Op aandag vir aandele

Die dae dat jy net polisse en ’n spaarrekening het, is vir goed verby as jy eendag gemaklik wil aftree. Want die groei van jou spaargeld móét inflasie klop, anders gaan jy sukkel. Die woord aandele skrik jou dalk af omdat jy dit nie verstaan nie, maar dit hoef nie - ’n goeie makelaar sal jou op die regte pad sit. Die aandelebeurs bly die ideale plek om jou bonusgeld te belê. Aandele het oor die laaste 20 jaar ’n saamgestelde opbrengs (groei op groei) van sowat 20% per jaar gelewer. Maak dit ’n langtermyn-belegging.

Wie moet vir die gelag betaal?

Jy het pas jou ete met jou kredietkaart betaal. Agterna vind jy uit die kelner het bedrog gepleeg. Hy het aankope met jou kaart gedoen, of telefonies met jou kaartnommer. Stel dadelik jou bank in kennis. Omdat jy kaartbeskerming geniet, sal die bank jou saak laat ondersoek. As jy nie nalatig was en jou kredietkaart-nommer of PIN vir iemand gegee het, of jou kaart laat rondlê het nie, sal jy nie die skuld hoef te betaal nie. Die winkel waar die bedrieër gekoop het, is aanspreeklik.

Bron: Absa

Vermy skuld

"’n Mens moet van so jonk as moontlik af spaar, al is dit net R20 ’n week. Laat die spaargeld van jou salaris aftrek. Oorweeg dan die beste beleggingsopsies op die kort tot medium termyn. En as jy nie geld het om iets te koop nie, al is dit ’n groot bedrag, spaar daarvoor. Koop kontant waar moontlik. Vermy skuld soos die pes."

Skrywer Diana Ferrus se persoonlike geldfilosofie

Pluk die vrugte

Sow and Grow Your Own Money Tree deur dr. Johan Dippenaar, R110 (Aardvark Press, 2006)

As jy die finansiële vrugte van jou harde werk behoorlik wil pluk, moet jy anders oor jou geld begin dink. Leer waardevolle lesse by mense wat weet hoe om geld te maak. Die boek is verstaanbaar geskryf en ’n moet-hê, selfs al verdien jy net ’n “gewone” salaris.

Sow and Grow Your Own Money Tree

Suze Orman se geldwenke

Luister wat Suze Orman, finansiële ghoeroe, sê:

  • Die ergste finansiële tronk is die een van kredietkaartskuld. Die rente is astronomies. Begin onmiddellik jou skuld afbetaal. (Meer as jou maandelikse paaiement.)
  • As jy die waarde van wie jy is en wat jy doen, onderskat, sal die wêreld dit ook doen. Vra daardie verhoging of bevordering as jy glo jy verdien dit. Of beweeg aan.
  • Jou besittings definieer jou nie. Jy definieer die goed wat jy besit. Ry liewer ’n ouer motor. Dit is onwys om een te koop waaraan jy langer as drie jaar moet afbetaal, of ’n duur een wat jou heelnag laat wakker lê.
  • As jou kredietkaartskuld afbetaal is‚ is jou belangrikste finansiële prioriteit om jou huis af te betaal.
  • Getroud of in ’n verhouding? Jy moet jou eie spaarrekening of beleggings hê. Dan bly jy in jou verhouding omdat jy wil, nie omdat jy moet nie.

Suze Orman