Elke maand gaan sy haar bankstate noukeurig na. Sy gebruik haar kredietkaart slim en verdien rente op die bietjie geld wat sy daarin belê. En vir bederf is daar ’n netjiese plek in die maandelikse begroting – dis nou sommer vir ’n boek of kledingstuk. “Maar ek is bekommerd oor my man, Willie,” sê Annelise van Niekerk,’n deeltydse onderwyser en taalversorger van Centurion. “Hoewel hy ’n reusesalaris as senior bestuurder verdien en voorsiening gemaak het vir voortydige sterfte en pensioen, spaar hy glad nie.
“Hy weet meer van finansies as ek, maar ‘kom nooit daarby uit’om in aandele te belê of ons geld te laat groei nie. Hy gee dit eerder uit op sinlose goed soos die nuutste tegnologie of restaurantetes vir vriende. Hy kyk nooit na sy bankstate nie en begroot nie. Ek vrees die dag wanneer hy gaan sê ons geld is op.”

Geld is een van die grootste bronne van rusies, maar as ’n paartjie elkeen hul eie én mekaar se geldpersoonlikhede verstaan, kan dit sorg vir finansiële én liefdesgeluk, sê Hugo Snyman, besturende direkteur van Investment Psychology Solutions in Pretoria. Net 6% van finansiële konflik gaan oor te min geld. Verskillende geldpersoonlikhede is die eintlike haakplek, sê Hugo, wat ook hoof van Third Circle Batebestuur is.
Geldpersoonlikhede is ook die rede waarom ’n hoogs opgeleide mens soms op die onderste trappie van die geldleer boer, terwyl een wat net matriek het lekker leef. Die suksesvolles verstaan hul geldpersoonlikhede beter en gebruik dit tot hul voordeel.“Ek verdien nie baie nie, maar woeker daarmee,” sê Annelise. “Ek belê maandeliks in effektetrusts en as ek geld van die Ontvanger terugkry, koop ek aandele. Ek wil nie wanneer ek oud is sonder ’n blyplek sit nie. Ek wil ook nog ’n woonstel as belegging koop.” Die ontleding van geldpersoonlikhede is ’n wetenskap en ’n mens moet versigtig wees vir afleidings, sê Hugo.
Annelise toon egter tekens van ’n presteerder of ’n geldmeester, terwyl Willie waarskynlik ’n hoogvlieër of
optimis is. Dis ’n resep vir groot konflik, meen hy.“Sy is meer konserwatief en gaan wys om met haar geld, terwyl Willie ’n oop hand het. Hy bestuur nie sy geldsake nie en is ook nie gespanne daaroor nie. Finansiële sekerheid verveel hom waarskynlik.”
As jou maat roekeloos geld uitgee, het hy hulp nodig, sê Hugo. As hy sy geldpersoonlikheid laat ontleed, sal hy uitvind hoekom hy geld só spandeer.
Dalk is dit sy strewe na mag, prestige of genot, of ’n drang na aanvaarding. As hy dít eers weet, kan hy daadwerklik iets aan sy geldsake doen.
Johan de Kock,’n Kaapse sakeman, soek ook raad: “My vrou, Julia, sê ek draai elke sent drie keer om. Dis nie heeltemal waar nie. Ek het net swaar grootgeword en wil seker maak daar is eendag genoeg geld vir
ons seuns se studies en vir ons oudag. “Ons eet een keer elke drie maande uit. Ek glo restaurante buit mense uit, en vakansies kampeer ons. Ek belê maandeliks eerder in ’n spaarplan en polisse. Ek’s bang
vir waag op die aandelemark. “Ek en Julia sit vas oor kruideniersware. Sy gee te veel geld op klaargaar-maaltye en luukse vleissnitte uit. Sy sê ek verdien oorgenoeg. Ek gee haar maandeliks
’n toelae wat sy blitsvinnig blaas. Sy het grootgeword in ’n huis sonder geldprobleme. Sodra die kinders groter is, sal sy moet gaan werk sodat sy kan sien waar geld vandaan kom.”
Johan en Julia het verskillend grootgeword en hul siening oor geld verskil, sê Hugo.“Johan probeer sy vrou in toom hou deur haar ’n toelae te gee. Sy kan dus nie ‘uitbreek’soos Willie nie. Johan is heel waarskynlik ’n geldmeester of perfeksionis en Julia ’n entrepreneur of hoogvlieër.”
Nico Swart, Unisa se hoof van finansiële bestuur en eiendomswese, sê geld is so dikwels ’n bron van huwelikstwis, “want ’n mens kan net doen wat jou geld jou toelaat”. As jou maat dit wanbestee, of ’n “finansiële Hitler” is wat alleen die geld beheer, word jy aan bande gelê en sál julle konflik ervaar.
Pasop ook vir die volgende, waarsku Nico: As julle mekaar nie met geld vertrou nie en nie daaroor kommunikeer nie; een van julle jul besteding wegsteek of goedpraat; julle mekaar nie van beleggings
vertel nie; julle nie ’n begroting het nie; een van julle nie weet van jul huishoudelike begroting nie; een van julle jul finansiële toekoms as negatief ervaar of as julle geen finansiële beplanning het nie.
“Onthou, as julle vir mekaar omgee en mekaar respekteer, sal julle sorg dat jul geldsake die verhouding positief beïnvloed,” sê Nico.

