Terwyl die bruid en haar trotse pa ingehaak kansel toe stap, sien sy haarself vry in ’n woud hardloop. Daar rits sy haar trourok oop, ontbloot ’n sexy swart rokkie en hardloop tot bo-op ’n krans. ’n Helikopter swiep haar op en glimlaggend vlieg sy oor die see, dan oor Parys. Stralend na vryheid. “Jammer, Pa,” sê sy.

Dis nie net in glansryke advertensies en in flieks soos Runaway Bride (waarin Julia Roberts se karakter drie maal die hasepad kies) dat bruide (en bruidegomme) voor die kansel omdraai nie. In die werklike lewe is dit meer algemeen as wat ons besef. Dalk net nie so dramaties nie. Sowat 10 tot 15% van troues waarvan die reëlings al ver gevorder is, word afgestel, sê ’n paar huweliksberaders en predikante.

Vanessa* se trourok was in die kas, die woonstel in Durban waar die Gautengse paartjie ná hul troue sou intrek, is aangeskaf, en familie en vriende het gesamentlik ’n sug van verligting geslaak toe sy en Ruan* uiteindelik ná ’n verlowing van sewe jaar hul troudag aankondig. Voorheen het die twee te ywerig aan hul loopbane gewerk om troureëlings te tref. Maar toe vlieg Vanessa, wat eers agtergebly het om sake af te handel, na Durban en gee vir Ruan op die lughawe die ring terug.

“Op my eie het ek besef ek kan net nie trou nie. Ons was eerder vriende as lovers. Destyds toe ek op 23 aan Ruan verloof geraak het, was die passie vuurwarm. Nou was dit heeltemal weg. Daar was ’n stilte, ’n alleenheid in my waarvan ek net nie ontslae kon raak nie. Al het ons belangstellings gedeel, wou ek oor byvoorbeeld passie en liefde praat, dan gesels hy oor motorfietse. Niks het my opgewonde gemaak nie.”

Ruan was geweldig geskok. “Ek het gesê ek is jammer. Dit was nie maklik nie. Ons het ’n jeug gedeel. Ons families was een familie,” sê Vanessa. “Al is ek steeds lief vir hom, sou dit nie gewerk het nie. Daar was min te leer en te min uitdagings.”

Vier jaar later het Vanessa haar trouman ontmoet. Hulle is onlangs getroud. “Hoewel ons belangstellings verskil, luister hy geduldig na my storie-van-die-dag. Ek vertrou hom met my lewe. En die alleenheid in my is heeltemal weg,” sê sy.

VRA JOUSELF DIÉ VRAE:

  • As jul troukaartjies reeds uitgestuur is, maar jy het bedenkinge, vra dié vrae, sê ons kenners:
  • Is ek emosioneel naby aan my verloofde en sê my verstand vir my dat hy betroubaar is en dat hy werklik is wie hy sê hy is?
  • Is ons verwagtinge, drome en prioriteite dieselfde?
  • Kan ek soms my maat se behoeftes bo myne stel?
  • Kan ek ’n vervulde lewe sonder hom leef?
  • Stem ons saam oor seks?
  • Is daar te veel redes wat begeerte na seks blus?
  • Het ons genoeg deernis vir mekaar in tye wanneer seks skaars is?
  • Is ons volwasse? (Betaal ons rekeninge betyds? Kan ons selfbeheer toepas, beloftes hou en verpligtinge teenoor mekaar nakom?)
  • Is daar iets belangriks uit die verlede wat ek nie deel nie?

WAT SÊ JOU INTUÏSIE?

Midde-in so ’n emosionele tyd met troureëlings, families wat kibbel en stres oor toekomsplanne, is dit dikwels moeilik om te oordeel wat die verskil is tussen blote troudagsenuwees en ware twyfel. Elize Parker, wat bekend is vir haar geestelike inspirasie- en selfhelpboeke, sê jy het “verhoogvrees” as daar te veel onsekerhede oor jou troudagreëlings is. “Of dalk besef jy skielik dat trou nie speel-speel is nie. Dit kan enigiemand angstig maak,” voeg Miranda Pretorius, kliniese sielkundige van Kimberley, by.

Troudagbibberasies kom en gaan, maar daar is altyd antwoorde en oplossings. “As die angstigheid oorweldigend is, is daar ’n dieper rede en moet jy vinnig by ’n berader uitkom,” is Miranda se raad. Volgens Elize het jy dalk ’n (blywende) vrees vir jul lewe saam en keer dit jou om ’n visie vir jul huwelik te hê.

