Die tekens van 'n affair

M. Gary Neuman is al langer as 20 jaar 'n huweliksraadgewer in Amerika. Uit sy spreekkamer-ondervinding en ná gesprekke met honderde mans het hy die boek The Truth about Cheating: Why Men Stray and What You Can Do to Prevent It (Wiley-uitgewers, 2008) geskryf. Volgens hom loop 1 uit 2,7 mans rond - en die meeste vrouens vind dit nooit uit nie. Sowat 93% van sulke mans gaan ook nie uit hul eie bieg nie. Die volgende is alles tekens dat hy 'n affair het (of op die punt is om een te hê), sê hy:

  • Hy is dikwels nie by die huis nie.
  • Julle het minder seks.
  • Hy vermy kontak met jou.
  • Hy antwoord nie sy selfoon nie.
  • Hy kritiseer jou meer.
  • Hy praat aanmekaar van 'n ander vrou.

WAT SÊ ONS MANS?

In elke verhouding is daar een persoon wat meer caring is. In ons huwelik is dit ek. Ek onthou Valentynsdag, ons huweliksherdenking, haar verjaardag. Dis eenvoudig nie vir haar belangrik nie. Ek het al gewonder of sy dit sal agterkom as ek moedswillig vergeet? Maar sy het ander goeie eienskappe en ek konsentreer daarop. Sy is bv. die een wat onthou die rekeninge moet betaal word!

Frank, 49, verteenwoordiger, Pietersburg

'n Affair? Nee! Maar soms wens ek my vrou wil iets aan haar voorkoms doen. Sy het in die 10 jaar dat ons getroud is 25 kg aangesit. Sy eet aaneen en loop by die huis in ou sweetpakke rond. 'n Man het behoeftes, maar sy dóén niks meer vir my nie.

Ryno, 37, onderwyser, Pretoria

Herman, 29, ingenieur, Stellenbosch

Ek voel seergemaak as ek saans ná 'n harde dag by die huis kom en my vrou lê en slaap. Sy staan nie eens op om vir my 'n toebroodjie te maak en te gesels nie.

Ek mis aanraking en intimiteit in my huwelik en knoop om dié redes buite-egtelike verhoudings met ander vroue aan. Ek is nie bereid om van my vrou te skei nie, want ek wil nie my kinders seermaak nie - en dis duur om te skei.

Jan, 50, bemarkingsdirekteur, Johannesburg

Ek voel afgeskeep as my vrou meer oor haar werk praat as wat sy met mý praat.

Piet, ingenieur, 31, Stellenbosch

My vrou het verander sedert die kinders (5 en 3) se koms. Ons het saam besluit sy gaan 'n tuisbly-ma wees. Maar nou voel sy ek is die gelukkige een omdat ek bedags werk toe kan gaan. Ons het minder seks as voorheen en ek kry die indruk sy geniet dit nie. Maar 'n affair is uit. Ek glo ons sal dinge uitwerk.

Gary, 36, sakeman, Pietermaritzburg

Sy gesels ure met haar vriende op die telefoon en is dan opgewek en selfs luid. Dis nie soos ek haar normaalweg ken nie. Ek voel uitgesluit en dit krap my sommer om. Sy sê ek is jaloers, ek wil haar net vir myself hê. Maar is dit normaal dat iemand twee uur lank op die telefoon praat? André, 44, kopieskrywer, Midrand

Piet, 45, nutsman, Pretoria

My vrou is 'n go-getter en vanweë haar werk baie van die huis af weg. Ek vermoed sý het 'n affair met haar baas, hulle is dikwels saam weg. Maar sy ontken dit. Dit, en die feit dat sy meer as ek verdien, laat my baie "klein" voel. As ek iemand ontmoet tot wie ek aangetrokke voel, sal ek beslis 'n affair aanknoop. Al is dit net om my vrou 'n punt te wys.

Ná 26 jaar is ek verveeld met my huwelik. Ons ken mekaar só goed, daar is net nie meer enige verrassings nie. Voel ek afgeskeep? Genade nee, in dié stadium verkies ek dat sy op haar werk, die huis, kinders en kleinkinders konsentreer. Ek het al affairs gehad, ja. Niks ernstigs nie, ek wil nie my lewe te ingewikkeld maak nie.

Tommie, 58, eiendomsagent, Johannesburg

Mans se ego's is so delikaat soos 'n spinnekop se web. Hulle sal enige kans aangryp om hul vrou te verkul. Dit het niks daarmee te doen dat hulle afgeskeep voel by die huis nie.

Kobus, 53, skoolhoof, Wes-Kaap

My vrou sit permanent voor die rekenaar. Of sy werk, of sy speel speletjies, of sy kommunikeer met haar vriende op Facebook. As ek kla, sê sy get a life!

Andries, 27, onderwyser, Vereeniging

Ek het vriende wat enigiets as verskoning sal gebruik om hul affairs te rasionaliseer. Sommige mans se oë dwaal graag -

en dit bly nie net by dwaal nie. Hulle kan met 'n engel getroud wees en hulle sal steeds rondloop. Dis soos 'n siekte.

Bertus, 46, personeelbeampte, Bloemfontein

As ek "afgeskeep" voel, sal ek dit met my vrou bespreek. In vandag se besige lewe is die kans ewe goed dat sý afgeskeep voel. Ons is emosioneel volwasse genoeg om sulke klippertjies uit die pad te rol. 'n Affair is die doodsklok vir 'n huwelik.

Hans, 51, argitek, Boksburg

Patrick, 31, bourekenaar, Durban

My vrou stort al haar liefde op ons dogters, 8 en 10, uit. Ek voel heeltemal oorbodig. As ek iemand ontmoet met wie ek baie gemeen het, sal die versoeking sekerlik daar wees om 'n affair te begin. Nie dat ek daarna gaan soek nie.

