Nina
Meghan Markle en prins Harry tydens hul besoek aan Kaapstad in September verlede jaar. Die hertogin se blaarvormige oorbelle – swart porselein omring met goud – is Nina se skepping, teen R400 heel bekostigbaar.
Nina se halfmaantosseloorbelle
Nina se halfmaantosseloorbelle (R640). FOTO Savannah Greeff

Ek voel steeds geëerd – hier dra die hertogin my oorbelle, uit my klein studio’tjie op Wildernis!
Nina Bosch, juwelier

Nooit het Nina Bosch gedink sy sal wees waar sy vandag is nie, al was die pad geneties vir haar gebaan. Haar oupa, Esias Bosch, is beskou as die vader van Suid-Afrikaanse keramiek. Haar ouma, Valerie, het porseleinwerk gedoen. Haar ouers, Hanlie en Anton, is gevierde pottebakkers. En as kind het Nina dae om in hul ateljee op Witrivier, Mpumalanga, deurgebring.

Sy het nie veel erg daaraan gehad nie, eerder eintlik soms skaam gekry vir haar “ongewone” familie. “Op hoërskool, wanneer jy mos maar wil inpas, het ek baie gedink: Wat is tog fout met my kunstige familie, kan hulle nie net normaal wees nie!” lag sy nou.

Vandag het sy self ’n ateljee op Wildernis in die Suid-Kaap, waar sy haar dae aaneen verdiep in porseleinwerk.

Veral sedert Erfenisdag verlede jaar, toe Meghan Markle, hertogin van Sussex, afgeneem is met ’n paar van Nina se oorbelle. “Ek en my kêrel was nog die dag rustig besig om te braai, toe ek ’n foto van haar op Instagram sien met wat lyk soos my oorbelle. Maar dit was ’n vae foto, onduidelik, en ons het aangegaan met ons dag. Die volgende oggend het die bestellings begin instroom . . .”

Van Switserland, Amerika, Frankryk, en natuurlik Suid-Afrika – almal wou oorbelle soos Meghan s’n hê. “Ek weet nou nog nie waar sy dit gekry het nie! My beste raaiskoot is dat haar stilis dit tydens hul besoek aan Suid-Afrika by een van die Kaapse winkeltjies aan wie ek verskaf, gekoop het.”

Sedertdien sukkel sy om by te hou met voorraad en haar onderneming floreer – sy is tot op soek na ’n groter ateljee en beplan om iemand aan te stel om haar te help. Dis ’n tydsame proses om haar unieke juwele te skep.

“Ek skets nie ontwerpe of iets nie, maar speel eerder rond met die nat wit klei. Wanneer ek tevrede is met die vorm, moet dit uitgedroog, skoongemaak en gebak word. Dan skuur ek dit af, bak dit weer, verf glasuursel op, bak dit, verf goue detail op, en bak dit ’n laaste keer. Elke oondsessie neem tot tien uur en die hele proses neem omtrent ’n week.”

Dis ook nie sonder uitdagings nie. Pottebakkery is ’n wispelturige kuns en as dinge skeefloop, loop dit lelik skeef. “Net nou die dag het my oond die temperatuur verkeerd gelees en toe smelt alles aan die rakke vas – 40 pare oorbelle daarmee heen. Dan moet jy maar ekstra ure insit om weer voor te kom.”

Sy vertel sy het ná skool gaan leer om haarkapper te word. “Kreatiwiteit is in my gene, maar ek het net nie geweet wat ek wil doen nie en het nie in die kunste belanggestel nie. Toe, op ’n dag, het ek ’n paar porseleinoorbelle gedra wat my ouma jare terug gemaak het. ’n Vriendin was gaande daaroor en vra my toe om vir haar ook ’n stel te probeer maak.

Ek het daardie vakansie sommer ’n bietjie rondgespeel in my ouers se ateljee om die oorbelle te probeer skep – en dit vreeslik geniet. Dit het my stokperdjie geword terwyl ek studeer het en ek het ál meer by my pa geleer oor die kuns. Later het ek my juwele by klein markte begin verkoop; soos die verkope gegroei het, het ek begin wonder hoekom ek ’n haarkapper wil word – ek is nie eens ’n people person nie!”

