Sedert ons Imago-terapeut Grete Becker met haar verhoudingsblog begin het, het die vrae ingestroom. Grete beantwoord van die eerstes hier onder:

SARIE-leser 1:

Ek't pas die artikel “Is jy veilig by jou geliefde” in die nuwe SARIE gelees. Ek dink nou al 'n geruime tyd oor verhoudingskwessies. Ons is al 5 jaar getroud en het 'n seuntjie van byna 2 jaar oud. Voordat my seuntjie 2 maande oud was, het my man begin dreig hy wil my skei. Ek vermoed die aanpassing was vir hom te groot.

Ek het vir 2 maande uit die huis getrek en ons het ’n dominee gaan sien vir berading. Daarna het ek teruggetrek huis toe. Hy't wel weer ’n woede-uitbarsting gehad kort ná ek teruggetrek het. Hy't ’n koffietafel omgegooi, reg langs my seuntjie wat op die grond gesit het. Dit het nog nie weer gebeur nie en dis amper reeds ’n jaar.

My ding is net, hy het sy woede-uitbarstings darem ’n bietjie verminder. Dis nie meer so hewig nie, maar hy sal steeds uitbarstings hê en vloek en skel, al is my kind by.

Ek voel ook asof hy liefde en goedkeuring van my weerhou. Of dalk het hy net nie liefde om te gee nie. Hy is afsydig teenoor my seuntjie ook, omdat dié nie altyd na sy pa wil gaan nie. My man werk meestal 7 dae per week.

Ag, ek is al so moeg gedink hieroor. Ek probeer uit-figure of ek emosioneel mishandel word, en of ek maar net oorreageer en ’n klakous is. Ek wil so graag ’n gesonde, gelukkige huwelik hê, en my maat se liefde vir my ervaar. Maar ek begin al dink ek moet vrede maak met ’n liefdelose huwelik waar elkeen maar sy eie gang gaan . Maar wat gaan dit aan my kind doen?

GRETE se antwoord:

’n Skei-dreigement is ’n volwasse mini-tantrum. Dit is ’n roepkreet om hulp of aandag. Ek sou graag wou weet hoe jul verhouding vóór die koms van jul seuntjie wasJy is heel moontlik reg oor die aanpassing wat vir hom te groot was. Ek dink min nuwe ouers is regtig voorbereid op die ontsaglike impak wat hierdie nuwe bondeltjie op hul lewens gaan maak, maak nie saak hoe welkom die baba is nie.

Vir beide man en vrou kan dit traumaties wees. Die hele huishouding se status quo is daarmee heen. Dit wat bekend en voorspelbaar was in die alledaagse patroon, word totaal uitmekaar geruk on omgedolwe. Daar is ’n deel van ons brein wat nie hou van verandering en onvoorspelbaarheid nie. Dit laat ons met ’n gevoel van magteloosheid, frustrasie en oorlewingsangs. Ouers wonder of hulle die min slaap gaan oorleef, en pa’s wonder hoe hulle die ekstra finansiële druk gaan oorleef met ’n 2de inkomste wat wegval. Hierdie onderliggende stres manifesteer soms as aggressie bloot omdat almal nie weet hoe om dit andersins te verwerk nie.

Nog ’n bydraende faktor wat mans kan onkant vang, is die feit dat baba skielik nommer 1 is en dat Pa tweede in die ry staan wat aandag aan betref. Indien dit wel die geval met jou man is, moet julle beslis ’n kundige gaan sien.

Jy skryf "Ek het vir 2 maande uit die huis getrek en ons het ’n dominee gaan sien vir berading. Daarna het ek teruggetrek huistoe. Hy't wel weer 'n woede-uitbarsting gehad kort ná ek teruggetrek het. Hyt 'n koffietafel omgegooi reg langs my seuntjie wat op die grond gesit het. Dit het nog nie weer gebeur nie en dis amper reeds 'n jaar."

 Soos geskryf in ’n vorige blog is woede die simptoom van ’n onderliggende behoefte wat onbevredig is, of ’n teken dat jou man magteloos voel. Gebruik die woede om by die kern van die onderliggende behoefte te kom. Uitbarstings en verbale aanvalle voor jul seuntjie is onaanvaarbaar. Kinders leer gedrag aan deur ouers na te boots. Julle moet leer hoe om konflik en woede op ’n ander manier te verwerk en verwoord.

Begin deur te verstaan wat in die brein gebeur wanneer ’n mens kwaad word. Leer ’n tegniek aan: STOP - PAUSE - REFLECT - THEN ENGAGE. Die woede is die rooi lig - ons stop. Die pause is die geel lig. Eers wanneer die adrenalien van die woede oor die brein gespoel het en weg is, kan jy verder optree. Daar is ander tegnieke ook wat jou man sal kan gebruik. Belangrikste hier: Moenie jul kind jul slegte gewoontes laat aanleer nie. Soek weer hulp

Dit klink vir my of jou man regtig swaar kry. Dit moet baie sleg wees as jou eie kind jou nie ken nie en nie na jou wil kom nie. Ek kan my indink dat jou man taamlik verwerp moet voel. Dit maak vir my sin dat hy dan afsydig teenoor sy seun raak. Weer eens, leer hoe om in mekaar se ervaringswêreld te wees en hoe om die liefde te gee wat elkeen nodig het. Die Imago-dialoog is ‘n uitstekende tool hiervoor.

‘n Sukkelende verhouding veroorsaak verwarring, hartseer en pyn, en dit kan selfs tot fisieke simptome of depressie lei. (Laerug-pyn is bv. ’n tipiese simptoom van verhoudingsprobleme.) Dit is moontlik om ’n gelukkige huwelik te hê. Albei partye moet net bereid wees om te leer en vir hulp te gaan.

SARIE-leser 2:

Wat is die tariewe vir sessies? Kan mens individuele sessies hê, of slegs saam as man en vrou?

Grete antwoord:

Klik by www.Imagocapetown.co.za om iemand naby jou te vind. Ek vra R 370.00 per uur. Ek sien die paartjie saam.

JOU VRAE

Indien jy vrae vir Grete het, stuur dit op e-pos na louann.stone@sarie.com (met Verhoudingsblog in die onderwerpveld).

LEES HAAR BLOG