Hoekom ’n kripto-geld-eenheid soos bitcoin geskep is

Die wêreld se betaalstelsel het nie ontwikkel saam met die digitale wêreld waarin ons leef nie, sê Ryk van Niekerk, redakteur van die finansiële nuusdiens Moneyweb.

As jy iets op die internet koop, moet jy jou kredietkaartnommer met die hand intik, jy kry ’n SMS van jou bank, en dit word weer deur jou kredietkaartmaatskappy (soos MasterCard) geverifieer. Dis moeilik, duur en word streng gereguleer. Daar is ook baie regulasies as jy ’n onderneming is wat oorsee wil besigheid doen. Dit neem lank vir ’n transaksie om afgehandel te word.

Kriptogeld wil dit verander. Met so ’n geldeenheid is jou transaksie vinnig, goedkoop, anoniem en veilig, verduidelik Ryk.

“Bitcoin is een van die eerste kripto-geldeenhede wat hiervoor geskep is. Dis hoekom dit verreweg die grootste is. (Daar is al byna 1 500 kripto-geldeenhede.)

“Bitcoin was bedoel as ’n digitale geldeenheid waarmee jy verhandel. Om byvoorbeeld ’n boek op Amazon te koop. Of selfs iets by ’n individu. Maar nou het dit heeltemal anders uitgedraai. Dit het ’n bateklas geword soos goud, eiendom of aandele, en mense hou dit vir die waarde, eerder as vir ’n verhandelbare geldeenheid.”

Bitcoin as belegging

Kriptogeld soos bitcoin (asook die minder bekende ethereum) moenie beskou word as ’n langtermyn-belegging nie, sê Ryk. “Daar het ’n borrel om bitcoin ontwikkel, en jy kan geld verloor. Bly weg. Baie mense sien net dollartekens, maar dit het veral begin vanjaar geweldig geval in prys. Dis anders as aandele. Daar is geen onderliggende waarde in bitcoin nie. Die waarde word bepaal deur vertroue.”

Theo Bohnen, blokketting-ontwikkelaar by The Foundery, ’n afdeling van Rand Merchant Bank, is ook “baie, baie versigtig” om mense aan te raai om in bitcoin te belê. “Stel dit so: Maak seker elke liewe sent wat jy in bitcoin belê, is jy bereid om te verloor. Dis op die oomblik nog baie spekulatief. Dis hoogs wisselvallig, onvoorspelbaar en baie faktore affekteer die prys.”

Moenie belê in iets wat jy nie verstaan nie, sê hy. As jy wil koop, koop ’n klein hoeveelheid. Hou dit dop vir ’n maand en kyk wat gebeur. Jy gaan dit dan ook beter verstaan. Dis interessant, maar belê net wat jy kan bekostig om te verloor.

Wat kriptogeld uniek maak

Dis gedesentraliseer, met ander woorde geen enkele geldinstelling of sentrale regering beheer of reguleer dit nie, jy kan dit sonder ’n bank verruil, sê Theo. Jy kan vir enigiemand in die wêreld wat toegang tot die internet het, bitcoin stuur.

“Bitcoin is digitaal skaars. As jy ’n foto het en jy stuur dit vir jou vriend met WhatsApp, het jy en jou vriend albei ’n kopie. As jy vir jou vriend bitcoin wil stuur, stuur jy dit deur die bitcoin-netwerk reguit na hom toe. Dis uit jou rekening uit, net in syne.”

Maar hoe weet die res van die wêreld jy gaan nie dieselfde bitcoin vir iemand anders stuur nie? Want die verhandelingsproses is baie veilig, elke transaksie word geverifieer, sê Theo. Dit word deur blokketting-tegnologie gedoen.

Só werk blok-kettings

Alle kriptogeld gebruik hul eie blokketting-tegnologie (blockchain). Gestel jy stuur vir jou vriend bitcoin deur die bitcoin-netwerk. Daar is ’n gedesentraliseerde netwerk van rekenaars (reg oor die wêreld) wat dan “saamwerk” om die transaksie geldig te verklaar. En om eienaarskap te bewys.

Alle transaksies word in “blokke” gepak om ’n ketting te vorm. Dit kan nie vernietig of verander word nie. Hierdie blokketting is basies soos ’n digitale lêer of rekord van daardie transaksies. Enigiemand kan daarna gaan kyk. Dit maak die transaksies baie veilig, verduidelik Ryk.

Hoe word bitcoin ‘gemyn’?

Mense verwys dikwels na bitcoin wat “gemyn” word. Bitcoin-myners is basies die rekenaarfoendies wat wêreldwyd meeding om sowat elke tien minute ’n ingewikkelde wiskundige probleem op te los – wat deel uitmaak van ’n transaksie se verifikasieproses. Die een wat die probleem eerste oplos, het die blok “gemyn”.

Vir sy beloning kry hy 12,5 nuwe bitcoins wat by die ketting gelas word. Tensy protokol verander word, kan net 21 miljoen bitcoins ooit gemyn word. Dit is dus nie onbeperk nie.

Waar kan jy bitcoin koop?

By enige geloofwaardige verhandelaar. Doen jou huiswerk. Bly weg van verhandelaars wat oornag opgeskiet het of jou peper met gemorspos. (Facebook het onlangs kriptogeld-advertensies verbied omdat baie slenters is.)

In Suid-Afrika is daar een groot verhandelaar (Luno) en ook ’n klompie kleineres. ’n Verhandelaar koop, verkoop en “stoor” namens jou kriptogeld. Jy laai die verhandelaar se app af op jou foon.

