Jy’t sommer lus om te bedank, want jy het so pas besef: Jy is eensaam. Dit voel of daar niemand op kantoor is wat bly is oor jou suksesse of met wie jy probleme kan deel nie. As jy môre bly lê, sal niemand jou eens mis nie. Of dalk is jy besig en belangrik, en voel juis daarom eensaam.
Sarita Rossouw (skuilnaam), kantoorbestuurder van ’n Kaapse invoermaatskappy, weet wat dié professionele eensaamheid is.
“Ek het jare lank gelukkig saam met ander vroue gewerk. Toe ek onlangs bo hulle bevorder is, het alles verander. Ek word nie meer genooi om saam te kuier nie. Hulle deel ook nie meer hul stories met my nie en hulle verwag nou dat ek alles moet weet. Ek het niemand meer om op te steun nie en ek moet erken, ek is skielik ontsettend eensaam,” vertel sy.

 
“Groot konferensies en sakereise is vir my baie moeilik, want ek voel dan bitter eensaam” - Sake-konsultant
 
  Eensaamheid benadeel die gehalte van jou lewe. En as jy op kantoor eensaam is, keer dit boonop die vrye vloei van energie en kommunikasie tussen jou en jou kollegas. Dit kan maak dat jy (en hulle) minder suksesvol is, sê dr. Mias de Klerk, Johannesburgse spesialis en konsultant oor organisasie-gedrag. Jou prestasie by die werk ly daaronder as jy nie ’n sterk verbintenis met jou werkplek het of emosioneel goed by jou maatskappy en sy werknemers inskakel nie, bevestig ’n wêreldwye Gallup-peiling.
“Maar die goeie nuus is dat jy eensaamheid kan oorkom. As jy dit verstaan en erken, is jy al op die regte pad,” sê Mias.
Professionele eensaamheid tref nie net bestuurslui nie (hoewel dit meer dikwels die geval is). Dit kan enige werknemer in enige posisie raak. Ook nie net mense wat alleen werk nie – jy kan selfs tussen jou kollegas eensaam wees. Want daar’s ’n groot verskil tussen alleenheid en eensaamheid. Jy werk dalk alleen in jou kantoor, maar jy is tevrede. As jy professioneel eensaam is, voel jy afgesonder. Jy het heel
 
“Net 57% topvroue-verdieners is getroud teenoor 83% van sulke mans” – Amerikaanse studie
 
 moontlik emosionele mure rondom jou wat sinvolle kontak met ander kelder. Jy mis die kontak en voel moontlik ook moeg en depressief. Kenners sê mense ervaar professionele eensaamheid op verskillende maniere. As jou werk die middelpunt van jou bestaan is of jou identiteit bepaal, kan jy eensaamheid veel meer intens beleef as jou meer gebalanseerde kollega. ’n Mens vereensaam ook nie oornag nie. Mias noem professionele eensaamheid ’n “stadig kruipende siekte”. Jy raak amper gewoond aan jou situasie totdat jy op ’n dag besef daar’s
 
Sukses kan een van die eensaamste ervarings wees in die werkplek” – Mias de Klerk, konsultant
 
niemand by die werk met wie jy ’n vrymoedige verhouding het nie. Die eerste stap is om jou probleem te herken en te erken, sê Mias. Ons het almal iemand nodig om emosies en ook ervarings mee te deel. Abraham Maslow, bekende Amerikaanse sielkundige, het juis gesê een van die mens se basiese behoeftes is om sinvolle verhoudinge te hê en deel van ’n gemeenskap te wees.
 

Oorsake

 
  • Jy’s in ’n bestuursposisie (of jy presteer)
    Jy is dalk die skoolhoof, top-fotograaf of suksesvolste werknemer. Sukses kan een van die eensaamste ervarings wees in die werkplek, want dit skep onderskeid tussen jou en ander, sê Mias. Jy stel jou boonop bloot aan jaloesie of kritiek en dit laat jou verder vereensaam.
    Hoe verder jy vorder, hoe minder aanvaarbaar is dit ook om kwesbaar te wees. Jy is die een wat ander moet help, nie hulle vir jou nie. Kollegas verwag jy moet te alle tye ’n professionele beeld hê en jou menslikheid word misgekyk. Hulle verwag jy moet jou emosies kan beheer en jy verbloem daarom dikwels vrees of hartseer met dapperheid. Mias sê veral vroue ly hieronder, want jou optrede word maklik gestereotipeer as “tipies vrou”. Omdat jy op ’n hoër posvlak is, word jy ook nie sommer meer saamgenooi as die ander gaan kuier nie.

