Akteurs Richard Burton en Elizabeth Taylor se liefdesverhaal word dikwels beskryf as een van die groot romanses van Hollywood. Selfs ná sy dood in 1984 het Liz glo gesê: “Ek het altyd geglo ons sal ’n derde keer trou, en dié keer vir altyd saam wees . . .”

Ook CNN-onderhoudvoerder Larry King en sy vrou, Alene Akins, akteurs Melanie Griffith en Don Johnson, aktrise Pamela Anderson en pokerspeler Rick Salomon, komediant Richard Pryor en Flynn Belaine het al twee keer saam voor die kansel gestaan – en weer geskei.

’n Studie toon tussen 10% en 15% van alle geskeide paartjies kan weer versoen. Maar maklik is die pad nie – sowat 60% van hierdie huwelike misluk, volgens statistieke van Psychology Today, sê dr. Elizma van der Smit, kliniese sielkundige van Klerksdorp.

Trou julle egter om die regte redes weer en julle is albei bereid om hard te werk aan die huwelik, is daar ’n beter kans op geluk. Die Amerikaanse TV-persoonlikheid Judge Judy en haar man, regter Jerry Sheindlin, wat in 1990 geskei en ’n jaar later weer getroud is, is vandag steeds gelukkig. Hulle was “eenvoudig te lief vir mekaar” en bereid om aan hul verskille te werk, berig workingwomen.com. Ek het op die harde manier geleer dat dit wat jy dink jou gelukkig maak, nie noodwendig so is nie,” sê sy.

Dr. Van der Smit sê dikwels besef huweliksmaats eers wat hulle gehad het wanneer hulle dit verloor. Of dat die gras nie groener aan die ander kant van die draad is nie. “Hulle besef dalk dat hulle impulsief geskei het om simpel redes; hulle is nog lief vir hul eks, of hulle is dalk ouer en wyser en meer bereid om te werk en hul maat tegemoet te kom, hul eks sy foute te vergewe en daarvan te vergeet. Alles geldige redes om weer ’n verhouding te oorweeg.”

Maar daar is baie verkeerde redes om met jou eks te trou, sê dr. Van der Smit:

  • jy is eensaam;
  • jy doen dit net ter wille van die kinders;
  • jy het onrealistiese verwagtinge, soos ’n vals prentjie van “’n perfekte gesin”;
  • jy voel skuldig teenoor jou maat of die kinders;
  • finansiële redes; net omdat dit vir jou prakties makliker gaan wees;
  • druk van familie of kinders;
  • jy verromantiseer jou maat, en onthou net die goeie en “vergeet” die slegte.
WIL JULLE WEER TROU? KRY EERS DÍT ONDER DIE KNIE

Leandie Buys sê sy leer vir alle paartjies:

  • Hoe om met mekaar te praat en mekaar te hoor, want mans en vroue kommunikeer verskillend. ’n Vrou wil soms net afpak; ’n man wil raad gee. Paartjies leer dus om vir mekaar die “teken” te gee of hulle net “afpak” of “wil weet wat die ander een dink”.
  • Hoe om konflik te hanteer, want in ’n verhouding is daar altyd een wat veg of een wat vlug.
  • Hoe om in ’n verhouding te wees, want ’n verhouding het reëls. Soos bv. oor die gebruik van selfone, en waar en wanneer julle dit toelaat.
  • Oor seks, want die betekenis van seks is verskillend vir mans en vroue.

Soms is daardie aantrekkingskrag net te sterk, sê Bets, wat met haar eksman getrou het, net om weer in die skeihof te beland. “Nou nog het hy ’n soort houvas op my hart, al het hy my soms sleg behandel en het ons soos kat en hond baklei. Ons kon nie sonder mekaar wees nie, maar ons kan ook nie saam wees nie. Uiteindelik het ek groot finansiële skade gely weens hom. Hy het kort nadat ons uitmekaar is, weer by my begin kuier en bly beloof dat dit dié keer anders sou wees. Uiteindelik het hy my weer in die steek gelaat.”

Leandie Buys, verhoudingsterapeut en kliniese seksuoloog van Port Elizabeth, sê soms hoop pare dat die verhouding “dié keer” gaan werk. Of dat een of albei partye “verander” het. Sommige vroue is as’t ware magnete vir narsiste – hulle trek nie hul grense nie en laat weer so ’n man in hul lewe toe, soos waarskynlik in Bets se geval.

Dr. Van der Smit sê as julle weer wil probeer, moet albei van julle verstaan wat verkeerd geloop het en verantwoordelikheid aanvaar vir jul aandeel in die egskeiding. “En moenie verwag dat julle net kan optel en aangaan waar julle gelos het nie. Om te verstaan dat dinge nou anders is, maak dit nie anders nie. Dinge moet steeds deur middel van aksies reggestel en verander word.”

Dis belangrik dat julle werk deur al die uitdagings wat julle in jul eerste huwelik ervaar het, sê Leandie. “Vra jouself af: Wat gaan anders wees as ons weer trou? Gestel jou man was ontrou: Het hy werklik berou? Het hy hulp gekry vir sy ontrouheid, oor hoekom hy ontrou was? Sal jy hom weer kan vertrou? Of dalk het hy voortdurend op jou geskreeu (verbale misbruik) – het hy terapie gekry om te werk aan sy woede? Het hy insig oor hoekom hy so raak?”

Leen en haar eks het albei afsonderlik vir terapie gegaan voordat hulle vir die tweede keer afgehaak het. “Met ons eerste huwelik was ons jonk, te dom om oor die klippe in ons pad te kom. Ons was die tweede keer beter toegerus. Jy moet egter besef julle is nog dieselfde mense, met dieselfde geite. Julle kan dalk van jul kreukels uitstryk, maar jul persoonlikhede bly dieselfde. Ek was die moeilike, hardkoppige een, hy kopsku vir konfrontasie. Hy het daarvan gehou dat ek voor loop en ons probleme oplos, sodat hy die rol van die gelykmatige, goeie ou kon speel. Dit het aanvanklik gewerk. Tot dit nie meer gewerk het nie. Die stiltes het al hoe langer gerek totdat ons later nie meer ons pad terug na mekaar toe kon vind nie en ons uitmekaar is.”

Dis harde werk – en bly harde werk, verduidelik dr. Van der Smit. Met terapie kan julle onder meer vasstel watter foute julle gemaak het en hoekom, en hoe om mekaar daarvoor te vergewe en weer te vertrou. Hoe julle in die toekoms belangrike kwessies soos finansies en familie sal hanteer. Asook elkeen se rolle en verwagtinge.

Dis ’n voortdurende leerproses, het Angela ondervind nadat sy die liefde ’n tweede kans gegee het. Sy en haar man is ná hul tweede huwelik weer vir 18 maande uitmekaar nadat moeilike omstandighede hulle uiteengedryf het. Maar hulle het al te veel deurgemaak om tou op te gooi, het sy aan prevention.com vertel. “Ons het elkeen perspektief gekry toe ons weer op ons eie was. Ons besef ons dra albei die skuld vir ons probleme. Die kwessies wat opduik, het ook in ons ander huwelike opgeduik [albei was ook met ander mense getroud]. Ons werk daaraan. Die les is, ons kan mekaar aanvul, maar nie ‘voltooi’ nie – ’n suksesvolle verhouding bestaan uit twee heel mense wat hul tekortkominge erken en werk daaraan.” 

KONTAK:

Dr. Elizma van der Smit: afrikaans.zenzilelife.com

Leandie Buys: leandiebuys.co.za