In teenstelling met die tradisionele siening dat werk- en gesinsverpligtinge bots, wys onlangse navorsing die meeste beroepsvroue balanseer hul huislike en werklewens suksesvol, sê dr. Sarah Riordan, Kaapse bedryfsielkundige. Trouens, kenners verwys al hoe meer na “ ’n positiewe oorloop”: Die vaardighede wat jy by die werk leer, help jou by die huis, en omgekeerd.

“Ek het nie gewoonlik ’n huishulp nie, maar doen saans, soos die tyd dit toelaat, huiswerk. Ek benader dinge rustig. Ek maak eers kos en bad my kind. Daarna doen ons iets lekkers saam, soos inkleur. Net voor sy gaan slaap, lees ons boekies. Ek voel glad nie skuldig oor ek werk nie, want ek en Mila bestee baie tyd saam. Sy bly by ’n dagmoeder en as ek laat moet werk, mag sy langer bly. My werk is besonder tegemoetkomend. Wanneer my kind verjaar, kry ek ’n paar uur af om haar partytjie (wat die dagmoeder hou) by te woon. Wanneer ek ’n werkgeleentheid het, sien my ma na Mila om en elke tweede naweek gaan sy na haar pa toe. Dan is dit ek-tyd. Deur alles kom my kind eerste.” Leandri Steenkamp, grafiese ontwerper van die Paarl, en ma van Mila (3)

“Wanneer ek en Lurize by die huis instap, het ons inslaap-huishulp, Alina, reeds die huiswerk afgehandel. Lurize spring in die bad terwyl ek die kos berei. Teen die tyd dat sy haar pajamas aanhet, sit ek reeds rustig met ’n glasie wyn, reg vir my sepies. My man, Jacques, gaan eers gym toe ná werk. Wanneer hy tuiskom, is die huishouding rustig en kan ons drie gehaltetyd saam deurbring.” Luzanne Nortje, haarkapper van Bloemfontein, en ma van Lurize (10)

“Ma-wees het my geleer om in die oomblik te lewe. As ek my kind by die skool afgelaai het, gaan ek in werk-mode en wanneer ek huiswaarts keer, is dit familietyd. Ek doen dinge nóú, maar stel nie onrealistiese eise aan myself nie. Ek het leer aanvaar ek kan nie altyd tuis wees nie en dan help my ondersteunende man, Emile. Dis ook menslik en in orde as ek soms moeg is en nie altyd my kant kan bring nie. Wanneer ons vir ’n  langnaweek of vakansie weggaan, moet die volgende wegbreek reeds beplan wees.” Chriselda Meyer, kreatiewe direkteur van MIA Graphic Studio, Pretoria, en ma van Amelie (2). Sy’s swanger met haar tweede kind.

Ek stel ’n rooster op en ons maak beurte om klein Hannah te bad. Dis ontsettend belangrik dat ek en Denver ook gehaltetyd het: Ons kind slaap elke Vrydagaand by haar ouma en oupa. Ek gesels via Facebook en Skype met my vriende, omdat ek min tyd het om te gaan kuier.” Ruwayda Daniels, junior werwingsagent van Viv Gordon Placements, Kaapstad, en ma van Hannah (2)

 
 

Kompromieë aangaan – dis belangrike woorde vir my en my man, Denver. - Ruwayda Daniels

 

“Die beste en enigste wenk is hulp. ’n Mens kan nie alles alleen doen nie. As enigiemand betroubaar vir jou hulp met jou werk, jou kind of huis aanbied, sê ja. En as jy enigsins kan, kry ’n huishulp. Alle ma’s verdien buitendien ’n blaaskans. Ek probeer tyd vir myself én my man, Neil (McKenzie, Proteakrieketspeler), maak. Ons laat ons kruideniersware aflewer. Die kitsboodskapdiens op my BlackBerry Smartphone help my om vinnig en effektief in kontak met Neil te bly. En dis nuttig vir werk, want ek kan enige tyd en plek na my e-pos kyk.”
Kerry McGregor, model van Kaapstad, en ma van Luke (1)

“Wanneer ek reisreëlings moet tref, maak ek seker elke gesinslid weet wanneer ek wáár gaan wees. Al my kinders het selfone sodat hulle kan SMS of gesels. Ons stuur ook vir mekaar e-pos. Ek en my man, Richard, gryp een of twee aande ’n maand net vir onsself. Dan gaan die ouer kinders uit en die jongste is by Ouma.” Tracy Williams van Durban, wat die afgelope twee jaar aangewys is as Rentokil SA se topareabestuurder. Sy’s ma van Candice (26), Bradley (20), Kyle (17) en Hayden (5).

