As my kind tog net eendag gelukkig is . . . Dit bly die gemeenskaplike versugting van menige liefdevolle, goedbedoelend ouer. En kenners is dit eens: Al is daar geen waarborg vir geluk nie, is daar tog sekere basiese dinge wat jy as ouer kan doen om jou kind se kans te verbeter om eendag 'n gelukkige, gebalanseerde volwassene te wees. Drie kindersielkundiges deel hul belangrikste insigte.

 

Aanvaar jou kind onvoorwaardelik, dan sal hy 'n volwassene word wat homself aanvaar - Christa Visagie, sielkundige en speelterapeut van Pretoria

 


HOE DOEN JY DIT?

* Respekteer sy emosies.

Aanvaar die hele spektrum van jou kind se gevoelens - van positief (soos trots en blydskap) tot negatief (soos woede, frustrasie en moegheid). Ouers probeer so dikwels om positiewe gedagtes en gewoontes by die kind te vestig dat hy kan dink sy negatiewe emosies is nie aanvaarbaar nie. Maar hy moet juis leer om al sy emosies - en so ook homself - te aanvaar. Hy moet weet: "Ek is steeds 'n goeie kind, al is ek kwaad of bang. "Sê vir jou kind jy verstaan hoe hy voel, selfs al beleef hy negatiewe emosies. As hy besef hy mag maar kwaad, hartseer of gefrustreerd voel, ontwikkel hy 'n gesonde emosionele intelligensie.

As jy hom egter van kleins af kondisioneer om sy negatiewe emosies te onderdruk en te ontken, sal hy later in sy verhoudings ook die voorwaarde aan sy geliefdes stel dat hulle nie negatiewe emosies mag ervaar nie.

Help jou kind om 'n gesonde emosionele woordeskat en emosionele intelligensie op te bou deur die gevoelens wat hy beleef in woorde om te sit. Sê byvoorbeeld vir 'n kind van drie, vier jaar: "Ek kan sien jy voel nou bang. "Groter kinders kan gemengde gevoelens erken, soos om bang en opgewonde te wees om hoërskool toe te gaan. So leer hulle die integrasie van gevoelens, dat selfs gelukkige mense nie altyd net gelukkig voel nie.

Jou kind moet ook weet al respekteer jy sy negatiewe emosies, beteken dit nie dat jy negatiewe gedrag aanvaar nie - hy mag nie die hond skop nie, al is hy hóé kwaad vir hom.

*Prys hom op die regte manier.

Fokus eerder op die innerlike proses as die uiterlike produk. As hy goeie eksamenpunte kry, moet hom nie net prys oor sy punte nie, maar ook vir sy harde werk. Moet dus nie net sê "geluk met jou 80%" nie, maar ook "veels geluk, jy het regtig baie hard gewerk".

As die uiterlike resultaat te veel lof kry, raak hy verknog aan die terugvoer en goedkeuring van andere. As volwassene wag hy dan vir sy baas se goedkeuring en kan hy net goed voel oor homself as sy werk geprys word. As jy die klem op die innerlike proses plaas, leer jou kind die waarde van sy eie insette. Hy hoef dan nie oor werk lof toegeswaai te word om eiewaarde te ervaar nie.

Behou 'n sin van spelerigheid met jou kind, ongeag hoe oud hy is. Doen enigiets wat lekker is saam met hom. Omdat spel vir kinders 'n vorm van kommunikasie is, kan jy makliker in 'n speelsituasie agterkom hoe jou kind voel en wat hom dalk pla. As hy voel jy verstaan hom, voel hy ook dat iemand hom ondersteun. As volwassene sal hy ondersteunende verhoudings kan aanknoop. As jy in 'n speletjie die kans om te kul laat verbygaan, is jy 'n rolmodel vir jou kind. Dit leer hom baie meer as 'n sedeprekie op die rusbank. Deur spelerigheid wys jy jou kind die lewe gaan nie net oor taakgerigtheid nie, maar oor mensgerigtheid.

'In 'n warm omgee-verhouding met jou kind kan jy hom leer om onafhanklik te wees, en dat elke keuse 'n gevolg het' - Ilze van der Merwe, sielkundige en direkteur van die Bella vida-terapiesentrum in Bryanston, Johannesburg

HOE DOEN JY DIT?

*Beskou jou kind as 'n mens.

Hy is nie sommer net iets om groot te maak nie. Weet dat sekere dinge op sekere tye vir hom belangrik is. Elke mens wil weet dít wat vir hom belangrik is, word deur ander gerespekteer. As jy dit vir jou kind wys, leer hy dat hy belangrik is. Dit verbeter sy selfbeeld en selfvertroue.

