Só spaar ek

"Vleisbraai en die buitelug is 2 van my geheime. Ek en my vrou, Marissa, sit nie onnodig ligte aan nie en gebruik nie gereeld die oond nie. Ons stap graag lang ente in die buurt en mors daarom nie elektrisiteitgeld op TV kyk nie! Ek koop gereeld vars groente en vrugte en maak eerder kos as om geld op klaargaar-maaltye uit te gee. Ons ry ook nie meer onnodig rond nie." – Akteur en sanger Hennie Jacobs (Diederik in 7de Laan)

SUKSESGEHEIME

7 suksesformules wat jou lewe kan verander - en geld beteken. Die skrywer van The Feminine Formula for Success in Business het onderhoude gevoer met suksesvolle sakevroue om agter die kap van hul leierskapgeheime te kom. Sabana Crowcroft, Spearhead, R135.


Wiskundig wys

Nie net is Ingrid Rewitsky die eerste vrou wat as medeprofessor in wiskunde by die Universiteit Stellenbosch aangestel is nie, sy het ook 'n nuwe kursus in biowiskunde ontwerp - die eerste in SA. Hierin word biologie en wiskunde saam ingespan vir vooruitskattings oor vigs, malaria, tuberkulose, aardverwarming en landboukwessies. Só kan die effek van siektes bv. akkuraat ontleed en sinvolle planne gemaak word om die gevolge daarvan te verminder. Wiskunde is haar passie. "Die grootste wanopvatting is dat dit verskriklik abstrak is. Eintlik bied dit baie beroepsmoontlikhede vir mense wat die geleentheid wil aangryp."

G'n slegte geld!
"Al het baie van ons se ouers gesê 'geld groei nie op ons rug nie', of 'geld is die wortel van alle kwaad', moet jy nooit negatiewe dinge oor geld sê nie. Jou onbewuste slaan ag daarop en reageer dienooreenkomstig. Dan sál jy nie genoeg geld hê nie." – Dr. Johan Dippenaar, skrywer van Sow and Grow Your Own Money Tree (Aardvark Press, 2006)

Dis jou regte

15 MAART IS WÊRELD-VERBRUIKERSREGTEDAG.
Hier's jou regte:

  • Jy behoort toegang te hê tot genoeg kos en klere, huisvesting, gesondheid, opvoeding, skoon water en sanitasie - nie noodwendig gratis nie.
  • Jy behoort beskerm te word teen prosesse, produkte en dienste wat 'n gesondheids- of lewensgevaar inhou.
  • Jy moet toegang tot feite hê sodat jy ingeligte keuses kan maak en teen misleidende advertensies beskerm kan word.
  • Jy moet kan kies uit verskeie produkte en dienste wat teen 'n mededingende prys aangebied word.
  • Jou belange moet in die opstel en uitvoer van regeringsbeleid en in die ontwikkeling van dienste en produkte verteenwoordig word.
  • Jy kan daarop aandring dat die probleem bekyk word as iets wat jy gekoop het nie op standaard is nie, onveilig is of uitermate duur was, of as jy onredelik behandel is.
  • Jy het die reg op opleiding sodat jy met vertroue produkte en dienste kan kies.
  • Jy het die reg om in 'n omgewing te werk en te leef wat nie jou of toekomstige generasies se gesondheid of lewe bedreig nie.

Bron: Martie Carstens, Wes-Kaapse Kantoor van die Verbruikersbeskermer
Klagtes: Wes-Kaapse Kantoor van die Verbruikersbeskermer, tolvrye nommer 0800 007 081.
Ander provinsies: Sien www.dti.gov.za vir kontaknommers.