My storie: Sy’s perfeksionisties, gedrewe om uit te styg, met ’n werk-etos wat nie slaplê duld nie. ’n Ware Baby Boomer (BB) in haar vyftigs. Haar kinders, jong volwassenes, leef op hul beurt in die oomblik, bekommer minder oor die toekoms en kan ’n honderd goed tegelyk doen. Tipies van Generasie Y. Elsabé Pepler (53) van Bloemfontein en haar dogters, Mia (20) en Gretha (18), is weliswaar van verskillende generasies, maar hulle het dít gemeen: Die wêreld neem deeglik van hulle kennis. BB’s bly danksy wetenskaplike vordering gesond en leef langer. Hulle het meer geld as jonger generasies en kan daarom meer koop en bestee. In hul “ouer” jare pak hulle met nuwe energie (en geld) allerhande avonture aan. Daarom kan niemand hulle ignoreer en as “oor die muur” afmaak nie. Hulle is té belangrik vir die ekonomie. Generasie Y, daarenteen, is aan die voorpunt van tegnologie en kreatiwiteit. Hulle dink en doen heeltemal anders as vorige generasies en herskryf die reëls van werk en lewe. ’n Generasie is mense met gemeenskaplike ervarings oor ’n tydperk van sowat 25 jaar, verduidelik dr. Graeme Codrington, kenner van nuwe tendense in die werkplek en mede-skrywer van Mind the Gap (saam met Sue Grant-Marshall, Penguin, 2004). Daar is die Stilles, Baby Boomers en Generasie X, Y en Z. Mense van ’n spesifieke generasie is nie almal presies dieselfde nie, maar hulle deel ’n waardestelsel: Dit wat jy as goed of sleg, reg of verkeerd, normaal of vreemd beskou. “Ek voel veiliger in groot maatskappye, maar maak nou die denkskuif na entrepreneur-wees,” vertel Elsabé. Sy het ’n doktorsgraad in kommunikasie- en mediastudie en is ’n konsultant en opleier. “Ek vrees die mag van tegnologie en die media, maar ek bly by met die geduldige hulp van my kinders. Ek het ’n iPod, iPhone en die internet, maar bekommer my oor die rekenings daarvoor. “Toe ek jonger was, was dit belangrik om te trou, kinders te hê en myself te vestig – dis immers van my verwag. Ek het skuldig gevoel oor buitehuwelikse seks. Mettertyd het ek verander in ’n feminis, ’n vegter vir vroue. Ek is geskei en stoei my eie pad deur die lewe oop – want my individuele ontwikkeling is nou belangriker as huweliksukses.” Mia is ’n student in mediastudie aan die Universiteit van die Vrystaat. “Haar laptop het ’n virus en sy huil haar lewe is verby!” sê Elsabé. “Gretha is in matriek en heeltemal gaga oor die internet, iPods en televisie. Hul belangrikste verhoudings is met die tegnologiese media - altyd daar as hulle dit nodig het. “Leiers en gesagsfigure word wantrou en hulle lag vir die Baby Boomers se bekrompenheid. Hulle is gelowige kerkgangers in ’n hip vernuwingskerk waar die band se musiek my verwilder. Ek is nog bang vir ’n kwaai God wat my gaan straf as ek nie perfek is nie. Hulle staan in verstomming oor ’n genadige God wat hulle aanvaar nes hulle is. “Groot organisasies is uit: Hulle praat van eie sakeondernemings. Geld is vir hulle iets om die lewe mee te geniet. Dit pla hulle nie dat hulle nie vaste verhoudings het nie, nes ander studente met wie ek te doen het. Hul geluk en ontwikkeling is belangrik – nie trou nie. My kinders dink feminisme is belaglik: Alle mense is eenders. Mans behandel hulle soos gelykes.”