'n Gewaardeerde kind is 'n tevrede, gelukkige, gebalanseerde volwassene.

Om uit te vind wat vir jou kind belangrik is, moet jy hom, sy taal en sy wêreld leer ken, of hy nou drie of dertien is. Gesels met hom en luister goed. Moenie net altyd voorsê nie.

Moet ook nie die dinge wat vir hom belangrik is as verkeerd afmaak nie. Dit sal hom van jou af laat terugtrek. As hy hou van TV kyk, moenie sê hy mag nie - hy sal dit net meer wil doen. Stel eerder grense. Sê: "Ek weet jy is lief vir TV kyk en jy kan een uur per dag kyk waarna jy wil - binne perke."

Laat jou kind soms die leiding neem en besluit wat hy wil doen. Dan kan hy as volwassene wyslik besluit en met selfvertroue leiding neem. Vra hom wat hy graag wil doen. Dalk wil hy saam met jou gaan koffie drink!

Kinders, soos alle mense, het 'n intrinsieke vermoë om probleme op te los en wyse keuses te maak. Laat hom toe om probleme op te los. Moenie dink jou kind is so swak toegerus dat jy alles vir hom moet doen nie. Skep vir hom onafhanklikheid.

Elke mens wil waardig en toegerus voel om die lewe te kan hanteer. Daarom is dit belangrik vir kinders en grootmense om onafhanklik en met selfvertroue te leef. 'n Afhanklike volwassene bly infantiel en nie toegerus vir die uitdagings wat eie is aan die lewe nie.

*Wees lief vir jou hele kind.

Elke kind het ál die karaktertrekke in die woordeboek, soos gehoorsaam/ongehoorsaam, soet/stout, suksesvol/mislukking. Hy is 'n volledige mens wat alles kan wees. Wees lief vir hom soos hy is, al kry hy swak punte en haal nie die eerste span nie. Dit leer 'n kind 'n realistiese en gebalanseerde selfwaarde en lewensuitkyk.

Daar is nie iets soos 'n kind wat net stout is nie. Daar is wel ouers wat nie weet hoe om 'n kind behoorlike keuses te gee nie. Kinders kan van twee jaar af keuses gegee word. Dit leer hulle oor beheer. As 'n volwassene nie beheer oor sy eie lewe kan uitoefen nie, bly hy afhanklik daarvan dat ander beheer oor hom uitoefen en het hy nie selfdissipline en verantwoordelikheid nie.

Vir 'n kleuter kan jy vra: "Wil jy jou kos met 'n groot of klein lepel eet?" As jou kind meer stout as soet is, gee hom meer keuses. As dit tyd is dat hy ophou TV kyk, sê: "Jy kan kies, gaan ék die TV afsit, of jy?" As jou kind nie lus is vir bad nie, vra: "Gaan jy bad of stort?"

Jou kind moet terselfdertyd leer daar is keuses en gevolge. Dis hoe die lewe werk. Daar is 'n gevolg as hy 'n verkeerde keuse maak - dwing dit af. As volwassene sal hy dan verantwoordelike keuses kan maak.

Stel grense van aanvaarbare gedrag vir jou kind. Bespreek die reëls en die gevolge as hy hulle oortree. Gee jou kind keuses sodat hy beheer kan neem. Kinders moet voel hulle het ook 'n sê, anders kom hulle in opstand.

As jou tiener in die aand ná die inkomtyd waarop julle ooreengekom het huis toe kom, sê vir hom: "As jy kies om ná tienuur by die huis te kom, kies jy om volgende naweek nie uit te gaan nie. As jy kies om by jou inkomtyd te hou, kan ek kies om ná 'n ruk jou inkomtyd later te maak."

Leer jou kind sy gedrag het 'n impak op ander, dan sal hy ook as volwassene ander mense met respek hanteer. Dit sorg vir gelukkige verhoudings.

'Moenie dinge van jou kind verwag waarvoor hy nie gereed is nie. Dis belangrik om iets te weet van kinderontwikkeling' - Anne-Marie Rencken-Wentzel, 'n sielkundige van Roodepoort aan die Wes-Rand

HOE DOEN JY DIT?

*Wees bewus van jou kind se behoeftes.