Teen einde 2015 het sy haar onder-neming geregistreer. En vandag is sy tog te bly haar familie is sulke ongewone, kreatiewe mense. “Dis heerlik. Ons hou saam uitstallings, deel idees oor ’n glas wyn en wys ons nuutste skeppings vir mekaar. Om elke dag te kan skep en ’n entrepreneur te wees, om my eie ding te doen, is wonderlik.”

ninabosch.co.za

Ilse du Toit met die KWV Centenary.
Ilse du Toit met die KWV Centenary.
Ons wou ’n produk skep om ons ryk geskiedenis te vier
Ilse du Toit, hoofbrandewynmaker by KWV

Onder Ilse du Toit se leiding het KWV die afgelope vyf jaar agtereen-volgens weggestap met pryse vir die wêreld se beste brandewyn asook beste brandewynmaker by die Internasionale Spiritualieë-uitdaging en die Internasionale Wyn-en-Spiritualieë-kompetisie – gesogte toekennings waarom meer as 70 lande jaarliks meeding.

Maar steeds gaan dit nie na Ilse se kop toe nie. “Die pryse is elke keer opwindend, maar dis eerder vir my ’n bewys dat ons ’n ongelooflike span het. Almal is so passievol. Ons het voorheen ook al pryse gekry, maar ek dink ons wen nou so gereeld omdat ons as span ’n balans gevind het, saam geleer het hoe elke potketel in die kelder bydra om ’n suksesvolle brandewyn te maak.” Verlede jaar, glo sy, het hulle nuwe hoogtes bereik met hul eeufees-brandewyn. Slegs 100 bottels KWV Centenary is vervaardig en dié bottels verkoop teen R100 000 elk, waarvan R20 000 vir beurse aan wyn- en wingerdbou-studente geskenk word.

“Dis regtig vir my die toppunt van ouderdom én gehalte – want oud is nie noodwendig lekker nie. KWV stook al sedert 1918 brandewyn en die Centenary bevat brandewyn uit ons oudste en beste potketels – gemiddeld 45 jaar oud. Om dit nog meer spesiaal te maak bevat elke bottel ’n bietjie van ons gesogste brandewyne: die heel eerste KWV 10 jaar-brandewyn, uit 1926, en brandewyn uit 1942, toe brande byna die hele kelder uitgewis en net ’n paar vate oorgebly het.”

Sy was aan die stuur van dié kreatiewe proses – net soos met al KWV se brandewyne. Wanneer brandewyne klaar gedistilleer en in vate verouder is, is dit Ilse se werk om verskillende style, smake, kleure en aromas te meng om ’n heerlike eindproduk te skep. “Daar is duisende vate brandewyn in die kelder, en elke vat gee ’n ander karakter aan sy inhoud – al is die inhoud uit dieselfde oesjaar. Ek proe en kies dan individuele vate om ’n brandewyn te skep. Daar is geen resep nie, want elke jaar is daar nuwe vate wat verouder en jy kan nie voorspel hoe dit gaan proe nie. Maar ek weet presies hoe ’n bottel KWV 20 jaar, byvoorbeeld, moet smaak en selekteer dan brandewyne om daardie smaak elke keer te skep. Daar is eintlik miljoene kombinasies en dit raak net nooit vir my oud nie! Ná hoeveel jaar fassineer dit my steeds dat ’n vloeistof wat soos water lyk deur veroudering in hierdie geurige sonskyndrankie omskep kan word.”

Ilse is een van min vroue in die distilleringsbedryf, en sy beskou dit as ’n jammerte. “Veral in die brandewynbedryf is daar hierdie wanopvatting dat dit ’n drankie vir mans is, grof. Maar vroue is gewoonlik uitstekende mengers en distilleerders omdat ons van nature meer aandag gee aan klein details.”

Die persepsie is egter stadig maar seker besig om te verander soos al hoe meer mense gehaltebrandewyne uitsoek. “Kyk, daar gaan altyd plek wees vir die drie- en vyfjaar-brandewyne, wat goeie mengeldrankies maak. Dit dryf volumeverkope en hou die bedryf aan die gang [syself drink brandewyn met net ’n ‘blokkie of drie’ ys]. Maar mense verwag nou innovasie en nuwe mengsels in ons ouer produkte, soos die 20-jaar. En hoe ouer die bottel, hoe unieker. Dís wat ek geniet, daardie kreatiwiteit en vryheid. Ek proe letterlik elke tenk se inhoud en maak seker ons produkte is van goeie gehalte, want dis ’n groot verantwoordelikheid om ons verbruikers gelukkig te hou.”

Ilse het nog altyd geweet dís wat sy met haar lewe wil doen – selfs voor sy self brandewyn kon drink. “As kind was brandewyn deel van my lewe. My oupa het byvoorbeeld altyd van sy ‘brandewyn-kwota’ gepraat – daar móés ’n sekere aantal bottels brandewyn in die huis wees. Dis ’n nostalgiese drankie vir my en vir baie ander Suid-Afrikaners en ek is trots om, op ’n klein manier, deel te wees van ons erfenis.”