  • Jy’s ’n sakevrou
    Talle werkplekke is nog ’n manswêreld, sê Mias. Jy word dalk minder as jou manlike kollegas betaal of oor die hoof gesien vir ’n belangrike aanstelling. Styg jy wel uit, maak sommige mans dit af as regstellende aksie. En jy word geïgnoreer of geïntimideer. Dalk word jy ook bewustelik of onbewustelik behandel asof jy nie in die sakewêreld hoort nie.Op ’n sakereis is jy dalk die enigste vrou en vlug daarom liewer na jou kamer.
     
    “Konflik tussen jou rol tuis en by die werk is ’n resep vir eensaamheid” – Johann Coetzee, sielkundige
     

    Of as jy wel ’n drankie gaan drink, verpes rokjagters jou. Konflik tussen jou rol tuis en by die werk is ’n resep vir eensaamheid, sê prof. Johann Coetzee, sielkundige van Gauteng en samesteller van die boek Beroepsbekering (Knowres Uitgewers, 2007).Jy voel dalk ander (veral mans) verstaan nie jou posisie nie. Die korporatiewe omgewing is dikwels vyandig teenoor ’n gesinslewe. Daar word van jou verwag om lang ure te werk, en dan word jy gekritiseer omdat jy skielik na ’n siek kind moet gaan omsien. Maar as jou manlike kollega dit doen, is hy “’n gesinsman”. Jy weet ook jy het die stimulasie van werk nodig, maar voel terselfdertyd skuldig omdat jy nie tuis is nie, sê Johann.
    En in sommige poste ís die rolle van ma en beroepsvrou inderdaad onversoenbaar. Dalk voel mans bedreig deur jou sukses en vermy jou selfs. Mias sê in ’n Amerikaanse studie is bevind slegs 57% topvroue-verdieners is getroud teenoor 83% van hul manlike eweknieë.
  • Jy werk tuis
    As jy tuis werk, het jy nie kollegas om by af te pak nie, of hulle sit op kantoor. As jou “beroep” dié van kinders grootmaak is, mis jy intellektuele stimulering en kan jy ook eensaam raak, sê Johann.

  • Jy’s oorafhanklik van tegnologie
    Tegnologie soos e-pos en SMS’e dra by tot professionele eensaamheid terwyl dit eintlik veronderstel is om kommunikasie te verbeter, sê Mias. Hoeveel kere sê jy nie: “Is jy tog nie Berta nie? Ons praat al twee jaar net per e-pos!”
  • Jy’s ’n spesialis
    Jy’s dalk in so ’n gespesialiseerde pos dat jou kollegas – laat staan nog jou maat – glad nie jou veld verstaan en jy dit daarom nie met iemand kan deel nie. Jy voel gefrustreerd en eensaam.
  • Jy’s ’n introvert
    “Groot konferensies en sakereise is vir my moeilik, want ek voel dan bitter eensaam,“ sê Ben van Zyl (skuilnaam), sake-konsultant van Johannesburg. “Ek ken niemand nie en is nie gemaklik daarmee om my aan vreemdes voor te stel nie. Ek staan boonop uit omdat ek eenkant sit terwyl ander lekker kuier. Dan vat ek maar my kos en gaan eet alleen om die hoek waar ek nie gesien kan word nie. Dit laat my skuldig voel, want ek weet ek tree nie reg op nie.”
  • Jy reis baie
    Jy’s dikwels weg van jou geliefdes en kan nie so maklik gebeure deel nie.
  • Jy moet altyd beskikbaar wees
    Bekwame mense is gesog, sê Johann. Want jy maak waarskynlik ’n wesenlike bydrae tot winsgewendheid. Omdat jy altyd beskikbaar moet wees, kan jy tuis ontkoppel en vereensaam.
  • Jy het ’n ander kultuur
    Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging kan veroorsaak dat swart kollegas vereensaam. Veral as mense hul sukses afmaak en reken hulle sou dit nie so ver gebring het sonder hul velkleur nie.
    Aan die anderkant word sommige wel aangestel in poste waarvoor hulle nog nie gereed is nie. Hulle word dan só gekritiseer dat hulle nie hul swaarkry en behoefte aan hulp kan deel nie. In Suid-Afrika is die werkwêreld nog hoofsaaklik wit en dit word volgens Westerse beginsels, soos mededingendheid en individualisme, bedryf, sê Mias.
    In die swart kultuur word samewerking, samehorigheid en die harmonie van die groep eerder beklemtoon. Dit lei tot verskillende waardestelsels. Jy neem dalk ook onbewustelik jou swart kollega kwalik vir regstellende aksie en laat toe dat hy of sy vereensaam.
  • Jy is eensaam in jouself
    Vra jouself: Wie is ek as ek alles wat ek het – my sukses, status en besittings – verloor? As jy nie weet nie, is jy ’n kandidaat vir eensaamheid en ’n gevoel van hulpeloosheid, sê Mias. Want jy kan nie net van ander en jou werk afhanklik wees vir betekenis en selfwaarde nie. Jy moet dit binne jouself vind.

