elize Groenewald, spelterapeut
van Bloemfontein.

Hoe werk dit?
'n Kind kan nie soos 'n volwassene uitdrukking aan sy/haar gevoelens gee nie. As sy emosioneel ontwrig is, weet sy nie hoekom sy so voel nie.Met spelterapie gee sy spontaan uitdrukking
aan dié dinge. Haar denke en emosies word gestimuleer,maar sy besef nie eens sy kry terapie nie, want dis nie vir haar bedreigend nie.

Ouderdom?
Kinders van so jonk as 3 jaar kan baat vind daarby. Dis selfs vir tieners 'n uitstekende manier om met terapie te begin. Die tegnieke word net aangepas sodat dit nie "kinderlik" oorgedra word nie.

Wanneer help dit?
Dit kan help vir aggressie, angs, 'n lae selfbeeld, steel, bed natmaak, depressie, skaamheid of aandagafleibaarheid. Ook as die kind 'n egskeiding of 'n rouproses beleef, 'n traumatiese ervaring gehad het, sukkel om vriende te maak of een of ander leerprobleem het.

As sy langer as twee weke aaneenlopend nie haar ou self is nie, is daar waarskynlik ook iets wat haar emosioneel ontstel. Vir goeie resultate is tussen ses en agt sessies nodig.Dit hang natuurlik af hoe erg jou kind getraumatiseer is. 'n Kind wat byvoorbeeld gemolesteer is, kry soms tot jare lank terapie.

Is die ouers teenwoordig?

Verkieslik nie, omdat die kind dikwels 'n emosionele gevoel teenoor die ouer het en dan nie die vrymoedigheid het om dit na vore te bring nie. Kinders raak ook baie keer manipulerend as ma of pa by is. As haar skeidingsangs te groot is, kan jy vir die eerste sessies by wees, totdat sy die terapeut vertrou. Ek ondervind kinders wat hul ouers nie van sessies wil laat weggaan nie, manipuleer hulle dikwels. Hulle respekteer nie grense nie en laat hul ouers magteloos voel. Dán help ek baie keer eers die ouers om deur terapie hul eie innerlike krag te vind. Meestal
verdwyn die kind se probleme dan nog voor ek haar begin sien het!

VIR HULP Dr. Elize Groenewald,
www.thoughts-create.co.za, 051 522 9541 (’n Gekwalifiseerde spelterapeut het ’n meestersgraad.)

Hulp vir jou tiener

Tieners het nie altyd die oordeel om te besef as hulle hulp nodig het nie.Dit moet van jou as ouer kom. Jy kan liefdevol die simptome wat jou kwel met hom/haar bespreek, en haar aanmoedig om vir terapie te gaan, sê Ria de Villiers, ’n voorligtingsielkundige van Stellenbosch wat veral werk met tieners en studente.

Hoe onderskei ek tussen tienerbuie en 'n werklike probleem?
Tieners is dikwels buierig – bedruktheid en uitbarstings (van tyd tot tyd) is normaal. Die verskil tussen normale gedrag en ’n tiener wat hulp nodig het, lê in die graad van simptome: hoe lank, hoe intens en hoe ver buite haar aard sy optree. As jy onrustig voel oor die intensiteit en dit langer as twee weke duur, kry professionele hulp.

Waarvoor moet ek uitkyk?
’n Tiener wat selfvernietigend en roekeloos optree, weier om skool toe te gaan, steel of ander anti-sosiale gedrag openbaar, het dadelik hulp nodig. As skoolprestasie ook sonder ’n goeie rede skielik beduidend daal, moet die moontlike oorsake ondersoek word. So ook as jou kind tekens van depressie toon. (’n Kombinasie van simptome soos hartseer, huilerigheid,
onttrekking, verandering in eet- en slaappatrone, rusteloosheid, waardeloosheid, gebrek aan entoesiasme, ongemotiveerdheid, konsentrasieprobleme, selfmoordgedagtes en konstante moegheid kan dui op tienerdepressie.)
Natuurlik kan van die simptome (soos moegheid) ook ’n fisieke oorsaak hê. Soms is ’n mediese dokter ’n goeie beginpunt, wat die tiener na ’n sielkundige sal verwys indien nodig.

As jy twyfel?

Terapie kan nooit kwaad doen nie. Kinders hoef nie noodwendig probleme te hê om baat te vind daarby nie. Soms is dit nodig om lewensvaardighede aan te leer wat die tienerfase makliker maak. Dis wonderlik om ’n mentor te hê wat saam met jou na jou lewenstorie kyk en jou laat besef waaraan en waarheen jy as die hoofkarakter moet werk.

Is ouers by?

Selde.Tieners reageer baie beter in individuele terapie en is oud genoeg om te verstaan dat hulle nie beheer het oor ander se gedrag nie,maar kan kies hoe hulle gaan reageer. Vertroulikheid is vir tieners baie belangrik, en ouers moet dit begryp.Die ideaal is om eers ’n sessie met die ouers te hê om hul bekommernisse te verstaan, voor ek die tiener begin sien.

’n Terapeut sal natuurlik ’n tiener oorreed om ouers in te lig as dit ’n lewensbedreigende situasie is, maar andersins moet ouers die vertrouensverhouding respekteer.

Wat kan jou tiener verwag?
Dis belangrik dat sy moet weet jy as terapeut luister regtig. Gedurende die eerste sessie word die verhouding opgebou: Ek gee nie raad nie, en ek oordeel of kritiseer ook nie, dan verloor jy haar dadelik, want dis wat die meeste volwassenes doen. Onvoorwaardelike aanvaarding en empatie is noodsaaklik.
As jy eers haar vertroue het, is sy baie meer toeganklik om die probleem te bespreek, dit vanuit ander perspektiewe te sien en saam ’n terapeutiese plan op te stel.
Dikwels is ander kundiges se insette baie belangrik, van dieetkundiges en psigiaters tot remediërende terapeute en predikante.

VIR HULP
Ria de Villiers, 021 883 9847

LEES OOK DEEL 2 -