In dié blog gaan Grete Becker, ’n terapeut van Kaapstad, weekliks oor verhoudings skryf en spesifieke onderwerpe bespreek. Grete is ’n Imago-terapeut van Kaapstad. Imago-terapie fokus op verhoudings en gee paartjies en gesinne hulpmiddels en perspektief tydens enige fase van die verhouding.

Indien jy vrae vir Grete het, stuur dit op e-pos na louann.stone@sarie.com (met Verhoudingsblog in die onderwerpveld).

SARIE-leser se vraag:

"Ek sou graag wou weet hoe kan 'n mens maak wanneer jou kêrel se ouers nie hul plek ken nie

"Ons ken mekaar al vir 11 jaar en is nou wel eers 6 maande saam maar skielik baklei ons konstant en die oorsaak daarvan is sy ouers en hy sien dit nie raak nie,. Ek het hul nog altyd net met respek hanteer soos my ouers my groot gemaak het maar ek hoor gereeld by hom dat hulle kla oor iets van my. Dit voel asof hul probeer laat hy geiriteerd moet raak met my.

:Hy het so 2 maande terug begin noem hy wil met my trou en dat dit in sy gedagtes is om verloof te raak maar so 4dae terug vra hy my 'hoekom wil ek met hom trou', vir geen rede. Ek voel as jy trou vir liefde dan hoef jy mos nie 'n rede te hê nie maar dis duidelik nie die antwoord wat hy soek nie. Sy ma haat dit verskriklik as hy die woord trou enigsins voor haar noem, ons is 21, is dit dan te vroeg om so stap te wil neem, ek het raad nodig, asseblief."

Grete antwoord:

 Ek neem aan jy het die vorige 2 blogs gelees waarin ek verwys na die voorspelbare asook onvermydelike fases waardeur die meeste verhoudings beweeg? Die romantiese fase wat oorgaan in die kopstampfase of magstryd.  Hierdie transisie kan ingelei word deur ‘n verdieping in die verhouding: wanneer ‘n paartjie eksklusief begin uitgaan, wanneer hulle saam intrek, wanneer hulle ‘n troeteldier aanskaf – enigiets wat daarop dui dat hulle commit  tot mekaar en die verhouding.

Julle het na 11 jaar se vriendskap julle verhouding na ‘n volgende vlak geneem: daar is praatjies van verloof raak en trou en “ skielik baklei julle konstant”. Binne die Imago teorie is dit te verwagte. Die konflik is veronderstel om te gebeur, want dit dwing paartjies om dieper te delg en te probeer sin maak van wat aanleiding gee tot die frustrasie. Op die oog af voel dit vir jou asof sy ouers se inmenging die probleem is.  Uit jou brief blyk dit asof hulle wel inmeng, en dit klink asof sy ma voel dat julle te jonk is om te trou. Die vraag wat jy jouself moet vra is: waarom ontstel dit my ? Wat is die emosie of energie wat dit by jou ontketen? Voel jy magteloos, misken, onbelangrik, beledig, alleen, nie goed genoeg nie ? Wanneer jy die emosie kan bepaal, kan jy jou gedrag dienooreenkomstig aanpas.

Dink aan ‘n groot ysblok wat in die water dryf: slegs sowat 10% van die ys is bokant die water sigbaar. Die ander 90% is onder die oppervlakte. Die Titanic is gekelder deur die onsigbare gletsers onder die oppervlakte van die see. Dieselfde beginsel geld binne verhoudings. Indien jy gaan toelaat dat ‘n magstryd tussen jou, jou kêrel en sy ma ontwikkel, is die kanse goed dat dinge gaan skeef loop. Wat ek voorstel,klim uit die magstryd, beweeg weg van blaam en kritiek en  bespreek met jou kêrel hoe hierdie gebeure en gedrag van sy ma jou laat voel.

**Indien jy vrae vir Grete het, stuur dit op e-pos na louann.stone@sarie.com (met Verhoudingsblog in die onderwerpveld).