Wat van jóú?

  Toets jouself. Hoe meer ja-antwoorde jy gee, hoe groter is jou kanse om eensaam te wees:
  1. Ek het nie ’n kollega wat ek ten volle kan vertrou met my eerlike menings nie.
  2. Ek het nie ’n kollega wat werklik empatie sal hê met my moeilike tye of mislukkings nie. Of wat werklik bly is oor my vreugdes en suksesse nie.
  3. Ek voel dikwels eensaam, hulpeloos, depressief of verlate.
  4. Ek bekommer my heeltyd oor wat tuis gebeur en kan nie behoorlik op my werk fokus nie.
  5. Ek is geneig tot selfbeheptheid, kritiek, sinisme en negatiwiteit.
  6. Ek gaan my e-pos, selfoon en in-mandjie heeltyd na vir boodskappe, want ek wil voel ek word benodig.
 

15 wen-wenke

 
  1. Moenie in die sakewêreld soos sommige mans (aggressief of gevoelloos) probeer optree nie, sê Mias. Jy sal net nóg meer afgesonderd raak. Maar moet ook nie jou vroulikheid inspan om ander te manipuleer nie. Pasop vir daardie trane op onvanpaste tye.
  2. Doen emosioneel afstand van jou pos, titel of status. Jy staan dit nie af nie, maar besluit net: Ek ís nie my beroep, titel, status of sukses nie. Want dit weerhou jou dalk daarvan om emosionele kontak met ander te maak. As jy die baas of bestuurder is, nooi soms jou kollegas om saam met jou tee te drink. Dan sal hulle nie so geïnhibeerd voel om jóú te nooi nie. Erken ook dat jy nie alles weet nie. En sê: Wat dink julle?
  3. Erken jou emosies en gee (binne perke) uiting daaraan. Jy mag maar soms lekker lag, ontsteld raak of weerloos wees. Wys wanneer jy swaar kry en hulp nodig het.
  4. Erken selfs jou eensaamheid. Ander (eensame) mense sal dan ook oopmaak teenoor jou. Soos Mias sê: “Tweesaamheid verdryf eensaamheid.”
  5. Gee van jou tyd vir ander. Begin vergaderings deur na almal se welstand te verneem. Gaan sien of bel kollegas of sakekontakte sover moontlik persoonlik. E-pos skep gesigloosheid.
  6. Tree empaties op. Ander sal dan ook só teenoor jou optree. Dan kan jy ontlaai en sterker anderkant uitkom.
  7. Leer jou kollegas uit ander kulture behoorlik ken. Julle het dalk meer gemeen as wat jy dink.
  8. Sluit aan by die werk se sportklub of woon werkgesellighede by.
  9. Kry ’n vertroueling as klankbord (dalk selfs ’n leefstylafrigter). Deel met haar dinge wat jy met niemand anders, nie eens jou man nie, kan deel. So loop jy ook nie die gevaar om ’n vriendskap met emosionele bagasie te oorlaai nie. Jou vertroueling weet miskien nie als nie, maar kan jou perspektief gee.
  10. Sê soms nee. Jou werk kan dié keer iemand anders op daardie sakereis stuur. Of vra of jy jou man kan saamneem.
  11. Maak vriende met mense wat niks met jou organisasie of bedryf te doen het nie en met wie jy ’n natuurlike, vrymoedige verhouding kan hê.
  12. Moenie te hoë verwagtinge aan jouself of ander stel nie.
  13. As jy skaam of ’n introvert is, raadpleeg ’n kenner (dalk ’n bedryfsielkundige) wat jou kan leer hoe om selfgeldend te wees. Want dan kan jy vir ander sê: “Hallo, ek is Vanessa. Mag ek by julle aansluit?”
  14. Tref kompromieë en maak toegewings om só jou rolle tuis en by die werk te balanseer.
  15. As jy van die huis af werk, bou verhoudinge met ander wat emosioneel en intellektueel op jou vlak is. En as jy kan, gaan sit soms met jou skootrekenaar op kantoor.