Het jy al ooit gewonder hoekom jy tweeuur smiddae miserabel, drieuur lui en agtuur saans nogal gelukkig voel? Jou buie volg verrassende, dog voorspelbare daaglikse liggaamsritmes.

Twee studies wat meer as 800 miljoen twiets oor vier jaar bekyk het, het bevind ons buie se “oppe” en “affe” stem byna presies ooreen met die daaglikse ritmes van twee sleutel-chemikalieë in die liggaam: Die streshormoon kortisol en die “goedvoel”-neuro-oordragstof serotonien. Ander faktore wat ’n rol speel, is bloedsuikervlakke, voeding en die styging en daling in die vlakke van ander hormone en chemiese stowwe.

“Dis ’n kombinasie van faktore wat almal saamwerk en moeilik om te ontrafel,” sê Daniel Pink, wat liggaamsritmes nagevors het vir sy boek When: The Scientific Secrets of Perfect Timing (Riverhead Books, 2018). “Dis egter ’n feit dat ons bui en kognitiewe vermoëns nie deur die dag dieselfde bly nie. Dit verander op ’n voorspelbare en soms ekstreme manier. Daar is ’n regte tyd vir alles.”

Maak dus die beste van jou bui, elke minuut van die dag.

06:00

Opstaan! Jou liggaam produseer nou al ’n hele paar uur lank kortisol. Dis die hormoon wat jou lyf aan die gang “skop”. Die vlakke bereik ’n hoogtepunt 30 minute nadat jy wakker geword het en bly die eerste uur hoog. Staan vroeg op, selfs al is dit nie nodig nie. By vroue word dit verbind met ’n kleiner geneigdheid om depressie te kry.

07:00

Testosteroonvlakke by vroue is op hul hoogste tussen nou en agtuur en jou kortisolvlakke steeds hoog. Jou dryfkrag en motivering is dus hemelhoog. Jy is ook minder kwaai, volgens navorsers aan die universiteit van Bristol wat 800 miljoen twiets ontleed het. Hulle het ’n sterk verband gevind tussen die tyd van die dag en negatiewe en positiewe emosies. Dis nou ’n goeie tyd om ’n probleem te takel.

08:00

Jou goeie bui sneuwel. Studies wys agtuur is ’n piektyd vir hartseer en moegheid. En dis erger op ’n Maandag, natuurlik.

09:00

Positiewe emosies lig weer hul kop. Die kortisol het sy towerwerk gedoen en enige dowwe gevoel in jou kop is weg, sê Pink. Serotonienvlakke styg ook, tot elfuur. Iets gebeur beslis rondom negeuur en positiewe emosies neem oor, beaam dr. Fabon Dzogang, wat aan die Bristol-universiteit met Twitter-studies gewerk het. Drink nou eers jou eerste koppie koffie. Jy het nie kafeïen nodig as jy jou oë oopmaak nie omdat die hoë kortisolvlakke jou wakker maak.

10:00

As jy vandag sonnig gaan voel, is nou die beste tyd. Ons is nou die minste kwaai, volgens die Twitter-studies.

11:00

Dis wanneer die brein analities op sy skerpste is. Jy gaan nou tot vanmiddag op jou produktiefste wees. Positiewe emosies styg steeds en gaan binnekort ’n piek bereik.

12:00

Die middaguur is jy die meeste geneig om op positiewe emosies en sensasies te reageer. Maak nou belangrike telefoonoproepe, of vra vir ’n verhoging. Jy is nou meer geneig om konstruktief te wees; smiddae is jy weer meer bakleierig.

13:00

Jou goeie bui begin taan en die middag-insinking kom nader. Maar jy voel nou op jou warmste teenoor ander, voor jou bui vinnig val.

14:00

Die tyd in jou werkdag wanneer jou geluk op sy laagste is. Jy voel moeg: Jy is reeds sewe uur lank aan die gang en jou liggaam gaan nou ’n natuurlike rusfase binne. Dis die tyd om 15 tot 20 minute lank e dut.

15:00

Jou onproduktiefste tyd, volgens ’n Britse peiling. Nie vreemd nie: Jou serotonienvlakke is laag, en so ook jou bloedsuikervlakke.

16:00

Jou energievlakke lig effe tussen nou en vyfuur. Jy is nie so skerp soos vanoggend nie, maar dis ’n goeie tyd vir kreatiewe take. “Wetenskaplikes noem dit die inspirasie-paradoks, aangesien innovering en kreatiwiteit die beste is juis as ons sirkadiese ritmes ons bietjie voos laat voel,” volgens Pink. Omdat jou gedagtes “losser” is, dus nie op een ding gefokus nie, is jy meer geneig om daardie flits van insig te kry.

17:00

Jou bui verbeter en jy begin jouself geniet. As jy een van die 20% naguile onder ons is (die nag is dan jou speelplek), bereik jou brein nou ’n piek. (Sowat 15% van ons is lewerikies, uit en uit dagmense. En 65% iewers in die middel.)

18:00

Jou liggaamstemperatuur is die volgende uur op sy hoogste, ’n goeie voorspeller van jou bui. Die beste keuse vir aandete is styselkos. Dit verhoog jou bloedsuikervlakke sodat jy meer insulien afskei, wat jou kortisolvlakke verlaag.

19:00

Die res van die aand daal kortisolvlakke vinnig, wat beteken jy is relatief kalm en ontspanne.

20:00

Jy voel meer toegeneë teenoor ander en is nou op jou gelukkigste.

21:00

Jou goeie bui bereik ’n hoogtepunt. As jy bakleierig voel, beteken dit jou kortisolvlakke is te hoog. Jou liggaam produseer ook nou melatonien, die slaaphormoon.

22:00

Melatonien bou in jou liggaam op: Begin voorberei vir ’n lekker nagrus. Skakel alle skerms af. Jy wil ’n tweede asem verhoed, wat twee tot drie uur lank kan duur en dit moeiliker sal maak om te slaap. Dis nou die beste tyd vir seks.

23:00

Daar is ’n venster-periode tussen nege- en twaalfuur wanneer jou brein en lyf die regte verhouding diep teenoor REM- of droom-slaap kry. Meestal is jou bui die volgende oggend die beste as jy voor elf in die kooi kom.

00:00

As jy nog nie slaap nie, is die kans goed dat jou bui drasties versleg. Die Twitter-studies wys middernag is die sleutel-tyd om woede uit te druk.