Die Gautengse sakevrou Annie Malan het op 27 al die knoets aan haar vinger gehad toe sy kleinkoppie getrek het. Sedertdien was sy dikwels uit eie keuse enkellopend en mal daaroor. Op 35 is sy ongetroud, maar in ’n langtermyn-verhouding.

DIE RING EN DIE TROUROK
“Op skool het party meisies prente gehad van hoe hul trourok en verloofring moes lyk. Ek het gedroom oor my eerste sake-snyerspakkie en aktetas . . .

"Ek wou ’n verskil in ander se lewens maak, opwindende goed doen en ’n eie sakeonderneming hê – dít het my laat tick. Waar ander in hul vroeë 20’s hul toekomstige maat leer ken het, het ek met vakbonde gewerk en sake-ervaring opgedoen. Ek het my om sake-redes meerderjarig laat verklaar voor ek 21 was. My ideale en blootstelling was totaal anders.

“Bygesê, ek glo aan die huwelik as instelling, ek dink as ’n mens dit reg kan doen, is dit wonderlik. My ouers is al 38 jaar gelukkig getroud, ’n wonderlike voorbeeld. Ek is heeltemal oop vir trou . . . eendag.”

ENKEL UIT EIE KEUSE
“Nadat ek my verlowing verbreek het – hy was baie besitlik – was ek so ontnugter dat ek eers net myself wou opbou. Enkellopende tye is so lekker, want jy word uit jou gemaksone gedwing. En jy leer uit verhoudings.

“Daar was al ander tye in my lewe dat ek doelbewus enkellopend was. Ek wou my hart en fokus insit in my onderneming, personeel en kliënte . . . dan kan jy regtig nie luister na iemand anders se lewensverhaal nie!

“Ek raak vinnig verveeld. Die mans moet bly wees ek het nou iemand, ek is nie maklik om te date nie!”

DIE KINDER-KWESSIE
“Mense vra my dikwels: Wat van kinders? Ek kan vir jou 20 minder gegoede kinders se name gee by wie se lewe ek intens betrokke is. As ek my eie gesin gehad het, sou ek nie genoeg tyd hê daarvoor nie. As ek sou trou, sal ek daardie brug oorsteek.”

DIE IDEAAL
“Die ou wat ek nou date, verstaan my. Hy gee my ruimte. As jy enkel is, bou eers jou eie lewe en kry dan die ou wat by jóú lewe pas. Te veel vroue pas hulle by hul mans aan, en wanbalanse ontstaan. Dink net wat hulle almal onderdruk en watter talente hulle afskeep. Single-wees is ’n tyd om jou eie ritme te vind. Daar bestaan een waarheid – joune. Jou yskas is vol naelpolitoer en sjokolademousse en niks anders nie. My oond is in die somer ’n wonderlike bêreplek vir truie!”

Wat ek nou weet

* Ek sal dalk trou. Daar is niks mooiers as om gelukkig verbind te wees aan mekaar nie. Of dalk trou ek glad nie. Ek het genoeg ander toegewyde verhoudings waar ek al ’n verskil gemaak het. Ons het ’n nuwe generasie van sexy oujongnooiens met Louis Vuitton-handsakkies in plaas van bakoonde, en Jimmy Choo’s in plaas van breinaalde . . .

* Alle erkenning vir wat ons mans tussen 35 en 55 moes deurmaak. Toe ander mans op 16 geleer het hoe om lief te kry, is ons mans grens toe, het hulle geleer om te haat en het hulle ander unieke uitdagings gehad. Ek’s dus nie verbaas dat alles nie altyd so seepglad verloop nie.

* Ek het al byna vriendskappe beëindig met vriendinne wat my aan “my tipe ou” wil voorstel! (Die druk van daardie gedwonge afspraak . . . nee, wat.)

* Ek werk én speel baie – dis die vryheid van ongetroud wees: Ek hardloop halfmarathons, neem Franse lesse en speel gholf (as jy nuwe mense wil ontmoet, tel iemand anders se gholfbal op!).

