Debra Rennie moes deur drie mislukte huwelike gaan voordat sy besef het sy is in ’n vernietigende patroon vasgevang: Sy het keer op keer betrokke geraak by mans wat haar mishandel – hetsy fisiek of emosioneel. “Toe my derde man my aan die keel gryp, het ’n lig in my kop aangegaan – ek het onthou hoe my eerste man my geslaan het, hoe die tweede my verskreeu en verkleineer het …” Dis ’n patroon wat begin het toe Debra 17 jaar oud was. Sy was jare lank so sielsongelukkig dat sy selfmoord wou pleeg. Sy het net om haar kinders se onthalwe vasgebyt.

Vandag kan dié Kaapse vrou nie wag om soggens op te staan nie. “Ek is verlief op die lewe en ek is in ’n baie gelukkige verhouding met ’n liefdevolle man. Ek lei ’n lewe van oorwinning. Maar dit het my 18 jaar geneem om daardie siklus te herken en te beëindig.” Debra, skrywer van The relationship magnet (deur haar uitgegee), is deesdae ’n geakkrediteerde emosionele intelligensiepraktisyn en motiveringspreker, en bied werksessies oor emosionele gesondheid, heling en selfbeeld aan. En sy het The Willow Foundation gestig vir mishandelde vroue.

Haar boodskap: “Beland jy keer op keer in ’n destruktiewe verhouding? Jy kán daardie siklus breek.” Truida Heymann, sielkundige berader van Panorama, Kaapstad, en skrywer van Die ring – van konflik tot innerlike vrede (Hemel en See), stem saam: “Jy dink dalk jy kan nie jou man verander nie, maar as jy sélf verander, as jy beheer neem en die slagoffer-rol afskud, kan dit ’n groot impak hê – ook op hom.”

Die eerste stap na herstel is om te kyk waar dit vandaan kom. Want uiteraard raak jy nie doelbewus by mans betrokke wat jou sleg behandel nie, daar is ’n diepgewortelde rede daarvoor, sê sy. Navorsing toon ons kry ons interpersoonlike vaardighede en verhoudingspatrone hoofsaaklik uit ons kleintydse verhoudinge met mense wat betekenisvolle rolle in ons lewe speel, sê Gillian Hughes, kandidaat-sielkundige aan die Universiteit van Johannesburg.

“As jou verhouding met jou ouers onseker en vol konflik was, is jou verhouding met vriende of eggenote dikwels ook onseker of problematies. Hoe jou ouers teenoor mekaar en jou optree, word die verhoudingspatroon wat jy verwag of wat vasgelê word.” Gillian sê as jy jouself herhaaldelik blootstel aan mans wat jou mishandel, is jy dalk as kind verwaarloos, mishandel of oorbeskerm.

“Die kind wat verwaarloos word, glo sy is onbelangrik en voel onsigbaar, die mishandelde kind hanteer haar emosionele of fisieke mishandeling deur haarself af te sluit en die oorbeskermde kind voel dikwels hulpeloos, omdat sy nie weet hoe om haarself te beskerm of te handhaaf nie.” Sulke kinders word uiteindelik volwassenes met min selfwaarde, sê sy.

“Hulle kan dikwels nie die gevaartekens in ’n verhouding raaksien nie. As die gevaar eers sigbaar is, voel hulle vasgevang en hulle het nie die vaardighede om daaruit te ontsnap nie.’’ Truida verduidelik verder: “Sulke kinders het gewoonlik ’n ouer wie se eie behoeftes nie vervul is nie, en hy gebruik dan – dikwels onbewustelik – sy kind om dit te vervul. Die kind kry dus nooit kans om te groei of tot haar reg te kom nie. Sy dink dis maar hoe dit moet wees.

“Dit kan allerlei vorms aanneem: oordrewe beheer, kritiek, woede-uitbarstings, reëls wat afgedwing word (deur vrees). ’n Kind wat grootword tussen twee ewig konflikterende ouers word gou ingetrek in ’n situasie waar sy op 5 al die verantwoordelikheid op haar neem om die vrede te probeer bewaar. Of as sy geen moederliefde (mothering) kry nie, buit ’n manipulerende man later die dogtertjie in haar uit wat steeds smag na daardie liefde …”

Die kruks is: Sy leer nooit haar eiwaarheid vertrou nie. Net haar ouer se weergawe is “geldig”. Dan beland sy by ’n maat wat ook sy oortuigings aan haar opdwing. Haar identiteit is só swak ontwikkel dat sy haar nie teen hom kan verset nie, sê Truida.