Onthou: ’n Tradisionele bank waarborg in sekere omstandighede jou geld, maar op hierdie platform is daar geen waarborg nie. Hulle kan bankrot speel, ge-hack word . . . dit bly jou verantwoordelikheid, waarsku Theo.

BBC.com berig dat kuberkrakers een Saterdag in Januarie $400 000 (sowat R4,65 miljoen) van die digitale geldeenheid Stellar Lumens – een van die gewildste kriptogeldeenhede ter wêreld – gesteel het. 

Waar en hoe maklik kan jy met bitcoin betaal?

Bitcoin word in die buiteland al deur verskeie besighede – groot en klein – aanvaar. By 99bitcoins.com kry jy ’n lang (effense lukrake) lys, van KFC in Kanada tot CheapAir.com tot Pembury Tavern, ’n pub in Londen! In Suid-Afrika is daar ook ’n paar plekke.

Die betaalstelsel Payfast wat deur baie webwerwe gebruik word, aanvaar bitcoin. (Takealot gebruik onder meer Payfast.) Microsoft aanvaar ook bitcoin. Die webwerf bitcoinzar.co.za lys op sy Bitcoin Business Directory plaaslike besighede wat dit aanvaar, en jy sal nog kry as jy dit google.

Theo sê dis tans moeilik om bitcoin te gebruik omdat die verhandelings-proses nog nie perfek is nie. “By Steam kon jy byvoorbeeld aanlyn rekenaar-speletjies met bitcoin koop. Maar die wisselvallige prys [van bitcoin] het probleme geskep. As die betaling dus by Steam sou uitkom, moes hulle die koper vra om nog te stuur. (Steam aanvaar nie meer bitcoin nie.)

“Dit het beteken dat dit die laaste tyd baie lank neem vir die transaksie om geldig verklaar te word. Die bitcoin-heffing is tans ook hoog, hoër as deur ’n tradisionele netwerk. Bitcoin is dus nog aan die leer. Bygesê, daar is tegnologie wat aan die ontwikkel is wat die probleem kan oplos, en dit uiteindelik baie vinniger sal maak. Ander eenhede soos litecoin en ethereum is reeds vinniger en goedkoper.”

Met ons ter perse gaan in Maart het Theo laat weet dat netwerkkoste weens verskeie redes drasties geval het, maar meestal omdat daar nie meer so baie transaksies was nie. So dit is nou weer goedkoper. En ook makliker.

Hy voeg by: “Lightning-netwerk wat alles baie vinniger maak, is byna gereed vir wyer gebruik – vir nou is dit nog net vir mense wat dapper genoeg is, want dit is baie nuut en daar is nog dinge om te verwerk.” *In Amerika kry jy ’n kaart wat bitcoin hou – jy kan dollars daarmee trek. Theo sê hy kon nog nie in Suid-Afrika so ’n kaart in die hande kry nie.

Die prys van bitcoin

Een bitcoin was met druktyd sowat R131 600 werd, maar jy kan ook ’n fraksie daarvan koop. Die heel kleinste bitcoin-eenheid is satoshi en dis ’n honderdmiljoenste van ’n bitcoin. Dis genoem na die stigter/ontwikkelaar Nakamoto Satoshi (mense verskil daaroor of hy ’n individu of ’n groep is).

Hoe koop jy dit?

Maak ’n rekening oop by ’n verhandelaar soos jy ’n bank-rekening sal oopmaak. Jy kry ’n rekeningnommer waarheen jy elektronies jou SA rande stuur. Jy ontvang ’n IOU vir jou geld. Dan kan jy daarmee op die platform bitcoin koop. Jou bitcoin word gestoor in ’n digitale beursie. Jy kan dit ook op jou rekenaar of op jou selfoon in ’n “private” beursie hou.

Jy kan selfs met kontant by ’n individu bitcoin koop, wat hy dan aanlyn direk in jou beursie sit, sonder ’n verhandelaar. “Wees egter versigtig. Baie mense is al so ingeloop, en ek raai dit nie aan nie,” waarsku Theo.

Wat hou die toekoms in? Sal kriptogeld ’n volwaardige betaalmiddel word waarmee ek my kruideniersware of my kind se skoolgeld kan betaal?

Ryk reken daar sal uiteindelik kriptogeld wees wat suksesvol vir verhandeling gebruik word. “Met enige nuwe tegnologie is daar altyd groot reaksie. Dis soos aanvanklik met e-posse, selfone, die internet … maar nou is dit al deel van ons lewe. Die tegnologie rondom kriptogeld het groot potensiaal, en mettertyd sal dit homself uitsorteer. Sodra al die hype verdwyn het, sal mense dit begin gebruik. Maar daar lê nog ’n lang pad voor voordat ons dit sal kan gebruik om kruideniersware of skoolgeld te betaal.

“Niemand kan voorspel wat gaan gebeur nie, dit hang af hoe die wêreld se sentrale banke reageer. Dit gaan egter nie binnekort gewone geldeenhede soos rand en sent vervang nie.” Theo is baie opgewonde oor blokketting-tegnologie. “Dit is revolusionêr en uniek. Die tegnologie het die potensiaal om soveel te vermag. Dit kan die finansiële stelsel heeltemal op sy kop keer, maar dit beteken nie banke gaan verdwyn nie. Net tyd sal leer wat met die tegnologie gaan gebeur.”