Vriendskap by die werk, mos ’n goeie ding. Dit bring mense nader aan mekaar, skep ’n vriendeliker omgewing en maak dit lekkerder om werk toe te gaan.

Maatskappye soos Google moedig dit dan aan met programme om medewerkers meer soos maats as kollegas te laat voel.

Met die aard van werk wat meer sosiaal raak, veral in die kennis- en diensleweringsbedrywe, is millenniërs en jonger generasies gewoond aan groter informaliteit en ’n samevlegging van hul persoonlike en professionele lewe.

Maar sulke vriendskappe kan ook kompleksiteit en spanning skep vir dié binne en buite die kliek, volgens navorsing met die titel Friends Without Benefits: Understanding the Dark Sides of Workplace Friendship deur Julianna Pillemer en Nancy P. Rothbard van die Wharton-sakeskool aan die Universiteit van Pennsylvania.

Hulle bespreek hul bevindings in ’n potgooi. Hier is ’n kort samevatting:

Al hoe meer werkplekke is voorstanders van vriendskappe tussen werknemers en doen allerhande dinge om mense nader aan mekaar te bring. Nie langer is dit okei om by die werk op te daag en weer huis toe te gaan sonder om met mense skouer te skuur nie. Die vraag is hoe om sulke verhoudings meer doeltreffend te bestuur.

Wat maak vriendskap by die werk so gekompliseerd?

Die sleutel-kenmerke van vriendskap bots met die sleutel-kenmerke van die meeste werkplekke. Vriendskap is byvoorbeeld informeel en vrywillig. Dis gebaseer op behoefte: As ek jou nodig het, gaan jy reageer. By die werkplek is die fokus egter dikwels op formele rolle en die bereik van sake-doelwitte. Dit kan wrywing by die werk veroorsaak en die donker kant van vriendskap uitbring.

Vriendskap kan jou wonderlik laat voel en kontak met ander mense is die sleutel tot produktiwiteit en betrokkenheid by die werk. Maar die teenoorgestelde kan ook waar wees. Dit kan werkprestasie benadeel.  

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die donker kant

* Dit kan beteken jy moet met mense omgaan op ’n manier wat jou emosioneel kan dreineer. Soms word jy vasgevang in ’n situasie wat jou aandag aflei. 

* As jy vriende met iemand is, kan dit moeiliker wees om besluite te neem. Daar kan konflik tussen jou rol as vriend en jou formele een wees. 

* Die gehalte van groep-besluitneming kan swakker wees. Baie navorsing toon in ’n groep met mense wat dieselfde as jy dink en van wie jou hou, is dit moeiliker om indringende vrae te vra. As ’n vriendin baie sterk oor iets voel, gaan jy moeiliker met teenargumente kom. 

* Klieks word gevorm en buitestanders kan die indruk kry dat daar witbroodjies is. 

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Sosiale media se invloed

Sosiale media laat vervaag die onderskeid tussen jou persoonlike lewe en jou professionele lewe. Met net een klik bevriend jy iemand en bekom só ’n magdom inligting, ’n venster in ’n kollega se persoonlike lewe wat tien jaar gelede nie moontlik was nie. In die regte lewe kan jy besluit wat jy wil deel met die persoon met wie jy praat. Sosiale media het egter die damsluise oopgemaak. ’n Goeie ding as julle baie dieselfde is. Maar nie so wonderlik as dit verskille tussen julle beklemtoon nie.

Sosiale media kan klieks ook meer sigbaar maak. Enigeen wat al gesien het hoe kollegas saam uithang terwyl ander uitgesluit word, kan hiervan getuig.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Hoe werknemers en bestuurders vriendskap kan benader om die negatiewe te vermy

Bestuurders kan planne maak om die donker kant van soort-soek-soort te vermy. Soos om informele verbintenisse aan te moedig tussen mense wie se paaie gewoonlik nie kruis nie. Werknemers moet weer bedagsaam wees en nadink oor die kruis (en stel) van grense, veral met nuwe vriendskappe en waar dit oor hiërargiese lyne by die werk strek. Jy wil die onderwyser-se-witbroodjie-verskynsel vermy waar mense ’n gunsteling - en onregverdigheid - bespeur.

Bykomende bronne: Forbes, Knowledge