Wat is geluk? Wat maak ons gelukkig? Word ons gelukkig of neutraal gebore? Hoe verskil geluk van goedvoel? Kan geluk gemeet word? Hierdie is van die kwessies waarmee kenners hulle deesdae besig hou en intense navorsing oor doen. ?Vir seker is hierdie komplekse vrae wat met tyd al meer teorieë en antwoorde sal oplewer, maar daar ís al iets soos die sewe gewoontes van gelukkige mense geïdentifiseer.

Dit werk min of meer só:

Mense wat werklik omgee vir ander – of dit nou deur vrywilligerswerk of gereeld net ’n skouer is vir ander om op te huil – weet wat geluk is. Dié van ons wat gereeld oefen, is veel minder depressief as dié wat nie oefen nie omdat aktiwiteit negatiewe gedagtes verdryf en ons net beter laat vóél, sê die kenners.

Net so is daar ongetwyfeld ’n band tussen spiritualiteit en godsdiens en ons persoonlike geluk. Ook almal wat hul unieke sterktes en goeie eienskappe positief uitleef, ken geluk. As ons boonop só weggevoer raak deur iets wat ons wíl bereik, dit goed doen en dit geniet; wanneer tyd vir ons stilstaan – dís geluk.

Daar’s ook dankbaarheid – as ons met dankbaarheid leef en ?dié emosie verstaan, ervaar ons ’n gevoel van samehorigheid? en ware geluk.

En dan is daar die grote: ons verhoudings. Wanneer ons goeie verhoudings het en die emosionele nabyheid van geliefdes en vriende ervaar, is ons gelukkig. Om ons intiemste emosies te deel met ander wat vir ons saak maak, is die kern van geluk. ’n Wye vriendekring en ’n wêreld vol Facebook-kennisse is nie waaroor dit gaan nie. Selfs net een persoon met wie jy jou wêreld en jou gedagtes kan deel, bring die geluk waarna elke mens op hierdie planeet smag.