Mense in hul vyftigs en sestigs word deesdae die “toebroodjiegeslag” genoem omdat hulle twee geslagte – hul (dikwels volwasse) kinders én hulle bejaarde ouers – moet ondersteun en gevolglik soms maar “dun gesmeer” is. Barbara van Zyl (59), ’n makelaar van Kaapstad, lag oor dié etiket. “Soms voel dit of jy dit eerder die Salticrax-generasie moet noem, soos in daai ou advertensie waar die einde-van-die-maand Salticrax net ’n droë beskuitjie sonder kaas is. Dis nie altyd ’n maklike posisie nie ...”

Nie net woon Barbara se dogter by haar nie, sy ondersteun ook haar eie ma finansieel én sy moet soms haar volwasse seun help om die pot aan die kook te hou. “In die maande wanneer al drie geld nodig het, spaar ek self niks nie. Ek het goed beplan vir my aftrede, maar is ook nou op die ouderdom waar ek my geld wil geniet en ’n paar luukshede kan bekostig.”

Al hoe meer mense bevind hulle in dieselfde bootjie as Barbara. Old Mutual het verlede jaar geraam 28% van alle Suid-Afrikaners wat in stede woon, moet hul kinders en ouers geldelik ondersteun. Boonop styg dié syfer elke jaar met 2%.

Die nuwe ‘normaal’

Cornelia Swart, ’n voorligtingsielkundige met praktyke in Pretoria en Johannesburg, sê daar is verskeie redes waarom ál meer mense hulle in hierdie situasie bevind: Die ouer geslag leef langer, mense kry later eers kinders, en die ekonomie sukkel.

“Boonop is daar nou ook ’n sogenaamde klubtoebroodjie-generasie: mense wat drie geslagte – hul ouers, kinders én kleinkinders, óf hul kinders, ouers en grootouers – moet bystaan. Ek het ook ’n hele paar middeljarige kliënte wat hul werklose sibbe in hul twintigs of dertigs help.”

Lynda Blore, ’n opvoedkundige sielkundige van Randburg, sê sy ervaar dieselfde in haar praktyk. “Dit is glad nie eenvoudig nie, want elke situasie en familie verskil. Soms leef al drie geslagte onder een dak, terwyl die jonger en ouer generasies in ander gevalle net finansiële hulp of emosionele steun benodig. Maar as jy jou kinders en jou ouers moet help, of jy voel skuldig as jy nie kan nie, is jy ’n lid van die toebroodjiegeslag.”

Die stres van al dié verantwoordelik-hede kan oorweldigend wees. ’n Studie deur die Universiteit van Florida in die VSA toon in die meeste gevalle waar een geslag na twee ander moet omsien, sukkel die versorgers met depressie en angs, ongeag die verskil in ouderdom, inkomste en huwelikstatus.

Voordele én uitdagings

Soms hou die situasie ook voordele in, sê Cornelia. “As die grootouers nog gesond genoeg is, help hulle dikwels op niegeldelike maniere, soos om hul kleinkinders by die skool af te laai of hulle op te pas sodat ma en pa ’n aand uit op hul eie kan geniet.

“In baie gevalle versterk dit ook die familiebande. Wat is lekkerder as om rondom die braaivleisvuur te kuier terwyl Oupa stories vertel met sy kleinkind op sy skoot, of as Ouma haar kleinkinders leer soetkoekies bak terwyl Ma by die werk is?”

Barbara sê sy voel bevoorreg om suksesvol genoeg te wees om haar ma en kinders te kan ondersteun. “Ek is bly ek kan my familie help, want wat sou van almal geword het as ek nie kon nie? En ja, daar is tog voordele. Ek is geskei en dis vir my lekker om my dogter (23) in die huis te hê terwyl sy studeer, al beteken dit my dating life moet nog ’n jaar of wat wag. Dit is ook ’n voorreg om ’n gesonde ma te hê; sommige van my vriendinne moet hul ouers nie net geldelik nie, maar ook fisiek ondersteun omdat hulle sieklik is.”

Vir hierdie mense lyk die prentjie dikwels anders. Nadine* van Harrismith sê sy wens sy kan haar pa oortuig om na ’n aftreeoord te trek. Die stres en moeite om hom en haar drie skoolgaande kinders te versorg vang haar soms. “Hy is nie meer ‘by’ genoeg om alleen te woon nie, maar is te trots om dit te erken en word kwaad as ek of my man met hom daaroor probeer praat. Hy was ’n jaar of wat gelede in ’n motorongeluk en sy motor is afgeskryf – hy moes tóé al nie meer bestuur het nie – so ek moet hom rondry dokter toe en om inkopies of ander takies te doen.

“Maar die groter probleem is dat ek my aanhoudend bekommer oor hom. Hy het min vriende, kan homself nie meer behoorlik versorg nie en ek is bang iets gebeur met hom.”

Cornelia sê al hierdie verskillende uitdagings het verreikende gevolge. “Professionele mense sukkel om die balans tussen ouerskap, verhoudings en hul beroep te handhaaf, wat nog te sê ’n ekstra rol daarby? Daar is eenvoudig nie genoeg tyd in die dag om by alles uit te kom nie en dit het weer ’n negatiewe uitwerking op hul loopbaan, geldsake, emosies en gesondheid. Depressie, stres en uitbranding is groot probleme vir dié geslag.”