*Ons oumas en ons ma’s het baklei vir hierdie onafhanklikheid wat ons nou het om ons eie ding te doen. En as jy dan ’n maat kry wat jou ondersteun en jy vir hom, wonderlik!

  

Rubriekskrywer Maretta Bellingan (49) is nie op haar mond geval nie, maar leen vandag woorde by die wysheid van ’n yskasmagneet: ’n Vrou wat ’n man soek, het nog nooit een gehad nie. (Haar Klitsgras-rubrieke in Rapport sal teen einde vanjaar as kabaret op die planke te sien wees.)

DIE KEUSE
“Min mense kies om alleen te wees omdat hulle nie hul lewe met iemand wil deel nie. Maar baie kies om hul lewe met iemand te deel, eerder as om alleen te wees. Ek is nie een van hulle nie. Dalk is dit my status as enigste kind, dalk doodeenvoudig omdat ek vol draadwerk is. Ek sal dit geniet om in ’n gelukkige verhouding te wees, maar ek weet dis bitter skaars.

“Ek is enkel omdat dit vir my onmoontlik is om ‘konsert’ te hou. Die sukses van soveel verhoudings hang af van jou vermoë om die skyn te bewaar. Of miskien het hierdie pot maar net nog nooit haar ware deksel gekry nie. Of dalk is ek ’n pan en hét ek nie ’n deksel nie.”

MANS SE DINGE
“Ek kry soms die indruk mense dink ek is ’n bietjie van ’n mannehater, maar dis onwaar. Ek glo talle vroue wêreldwyd kry steeds ’n raw deal, maar jy het ook die verantwoordelikheid om jouself te laat geld. Nie alle vroue doen dit nie.

“Ek hou van mans en kan my die lewe nie sonder hulle voorstel nie. ’n Man se aanraking, reuk, die manier hoe hy sy hare kam sonder om te sien wat hy regtig doen . . . hoe hy ’n stuk kaaskoek takel sonder skuldgevoelens. Hulle is net so anders (en in baie gevalle tog ook so eenders) as ons.”

DIE BEKORING
“Ek reis meestal op my eie. Dis nie altyd lekker nie, maar daar is byna iets magies daaraan om stoksielalleen in die middel van die nag op ’n trein in Indië te ry. Dit voel so half misterieus en gevaarlik om op jou eie tussen ’n massa vreemdelinge te verdwyn. Ja, ek reken dis veral die onvoorspelbaarheid van alleenwees wat my in ’n groot mate bekoor.”

GROOTSTE GEMIS
“Ek mis ’n man se aanraking, iemand wat, wanneer jy die kluts kwyt raak, jou met een stywe druk kan terugbring aarde toe. Wat vir jou vertel jy is mooi en sexy en slim, en jy kan in sy oë sien hy bedoel dit. Iemand wat op ’n winteraand die ligte kan afsit.”

Wat ek nou weet

* Dis nie altyd maklik om alleen die finansiële verantwoordelikheid te dra nie, maar dan het jy ook volkome beheer en jy hoef niemand te oortuig dat ’n uitspattige motorfiets ’n hoogs onnodige aankoop is nie.

* Daar’s ’n verslawende vryheid daaraan om te kan doen wat jy wil, wanneer jy wil. En om niemand se toestemming te vra nie. Jy raak jaloers op jou ruimte en tyd. Maar ek mis tog die emosionele ondersteuning. Dankie tog vir wonderlike vriendinne!

*My grootste uitdaging in ’n verhouding is om my eie ek te laat geld. Ek word byna iemand wat te hard probeer om ’n ander se behoeftes te vervul. Dalk is ons nie almal gemaak vir ’n langtermyn-verhouding nie, maar die meeste van ons streef daarna. Party van ons is dalk net nie op die regte tyd op die regte

plek nie.

* Sedert my egskeiding 13 jaar gelede was ek al in heel gelukkige verhoudings, maar dit was net te voorspelbaar. Ek is ook nie verknog aan roetine nie.

