Die meeste suksesvolle mense was in ’n stadium van hul lewe werkloos – dikwels juis omdat hulle afgelê of afgedank is. Wyle Steve Jobs, eens Apple se grootbaas, is een van die beste voorbeelde.

“Ek het dit nie toe ingesien nie, maar toe Apple van my ontslae raak, was dit die beste ding wat ooit met my kon gebeur het. Die meulsteun van sukses is vervang deur die ‘ligtheid’ daarvan om weer as groentjie my lewe te betree,” het Jobs in 2005 gesê nadat hy nog groot sukses behaal en later deur Apple heraangestel is.

In Suid-Afrika is afleggings aan die orde van die dag. Volgens die vakbond Solidariteit was die meeste hiervan in 2016 in die mynwese, die inligtings- en kommunikasiebedryf en die metaal- en ingenieursbedryf. Sedertdien is baie mense in die landbou-, sake- en kleinhandelsektor ook laat gaan.

Terwyl daar heelwat hartseer verhale is van mense wat nie die mas kon opkom nadat hulle hul werk verloor het nie, is daar ook baie suksesstories.

Terena le Roux was redakteur van Media24 se Idees-tydskrif toe dit einde 2016 toegemaak is. Sy was passievol oor dié produk, en haar lesers, span en haar seun, Anton, bankvas agter haar. Vandag is sy die onafhanklike eienaar, redakteur en uitgewer van die tydskrif.

Terena tuis in haar “nuwe” kantoor. foto Ed O'Riley

Ook Nico Visser, eienaar van The Keto Kitchen in Johannesburg, ’n bakkery wat fokus op gesondheidsprodukte soos brood vir banters, het suksesvol aanbeweeg nadat hy in 2010, ná 21 jaar by ’n internasionale petrolmaatskappy, gehoor het sy pos as sakebestuurder is in die gedrang in ’n herstruktureringsproses. Hy het nog nie weer teruggekyk nie.

Terena en Nico se nuwe reise is inspirerend. En soos hulle graag sê: Om ná vyftig skielik sonder werk te sit is nie die einde nie, maar die begin van ’n wonderlike nuwe ervaring. Alles hang van jou ingesteldheid af.

Daar was wel ’n paar affe, maar vir albei was dit oorwegend ’n opwaartse swaai in hul loopbaan.

‘Dis asof my hele lewe my voorberei het om vir myself te werk’ – Terena le Roux, eienaar, redakteur en uitgewer van die tydskrif Idees, asook uitgewer van die gedrukte weergawe van Lééf met hart & siel

Vandat sy kan onthou, wou sy vir haarself werk. Nou vertel Terena dis asof alles in haar lewe vóór sy haar werk by Media24 verloor het, saamgewerk het om dié droom te bewaarheid. Dié fyn dinamo, modieus in ’n liggrys romp en bloes en ligpienk lang bob, was nog nooit bang vir verandering nie. As enkelma (uit eie keuse) het sy en haar seun, Anton (28), al in veertien huise gewoon. En elkeen was ’n restourasieprojek.

Terena is baie trots op die nuwe Idees-tydskrif (in Afrikaans en Engels te kry), waarvan daar al om die ander maand vandeesmaand al tien uitgawes gepubliseer is. Die “nuwe” tydskrif doen uitstekend, vertel sy.

Lééf met hart & siel, wat ook toe deur Media24 gesluit is, se redakteur, Christine Ferreira, het besef húl lesers is net so passievol oor hul produk. Sy het ’n aanlyn tydskrif begin, maar ná samesprekings met Terena is besluit om die eerste gedrukte weergawe in November 2017 uit te gee. En dinge lyk báie belowend, vertel Terena.

Dit was nietemin steeds vir haar báie erg toe sy hoor Idees gaan toemaak – al het sy toe al ’n ruk lank geweet dinge gaan nie voor die wind nie. “Gelukkig was ek emosioneel op ’n goeie plek ná ’n stilte-retreat van tien dae op Worcester. Maar ná agtien jaar by die tydskrif het dit tog gevoel asof ek my baba moes afstaan. En ek het skuldig teenoor my personeel gevoel.”

Oor die jare het sy gesien hoe mense aflegging verskillend hanteer. Sommige verwerk dit uitstekend, terwyl ander verlam word deur skok.

