Toe Anita Venter laat in 2015 vir Pieter* by Sun City ontmoet, was sy byna dadelik “malverlief ”. So halsoorkop verlief dat sy kort daarna vir haar man van 38 jaar gesê het hul huwelik is verby.

“Pieter het nie sy onderste tande gehad nie, maar ek het gedink hy het die mooiste glimlag. Hy was so positief en het altyd net die mooiste goed vir my gesê – dat ek die enigste vrou vir hom is, hoe mooi ek is. Sy positiwiteit was aansteeklik,” onthou Anita daardie eerste dae.

Vir byna vier maande het Anita, ’n suksesvolle sakevrou, en haar “dokter”, soos hy hom voorgedoen het, soos konings geleef – al was dit met haar spaargeld omdat sy´ miljoene “vas belê” was vir ’n kort tydperk.

Maar later sou die waarheid uitkom en Anita in ’n maande lange depressie dompel. Pieter was nie wie hy voorgegee het om te wees nie en dit het duidelik geword dat hy verskeie mense geldelik ingeloop het. Een inwoner van Hartbeespoort het vir hom ’n deposito van R100 000 betaal sodat hy beleggers kon inbring vir ’n watersuiweringsplan, maar Pieter het daarna nooit weer van hom laat hoor nie, het die Sondagkoerant Rapport laat verlede jaar berig.

Hy het verskeie ander inwoners van die dorp om soortgelyke deposito’s gevra voor hy glo hul eiendomme sou opkoop, en hy skuld ook ’n eiendomsagent huurgeld.

MAKLIKE TEIKEN?

Wat maak dat ’n vrou met lewenservaring en gesonde verstand nie die vangnet van so ’n swendelaar kan raaksien nie?

Op 60 is Anita beslis nie naïef nie. Sy en haar man, met wie sy herenig is, bedryf saam ’n suksesvolle besigheid op Hoedspruit. Hulle het verlede jaar van Pretoria hierheen verhuis.

Anita vertel sy en haar man het verhoudingsprobleme gehad toe sy Pieter ontmoet het. “Hier kom hy oor my pad, op net die regte tyd, en hy sê al die regte goed – dat hy my lewe kan verander, hoe wonderlik hy dink ek is. Hy het selfs vir my ’n ring gegee en vir mense vertel ons is getroud. Hy was altyd gelukkig en niks kon hom onderkry nie, en dis lekker om by só iemand te wees.”

Luzanne Liversage, ’n sielkundige van Johannesburg, sê naïwiteit is gewoonlik juis nié die oorsaak nie. “Mettertyd verdwyn die verliefdheid in ’n verhouding en vroue smag dan weer na daai vonk – veral as daar boonop probleme in die verhouding is. Wanneer só ’n charismatiese man dan oor haar pad kom, voel dit byna te goed om waar te wees – hy is soos ’n ridder op ’n wit perd. Dis dus nie onkunde nie, maar ’n sameloop van omstandighede. Dit kan met enigiemand gebeur.”

Anita het haar verhouding met Pieter in Februarie verlede jaar beëindig. “Selfs tóé, toe my geld op was, was hy steeds vol komplimente. Hy wou ook alles vir my doen. Maar ek het gesien hoe hy met ander vroue begin flirt – én hoe maklik hulle daarvoor val. Ek het gesien hoe pateties dit lyk om agter hierdie man aan te loop.”

Vroue wat vir ’n swendelaar se truuks val, is gewoonlik ook empaties of voel verantwoordelik vir ander mense. Hulle is dikwels people pleasers en sal, dalk onbewustelik, die gevaartekens in die begin probeer “regmaak” eerder as om weg te stap, sê Luzanne.

Hierdie mans teiken ook ouer vroue wat al bates opgebou het – veral as sy smag na liefde of romanse, sê sy. Boonop kry ouer vroue minder geleentheid om nuwe mense te ontmoet, sê Lu-Anne, ’n verhoudingsafrigter van Kaapstad, en sal dalk nie so kieskeurig wees nie.

DIE GEVAARTEKENS

Dis maklik om kop te skud wanneer jy na sulke stories luister en te wonder hoe op aarde kon ’n vrou nie die tekens vroegtydig raakgesien het nie. Maar ’n swendelaar is ’n geoefende manipuleerder, sê Luzanne, en dis moeilik om in die begin deur so iemand se stories te sien.

“Hulle is dikwels psigopate, sosiopate en narsiste. Charismaties, met min of geen empatie óf skuldgevoelens.” Hy is ook nie noodwendig agter jou geld aan nie, wat hom dalk makliker sou weggee. Vir hom is die magsgevoel wat hy kry as hy jou ’n rat voor die oë kan draai, ’n beloning, sê Lu-Anne.

“As hy boonop vol komplimente is en jou spesiaal laat voel, lyk die gevaartekens dalk nie so gevaarlik nie. As jy ’n behoefte aan ’n maat het en ’n vrees vir alleenwees, kan dit jou maklik ander se foute laat oorsien.”

Maar daar is sekere subtiele waarskuwingstekens wat jou op jou hoede behoort te sit. As hy altyd spog oor sy geld of sukses, maar gereeld sy beursie “verlê het” wanneer die rekening kom, moet die rooi ligte flikker. “Iemand wat maklik oor klein dinge jok, sal net so maklik oor belangriker dinge oneerlik wees. Moet nooit iemand net blindelings vertrou nie. Vertroue is iets wat verdien moet word,” sê Lu-Anne.

Wees veral op jou hoede met aanlyn ontmoetings, waarsku beide Lu-Anne en Luzanne, want dis nóg makliker om aanlyn iemand om die bos te lei. “Deesdae het misdadigers toegang tot jou sosialemedia-profiele en as hy weet wat jou belangstellings is, kan hy makliker jou vertroue wen,” volgens Lu-Anne.

Een manier om ’n manipuleerder raak te sien is om na jou eie gevoelens op te let. “As jy aanhoudend skuldig voel, kan dit ’n teken van manipulasie wees. Een van die beste maniere om jouself teen ’n manipuleerder, in enige verhouding, te beskerm is om duidelike perke te stel en nie toe te laat dat iemand jou laat skuldig voel daaroor nie. Moet nooit jou instink ignoreer nie.”

KONTAK:

Lu-Anne: lu-anne.co.za; info@lu-anne.co.za

Luzanne Liversage: luzanne@crs-med.co.za