Emari Gieselbach
Emari Gieselbach

‘Ek kon my seer op papier uitdruk’ - Emari Gieselbach, SARIE Voorbladgesig 2018

Emari sien haar pa altyd in haar geestesoog in die branders staan – toe hy haar ure lank as klein dogtertjie leer lyfbranderry (bodysurf) het. Later jare het hulle saam geskubaduik. Hy was ’n bok vir sports, nes sy “Bol” (kort vir Skattebol) – soos hy sy enigste dogter genoem het.

Dit vang haar nou nog, selfs nege jaar ná haar pa se selfdood: Die wete dat haar twee dogtertjies versot op hul energieke oupa sou wees, en “ek weet hy sou oor hulle mal gewees het”.

Sy selfdood (’n maand ná haar eersteling, Andria, se geboorte) was die moeilikste ding wat sy nog moes verwerk, veral omdat hulle die dag voor sy dood ’n misverstand gehad het. Sy en haar pa kon vreeslik vassit en kopstamp, juis omdat hulle so dieselfde was, vertel Emari.

“Soos enige swanger vrou het my emosies soos ’n pendulum geswaai. Ons het ’n bietjie uitmekaar gedryf in daardie jaar, maar ek het altyd gedink dit sal weer regkom, daar was mos tyd ... Dit het aan my geknaag ná sy dood. Waarom het ek op ‘tyd’ staatgemaak? Ek het gesukkel om myself te vergewe en sukkel soms steeds omdat ek nie ons verhouding herstel het nie. Daar was soveel wat ek vir hom wou sê. Dat ek lief is vir hom. Dat hy ’n goeie pa was. Ek vergewe hom vir sy besluit en verstaan. ’n Paar jaar later het ek vir hom ’n brief geskryf en in die see gegooi.”

Om te rou was moeilik. Sy kon nie huil nie. “My baba het eerste gekom. Ek het my negatiewe emosies en hartseer vir haar probeer wegsteek. Vandag besef ek my grootste fout was om my eie emosies te onderdruk. Ek het te lank vir almal gesê dat ek oukei is, probeer bewys dat ek sterk is.”

Mettertyd het Emari besef sy móét met iemand praat, die skuldgevoel het haar ingesluk. Haar man, Marinus, het ure geluister, hy was ’n goeie klankbord. “My kop was verstrengel in emosies. Ek het gehuil en gepraat en ek was kwaad. Vir my pa, vir myself, vir die Here, vir die lewe.”

Toe sy eers daaroor gepraat het, het die heling begin. Dis ’n stadige proses. Jy dink jy is oor die hekkie, dan wag daar nog een. Sy moes leer om eerlik met haarself te wees, om elke emosie te vóél, te omarm. Elke dag word dit beter, makliker. Emari het weer dinge begin doen wat haar gelukkig maak. Soos teken en skilder. Sy wou aanvanklik nooit weer skilder nie, omdat haar pa selfdood gepleeg het voor ’n skildery wat sy in graad elf gemaak het.

“In retrospek was dit so onnodig, want kuns het vir my heling gebring. Ná sowat vyf jaar het ek weer begin. Ek kon die seer op papier uitdruk, op my manier daardeur werk.”

Emari het baie geleer. Soos die waarde van selfvergifnis, wat sy ook aan Andria en Leah oordra. Erken jou foute, vergewe mekaar en jouself. “Ons sê elke aand voor slaaptyd dat ons lief is vir mekaar. En ek probeer soveel moontlik memories saam met hulle maak. Vandag is dit juis die herinneringe saam met my pa waaraan ek vashou.”

Sy mis hom veral wanneer sy groot mylpale bereik. Soos toe sy as Voorbladgesigwenner aangewys is. “Ek sou só graag sy gesig daardie aand wou sien ... hy het altyd gesê ek is sy Grace Kelly.” 

Charicke Carolus
Charicke Carolus

‘Jy kom nooit oor ’n geliefde se dood’ - Charicke Carolus, naaswenner SARIE Voorbladgesig 2018

Charicke se laaste oomblik saam met Bianca, haar geliefde sussie, was toe sy so om die muur geloer en Bianca se oog gevang het waar sy in die waakeenheid gelê het. Sy mag nie tot by haar bed gegaan het nie. Dit sou die laaste oomblik wees wat hulle ooit sou deel. Bianca is ’n paar uur daarna aan ’n hartaanval oorlede.