Watter persoonlikheid het jy?
Jou geldpersoonlikheid bepaal hoe jy geld verdien, bestee, spaar en belê, wys navorsing deur dr. Kathleen Gurney, ’n Amerikaanse finansiële sielkundige. Jou geaardheid speel ’n rol en ook in ’n mindere of meerdere mate hoe jy grootgeword het – arm of ryk en of daar vrygewigheid, verkwisting of suinigheid in jou ouerhuis was. Daar is nie ’n ideale geldpersoonlikheid nie, sê Hugo Snyman, besturende direkteur van Investment Psychology Solutions (IPS). “Elke soort persoonlikheid het sterk en swak punte. Jy en jou maat moet albei gee en neem om mekaar aan te vul.” Die kategorieë hieronder, soos verskaf deur IPS, is
gegrond op dr. Gurney se navorsing. Dit gee ruweg ’n aanduiding van waar jy inpas.

1 PRESTEERDER

(24,82% van Suid- Afrikaners is presteerders, wys die jongste IPS-navorsing)Jy is prakties en rasioneel. Werk voorspelbaar en slim met geld. Jy is toegewyd en glo dat harde werk meer as enigiets anders vrugte sal afwerp. Jy is vasberade, prestasie-georiënteerd en trots op hoe jy jou geldsake bestuur. Jy hou daarvan om te spaar, te belê en te sien hoe jou geld groei.
Jy verkies om baie nou by jou geldsake betrokke te wees.
Jy verkies konserwatiewe, laerisiko- beleggings.
Jy is analities.
Jy sien geld vir wat dit is, is nie emosioneel daaroor nie en heg nie statuswaarde daaraan nie.

2 ENTREPENEUR

(17,42% van Suid- Afrikaners)
Jy word gedryf deur uitnemendheid en toewyding. Jy is ’n werkolis en van al die persoonlikhede verdien jy die meeste, nie noodwendig omdat geld alleen jou motiveer nie, maar omdat jy jou sukses daaraan meet. Jy geniet die mag en status wat geld gee en beloon jouself graag met die beste.
Jy sal berekende risiko’s neem om finansiële doelwitte te bereik.
Beter opbrengste motiveer jou.
Jy glo jy kan jou doelwitte bereik en mik voortdurend nog hoër.
Jy is matig tevrede met jou finansiële status.