“’n Mens moet aanvaar jy kan nie ’n perfekte ma, lewensmaat én sakevrou wees nie. Soms sal die balans oorhel na werk, ander kere meer na die kinders en die huishouding. Ek kasty myself nie daaroor nie. Tog maak ek ook tyd vir net ma-wees, speel en die kinders biblioteek toe neem. Wanneer ek dan weer moet werk, voel ons almal beter. Ek beplan vooraf die week se etes en koop die kruideniersware alles op een slag. Die internet spaar baie tyd. Maar naweke bly ek weg van die rekenaar, dan’s dit gesinstyd.” Helena Bester, vennoot in Filaflooi (kinderklere-onderneming), Moorreesburg, en ma van Christiaan (5) en Hendrie (2)

“Roetine hou my geestelik gesond. Ek kry die vorige aand môre se klere en middagete gereed, en al is my kind ’n tiener moet hy op ’n vasgestelde tyd gaan slaap. Ek werk tuis. Soggens voor tien lees ek eers al my e-posse. Deur die dag neem ek vasgestelde blaaskanse. En saans bring ek ’n uur saam met my man, Jean, deur sonder om bekommerd te wees oor ongedane sake. Ek is super-georganiseerd en hoef nooit rond te soek na die gom of ontbytvlokkies nie. My jaarbeplanners vir tuis en werk is teen my kantoormuur opgeplak.” Michelle du Plessis, uitgewer: Hay House, Johannesburg, en ma van Khyle (17)

“Ek het gekies om deeltyds te werk sodat ek nie verskeurd voel nie. Ek werk drie voldae per week – dis minder tyd op die pad en ek fokus beter só. Tuis gee ek dan my volle aandag aan die kinders. My kind se speelskool lewer ’n betroubare pendeldiens. Sonder my huishulp, Latriena Snyders, sal my lewe stilstaan. Ek kan haar met my kosbaarste besittings – my kinders – vertrou en hoef nie oor dinge soos strykgoed bekommerd te wees nie.” Engela Duvenage, mediabeampte: fakulteit natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, en ma van Elena (3) en Marike (7 maande)

“Ek maak nie ’n drama van klein dingetjies nie. En jy moet self spaartyd skep; jy gaan dit nie kry´ nie.” Nelia Schutte, stigter van Keedo Internasionaal, Kaapstad, en ma van ’n tweeling, Henno en Carmia (18)

“Ek sou graag tuis by my kind wou bly, maar dan sou ek haar nie kon onderhou of in haar toekoms belê nie. Ek is bly sy geniet die crèche en leer dinge waarvoor ek nie tyd het nie. Omdat ek en my man, Dhiresh, van Durban af kom, is daar niemand in Johannesburg wat my tuis of met my kind kan help nie. Gelukkig kan ek nogal baie dinge gelyk doen. Ek studeer ook deeltyds. Dhiresh deel die huiswerk, bad gereeld vir Dhiya of pak haar crèche-sak. Wanneer sy siek is, neem ek en hy beurte om dae af te neem. Saans en naweke kry Dhiya gehaltetyd en dan doen ons pretdinge saam sodat sy kan besef ons is altyd hier vir haar.” Anusha Mudhai, konsultant by ’n skakelmaatskappy in Johannesburg, en ma van Dhiya (3)

“Ek werk deur middagetes om tyd op te maak vir my kind, Lenka, sodat ek haar self dokter toe kan neem wanneer dit nodig is en haar belangrike geleenthede kan bywoon. As ek laat moet werk, gaan haal ek vir Lenka by die dagmoeder, neem haar na vriende en werk klaar, of neem werk huis toe. Al sien ek haar in die week net soggens en saans, maak ek tyd vir haar. Ons bad of stort saam, ek sit saam aan haar tafeltjie of lees vir haar stories. Wanneer ons inkopies doen, stoot sy haar eie trollie. Ek doen self my huiswerk en breek dit op in hanteerbare take vir Saterdae en Sondae. Lenka help stofsuig en het ook haar eie besempie. Terwyl ek skottelgoed was, tel ek haar soms by my op die toonbank en dan gesels ons. Saans, wanneer sy slaap, is ek-tyd. Lees doen wondere vir die gemoed. Ek weet nie waar ek ’n man in my dag sal inpas nie . . .” Cailin Human, beampte: internasionale betrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, en ma van Lenka (2)