Sy wens soms sy kon die tyd terugdraai, sê Charicke, wat 15 was toe haar 26-jarige suster in Oktober 2009 ná komplikasies weens diabetes in die hospitaal opgeneem is. “Ek was jonk, sy was jonk, die laaste ding waaraan jy dink, is dat jou sussie gaan sterf. Ek was verward en bang en onkant betrap. Ek het verwag dat sy nog baie lank gaan leef. Ek kon nie aanvaar wat gebeur het nie.”

Charicke het ’n baie hegte band met Bianca gehad. “Sy was spontaan, die soort mens wat altyd gelag het en almal laat lag het. Die meerderheid van haar vriende was seuns, want sy het gesê meisies is vol drama! Sy was die een na wie ek en my tweelingsus, Charissa, vir raad gegaan het; ons kon regtig met haar gesels. Sy het in my geglo, selfs toe ander nie in my geglo het nie.

“Ek dink nie jy kom ooit oor ’n geliefde se dood nie. My ma het gesê die lewe gaan aan en dat ons ook na onsself moet kyk. Ons sal haar nooit  vergeet nie, maar die Here besluit wanneer dit tyd is om te gaan, jonk of oud. In my laaste paar jaar op skool het ek baie aan haar gedink, ek het geweet dat sy trots sou wees dat ek matriek geslaag het. En dat ons dit met ’n movie of waffles sou vier.”

Soms sal Charicke in stilte sit en wonder wat haar suster nou sou gesê het. Sy onthou nog haar gunsteling-sêgoed: “Jy moet jy wees, don’t be like others, be different.” En: “Maak reg wat jy verkeerd gedoen het, net beter.”

“Elke mens het hul eie manier om die dood te verwerk. Dit het my gehelp om by ons kerk se jeuggroep betrokke te raak, om ook hul stories te hoor. As jy nie met iemand wil praat nie, praat met die Here. Aan die dood kan ons nie verander nie. Gaan aan met jou lewe, want Hy het vir ons elkeen ’n plan.”

Nelichea Richardson
Nelichea Richardson

‘Ek sien weer die mooi in die lewe’ - Nelichea Richardson

Bittersoet herinneringe, beskryf Nelichea haar twee tatoes. Op haar voorarm haar oorlede dogtertjie se naam en geboortedatum. Op haar gewrig die voorletter van haar broer wat op 19 in ’n motorongeluk dood is.

Herinneringe wat haar terugneem na “’n tyd in jou lewe dat jy nie kon dink jy sou oorleef nie. ’n Simbool van waar jy was en waar jy nou is, hoe jy deur die pyn gewerk het, en steeds doen.”

Op ’n koue wintersaand in Julie 2008 het Nelichea in die pad langs haar broer, Ruan, se liggaam gesit. “Ek onthou my ouers se gesigte, Ruan wat gelyk het asof hy slaap. Ek onthou die histerie om ons, maar meestal die gevoel van weerloosheid en vrees,” vertel sy.

Nooit sou sy dink dat sy jare later in “dieselfde donker pad” sou sit nie: dié keer om van haar eie kind afskeid te neem.

Op 20 Februarie 2016 moes sy en haar man, Jacques, die besluit neem om die lewensondersteunende masjiene van klein Isolde Isadora af te skakel.

Isolde, wat op 32 weke met ’n hartdefek gebore is, het veertig dae lank geveg, ingrypende operasies – onder meer ’n opehart-operasie – ondergaan, etlike noodbehandelings, elke dag nóg naaldprikke en kneusplekke aan haar lyfie. Elke dag ’n “tuimeltrein van emosies”, van angs tot hoop.

Soos die weke verbygegaan het, het Isolde al hoe meer verswak, haar lyfie het ingegee. Sy kon nie meer verduur om haar in soveel pyn te sien nie, vertel Nelichea. “Dit was selfsugtig om haar te laat ly omdat ek bevrees was om my kosbare baba te groet. Dié dag het God vir my die krag gegee om haar te laat gaan.”

Nadat die masjiene afgeskakel is, kon sy Isolde vir die eerste keer vashou, haar vryf en soen, bekyk van kop tot toon. “Ek wou haar vat en weghardloop.”

Sy beskryf die pad daarna as ondraaglik. Jy is nie meer die mens wat jy was nie. Als maak seer en niks maak sin nie. Die nagte is die ergste, wanneer jy begin dink. “My seuntjies, Javuahn en Luke, het nie geweet wat aangaan nie. Ek kon skaars vir hulle kyk sonder om te huil, en ’n baba se gehuil kon ek nie hanteer nie.”

