DIE GROOT HARTSEER

Die onderliggende faktore wat ’n rol by kliniese depressie speel, is kompleks, volgens die mediese webblad webmd.com. Genetika speel ’n rol. Maar ook belangrik is faktore soos hoe jy grootgeword het, jou omgewing en die mense wat by jou vormingsjare betrokke was.

Dr. Piet Oosthuizen stel dit só in Ontsnap van depressie (Tafelberg, 2007): Jou gene bepaal jou kans om depressie te kry, maar dis nie noodwendig die “oorsaak” (of sneller) nie. Gewoonlik is omgewingsfaktore (soos egskeiding of dood) ook nodig om die proses aan die gang te sit. As jy ’n sterk genetiese “depressie-lading” het, kan jy egter depressief word, al is daar min of geen sulke snellers nie.

Daarteenoor sal mense met ’n lae genetiese risiko eers depressie kry ná meer intense en/of langdurige stres.

WAT JY KAN DOEN

As jou ma, tannie of suster depressie het, is dit ’n teken dat jy meer waaksaam oor jou eie gesondheid moet wees. Dis nie nodig om alleen met selfs ligte depressie te worstel nie. Daar is goeie behandelings wat jou kan help, volgens webmd.com.

Leef gesond: eet gereeld, slaap goed (maar nie meer as 8 uur nie), oefen, moenie te hard werk nie, hou gereeld vakansie en neem omega 3-vetsure. Vermy enigiets wat jou brein chemies kan beïnvloed, veral dwelms, en gebruik alkohol versigtig, sê dr. Oosthuizen.