Debra sê toe sy eers besef sy het in so ’n slagoffer-patroon verval, het sy gaan soek na oorsake, en besef sy is van kleins af gekondisioneer om op ’n spesifieke manier op te tree. “My pa was baie oorbeskermend. Ek het altyd gevoel ek kan nie my vermoëns vertrou nie, omdat ek ‘net ’n meisie’ is. Toe ek so agt jaar oud was, het hy my van iets beskuldig. Ek het my verdedig en hy het my ’n hengse loesing gegee. Ek was verpletter, ek het geglo ek het sy liefde verloor. Later het hy my om verskoning gevra, maar daardie dag is ’n saadjie in my onderbewuste geplant: Ek het geglo omdat ek nie saamstem met hom nie, is ek gestraf.

“Van toe af het ek geglo dis hoe mans vroue behandel, as jy aandring op jou regte, moet jy jou pak vat. Ironies genoeg, het my pa my altyd liefgehad, maar weens my verkeerde interpretasie – wat deur die jare versterk is deur sy oorbeskerming, en ‘doen wat ek sê’- houding, het dit my gekondisioneer: Dis hoe die rolle is.’’

Vroue raak dikwels by die verkeerde man betrokke weens ’n behoefte wat nie as kind vervul is nie. Hulle trek die tipe man aan wat hulle glo daardie behoefte sal vervul. Tot daardie seer nie heel is nie, sal hulle aanhou om so ’n man aan te trek, sê sy. “Dis ironies dat jy juis ’n man aantrek met dieselfde tipe probleem – wat ook ’n onvervulde behoefte of seer het. As hy besef hoe hy jou nodig het, laat dit hom bang en weerloos voel. Hy raak dan wrewelrig en haal dit op jou uit.”

Truida vertel van ’n man wie se ma hom as 12-jarige by sy pa gelos het. “Hy het nog steeds daardie woedende seuntjie in hom, en hy haal sy woede nou op sy vrou uit.” Debra probeer verwoord hoekom sy self sulke behandeling toegelaat het: “Ek het dit gehaat, maar dit was ook my gemaksone. Dis siek, maar dis ál wat ek geken het. As die verhouding kalm was, sou ek selfs konflik veroorsaak omdat ek uit my diepte gevoel het. Ek het nie geweet hoe ’n liefdevolle verhouding voel nie. “As jy in ’n verhouding is met ’n man wat jou so slegsê, glo jy werklik jy is niks. Jy word daardie mens wat hy sê jy is – jy dink jy is ’n slegte vrou.”

Gillian voeg by: “Die bietjie selfbeeld wat jy nog het as jy jou eerste slegte verhouding begin, word stelselmatig afgebreek – veral soos jou kleintydse verwagtinge bevestig word.” Die man hou sy vrou se selfbeeld laag, sê Truida.“Ek werk in terapie met hoogs talentvolle vroue, maar hul mans erken nooit hul positiewe eienskappe nie, want dan kan hulle dalk ontsnap. Die vroue het geen idee hoe waardevol en knap hulle is nie.”

Gillian sê die vrou fantaseer dikwels dat sy haar man kan stop as sy net verander of dinge anders doen. Sy voel al meer skuldig en skaam en begin verantwoordelik voel vir wat besig is om met haar te gebeur.

“As sy dit ooit regkry om weg te kom, is sy baie weerloos. As sy nie werk deur die redes hoekom sy in die verhouding beland het nie, gaan sy gou weer ’n prooi raak van die volgende man, wat aanvanklik selfs na haar ‘redder’ mag lyk.”

Debra sê dis vir mense moeilik om te verstaan hoekom jy jou kop ’n tweede en ’n derde keer sal stamp. “Maar onthou, dié man is sjarmant. En hy is haastig om betrokke te raak by jou, hy ‘wil jou nie verloor nie’, hy is jaloers. As jou selfbeeld op die grond is, voel jy gevlei deur sy besitlikheid. Hy wil ‘dadelik’ trou–dis alles deel van sy plan om jou te besit en te oorheers, maar dit doen jou brose selfbeeld so goed dat jy dit nie raaksien nie.”

Truida voeg by: “As ’n vrou gewoond is aan ’n baie negatiewe pa, is so ’n negatiewe man vir haar normaal. By die tweede man sien sy dalk nie dadelik die patroon raak nie, maar dit kom later weer na vore.

