Laat ander jou help!

Moenie skroom nie, dié kenners is daar om jóú te help! Hulle sal raad gee oor hoe om jou skuld te bestuur, dit op die beste manier moontlik terug te betaal of dit te konsolideer (dis wanneer jy jou skuld na een rekening, soos jou huisverband, skuif).
*Skakel die Nasionale Kredietreguleerder by 011 554 2600 of 0860 627 627 vir ’n lys van geregistreerde raadgewers. (Die koste word bereken volgens die bedrag wat jy skuld.)

Spaar só

Wilma de Bruin, vryskutjoernalis wat op die breër sakeomgewing en persoonlike finansies fokus, gee die volgende besparingswenke:

    * Vermy onnodige besoeke aan winkelsentrums. Koop ook net die broodnodige.
    * Probeer om kruideniersaankope van weekliks na maandeliks te rek. Vervang duurder produkte met produkte sonder ’n handelsmerk.
    * Bel eerder ’n winkel vooraf as jy ’n item soek of pryse wil vergelyk, eerder as om goedsmoeds in jou motor te spring en só brandstof te vermors.
    * Bespaar water en elektrisiteit. Skakel warmwatertoestelle af, gooi net genoeg water in die ketel vir ’n koppie of twee, spuit jou tuin nat wanneer dit koeler is en stort liewer pleks van bad.
    * En moenie skuld maak nie!

Goedkoper kredietkaart

Dring aan op dié kredietkaartvoordele of kry ’n ander kaart:

  • Jy behoort jou kaart vir 55 dae rentevry te kan gebruik.
  • Jou transaksies, m.a.w. elke keer as jy jou kredietkaart gebruik, moet gratis wees.
  • Jy behoort tot 9,5% rente op ’n kredietsaldo te verdien. Nie net 2% nie.
  • Jy behoort net sowat R9 te betaal wanneer jy oorsee kontant trek. Nie tot R50 nie.
  • Jou jaarfooi moet bekostigbaar wees.
  • Jy behoort nie meer as 20,5% op jou uitstaande balans te betaal nie. Sommige instellings vra tot 30%.

*Bron: Virgin Money

O, hond!

Wil jy jou huis verkoop? Maak dan doodseker dit ruik nie na hond nie! ’n Aanlynpeiling deur propertygenie.co.za, ’n eiendomsoekportaal, het bevind 31% van voornemende kopers word deur ’n hondereuk afgesit.   OOK

  • Maak jou huis sprankelend skoon voor jy kopers lok. Sigaretrook sit 18% van hulle af. En van die nuuskieriges wat binnein jou stoof of yskas loer, hardloop 4% weg oor die (slegte) reuk.
  • As jy jou huis wil verbeter, begin by die badkamer(s) en kombuis. As dié vertrekke moeg lyk, stel 24% van kopers nie belang nie.
  • Vervang ’n ouerige huis se diefwering. Lelike diefwering skrik sowat 9% af.

Verstaan jou geld

Manage your Money deur Nico Swart (Van Schaik, R199,95) is ’n praktiese gids wat jou sal help om basiese geldsake te verstaan. Vind meer uit oor hoe om ’n begroting op te stel, ’n motor of huis te koop, goeie beleggings te maak, jouself en jou bates te beskerm, uit die skuld te kom en jou aftrede slim te beplan.

Manage your money deur Nico Swart