“Jou kinders is jou grootste kliënte. Maak tyd in jou dagboek vir hulle.” Liesl Laubscher, kommunikasiestrateeg, Kaapstad, en ma van Daniel (5) en Amy-Lee (1)

“Buigbaarheid beteken nie jy werk minder ure nie, eerder ure wat jou leefwyse pas. Só woon ek my kinders se belangrike geleenthede by. Sulke dae eindig net later, want ek werk weer ná hulle bed toe is. My man, Gary, ondersteun my ongelooflik, veral wanneer ek nie saans tuis kan wees nie of moet reis. Ons maak ook tyd vir net ons twee.” Jane Stevenson, eienaar van die sakekonsultante Jane Stevenson & Associates, Port Elizabeth, en ma van Ambra (20), Alec (17) en Ashley (8)

“Sondae behoort aan my gesin. Ek maak ook soms afsprake met elke kind afsonderlik sodat ek my volle aandag aan een op ’n slag kan gee. Dis belangrik dat hulle my werk en wat dit behels, verstaan. Ons kommunikasiekanale is altyd oop, of dit nou per selfoon of e-pos is.” Nelly Dasheka, besturende direkteur van Quantum Leap Investments, Johannesburg. Verlede jaar het sy ’n streekafdeling van die Business Women’s Association se Business Achiever Award in die entrepreneur-kategorie gewen. Sy’s ma van Kekeletso (19) en Lesego (14).

“ ’n Mens moet jou kop regkry. Besluit wat vir jou belangrik is: Wanneer jy sal toelaat dat jou kinders, man en baas jou ‘manipuleer’ teenoor wanneer jy jou voet gaan neersit. Ek voel soms skuldig oor ek nie altyd die kinders met hul huiswerk kan help nie, maar omdat my roetine buigbaar is, maak ek weer op vir verlore tyd. My kinders het leer verantwoordelikheid aanvaar. Hulle moet self smiddae huiswerk doen wanneer ek nie tuis is nie, nie laat saans nie. Andersins moet hulle die gevolge dra . . . ’n Mens kan ook nie altyd net gee nie: ’n Massering en ’n stil plekkie help baie. As ek te moeg is om iets tuis te doen, los ek dit. Niemand kom dit eens agter nie! Wanneer dit my radioskof is, help my man, Francois, met die kinders. Hy werk vir ’n selfoonmaatskappy en gebruik dié tegnologie om dan tuis te werk.” Danielle Wass, RSG-aanbieder en -regisseur, Johannesburg, en ma van Mikayla (10), Megan (9) en Erin (3)

“Ek het ’n weeklikse beplanner-almanak en kan só vinnig my program sien. Ek skeduleer tyd saam met my gesin. Dán voel ek nie skuldig oor ek nie werk nie.” Tracey Czakan, groepbemarkingsdirekteur van Kelly Groep, Johannesburg, en ma van Daniella (12) en Nicolas (9)

“As enkelouer móét ek werk, maar ek is heeltyd verskeur tussen my werk en my kind. Wanneer iets belangriks in Finn se lewe gebeur, vra ek werktyd af. Ook wanneer hy dokter toe moet gaan. Gelukkig het ek gemoedsrus dat hy bedags by my ma bly, waar hy veilig is. Ek werk nie laat nie, want ek neem my kind en my ma in ag. Omdat ek nie ’n huishulp het nie, doen ek naweke huiswerk. My ma kook bedags vir Finn en dikwels ook vir my. Wanneer ek moet kook, doen ek dit wanneer my kind slaap. Ek kook dikwels vooruit en vries die kos. Roetine is belangrik. Saans pak ek môre se babasak.” Donvé Myburgh, kantoorbestuurder van Kaapstad, en ma van Finn (20 maande)

“Ek weet nie hoe ek by alles uitgekom het toe ek nog ’n enkelouer was nie. Ek het steeds nie ’n huishulp nie. My man, Andries, help met dinge soos huis skoonmaak, skottelgoed
was, wasgoed ophang, rondry en kook. Wanneer ek kook, span ek gereeld my mikrogolf se outomatiese program in sodat ek nie die kos hoef dop te hou nie. Ek los die bredies vir
naweke en maak eerder eenpot-geregte of ’n vinnige vleisie met opgesnyde tamatie en avokado. Mieke help graag in die kombuis en kan al byna op haar eie pannekoek bak! Ek-tyd is belangrik. Wanneer ek alleen in die tuin werk, maak ek lekker kop skoon.” Marié van Zyl, kredietbestuurder van Panorama, Kaapstad, en ma van Mieke (12)