“Daarteenoor weet jy jy neem die regte besluit as jy besef trou is ’n lewenslange verbintenis. Luister altyd na jou intuïsie. Dit vertel jou voor die tyd dat julle liewer nie behoort te trou nie,” sê Miranda.

Helena Smith van Kaapstad* het eintlik ook geweet sy maak ’n fout toe sy die dag trou. Maar op 24 het sy “in trane by die kerk ingestap” en net meer as vier jaar later in trane uit die hof gestap. Sy het gedink ’n huwelik sal haar verpletterde selfbeeld ’n hupstoot gee. “My ouers kon mekaar nie verdra nie, maar het ‘ter wille van die kinders’ bymekaar gebly.” Helena sê sielkundiges reken sy het ’n man soos haar pa gekies omdat sy nog sekere lesse moes leer. Albei het alkohol misbruik en nie een was ooit daar vir haar nie. Tien jaar later het Helena “weer dieselfde fout gemaak”.

Hoewel sy nie tans eensaam is nie, hou sy nie van alleen wees nie. “Maar dis nog erger om in ’n stukkende verhouding te bly.” Kliniese sielkundige Miranda sê daar is heelparty waarskuwingstekens waarna jy moet oplet voor jy verloof raak. Maak byvoorbeeld seker jy trou nie omdat jy eensaam is of omdat jy hoop iemand gaan jou heel maak, soos in Helena se geval, nie.

Volgens Elize moet jy ook uitkyk vir die volgende: Vryheid moenie vir een van julle te belangrik wees nie en ’n vorige verhouding behoort ook nie ’n skaduwee oor jul verbintenis te gooi nie. Vae verskonings soos “ek het tyd nodig om myself te vind” kan weer op ’n identiteitskrisis of onvolwassenheid dui. Julle behoort eerlik en openlik te kan gesels oor seksuele verwagtinge, behoeftes en aanpassings. Besitlikheid, soos wanneer jy skielik nie meer jou vriendinne mag sien nie, sal jou vasgevang laat voel.

Laat vaar ook ’n drank- of dwelmafhanklike, of iemand wat jou finansieel, emosioneel of fisiek mishandel. “En dink twee maal as jou maat jok of dikwels van werk verander,” sê Miranda. Pasop vir een wat belangrike inligting, soos buite-egtelike kinders, verswyg. Moet ook nie verloof raak as kinders uit vorige verhoudings steeds verdeling of twyfel skep nie.

DIE REGTE REDES

Volgens Elize moet jy seker maak jy trou nie oor ’n behoefte aan ’n baba of weens familiedruk nie. Ook nie as jy meer verlief is op die glanstroue-idee as op die lewensverbintenis daarna nie.

Sorg dat julle weet hoe julle moontlike godsdienstige of ideologiese verskille sal hanteer, sê sy. Maak seker julle respekteer mekaar en ander voor julle ’n verlowing oorweeg.

As julle reeds verloof is, maar enige bedenkinge het, kanselleer liewer die troureëlings, sê Miranda. Maklik is dit nie, maar trou is ’n lewensbesluit. Volgens Elize behoort jy die troureëlings te kanselleer as:

jy hoop dat jou maat sal verander.

julle nog nie duidelikheid het oor kinders of kinderopvoeding nie.

julle sukkel om konflik op te los

. julle passie kortkom of nog nie oor seks en die grense rondom dit gesels het nie.

jou maat die slegste in jou na vore bring.

julle nie saamstem oor geldsake of nie eerlik kan wees daaroor nie.

Dis nie te sê as jy verlief is, móét jy trou nie, voeg Elize by. “Liefde is ook geen waarborg vir harmonie en vervulling binne ’n huwelik nie, maar toewyding, ’n sin vir verbintenis, vriendskap en volharding kan ’n veilige kokon skep waarin jul verhouding kan groei.”

As julle diep in jul hart gedelf het, jul logika en jul emosies saamstem, en julle weet hoekom julle trou, kan julle met die huwelik voortgaan, sê Miranda.

KRY HIER HULP:

Miranda (vir afsprake): 053 807 7100
Elize se selfhelpboek: Een cappuccino en ’n creme soda, asseblief: ’n Oorwinningsgids vir enkelma’s (R99) is by Cum beskikbaar (medeskrywer Magriet Smit)