“Sy plaas hom ook op ’n troon omdat sy nie haar eie vermoëns vertrou nie. Sy het hom nodig om te sê wat haar vermoëns en uitkyk is. Sy kan hóé knap wees, as sy gewoond was aan ’n finansiële veiligheidsnet, is sy verpletter as dit verdwyn, selfs al was die man hoe sleg. En dan is daar tye wat hy huil soos ’n baba, dan word haar hart weer sag. Skuld én vrees hou haar terug.”

Hoe sterker die patroon is, hoe moeiliker is dit om te breek, sê Debra. “Jy moet eers ’n ‘a-ha-oomblik’ hê. Toe ek besef daar is ’n patroon, moes ek my idee verander van hoe ’n gesonde verhouding lyk. Ek is deur ’n lang proses van selfontdekking en heling.”

RAAD

Debra se raad aan ander? “As jy dit nie self kan doen nie, gaan na ’n professionele persoon. As jy nie by die wortels uitkom nie, sal jy nooit genees word nie. Jy moet eers sien waar dit vandaan kom, jouself vergewe en die persoon wat dit aan jou gedoen het. Die vervulling en geluk daarna maak enige pyn van die ontdekkingsproses die moeite werd.”

Dis belangrik dat jy iets daaraan doen, beaam Truida,“een of ander tyd sal jy nie kan voortgaan nie – jy beland dalk of in ’n depressie of op straat. “In ’n veilige omgewing met ’n terapeut kan jy sien hoe en hoeveel skade jou aangedoen is. En hier is jou waarheid geldig – jou positiewe eienskappe kom na vore en word na jou teruggekaats, en nie geïgnoreer nie.

“Onthou, so ’n proses het ’n begin en einde. Dis ’n natuurlike rouproses, en dan begin die heling. As die patroon sterf, kry jy nuwe energie. Ek sien dit in terapie. Dis amper asof die vrou haar eie sterkte voel. Sy begin waag, sy kry energie om nuwe dinge te doen, nuwe aspekte van haarself uit te leef. “Sy raak dapper. Sy sien kans om vir haar man te sê: ‘Ek wil ’n koffieafspraak met jou maak.’ En dan haarself te vertrou om haar eie grense te trek en vir hom te sê: ‘Dit en dit laat ek toe.’ As sy daardie patroon breek en nie meer ’n slagoffer is nie, kan hy nie meer ’n tiran wees nie.”

En uiteindelik, as jou “innerlike man” (jou idee van hoe ’n man moet wees) verander na ’n positiewe een, dan trek jyself ook baie meer positiewe mans (en mense) aan, sê Truida.

Die 4 patrone

Truida Heymann, sielkundige berader van Panorama, Kaapstad, onderskei tussen vier patrone:

.1 Jy voel asof jy in die mag van jou man is. Hy is amper soos ’n tiran wat die septer swaai. Jy het geen onafhanklikheid nie. Jy weet later nie eers dat jy self ’n wil het nie, jy raak al meer soos ’n slaaf. Baie keer speel geld ’n rol, omdat hy die finansiële mag het. Hoe langer jy by hom bly, hoe meer magteloos en sonder selfvertroue voel jy. Jy kan nie skei nie, omdat jy glo jy nie sonder hom kan klaarkom nie.

2. Jy loop op eiers, jy is so bang jou man verloor sy humeur. Hy het woede-uitbarstings, hy verloor beheer en takel jou selfwaarde af met sy sadistiese optrede. Jy voel asof jy vasgevang is, jy het geen beheer nie. Die emosionele mishandeling kan soms oorgaan tot geweld.

3. Dit gaan in jul huwelik net oor jou man se behoeftes, wat hy aan jou opdwing – jy is daar om sy behoeftes te bevredig, ten koste van jou eie gevoelens, behoeftes en ideale.

4. Jou man het geen respek vir jou nie. Hy knoop affairs aan. Hy het self ’n diepgewortelde minderwaardigheidsgevoel, en hy het baie “spieëls” nodig om vir hom te bevestig dat hy waarde het as ’n man. Verslawing speel dikwels ’n rol–hetsy alkohol, werk, vroue …

Lees ook:

Hoe veilig is jy in jou verhouding?

Egskeiding: Hier's jou padkaart


*Hierdie argiefartikel het oorspronklik in SARIE se Augustus 2007-uitgawe verskyn. Besonderhede en inligting is onverwerk en kon sedertdien verander.