Sy vergeet dikwels die stoof aan en los die voordeur oop. Sy't al 'n paar keer geval. My broers verwag ek, as dogter, moet na haar kyk. (Ons suster woon oorsee.)

Ek het 'n groot huis met 'n aparte woonstel, maar ek het ook 'n man, 2 kinders en 'n lewe. Ek is rééds die een wat die meeste by haar betrokke is. Private aftreeoorde is duur en sy verpes dit. My idee is dat ek en my broers beurte maak: Sy woon 4 maande op 'n slag by elkeen. Maar hulle reken dis mý huis of die plaaslike ouetehuis, wat betreklik goedkoop is, maar waarvan ek lelike stories gehoor het.

Marna Dreckmeier-Meiring, kliniese sielkundige van Pretoria

Bejaardes kan baie angstig voel as hulle verswak en geleidelik hul onafhanklikheid moet prysgee. Hul?kinders wil help en neem dan dikwels besluite namens hulle. Ongelukkig laat dit hulle nog meer sonder beheer voel - en hulle kan nogal rebels raak! Moenie besluite oor haar kop neem nie. Die aanpassings wat?gemaak word (soos 'n huishulp of kleiner woonplek), is tog om in háár veranderende behoeftes te voorsien. Moenie aannames maak oor wat sy wil hê nie:

Vra haar. Selfs al kies sy hulpmiddels of omstandighede wat nie vir julle ideaal lyk nie. Dis egter ook belangrik hoe jý hulp en ondersteuning wil (en kan) gee. Dit moet inpas by jou begroting en skedule. Dis wonderlik as kinders opofferings maak - maar nie as dit ten koste van jou en jou gesin se welstand is nie.

Onthou ook dat oumas en oupas se bydraes tot 'n huisgesin van onskatbare waarde kan wees.
Femada Shamam, bestuurder: sosiale dienste by die Vereniging vir Bejaardes (TAFTA) in Durban
Ons neem soms met die beste bedoelinge vir bejaardes besluite - gegrond op wat ons dink hulle nodig
het. Jou ma klink asof sy daarvan hou om in beheer van haar lewe te wees. Betrek haar dus by die besluit oor haar toekomstige versorging. Bespreek jou vrese met haar. Noem die veranderinge wat jy raaksien en maak dit duidelik dat jy oor haar veiligheid bekommerd is. Die manier hoe jy dit doen, is belangrik.

Sy moet weet jy is lief vir haar en daarom praat jy daaroor. Bejaardes voel soms hulle is 'n oorlas vir hul kinders - hanteer dit dus saggies. Dan: Julle moet as kinders saam verantwoordelikheid vir jul ma se versorging aanvaar. Jou broers het, soos jy, waarskynlik geldige vrese. Kom bymekaar en bespreek dit.

Die sleutel is dat almal toegewings moet maak - en dat jou ma betrek word. Dis dalk nodig om 'n derde party te betrek.

Kontak jul plaaslike organisasie vir bejaardes en vra vir 'n maatskaplike werker se hulp. Sy kan dalk ook
met jou ma gesels, sou dit nodig wees. Laastens: Besoek die plek met die slegte reputasie. Loop rond en praat met van die inwoners en personeel. Jy kan só 'n ingeligte besluit neem.

Hantie Olivier, SARIE-leser van Roodepoort, uit eie ervaring

Dis 'n kop- en nie 'n hartsbesluit nie. Waar gaan daar uiteindelik die beste na jou ma omgesien word? Wat as sy later spesiale versorging moet kry? Oordink al die feite. Moenie gedwonge voel om die "regte" ding te doen en dan werk dit vir niemand nie: nie vir jou ma óf jou gesin nie. Baie vroue het deesdae 'n beroep en kan nie na 'n bejaarde omsien nie. Drie geslagte onder een dak werk ook selde uit. (Dit hang
natuurlik af hoe jou verhouding met haar was vóór sy by julle ingetrek het.) As jy besluit het sy kom by jou woon en dan werk dit nie, kan jy moeilik omdraai. Dis ook nie nodig dat jy alleen die verantwoordelikheid moet dra nie, al dink jou broers wat, en al was jy tot dusver die een wat die meeste vir haar gedoen het - dit beteken nie dis nou jou "rol"om altyd te gee nie. Bejaardes: Dis jou eie verantwoordelikheid om voorsiening vir jou oudag te maak. Jy moet self weet wanneer die tyd reg is om na 'n aftreeoord te trek; terwyl jy jonk genoeg is om aan te pas. Jou beplanning gaan uiteindelik die gehalte daarvan bepaal.

KONTAK

* Marna by 082 772 1559
* TAFTA by 031 332 3721 of besoek www.tafta.org.za