Ek sal nie sommer my lewe kompliseer met 'n fling nie. Ek sal darem báie alleen moet voel voor ek dit doen. Ek sal dit waarskynlik eers oorweeg as my vrou háár goed vat en só kwaad vir my is dat sý dreig om uit te trek.

Rikus, 48, instandhoudingsbestuurder, Kaapstad

Dit gaan alles oor ego. As jou vrou dink jy is ongelooflik, is dit wonderlik. Die oomblik as sy dit nié meer dink nie en iemand anders gee jou daardie versekering, dan begin jou oog dwaal . . .

Hugo, 40, grafiese kunstenaar, Paarl

Wanneer my vrou nie my belangstellings deel nie en heeldag in die bed lê en skyfies eet, sal ek begin rondkyk. En sy móét eerlik wees oor wat in haar hart aangaan en daaroor kan praat. Stilte laat onheil uitbroei. Ons moet 'n sielskonneksie hê. Dit neem natuurlik twee om te tango, so ek neem ook haar behoeftes in ag. En dis belangrik dat sy haar gevoelens wýs. Ons mans hou van warm, liefdevolle vroue.

Costas, 32, bemarkingsbestuurder, Kaapstad

Ek is 'n motorverkoopsman en my vrou het my nog altyd laat voel sy verdien iemand met 'n meer posh werk. Sy is mooi, sy het sekerlik die kans gehad. Ek is baie lief vir haar. Al laat sy my soms minderwaardig voel, sal ek haar nooit verneuk nie. Dis nie in my aard nie.

Andrew, 54, IT-kenner, Johannesburg

As ek klein goedjies vir my geliefde doen en dit word oor 'n lang tydperk nie raakgesien nie, sal ek afgeskeep voel. 'n Mens moet elke dag vir jou geliefde spesiaal probeer maak. Julle moet daarteen waak om te veel in 'n roetine te verval en probeer om mekaar altyd te verras. Anders kan julle onvergenoegd raak.

Frans, 40, algemene bestuurder, Centurion

Adriaan, 19, student, Pretoria

My eks-meisie het gesê ek moet tussen haar en gholf kies. Sy weet ek lewe daarvoor en dit het my baie seergemaak dat sy dit van my verwag. Sy was jaloers omdat ek iets doen waarby sy nie ingesluit is nie. Ek gaan nou met iemand uit wat my dit gun.

Dinge kan begin lol as my vrou nie genoeg tyd saam met my deurbring en nie met my kommunikeer nie. En al is jy 'n vettie met 'n bril, moet sy darem soms vir jou sê jy is sexy. As jy nie die versekering by haar kry nie, sal jy dit elders gaan soek.

Jan, 40, bemarkingsontwikkelaar, Johannesburg

Dit bly maar vir 'n man opwindend om te jag. Daarom is dit so aanloklik om jou vrou te verneuk. Jy het jou vrou gevind en is lief vir haar. Maar die opwinding van die vangs is verby. Dis 'n sensasie wat jy wéér wil ervaar: Jy wil daardie verbode vrug eet.

Gideon, 45, makelaar, Sandton

My eks-vrou het opgehou om haarself te versorg. Sy het sonder grimering en met slonsklere geloop en baie gewig aangesit. Sy het haarself só laat gaan, dit was nie meer 'n plesier om by haar te wees nie. Ek was skaam vir haar. Sy het haarself boonop aan sosiale geleenthede onttrek en net op die kinders gefokus. Ek het dikwels naweke alleen gaan duik - en dís hoe ek my nuwe liefde ontmoet het. 'n Man hou mos maar van 'n mooi vrou en natuurlik het my oog gedwaal. Ons is geskei en ek het met my nuwe liefde getrou.

Gerhard, 50, bouer, Kaapstad

As een party heeltyd moet gee en niks terugontvang nie, kán dit nie werk nie. In 'n verhouding wil albei partye gereeld hoor hul maats is lief vir hulle. 'n Aanhoudende geteem, baie kritiek en oordrewe preutsheid dryf jou teen die mure uit. Ek sien baie mooi meisies, maar sal nie my vrou met hulle verneuk nie. Maar 'n aand in die kroeg met dalk een drankie te veel, en jy kan dalk vir die lelike eendjie val wat ook liefde nodig het. Deon, 50, fotograaf, Pretoria

As my vrou te veel lees, voel ek afgeskeep. Sy gaan in haar eie droomwêreld en vergeet van alles om haar. Toe ons nog jonk getroud was, het sy gereeld my kop en rug gekrap. Ek is mal daaroor. Deesdae betaal ek my 3 laerskooldogters om dit te doen. Toegegee, sy het 'n voltydse werk en die kinders is veeleisend. Carl, 45, advertensie-direkteur, Sandton

Arnold, 51, loodgieter, Krugersdorp

My eks-vrou het 'n baie hoër seksdrang as ek gehad. Sy het gedurig geskimp ek is nie man genoeg vir haar nie. Sy het uiteindelik 'n verhouding met 'n ander man gehad - dit was die rede vir ons egskeiding.

My huwelik van 9 jaar is verby. My vrou het belangstelling verloor om daaraan te werk die oomblik toe die trouring aan haar vinger glip. Ons kan oor niks meer praat sonder om te baklei nie. Ek dink aan skei, maar sal nooit agter haar rug 'n affair aanknoop nie.

Andrew, 41, eiendoms-ontwikkelaar, Roodepoort

WAT LAAT JÓÚ AFGESKEEP VOEL?

Het jy of jou maat al 'n affair gehad en hoekom?