3 JAGTER
(12,12%)
Jy neem finansiële besluite met jou hart en nie jou kop nie. Jy bederf jouself deur impulsief geld uit te gee.
Jy voel onbewustelik onwaardig en dit beïnvloed jou geldhantering. Vroulike jagters wens heimlik hulle sal gered word. Jy het min kennis van finansiële bestuur. Kwessies soos aftreebeplanning en risikobestuur is vir jou Grieks.
Jy bestee jou hele inkomste en spaar baie min.
Jy voel soms onbevoeg en ervaar intense selftwyfel oor geldsake.
Jy leef van dag tot dag en beplan nie vooruit nie.

4 GELDMEESTER
(10,48%)
Jou selfvertroue, vertroue in ander en jou vermoë om gesonde risiko’s te neem is in perfekte harmonie. Hoewel jy van al die profiele die derde hoogste inkomste verdien, het jy by verre die meeste bates. Jy stel nie daarin belang om deur jou rykdom mag oor ander uit te oefen nie. Geld is ’n middel tot ’n doel en nie
’n maatstaf waaraan jy jou selfbeeld meet nie. Jy het die dissipline om ’n volgehoue finansiële plan te volg. Jy het ’n buitengewone werksetiek, bestee jou geld prakties en het vertroue in jou eie besluitnemingsvermoë.
Jy versamel bates, dikwels onopsigtelik.
Jy voel goed oor jou sukses.
Jy is betrokke by jou finansiële bestuur, maar vertrou ook kenners.
Jy gee dadelik aandag aan geldprobleme.


5 PERFEKSIONIS

(9,38%)
Jy is so bang om ’n fout te maak dat jy eerder glad nie ’n besluit neem nie. Jy probeer altyd harder, maar
het nie ’n goeie selfbeeld nie, veral nie wat geldsake betref nie. Jy bekyk’n saak vanuit alle hoeke en vind met elke opsie fout. Jy is verantwoordelik, maar jou perfeksionisme verhinder die aksies wat jou in jou beroep kan laat vorder of jou geld kan laat groei. Jou intense behoefte aan beheer verhinder dat jy jou volle potensiaal verwesenlik.

Perfeksioniste is onvergenoegd, het nie geldtrots nie, verdien op een na die laagste inkomste van alle geldprofiele en versamel hoegenaamd geen bates nie. Jy oorbestee nie en spaar graag, maar skiet jouself in die voet deur geen risiko’s te neem nie.
Kom dit by geldsake en beleggingsbestuur, is jy deeglik.
Jy bekommer jou oor foute en neem versigtig besluite.
Jy is gefrustreerd met jou finansiële status en gespanne oor jou geldsake.
Jy is hiper-analities.

6 HOOGVLIEER
(7,80%)

Vir jou het geld eindelose moontlikhede. Jy is ’n sensasiesoeker wat risiko’s geniet, maar nie noodwendig in die opbrengste belangstel nie. Jy is kreatief,’n ekstrovert en mededingend. Jy werk én speel hard – geld bied vir jou emosionele ontlading, opwinding en status. Jy volg geen spesifieke strategienie, maar fantaseer oor die lotto of ’n geldmaakgier. Jou inkomste is veel laer as wat jou wilde eskapades dit na
buite laat lyk.
Finansiële sekerheid verveel jou – jy hou van die onbekende.
Geldmaak motiveer en stimuleer jou.
Jy stel buitengewoon hoë doelwitte en neem groot risiko’s om hulle te bereik. In die proses maak jy reuse-winste, maar ly net soveel verliese.
Jy is flink om neigings raak te sien en dit vir jou te laat werk.
Jy kan ’n finansiële probleem vanuit verskeie hoeke benader en met kreatiewe oplossings vorendag kom.

7 PRODUSEERDER
(7,41%)
Jy is ’n werkesel, maar gefrustreerd omdat jou inkomste dit nie weerspieël nie. Jy heg waarde aan finansiële sukses en die mag en status wat geld meebring. Jy glo al jou harde werk gaan eendag vir jou daardie mag en sukses gee. Intussen sukkel jy om voor te kom. Jy het nie vertroue in jou geldbestuurvermoë nie en finansiële besluite maak jou gespanne.
Jy vertrou ander graag.
Jy vind baat by finansiële raad.
Jy kom ander mense eerder tegemoet voor jy jou eie doelwitte nastreef.
Jy is gefrustreerd omdat jou harde werk nog geen vrugte afgewerp het nie.