‘Generasie Y beskou ’n gebalanseerde lewe as hul reg’ – generasie-skrywer dr. Graeme Codrington

Ontmoet Generasie Y Hulle is gebore van die 1980’s tot 2000’s* en is tussen 9 en 29 jaar oud. Hulle’s nie meer teenagers nie, hulle is screenagers! Hulle word voor die TV-, rekenaar- en selfoonskerm groot en kommunikeer op ’n nuwe manier: Op MySpace, Twitter of Facebook, of via MXit.
Tegnologie is ’n groot faktor in hul vorming, sê Graeme. Vir die eerste keer in die geskiedenis voel kinders meer vertroud daarmee as hul ouers. Hulle leer interessante lesse (veral deur rekenaarspeletjies): Om te eksperimenteer en weer en weer te misluk voor hulle iets regkry.
Die negatiewe kant: Elsabé, wat tevore lektor was by die department kommunikasie en inligtingstudie aan die Universiteit van die Vrystaat, sê studente kan nie meer behoorlik lees en skryf nie. “Hulle wíl dit ook nie doen nie. Dis te stadig. Dis ook asof die tegnologie sekere brein-gevolge het wat dié vermoëns laat verdwyn het, byna soos disleksie.”
Lewensgehalte is vir GY’s waardevol. Volgens die webblad http://boomborn.com/ het BB-ouers hul kinders nooit iets geweier nie, buiten tyd saam met hul ouers. Dít lei tot nuwe verwagtinge: GY’s wil nie soos hul ouers lang ure werk en hulle doodstres nie. Geld is net ’n middel tot ’n doel: Om te reis en te jol.
Werknemers moet hulle voorberei op dié generasie wat buigsaamheid, vryheid en ’n gebalanseerde leefwyse as hul reg beskou, sê Codrington-hulle in Mind the Gap!
Vir die BB-base is dit frustrerend dat GY’s nie hul voete soen nie. GY’s voel jy verdien nie respek net omdat jy ’n titel het nie. Hulle wil ook redes hê waarom hulle sekere goed moet doen. Ouers se tradisionele “omdat ék so sê” werk nie.
Dit frustreer die BB-ouer dat ’n GY-kind heeltyd verveeld is. GY’s is stimulus-junkies” wat teen ’n vinniger pas as die wêreld om hulle beweeg. Hulle kan boonop hul aandag op verskeie plekke verdeel, sê Codrington-hulle. Kyk maar hoe ’n GY met vyf vriende oor verskillende onderwerpe kan gesels op MXit – terwyl hy TV kyk én met jou gesels. Hy verloor nie die draad van één gesprek nie.
Hul “kulturele wapen” (soos Graeme dit noem) is die TV se afstandbeheer. Hulle spring tussen verskillende kanale rond. Nie om iets te soek om na te kyk nie: Hulle kyk na verskeie programme gelyk. Die aktrise Elize Cawood se seun, Luke, maak haar gedaan daarmee: “Ek loop sommer. Net as iets interessant begin raak, spring hy na ’n ander kanaal toe.”
Ontmoet die Baby Boomers Hulle is tussen 49 en 64 jaar oud en gebore van 1945 tot die 1960’s* – in die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog, volgens boomborn.com. Talle soldate het toe getrou om die oorwinning oor Duitsland en Japan te vier en baie kinders is gebore, vandaar die baie BB’s. In die sestigs het die BB’s sosiale sedes met vrye seks en dwelmmisbruik uitgedaag. Met hul lang hare, bandanas en sandale het hulle vir hul stemmige ouers (die Stil Generasie, sien kassie hieronder) tong uitgesteek. Toe word hulle groot – en werk harder as enige vorige geslag. Hulle was die eerste jappies. Materiële dinge en geld, geld, geld is belangrik. Hul werk is hul lewe en bepaal hul identiteit. Hulle sorg vir die langste tydperk van welvaart nóg in die Westerse wêreld. Graeme beskryf hulle as toegeeflike ouers, ’n oorreaksie op hul eie streng opvoeding. Hulle wil hul kinders se vriende wees en moedig hulle aan om hul eie menings te hê. Pa én Ma werk egter en gehaltetyd word ’n gonswoord. Egskeidings (en enkelouers) neem toe. Die BB’s is tans besig om al die opvattings oor die ouderdom te herskryf. Danksy die mediese wetenskap en ’n goeie dieet voel hulle gesond en energiek. Hulle kan jare jonger lyk vanweë die spronge wat estetiese medisyne maak. Die teenverouderingsmark floreer. Elsabé sê sy dink nie dit gaan oor oppervlakkige skoonheid, jeug en verjonging nie. Die BB soek ’n gehaltelewe.