*’n Vriend van my neul altyd dat ek uitsoekerig is. Maar om uitsoekerig te wees moet jy ’n keuse hê. Ek het twee jaar laas ’n date gehad – in Kaapstad is middeljarige, ongehude, heteroseksuele mans so skaars soos perlemoen.

Una Nieuwoudt (43), fiksheidsinstrukteur en persoonlike afrigter van Kaapstad, reken party van ons moet enkellopend wees om die lewe se balans te herstel.

DIE ‘BESLUIT’
“Ek het nooit amptelik besluit ek gaan enkellopend wees nie. (Maar ek het om persoonlike redes vroeg geweet ek wil nie kinders hê nie.) Ek was reeds op ’n jong ouderdom baie onafhanklik, maar dit raak later half gevaarlik, want jy het nie regtig daardie dringende behoefte aan iemand nie.

“Enkel is nie eensaam nie. Mense vra altyd of ek nie op my oudag alleen gaan wees nie. Maar ek het mos steeds al my pelle, en my broer se kinders gaan hopelik nog mal wees oor my. Ek is nie bang vir my oudag nie, ’n bus kan my môre omry.”

VOORDELE
“Ek kan meer vir ander beteken omdat my aandag nie verdeel is nie. Ek het nog altyd daarvan gehou om mense te bemoedig.

“Jy leer jouself ook baie goed ken, en om jou eie tekortkominge te aanvaar. Ek sien soms ma’s wat hul identiteit verloor omdat hulle nie tyd het vir hulself nie . . . hulle kry liefde wat ek nie kry nie,maar hulle dok tog baie op.

“Ek geniet my eie ruimte. Daar’s nie altyd iewers iemand wat iets van my nodig het nie. En ’n groot lekkerte: Jy hoef aan niemand verantwoording te doen nie. Jy kan soms soos ’n student dink en jou soos een gedra!”

DIE LEWE OP ’N SKIP
“Ek het ’n rustelose siel. Tussen 2002 en 2007 het ek as leefstylkonsultant en fiksheidsinstrukteur op ’n skip gewerk. Dit was die beste vyf jaar van my lewe. Dis harde werk, jy leef 200%. Ek het met 60 verskillende nasionaliteite te doene gekry. Die moeilikste was om weer te settle, maar genoeg is genoeg.”

NADELE
“Een van my drome is om per fiets deur Europa te toer, maar so maklik as wat ek op my eie oor die weg kom, so graag sou ek dit deel met iemand soos ek.

“Jy’s meer geborge in ’n verhouding – die kommer of vreugde is gedeel. En omdat ek op my eie is, is ek soms te streng met myself. Daar’s niemand wat sê jy’s nou onnodig selfkrities nie.

“Verder is daar praktiese goed, soos dat ek nie ordentlik eet nie. En ek raak sat vir karring aan goed wat ek nie kan regmaak nie. My vriendinne se mans help – en ek het al baie tradisioneel manlike vaardighede aangeleer.”

’N BETER KANS
“’n Mens raak selfsugtig en nougeset, maar ás jy iemand sou ontmoet wat pas, is die kanse beter dat dit kan werk, want jy weet wat is die slaggate – jy is wyser.

“Ek het in 2008 lidmaatskap vir aanlyn-afsprake present gekry en weer besef ek’s vol nonsens: Ek het ’n sekere idee oor ’n man en is nie tevrede met tweede beste nie.”* Enkelwees hou my in voeling met die kind in my. Ek het nog altyd jonger kêrels gehad – dis my lewenswyse.

Wat ek nou weet

* Enkellopende mans van my ouderdom het meer bagasie as vroue van my ouderdom. Mans van my generasie het nooit geleer om hul emosies te hanteer nie, daar’s baie geraamtes en komplikasies!

* Daar’s oomblikke wat jy dink dit sal só lekker wees met iemand aan jou sy, maar dan’s daar weer tye

wat enkelwees fantasties is!

* Ek verwag baie van mans, soveel as wat hulle van die vrou verwag. Ek word dikwels teleurgestel.