“Toe ek gedurende 2016 sien dinge gaan nie goed by Idees nie, het ek ’n plan in my agterkop gehad.” Dit was om die tydskrif self oor te neem sou dit toemaak. Toe Media24 besluit die titel het vir hulle te min waarde, het die maatskappy die tydskrif gratis vir haar gegee. Met lojale lesers en ’n gevestigde handelsmerk was sy gereed vir ’n nuwe uitdaging.

Sy het die afleggingsuitbetaling wat sy ontvang het, gebruik om die eerste uitgawe in Maart 2017 te finansier.

“Baie mense het gesê dit is dom, maar ek vertrou my intuïsie.” Haar span van agt het aangebied om gratis te werk aan die eerste twee uitgawes. “Ek kon hulle wel die tweede maand betaal.” As die enigste vaste personeellid het sy in die eerste jaar geen salaris aan haarself uitbetaal nie.

Maklik was dit nie aldag nie. “Daar was nie tyd vir terugsit nie.” Terena sorg ook vir ’n familielid wat in ’n inrigting vir verstandelik gestremdes naby Malmesbury woon. Anton is ’n vryskut in die filmbedryf en woon by haar. “Ek was onseker oor die toekoms.” Sy moes haar persoonlike begroting sny en spaar waar moontlik.

Aanvanklik was dit emosioneel uitmergelend om die administrasie van die tydskrif – en haar eie sake – te doen.

“Jy loop vir seker nie ná agtien jaar met net ’n skoenboks vol besittings uit nie. Jy moet jou rekenaar skoonmaak, lessenaar uitsorteer, sorg dat jy help werk soek vir mense wat permanente werke nodig het, jou pensioen- en mediese fonds uitsorteer.” Maar sy glo alles het gehelp vir afsluiting.

Getroue lesers het deur die bank ook hul steun op Facebook aan haar gegee, en sy het elke stukkie kommentaar beantwoord. “In Desember 2016 het ek toe deur middel van Thundafund ’n veldtog vir skarefinansiering op Facebook begin en R88 000 ingesamel. Dit het gehelp om aanvanklike regskoste vir die nuwe tydskrif te dek.

“Die kern van die tydskrif is steeds dieselfde: Dit is vir kreatiewe vroue, met ’n sterk konneksie tussen mindfulness en kreatiwiteit. Ons fokus ook op die wonder van papier – ’n soort speelboek vir grootmense.” Terena maak nie staat op advertensies om haar Idees te “voed” nie. “Die nuwe tydskrif is dikker as voorheen en ons het hoogstens vier advertensies. As mense wonder hoekom hulle nou R80 pleks van R40 betaal, verduidelik ek die lae prys was juis die rede waarom die tydskrif destyds toegemaak is.

“Ek dink nie die gedrukte media sal ooit verdwyn nie. Trouens, in Nederland en Duitsland groei die mark. Ek wou nie ’n digitale tydskrif oorweeg nie omdat kreatiewe vroue hul hande in klei en verf wil druk. Ék wil ’n tydskrif voel, daaraan ruik, dít betower mense.”

Terena sê sy het opnuut geleer jy moet jouself vertrou. “Ek is verantwoordelik vir elke sakebesluit, en al is ek nie altyd so gedissiplineerd met my eie begroting nie, is ek supersuinig as sakevrou. Ons het ’n fantastiese jaar beleef, en ek kon selfs my span Europa toe neem vir ’n ‘shoot’.”

Sy is ook nie skaam om te vra as sy iets nie weet nie. “Nie soos ’n man wat verdwaal en verseg om aanwysings te vra nie.” En sy is baie dankbaar oor vrouekontakte uit haar verlede wat haar uit die bloute gebel het met bystand.

Boonop voel haar seun vir die eerste keer in 28 jaar hy het ’n ma tuis. “Ek het altyd gespot hy is soos die kantoorkat, wat altyd agter die lessenaar moes lê.” En sy het deesdae tyd om Italiaans te leer. Die lekkerste van haar “nuwe lewe” is dat sy geen aftree-ouderdom het nie. Terena meen jou houding bepaal hoe jy aflegging hanteer. “Dit help nie jy is verbitterd nie. Dit is nie teen jou as persoon gemik nie, maar ’n ekonomiese besluit. Wees eerder dankbaar vir wat jy by die maatskappy geleer het.”

Nico by die Bryanston-mark. foto Phyllis green

‘Die máklike opsie is om ’n slagoffer te wees’ – Nico Visser, eienaar van The Keto Kitchen, ’n gesondheidsbakkery in Johannesburg

Dit is nie maklik om ná 21 jaar jou kantoordeur toe te trek nie, maar Nico Visser, ’n sakebestuurder van Johannesburg, hét.