Irritasies ... en ontmoetings Die groot moontlike ontmoetingsplek vir die BB en GY is media en tegnologie: selfone, iPods, die internet, digitale kameras, ensovoorts, sê Elsabé.
“GY dink ouer mense wat die tegnologie baasraak, is koel. As jy ’n jongmens wil beïndruk, haal jou iPod of iPhone uit, of vertel jy het ’n blog.”
Maar BB’s wat tegno-onbeholpe is, irriteer hulle, terwyl die BB gefrustreer word deur GY se afhanklikheid van tegnologie. Hoekom lees GY’s nie koerante (of enigsins) nie?
Kommunikasie is ’n groot verskilpunt, sê Elsabé. GY’s kommunikeer heeltyd, maar die gehalte is bedenklik. “GY’s se emosionele en sosiale ontwikkeling is vlak. In groepe is hul selfvertroue hemelhoog, maar een-een is hulle emosionele babas. Die BB’s verkies gesig-tot-gesig-kommunikasie in klein groepies – GY doen alles aanlyn, selfs dating,”sê Elsabé.
’n Ontmoetingsvlak is die kommer oor ekologie. BB’s voel skuldig omdat hulle die aarde verniel het en GY’s neem hulle kwalik en verwag hulle moet regmaak.
Elsabé sê: “Ek is verslae oor Mia se lesings oor die koolstofdioksied-voetafdruk as ek nie die TV afskakel of ‘groen’ gloeilampe koop nie. Om haar respek te behou móét ek dit doen.”
Met wedersydse begrip kan die twee generasies tóg bladskud – en die wêreld saam ’n bietjie beter maak.
Dan's daar ook die Stilles, X en Z*
Die Stil Generasie: As kinders is hulle “gesien maar nie gehoor” nie. Gebore 1930’s en 1940’s  Belangrikste invloede Groot Depressie, Tweede Wêreldoorlog Kernwaardes Hardwerkend, gedissiplineerd, toegewyd, bly lewenslank by een werk, haat skuld, selfopofferend, konformeer, beskeie, geduldig, druk nie sommer emosies uit nie, plig kom voor plesier, min verbeelding of avontuurlus.
Generasie X: Gebore 1960’s tot 1980 Belangrikste invloede Globalisering, sosiale, politieke en ekonomiese onrus Kernwaardes Pro-verandering, apaties teenoor gesag, globaal bewus, tegno-geletterd, individualisties, behoeftes moet dadelik bevredig word, informeel, soek opwinding, verhoudings (veral familie) is belangrik. “Hulle is nie heeltemal so verknog aan tegnologie soos GY’s nie," sê Elsabé.
Generasie Z (ná X en Y): Gebore in die 2000’s. Hulle word groot in ’n tyd van wêreldwye onsekerheid en krisisse en gaan waarskynlik pragmaties, terughoudend en versigtig wees. Hulle gaan tegelykertyd hul identiteit as wêreldburgers én lede van ’n sekere kultuur uitleef.
Bron: Dr. Graeme Codrington
My storie: Pa en Ma en die tegnologie
Elize Cawood en aktrise-dogter JennaDie akteurs Elize Cawood en Wilson Dunster (Baby Boomers) kan hul aktrise-dogter, Jenna (22), baie van toneelspel leer. As dit by die tegnologie kom, steek hulle egter kers op by haar en haar broer, Luke (21). Jenna vertel: “My ma kan dieselfde dinge as ek op die rekenaar doen, dit het haar net langer gevat om te leer. My ouers het groot ontsag vir die internet. Dit het hulle ’n rukkie gevat om te snap wat ek bedoel met: ‘Google dit net!’” Elize sal steeds onnadenkend biblioteek toe gaan en in ’n ensiklopedie na inligting gaan soek. Die tegnologie is wel gerieflik, maar sy vertrou nie die vrede heeltemal nie. “’n Mens se brein móét later kook,” sê sy. So tien jaar gelede het dit ál haar konsentrasie geverg net om die muis op die skerm te laat beweeg. Sy was bang sy druk die verkeerde knoppie en alles verdwyn. “Maar dit kan nie sommer gebeur nie, dis ’n slim ding daai!” Wilson stoei dapper voort. Jenna sê: “Ons moet hom gedurig herinner om sy selfoon saam te dra. Vir sy verjaardag het ons vir hom ’n MP3-speler gekoop. Hy’s mal daaroor, maar ek moet hom gereeld met die ‘klein masjientjie’ help.” Luke is eintlik die een met die kop vir tegnologie en leer sy pa. Hy piets hom glad speels op die hand. “Nie so nie, só . . . !” Nes Wilson kleintyd met hom gedoen het. (Luke oorweeg ’n loopbaan in die web- of musiekbedryf.) As Elize lus is vir geselskap, bel sy ’n vriendin: “Kom ons gaan drink koffie.” Jenna hou ook daarvan om mense in die oë te kyk as hulle gesels, maar Facebook is lekker om met vriende oorsee te kommunikeer. Die tegnologie kán jou egter sosiaal strem, sê sy. “Ek het iemand ontmoet wat in SMS-geselstaal praat! Hy sê nie: ‘Dit was nou snaaks nie.’ Hy sê: ‘LOL’ (laugh out loud). En in plaas van om te sug, sê hy: ‘Sug’.” Creepy, meen Jenna.

