Twee koppe is beter as een as dit by besigheid kom, het dié vriende uitgevind. Met lag, vasbyt en kreatiewe probleemoplossing boer hul sakeonderneming vooruit. Vriende kán saamwerk, glo hulle – al sê wie ook wat.

Deur Marguerite van Wyk

Google, Microsoft, Apple . . . Van die wêreld se grootste maatskappye is gestig deur vriende. Google danksy ’n navorsingsprojek van Larry Page en Sergey Brin toe hulle doktorale studente was aan die Stanford-universiteit in Kalifornië. Microsoft deur Bill Gates en Paul Allen. En Apple deur die twee Steves – Jobs en Wozniak.

Die voordele van vriende wat saam die wêreld van entrepreneurskap betree, is legio. “Interaksie tussen mense is altyd goed vir besigheid. Dit is lékker om saam te werk, want soms raak jy alleen so op jou eie. Vriende inspireer mekaar. As daar twee is, leer albei by mekaar en help terugploeg in die onderneming,” sê Jannie Mouton, stigter en voorsitter van die Stellenbosse beleggingsreus PSG. Natuurlik moet jy nie die pap te dik aanmaak nie. “Stel duidelike grense, kommunikeer en respekteer mekaar,” sê Jannie. Aanvaar dit is soos enige verhouding: jy gaan soms vassit.

Vriende en besigheidsvennote vertel:

Adriaan Siebrits Laker en Rézette Lombard, eienaars van die Vivi Day Spa op die Rhebokskloof-wynlandgoed in die Paarl en Vivi Wellness Salon op Stellenbosch

Hoe besluit ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut en ’n sakeman om saam ’n besigheid te begin? Die skoonheidsterapeut behandel hom . . .

“Ek het Rézette in Augustus 2013 by ’n skoonheidsalon op Stellenbosch ontmoet,” vertel Adriaan Siebrits Laker. Hulle het lekker geklets terwyl sy sy stresknobbels geknie het.

Daar was onmiddellik potensiaal vir ’n vriendskap. Vir seker nie romanties nie, skerm Adriaan. Rézette: “Néé, ek is in ’n vaste verhouding.”

Sy passie vir die lewe en sy werk het haar getref. En sy het ook al baie oor haar eie onderneming gedroom.

FOTO Magdél Steyn

Hoe beter sy Adriaan leer ken het, hoe meer het sy besef: by dié sakeman kan ek baie leer. Adriaan het ’n BCom-graad in bestuursrekeningkunde (van die Universiteit Stellenbosch) en ondervinding in gastehuisbestuur, openbare betrekkinge en bemarking.

Hý was op sy beurt beïndruk dat sy ’n jaar lank as au pair in Nederland gewerk het en die buiteland verken het. Sy was boonop borrelend en leergierig. En toe nader hy haar om saam met hom ’n besigheid te begin.

Adriaan, ook die eienaar van die 5 Seasons-gastehuis op Stellenbosch, het baie navorsing gedoen voor hy die sakeplan vir hul eerste onderneming, die Vivi Day Spa, opgestel en geld by die bank geleen het om dit te begin. Sowat ’n jaar later, met die spa goed op dreef, het hulle ook ’n skoonheidsalon oopgemaak.

Hy vertel: “Ons verstaan mekaar en weet wanneer om te kuier, te werk, te krap as dit moet en te sê: ‘Ek bel later weer.’”

Adriaan het voorheen al saam met vriende ondernemings begin en was bewus van die gevare. “Ek hanteer konflik dadelik. My pa sê altyd: ‘Kort verdriet is beter as ’n lang skande.’”

Gelukkig was daar nog nie groot onderonsies tussen ons nie. “Dit help dalk dat ons van verskillende akademiese agtergronde kom. Ons vul mekaar se tekortkominge goed aan.”

Rézette meen die grootste uitdaging is om aan mekaar se manier van doen gewoond te raak. En Adriaan: “Jy moet besef ’n werksverskil is nie op jou persoonlik gemik nie. Dít verg volwassenheid . . .”

Die lekkerste van saam werk, is jy leer aanmekaar. Byna soos in ’n verhouding, sonder die romantiese komplikasies, lag hulle. Adriaan, wat soms geneig is om sake “effe koud en klinies” te benader, sê Rézette het hom geleer hoe om sagter na die lewe te kyk. Hy leer haar meer van die sakebeginsels.

Hy hanteer ook die bemarking, terwyl sy die administrasie, bestuur, kliënte en personeel behartig. Naas hierdie pligte, is sy ook ’n terapeut op sekere dae, afwisselend by die salon en die spa.

Hulle is nog nie een dag spyt oor hul vennootskap nie. “Dit het ons lewens soveel verryk,” sê Adriaan.

Lesse geleer:

  • Respekteer mekaar se privaatheid.
  • Moenie enige besluite oor die werk neem sonder om mekaar te raadpleeg nie. As ons mekaar nie minstens een keer per week kan sien nie, hou ons kontak met tegnologie soos Skype en Facetime.

Grootste uitdaging:

  • Om te besef watter groot verantwoordelikheid dit is om 50% van ’n besigheid te besit.

Wenke vir toekomstige entrepreneurs:

  • Party mans tree paternalisties teenoor vroue op wanneer hulle saam werk. Adriaan het my nog altyd soos ’n gelyke behandel. Jy moet gemaklik voel met die “magsbalans” in die onderneming. Selfs al het julle ’n 50/50-sakebelang, moet daar ook ’n emosionele balans wees. (Rézette)
  • Kies jou vennoot versigtig. Dit is moeilik om vriende te bly indien die besigheid nie uitwerk nie. (Adriaan)

Toekomsplanne:

  • Die Vivi-groep wil vir seker nóg ’n salon in die Kaapse omgewing oopmaak.

Navrae: www.vividayspa.co.za

Ontmoet nóg vriende wat saam woeker en werk in SARIE se Julie-uitgawe, wat nou beskikbaar is!