Só spaar ek

"My werk by Kwêla is die eerste permanente ding wat ek in 'n lang tyd doen en ek sal beslis in die toekoms geld belê. Tans spaar ek baie deurdat ek die klere wat ek op die program dra agterna kan hou! Ek spaar ook deur nie geld uit te gee op lekkernye, parkeerplek en brandstof nie, maar eerder by die huis te bly en 'n DVD te kyk as om te gaan fliek. Een keer 'n maand bederf ek myself egter met 'n ete by 'n top-restaurant."
- Rozanne McKenzie, nuwe Kwêla-veldaanbieder

Jou geld-persoonlikheid?

Die Moneymax-geldprofiel is, ná 20 jaar se navorsing, op wetenskaplike en sielkundige feite gegrond. Deur 28 vrae te beantwoord leer jy jou finansiële sterk en swak punte ken om beter geldkeuses te kan maak, sê Hugo Snyman van Third Circle
Batebestuur. Besoek www.ips-online.co.za om jou vraelys in te vul. Dit kos R140.
Skakel Hugo by 086 111 4560 of stuur e-pos na hugo@thirdcircle.co.za.

Winkel-verleiding

As jy dit nog nie agtergekom het nie: Winkels word só uitgelê om jou te verlei om soveel geld moontlik uit te gee.

Hier’s raad:

  • Kyk voor jou. Lekkers word aspris by betaaltoonbanke uitgestal!
  • Eet voor jy inkopies doen. Brood- en koekgeure is daar om jou mond te laat water.
  • Hou by jou lysie. Brood en melk is dikwels agter in die winkel sodat jy verby allerlei onnodige, verleidelike goed moet loop.
  • Koop items wat onder of bo-op rakke staan. Produkte op oogvlak is gewoonlik dié met die hoogste winsgrens.
  • Maak seker uitverkopingitems is werklik goedkoper. Dalk spaar jy ’n paar sent, maar jy koop nie gehalte nie.
     Bron: Virgin Money

Volg jou drome

“Ek’s ’n go-getter en ’n groot voorstander daarvan dat jy jou ideale en drome moet volg en waar maak. Saam met my werk ’n uitstekende span, wat seker maak alles verloop vlot. Ek werk hard en lewe elke dag asof daar geen môre is nie. - Anthonie Bougas, sanger


*Anthonie se oorspronklike Afrikaanse liedjie “Ek is joune” was onder die top-40 van die Britse radiostasie BIG L. Hy is ook binnekort in Villa Rosa op kykNET te sien. Op 16 is Anthonie die jongste gekontrakteerde sepiespeler in die land!

Vakansiewerk tot loopbaan

Wanneer permanente personeel verlof neem, maak baie maatskappye van tydelike hulp gebruik, sê Gayleen Baxter, uitvoerende hoof van kelly, ’n werwingsagentskap. “Maar jy kan seker maak die werk word permanent joune.”

Haar raad

1.    Straal ’n positiewe houding en selfvertroue uit en blink uit in die werk.
2.    Wees betroubaar. Wees altyd betyds en werk langer ure, al is dit net 15 minute langer.
3.    Wees ’n vrywilliger. Bied aan om meer te doen as wat van jou vereis word.
4.    Sê wat jy dink wanneer jou mening gevra word. As jy iets belangriks kan toevoeg, doen dit.
5.    Wees koelkop in stresvolle tye.
6.    Sê vir jou senior jy wil graag permanent werk. Bewys dat jy onvervangbaar is. Doen selfs die  

       klein goedjies na jou beste vermoë.

Kelly se hoofkantoornommer is 011 722 8300, of besoek die webwerf: www.kelly.co.za.

 

Jy hier, hy daar

Pendelhuwelik, Dr. Jannie Botha, Lux Verbi, R69,95
As jou loopbaan vereis dat jy soms van jou huweliksmaat geskei is, is hierdie boek vir jou. Jy of jou maat werk dalk gereeld in ’n ander stad of oorsee. Pendelhuwelik sal jou help om die eise van dié leefstyl te hanteer.

Pendelhuwelik deur Dr. Jannie Botha