Veldskoen
Nick Dreyer (links) en Ross Zondagh, skeppers van Veldskoen.
Ons het die veldskoen ’n nuwe baadjie gegee
Nick Dreyer, medestigter van Veldskoen

Terwyl die hele land hul kop in skaamte laat sak het oor die Suid-Afrikaanse Olimpiese span se slonsige sweetpakke in 2016, het Nick Dreyer en sy vennoot, Ross Zondagh, ’n geleentheid raakgesien. “Ons het mekaar gebel en gewonder: Wat sou beter lyk, en ook eg Suid-Afrikaans wees? Vellies, natuurlik, het ons gesê; ons stry nou nog oor wie dit eerste gesê het,” lag Nick.

Dié twee Pretorianers was lankal op soek na sakegeleenthede. “Ons was albei entrepreneurs – Ross in die boubedryf, ek betrokke by uitstallings nadat ek voorheen in die hotelwese was, maar ons ondernemings het gesukkel. “Hoe meer ons oor die vellies gepraat het, hoe meer het ons besef ons het ’n blink plan beet. Ons wou dit moderniseer en ons eie stempel daarop afdruk met kleurryke veters en sole, maar dit ook eg Suid-Afrikaans hou – die beste van albei wêrelde.”

Nie een het ondervinding in die modewêreld of e-handel gehad nie en het aande en naweke om gesit om te leer hoe alles gedoen word. “Wanneer ons mense van ons idee vertel het – ons families, selfs vervaardigers wat ons genader het – het hulle vir ons gelag of gedink ons is mal. Ons het dit weke lank van ons vroue weggesteek terwyl ons dit op die been gekry het. Wat weet ’n bouer en hotelier nou van mode!” onthou Nick. “Maar dit was vir ons ’n baken van hoop. Ons het eenvoudig geweet ons kan dit laat werk.”

En hulle hét. Binne twee maande was hul winkel, veldskoen.shoes, aanlyn. En sewe maande later het albei hul vorige ondernemings verlaat. “Ons wou goeie skoene maak, nie goedkoop nie, waarvan jy nie derduisende pare hoef te verkoop om oukei te wees nie. En toe vaar dit baie beter as wat ons verwag het – binne minder as ’n jaar het dit ons permanente werk geword en ons kon ons gesinne onderhou. Die reaksie was ongelooflik – Suid-Afrikaners het dit as hul eie gesien, iets om op trots te wees.” Toe bel The Times boonop uit Londen: “‘Prins Harry het jul skoene by ’n partytjie aan, kan ek ’n aanhaling daaroor kry?’ wou die joernalis weet. Ek het gesê: ‘Wat?! Het jy ’n foto?’” lag Nick. “Ek kon dit nie glo nie!”

En toe ontplof Veldskoen. Kort daarna het Mark Cuban, Amerikaanse miljardêr en belegger, hulle gekontak om aandele te koop. En die akteur Ashton Kutcher, wat saam met Mark aan die entrepreneur-werklikheidsprogram Shark Tank gewerk het, wou ook inkoop. Nick en Ross het die geleentheid aangegryp en deesdae verkoop en versprei hulle Veldskoen in Amerika, Brittanje, Europa en Australië, met planne om in Taiwan te begin sake doen.

Plaaslik is dit by Woolworths, Outdoor Warehouse, onafhanklike winkels en aanlyn te koop, en ’n kinderreeks sien binnekort die lig. Ross kan dit steeds skaars glo. “Dit het my onkant betrap. Ek was vol vertroue, maar het steeds gedink dit sal ’n stadige proses wees. Ons moes op ons voete dink en vinnig leer. Maar ons was nie skaam om raad te vra en vennootskappe so te smee nie – vandag werk 18 mense permanent by Veldskoen en nog 60 is betrokke by die vervaardiging.”

En nee, sê Nick, met hul inter-nasionale sukses is hulle nie spyt hulle het ’n Afrikaanse woord vir die naam gekies nie. “Veral die Amerikaners sukkel om dit uit te spreek, maar hulle dink ook dit klink baie eksoties. Ons het die naam gekies want dis dadelik herkenbaar in Suid-Afrika – ons is eintlik maar eenvoudige ouens! En nou is ons trots daarop dat ons kon help om ’n positiewe lig op Suid-Afrika en ons erfenis te skyn. Die veldskoen is omtrent 100 jaar oud en ons het dit ’n nuwe baadjie gegee en, hopelik, verseker dat dit nog jare lank sal bestaan.”