Baie ouers spog oor hoe vroeg hulle hul kinders van die bottel of doek afgehaal het. Maar as jy jou kind dwing om iets te doen waarvoor hy nie fisiek of emosioneel gereed is nie, skep jy probleme vorentoe. Dis daardie kinders wat later in my spreekkamer sit met fiksasies, juis hieroor.

Moenie jou kind skaammaak as hy 'n fout begaan het nie. Sulke kinders is dié wat eendag aan hul eie vermoëns gaan twyfel. Let op wanneer en waarmee jou kind sukkel. Probeer later weer daarmee, maar sonder om druk op jou kind te plaas of hom skaam te maak oor iets wat hy nie reggekry het nie.

As jou driejarige 'n glips in die bed gehad het, is dit nie nodig om dit aan Ouma en die hele wêreld uit te basuin nie. Dis juis in hierdie tyd dat kinders take wil bemeester en 'n gevoel van outonomie wil ontwikkel.

Daar's min kinders wat "die beste" is, maar wat die meeste kinders doen, is goed genoeg. Help jou kind om elke dingetjie wat hy regkry as goed genoeg te sien. Moenie sê dat hy die beste is nie, want dit gaan net eendag tot gevoelens van mislukking lei. Dit laat 'n kind ook 'n ongesonde gevoel van grootheidswaan ontwikkel, wat nie later in sy lewe erken gaan word nie.

As jou kind leer om sy inisiatief te gebruik maak dit van hom 'n volwassene met selfvertroue en ondernemingsgees. Gee jou kind van tussen drie en ses jaar die geleentheid om inisiatief te gebruik en self dinge te doen. As hy vir jou kos wil maak, sê hy kan dit doen sonder om potte en panne te gebruik - hy kan vir jou neute en slaaiblare voorsit, en roomys as nagereg.

*Goeie menseverhoudings en kommunikasie is belangrike vaardighede vir volwassenes. Dit ontwikkel by kinders van ses tot twaalf jaar wat begin skoolgaan en ervarings buite die leefwêreld van hul ouers beleef. Daarom is dit belangrik om 'n goeie skool te kies, een wat aan jou waardes voldoen.

Skep tyd vir kommunikasie met jou kind. Praat met hom vandat hy klein is. Wys dinge aan hom uit. Gesels oor intellektuele dinge, oor gevoelens, lag saam met hom, sê waarom jy dinge doen of nie doen nie. Vra jou kind wat hy van dinge dink. Vra hom of hy al van iets gehoor het of aan iets gedink het.

Wees bewus van ander se gevoelens en maak jou kind daarop attent: "Ek sien Ouma voel nie nou lekker nie. Kom ons gee haar 'n bietjie kans om te rus."Of: "Sjoe, daardie oom praat met 'n kwaai stem, dis dalk nie nou 'n goeie plan om met hom te gaan gesels nie."

Reëls bly baie belangrik

Die een ding wat jou kind daarop voorberei om eendag doeltreffend in die samelewing te funksioneer, is reëls. Kies reëls wat sosiaal toepaslik is: Leer byvoorbeeld jou kind om niemand doelbewus te slaan of seer te maak nie. As volwassene sal hy mense hopelik dan ook nie emosioneel seermaak nie. Indien jy hom leer om nie sy speelgoed opsetlik te breek nie, sal hy as volwassene sy besittings oppas en dalk selfs die limiet op sy kredietkaart respekteer.

As jy hierdie waardes, in die vorm van reëls, konsekwent toepas, skep dit voorspelbaarheid en 'n veilige omgewing vir jou kind om in te groei. 'n Kind wat in 'n veilige, geordende huis grootword, ontwikkel in 'n volwassene wat beheer oor sy lewe kan uitoefen en sy wêreld kan orden. As student sal hy bv. 'n gebalanseerde roetine van studie en ontspanning kan volg.

Dis gesond vir jou kind om te weet sy huis het reëls en waardes, en dat hulle altyd dieselfde bly - as hy vandag nie op jou bed mag spring nie, mag hy ook nie môre nie, ongeag jou bui. Hierdie konsekwentheid skep vertroue in jou en versterk jul verhouding.

Jou kind se verhouding met sy ouers is die eerste in sy lewe en vorm sy verwysingsraamwerk vir verdere verbintenisse. As hy goed met sy ouers oor die weg gekom het, kan hy eendag sterk verhoudings met ander mense én met homself hê.

Bron: Christa Visagie, sielkundige en speelterapeut van Pretoria

*VIR HULP

Christa Visagie 012 991 2661; Ilze van der Merwe www.bellavidacentre.co.za; Anne-Marie Rencken-Wentzel 011 675 1248