Dilemma: Hoe is spaar moontlik?

Ons word heeltyd aangemoedig om te spaar, maar ons kom net uit aan die einde van die maand. Kenners sê boonop jy moet ’n stewige noodfonds hê vir onvoorsiene uitgawes.

Amelia Morgenrood, finansiële beplanner van PSG Wealth

Die meeste mense pas hul lewenstandaard by hul inkomste aan. Teken ’n debietorder wat van jou bankrekening afgaan op die dag wat jou salaris betaal word. Dan is dit geld wat jy nooit gehad het nie! Jy sal gou gewoond raak daaraan om daarsonder klaar te kom. Onthou, verhoog jou maandelikse besparing soos jou salaris styg. Elke persoon behoort ’n bedrag te spaar wat gelykstaande is aan 15% van jou salaris. Dit geld vandat jy die eerste keer begin werk. As jy eers later in jou lewe begin, sal dit meer as 15% moet wees.

Spaar is ongelukkig nie jou huispaaiement nie. Baie mense glo hul huis is ’n belegging, dat hulle dit eendag kan verkoop en afskaal. Maar aftreeoorde en meenthuise is nie veel goedkoper nie. Ek is self nie ’n aanhanger van ’n groot noodfonds nie, dis net nog geld waartoe jy toegang het en kan uitmors. Indien jy ’n mediese fonds en versekering het, is ’n groot noodfonds selde nodig. Spaar miskien net genoeg as jou motor breek of iets dergeliks gebeur. Elkeen se omstandighede verskil, gaan dink na oor wat die nood was wat jy die laaste tien jaar moes hanteer en hoeveel geld jy elke keer nodig gehad het.