8 VEILIGE SPELER
(7,01%)
Jy is uiters versigtig en verkies die maklikste uitweg: Jou geld is in die bank. Jy hou nie van verandering nie en probeer liewer mislukking vermy as om sukses te behaal. Doen jy wel goed, dink jy dis geluk en nie jou vermoëns nie.
Jy vertrou niemand om jou finansiële posisie te verbeter nie.
Jy glimlag en maak asof jy met jou finansiële raadgewer saamstem, maar bel nooit terug nie en stel ook
nie sy finansiële plan in werking nie.

Jy vermy risiko’s en hou van finansiële sekerheid.
Jy is passief teenoor jou geldsake.
Jy glo nie aan barmhartige Samaritane nie.

9 OPTIMIS
(3,47%)
Jy het moontlik ’n leeftyd se harde werk agter die rug en verkies nou om jou tyd te bestee aan reis,
stokperdjies en ander belangstellings. Jy is nie angstig oor geld nie en vermy finansiële spanning. Jy is trots en tevrede met wat jy reeds vermag het. Jy is glad nie emosioneel oor geld nie en dink ook nie juis daaroor nie. Jy heg geen statuswaarde aan besittings nie en geniet dit meer om geld uit te gee as om te spaar.
Jy is taamlik impulsief, maar doen niks wat groot risiko’s inhou nie.
Jy stel glad nie daarin belang om jou geldsake self te bestuur nie.
Jy neem finansiële besluite sonder om die saak te ontleed of te oordink.

Jy glo die noodlot speel ’n groot rol in jou lewe.

Nog harmoniewenke
• Bepaal jou maat se houding, gedrag en waardes teenoor geld vóór julle trou of saamwoon.
• As julle reeds geldsake deel, praat voortdurend daaroor. Help mekaar om jul onderskeie sienings
en emosies oor geld te verstaan. • Neem albei verantwoordelikheid vir jul geldsake. As jou maat
die rekeninge betaal, kan jy dit byvoorbeeld liasseer.
• Bespreek elke maand spesifieke probleme en besluit hoe julle dit voortaan gaan verhinder.


Gebruik dié lys

Heading here

Type or paste here.

 

 

Gebruik dié lys
Vra mekaar dié vrae om jul geldpersoonlikhede
te help versoen:
1. Hoe betrokke en verantwoordelik is jy met geldbestuur?
2. Hoe tevrede is jy met die manier waarop julle jul geldsake hanteer?
3. Hoe emosioneel is jy oor geld? (Raak jy bv. ontsteld of kwaad?)
4. glo jy in die vrygewigheid van ander en om self te gee?
5. gesels jy met selfvertroue wanneer finansiële besluite geneem moet word?
6. Beïnvloed jou hunkering na mag jou finansiële optrede?
7. Bepaal geld jou persoonlike geluk?
8. Hoe gemaklik is jy daarmee om geldkanse te waag? (Soos om op die aandelemark te spekuleer.)
9. Weet jy waarheen jy finansieel op pad is?
10. Hoe voel jy oor besteding teenoor spaar?
11. dink jy oor vorige finansiële besluite vóór jy nuwes neem?
12. Vertrou jy ander wat met geld werk?

Wie verdien die meeste?
1. Entrepreneurs 2. Presteerders
3. Geldmeesters 4. Veilige spelers 5. Jagters 6. Optimiste
7. Hoogvlieërs 8. Perfeksioniste
9. Produseerders

Wie het die meeste bates?
1. Geldmeesters 2. Presteerders
3. Entrepreneurs 4. Optimiste
5.Veilige spelers 6. Jagters
7. Produseerders 8. Hoogvlieërs
9. Perfeksioniste

or paste here.

 

or paste here.

Heading here

Type or paste here.