Neem beheer

Wanneer jy soveel verantwoordelikhede het, móét jy ingryp en beheer neem, anders gaan jy oorweldig voel. As almal se versorger is die onus op jou om eerlike en openhartige gesprekke met elkeen te hê, sê Lynda. “Die grootste kopstampery gebeur gewoonlik omdat daar nie van meet af duidelikheid is oor almal se verwagtings, vrese en rolle nie, en reëls word ook nie gemaak nie.

“Hoe meer detail julle bespreek, hoe beter: Watter rol speel die grootouers in die kinders se lewe? Waartoe is almal in staat? Hoe gaan jy en jou man as paartjie steeds tyd maak vir mekaar? Op watter punt gaan jy voel jou goedhartigheid word misbruik? Wanneer gaan jou ouers voel jy doen nie genoeg nie? Dit is nie maklik om só eerlik te wees nie, maar dis beslis beter om dit vroegtydig agter die rug te kry.”

Cornelia stem saam. “Probleme ontstaan gewoonlik wanneer die versorgers nie behoorlike grense stel nie, baiekeer omdat hulle sukkel met die nuwe rolverdeling: om as ouer vir hul ouers op te tree. Aan die ander kant sukkel die grootouers waarskynlik ook in hul nuwe rol – dit is ’n groot aanpassing om jou onafhanklikheid prys te gee.”

Finansiële gesprekke

Priya Naicker, hoof van strategiese kleinhandelbemarking by Old Mutual, sê as jy deel is van die toebroodjiegeslag, is dit noodsaaklik om finansiële prioriteite en doelwitte te bepaal en ’n begroting op te stel.

“As jy dit nié doen nie, sit jy dalk net die kringloop voort en dan moet jou kinders eendag weer vir jou sorg. Begin met eerlike gesprekke. Elkeen moet weet wat die situasie is en hoe almal daardeur geraak gaan word indien een mens nie by die begroting hou nie.”

Werk uit wat almal se behoeftes is – van die belangrikste noodsaaklikhede tot dít wat vir julle lekker is en geluk bring, tot dít waarsonder julle regtig kan klaarkom. Die oplossing sal vir elke familie verskil. Een familie sal dalk besluit om minder uit te eet maar saans saam Netflix te kyk, terwyl ’n ander eerder lekker kos wil koop en met ’n stadiger internetspoed oor die weg sal kom.

“Maak ook voorsiening vir die toekoms. Dit moet steeds ’n prioriteit wees om geld te spaar vir jou eie aftrede; moenie wag tot al jou verantwoordelikhede afskaal nie. Hou in gedagte dat jou ouers in die toekoms waarskynlik meer gesondheidsorg sal benodig, of sê nou al vir jou kinders dat hulle op agtien deeltyds sal moet werk om hul eie sakgeld te verdien,” sê Priya.

Dit kan selfs pret wees as julle saam aan kreatiewe maniere dink om geld te bespaar. “Julle kan byvoorbeeld ’n tuinmaakkompetisie hou om op tuindienste te bespaar, of beurte maak om spesiale geregte te berei sodat julle minder uiteet. Daar kan selfs ’n prys wees as beloning vir almal wat vordering maak met hul doelwitte.”

Emosionele gesprekke

As versorger sal jy soms baie ferm moet wees. “Onthou, die veranderinge is nodig om die veiligheid en welstand van almal te verseker. Laat almal sover moontlik sáám besluite neem, maar wanneer dit nodig raak, moet jy die grense stel. Verskaf duidelike redes vir jou besluite,” sê Cornelia.

En dan moet jy eenvoudig sterk staan. “Jou kinders kan byvoorbeeld hulp benodig, selfs al verdien hulle ’n inkomste en al het jy reeds die naelstring geknip, maar stel dan ’n kontrak op (’n finansiële ooreenkoms) sodat hulle aanspreeklik gehou word.”

Barbara het presies dít met haar seun (27) gedoen. “Hy werk vir homself en is eintlik baie selfstandig, maar soms betaal kliënte hom laat en dan het hy geld nodig. Ons het nie ’n formele kontrak nie, maar het daaroor gesels en hy het onderneem om my terug te betaal wanneer hy kan. As dit klein bedrae is, sê ek vir hom om dit te los, maar andersins doen hy dit altyd.”

Nadine sê sy werk nog daaraan om fermer te wees, maar het ook al intussen op klein maniere kompromieë met haar pa bereik. “In die begin wou hy hê ek moet hom sommer drie keer per week rondry, maar ek het hom gevra om sy afsprake alles op een dag te reël en hy hou daarby. Op die ander dae bel ek hom gereeld om te hoor hoe dit gaan, of my man laai hom saans op pad huis toe op om by ons te kom eet.”

Cornelia sê jy moet ook nie te hard op jouself wees nie. Gun jouself én jou familie tyd om aan te pas by jul nuwe rolle en leefstyl. “Jy kan dalk nie jou ouers geldelik bystaan nie, maar jy kan steeds hul lewe verryk deur hulle emosioneel te ondersteun, te gaan kuier en hulle betrokke te hou by julle en jul kinders se lewe. Of dalk kan jy ’n goeie tehuis bekostig, maar jy woon te ver om gereeld te gaan kuier. Die beste wat jy kan doen, is goed genoeg.”

*Skuilnaam.