Jy wroeg saam met jou kind deur die matriekeindeksamen. Met dít agter die blad lê die groot besluit voor: wat gaan hy ná skool doen om hom te kwalifiseer vir ’n loopbaan? En hoe weet julle of hy eendag gaan werk kry daarmee? Die koerante is propvol syfers wat jou keel laat toetrek. Daar is werkloosheid onder die jeug, ’n universiteitsgraad waarborg nie ’n werk nie. 

Prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, sê ouers moet besef hul kinders sal vir seker in die toekoms op hulself aangewese wees om werk vir hulself te skep, selfs met ’n graad.

Sy boodskap aan studente: “’n Kwalifikasie is deesdae geen waarborg dat jy ’n werk sal kry nie. Jy moet ondernemingsgees, ’n innoverende ingesteldheid en kreatiwiteit aan die dag lê en nie bang wees om gereeld van beroep te verander nie. “Beroepsaanpasbaarheid is die sleutel tot sukses in die 21ste eeu. En doen jou werk so goed as moontlik. Volgens statistieke van die Amerikaanse departement van arbeid het mense deesdae teen 38 al sowat tien tot veertien verskillende beroepe beoefen. Plaaslik gaan dinge nie veel verskil nie.”

Die Pretoriase kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling sluit hierby aan: “Die werkkultuur gaan verskuif van ‘iemand gee my ’n werk’ na ‘ek skep my eie werk’. Jy gaan nie meer vir ’n bepaalde graad studeer wat jou ’n sekere werk waarborg nie. Veel belangriker is ’n oop gemoed, innovasie en moed.”

Ian van den Berg, opvoedkundige sielkundige van Psychological Services and Career Development (PsyCaD) aan die Universiteit van Johannesburg, sê dis belangrik dat jongmense wat die arbeidsmark wil betree, nie net goed gekwalifiseer is nie, maar dat hulle goed kan kommunikeer, aanpasbaar is, in groepe kan saamwerk en goeie rekenaarvaardighede het.

Hierdie beroepe is op die oomblik in aanvraag in SA:

- Rekenmeester

- Ouditeur

- Verpleegster

- IT-kenners

- Webtuiste-ontwikkelaar

- Finansiële bestuurder

- Ingenieur

- Argitek

- Digitale bemarker

Bronne: Fin24, Careers24, Webcollege