• Elize en Jenna is te sien as ma en dogter Marlien en Sofia in Isidingo. Elize en Dunster is binnekort op DVD met die klassieke toneelstuk Dinner for One, asook ’n gekskeerdery daarmee, Dinner for One 2. Dit word beginNovember uitgereik.

*Indelings verskil tussen bronne. SARIE het Mind the Gap! gebruik.

Hoe adverteer ons nou? Die twee generasies se smaak in advertensies verskil hemelsbreed  • Volgens dr. Graeme Codrington skrik media-hype GY’s af en herken hulle gou vals pogings om hip, koel of relevant te wees. Daarteenoor werk realiteit, ironie en die naakte waarheid vir hulle. Sprite was bv. in die kol met sy Image is nothing-advertensie.
• Advertensies vir pensioenfondse en beleggings is uit vir GY’s, sê Elsabé Pepler. “Hulle dink nie só oor die lewe nie. Hulle wil hul geld gebruik om die wêreld beter te maak – hulle sal bv. eerder ’n swart weeskind aanneem as ’n polis uitneem.”
• En dít werk vir hulle: Advertensies met ’n filmster soos Shia LaBeouf (van Indiana Jones-faam) of rolmodelle soos sangeresse Beyoncé en Fergie.
• Advertensies met “baie raampies” (soos MTN s’n) waar ’n verskeidenheid mense gebruik word, werk nie vir BB’s nie. Hulle hou nie van multi-rassige, multi-ouderdom- en multi-geslag-uitbeeldings nie. Hulle vra: Vir wie is dit nou eintlik bedoel, wie is die teikenmark? En die funky musiek . . .
• Albei groepe geniet “storie“-advertensies, soos die Allan Gray-een waar die seuntjie die meisietjie se eer by die skool verdedig en opgefoeter word, sê Elsabé.
• Die GY-tiener het meer geld in haar sak as tieners in enige vorige generasie. In Suid-Afrika doen sowat 50% van tienermeisies en 30% van tienerseuns hul eie inkopies, volgens ’n 2008-opname deur die Sunday Times, HDI Youth Marketers en Monash Suid-Afrika. Hulle beïnvloed boonop hul ouers as groot aankope soos motors en huise gemaak moet word.
 
Vir hulp Kontak dr. Elsabé Pepler by 083 273 9183 of elsabe.pepler@gmail.com. Besoek dr. Graeme Codrington se webblad, www.TomorrowToday.uk.com.