Die ondersteuning van vriende en familie was “onbeskryflik”. Met die gedenkdiens is 40 skoenlappers vrygelaat vir die 40 dae wat sy geveg het. Die gesin het in hul tuin ’n gedenkplekkie geskep. Wanneer sy ’n skoenlapper daar sien, dink sy altyd aan hoe Isolde hul lewens verander het. “Haar dood het my geleer om nie meer die lewe te vrees nie. Ek kon die ergste oorleef en weer die mooi in die lewe sien,” sê sy.

Haar man en kinders was haar rotse. Sy kyk met ander oë na “die groot man met die klein hartjie” wat haar altyd moed ingepraat het, en spandeer elke oomblik wat sy kan met haar seuns.

Presies ’n jaar ná Isolde se dood is Isabeau Azaria gebore; hulle kry vrede in die wete dat sy op dié dag vir hulle “gestuur”is. (Haar naam beteken “Toegewyd aan God” en “God is genadig”.) “Toe hulle haar op my bors neerlê, het my hart vir die eerste keer weer van volmaakte blydskap geklop. Wanneer ek na haar kyk, voel ek Sy liefde.” 

Lieze Schlechter
Lieze Schlechter

‘Ek moes leer om op my eie voete te staan’ - Lieze Schlechter

Op die laaste aand van die 2018 Voorbladgesigwedstryd het Lieze se trane begin loop. Nie oor stres of senuwees nie, maar ’n mooi oomblik tussen finalis Leandri Truter en haar pa.

“Hy het haar omhels en was só trots op haar. Dis vir my altyd spesiaal om ’n pa en sy kind so saam te sien,” vertel Lieze, wie se man, Dirkie, op 5 November 2010 aan melanoomkanker oorlede is. Hul kinders Karla, Kehan en Zia was 11, 9 en 5 jaar oud.

Lieze kon hom op die dag van sy dood vertel dat Karla pas as hoofmeisie aangewys is. “Hy was al vyf weke in die hospitaal en ons het geweet hy is op sy laaste. Ek het by hom in die bed geklim en hom die nuus gegee. Hom verseker dat ons oukei sal wees. Hy is enkele minute daarna oorlede.” Lieze het van die begin af openlik met haar kinders oor sy kanker gepraat. Sy was by ’n sielkundige wat haar gehelp het om hulle voor te berei – “een van die beste dinge wat ek kon doen”.

Die gesin het die hele pad met hom gestap. Tot vandag toe praat hulle baie oor hom, en Lieze moedig dit aan. Met haar eie pa se dood toe sy tien was, het mense dit nie gedoen nie. “Ons huis is vol foto’s van hom. Karla slaap in sy T-hemp, Kehan dra van sy hemde ... hy en sy pa is so dieselfde. Soms voel dit vir my asof Dirkie voor my staan. Ek sê dit vir hom, hy hou daarvan om van sy pa te hoor.”

Dirkie was baie aktief, mal oor die see, oor brander- en seilplankry. Toe hy in 2006 met melanoomkanker gediagnoseer is, is die kanker elke keer uitgesny sodra dit versprei het, maar einde 2009 was die nuus verdoemend: daar was tien “kolle” op sy brein. Daar was geen behandeling nie.

Sy het in overdrive gegaan, vertel Lieze. “Ek wou sterk wees vir hom, vir ons gesin, niemand moes sien hoe dit my raak nie. My kinders moes nie dink hul ma het opgegee nie. Ook ná sy dood was hulle my reason to believe.”

Dit was sowat twee jaar voordat die werklikheid haar getref het: Sy was alleen. ’n Enkelouer. Soggens sou sy gaan draf – dit was haar “antwoord” – maar met die terugkeer onophoudelik begin huil.

“My ma het my laat besef ek is besig om in ’n gat te val en ek is na ’n sielkundige wat antidepressante voorgeskryf het. Ná sowat drie maande het dit beter gegaan, ek het ’n werk gekry.”

Dirkie het sy eie onderneming gehad en die geldsake was deurmekaar. Praktiese raad: sorg dat testamente en polisse uitgesorteer is en kry ’n onafhanklike raadgewer. “Om dié tipe besluite op jou eie te neem is die laaste ding waarvoor jy kans sien as jy jou man se dood verwerk en moet sterk wees vir die kinders.”

Lieze, wat altyd ’n tuisbly-ma was, werk nou halfdag as kantoorbestuurder. 