Hy weier om ’n slagoffer van sy omstandighede te wees. “Jy kan jou lewe verbeter,” vertel hy nadat hy The Keto Kitchen met slegs R7 500 begin het.

As pa van drie dogters wat nog op skool en universiteit was, was daar steil opdraandes. Maar sy vrou, Nerina, mede-eienaar van die batebestuursmaatskappy etfSA, staan gelukkig heelpad langs hom.

Sy “reis” het in 2010 begin toe die Franse petrolmaatskappy waarvoor hy gewerk het, begin herstruktureer het.

“Ek moes hoor my vooruitsigte lyk nie goed nie, en het besluit om te groet. ’n Paar jaar later moes die meeste van my kollegas wat aangebly het, ook groener weivelde gaan soek.”

Dit was egter eers drie jaar later dat The Keto Kitchen – by hul huis in Emmarentia – van die grond af gekom het, vertel hy. Voor hierdie sukses het hy eers ’n bloutjie geloop. “Ek het ’n restaurantprojek probeer, maar dit was ’n fiasko. Om van ’n suksesvolle korporatiewe loopbaan te beweeg na ’n onsuksesvolle eie besigheid is ’n bitter pil om te sluk. Jy raak depressief en twyfel in jouself.”

Maar hy het nog altyd van kosmaak gehou. “Ek het dit by my ma, Hannah Visser, geleer; ook ’n paar kursusse gedoen.” En hy skryf selfs blokman (slagter) agter sy naam.

In 2013 het hy en sy een dogter, Milana (27), ’n opgeleide fyngebaksjef wat aan die Institute of Culinary Arts (ICA) op Stellenbosch studeer het, op klein skaal begin bak. Daar is industriële oonde in een vertrek van die huis, en die verpakking word in ’n ander gedoen. Milana is in beheer van die bakkers, terwyl Nico die aankope en aflewerings doen en markte toe gaan. Hulle het ’n gaping in die gesondheidsmark raakgesien en bak met klapper-, amandel- en sonneblommeel, met neutbotter as basis. Alles is glutenvry, bevat nie suiker of preserveermiddels nie en slegs organiese en natuurlike bestanddele word gebruik.

Aanvanklik het hulle hul produkte, soos brood, broodrolletjies, pizzabasisse, koekies, samoesas, pasteie, worsrolletjies ... die lys is lank, slegs by die Fourways-plaasmark verkoop. Deesdae het hulle ’n stalletjie by die Bryanston Organiese en Natuurlike Mark, waar hulle Donderdae en Saterdae produkte verkoop, en elke eerste Saterdag van die maand by die Banting Mark in Pretoria. Voorts verskaf hulle produkte aan ’n paar gesondheidswinkels en bak op bestelling vir private kliënte.

Twee jaar gelede het hulle ook die banting-mark betree. “Dit is ’n goeie sake-opsie. Almal was op die banting-wagon,” soos Nico sê. “Dié mark weet wat hulle wil hê en is bereid om daarvoor te betaal.”

Nico het nooit gedink sy BCom-graad en latere graad in sakebestuur sou tot ’n bakkery lei nie. “Maar ek en my dogter werk heerlik saam. Ons werk fleksietyd en het ook twee helpers. Dit is vir my lekker om van die huis af te werk, terwyl dit ook koste bespaar.”

Boonop sien hy baie meer van sy familie. “Ek het wel nie meer die sekuriteit van ’n stewige salaris nie – en weg is die viertrekvoertuig en oorsese vakansies. Maar jy maak vrede.”

Hy glo Suid-Afrika bied baie geleenthede vir entrepreneurs. “Moenie die etiket van pale, male and stale – middeljarige wit mans wat verby hul ‘raklewe’ is – as verskoning gebruik nie. Maak ’n positiewe impak waar jy is.”

Sy bakkery ondersteun byvoorbeeld ook kleiner besighede soos tuiniers wat organiese groente op die ou mynhope in Alexandra kweek tot die klein familiebesigheid wat etikette vir sy produkte druk.

“Dié nuwe lewensfase het soveel dinge in my ontsluit wat ek nooit in die korporatiewe wêreld besef het nie. Ek is kreatiewer as ooit en sterker as wat ek gedink het.”

Sy wenke vir mense wat skielik hul werk verloor? “Kies iets wat jy geniet en baie goed doen. Soek sakevennote versigtig uit. Gebruik sosiale media vir gratis bemarking. En pas aan by jou mark.”