“Ek is trots op wat ek vermag het, ek het geleer ek kan op my eie voete staan.” Daar was wel tye dat sy op haar knieë was, maar dit het net haar geloof versterk. Deesdae het sy ook ’n wonderlike man in haar lewe wat haar en die kinders die ruimte gee om altyd vir Dirkie te onthou.

Suné Potgieter
Suné Potgieter

‘Jy is sterker as wat jy dink’ - Suné Potgieter

Haar pa se onverwagte dood sowat vier jaar terug, enkele maande voor haar agtiende verjaardag, was die eerste keer dat Suné iets moes deurgaan waaraan sy níks kon verander nie. “Ek kon dit net aanvaar, en dít was moeilik,” sê sy.

Haar pa, Francois, het op 13 November 2014 weens interne bloeding ná ’n aneurisme in sy aorta gesterf. Hy is die middag opgeneem nadat hy siek geword het. Suné sou by vriende gaan slaap en het hom nog die aand gaan groet.

“Hy het vir my gesê: ‘Ek is lief vir jou.’ Min het ek geweet dat dit sy laaste woorde aan my sou wees. Hy is later die aand oorlede. Ek was stukkend. Ons was baie na aan mekaar, hy was my ‘eerste liefde’. Wat dit vererger het, is dat my ouma aan my ma se kant net ’n paar uur ná hom oorlede is,” vertel sy.

Dit was vir Suné moeilik om te aanvaar dat haar pa nie meer deel is van haar lewe nie. Hy was die een wat altyd vir haar sou opstaan. “Skielik het ek gevoel ek is alleen. Ek het soveel vinniger op my perdjie gespring oor klein dingetjies omdat ek gedink het ek moet nou myself beskerm.”

Maar sy het ook besef dat jy baie sterker is as wat jy dink. “Ek het ’n lieflike ma wat heeltyd daar was vir my, en ek is bevoorreg om ’n oom te hê wat soos my eie pa is. Die lewe gaan ongelukkig aan, ’n mens moet maar deal daarmee, jy kan nie agterbly nie.”

Sy dink nie jy kom ooit op ’n punt waar jy voel “ek is oukei” nie, maar mettertyd besef jy tog dat dit beter word, al is daar dae wat ’n bietjie erger is as ander. Gelukkig het ’n besige matriekjaar gevolg. “En ek weet dis ’n cliché dat tyd jou heelmaak, maar dis waar.”

Daar sal altyd ’n leemte in haar hart wees. Sy mis hom, met haar matriekafskeid, haar agtiende verjaardag, toe sy 21 geword het, toe sy verlede jaar haar eerste bok geskiet het (sy het altyd saamgegaan as hy jag). Sy sal altyd onthou wat hy haar geleer het, soos om positief te wees, elke oomblik te geniet en avontuurlustig te wees.

Haar raad aan jongmense as jou pa of iemand na aan jou sterf: “Vat soveel tyd as wat jy nodig het om te rou.

Praat oor jou gevoelens, oor hom en jul herinneringe saam en moenie dit probeer vergeet nie. En moet nooit sy dood as ’n verskoning gebruik vir mislukking of om dinge verkeerd te doen nie. Dis jou keuse.”   

SARIE Voorbladgesig

Die 10de jaar van SARIE Voorbladgesig is hier! Meer as 60 000 vroue van reg oor Suid-Afrika het al ingeskryf, en honderde se lewens is verander deur dié kompetisie.

Vir elke finalis en wenner is dit ’n onvergeetlike ervaring. ’n Voorbladfotosessie saam met ’n professionele span, ’n kans om in SARIE te verskyn en die selfvertroue om nuwe geleenthede aan te pak.

Is jy vanjaar ons SARIE Voorbladgesig?

Dis die 10de jaar van SARIE Voorbladgesig en die wekroep in 2020 is #JyIsGenoeg – daarmee bedoel ons jy is genoeg om ook op ons voorblad te wees. 

Die wenner gaan op SARIE se Desember-voorblad wees en saam met die finaliste ’n kans kry om duisende mense te inspireer. Boonop gaan jy in voorblad-styl afgeneem word én jou storie word op SARIE se digitale platforms gedeel.

Ons wag net vir jou inskrywing. Of, as jy iemand ken wat jy glo op SARIE se voorblad hoort, skryf haar nou in!

Inskrywings sluit 31 Mei. Klik hier om die webtuiste te besoek.