Ek wil spaar vir my seun se universiteitsopleiding. Wat is die minimum bedrag wat ek oor die volgende 10 jaar elke maand moet wegsit tot hy universiteit toe gaan?
– SARIE-leser

Die kenner: Suzette von Broembsen, finansiële adviseur van PSG Wealth Rosebank

Ek moet ’n paar aannames maak om hierdie vraag te kan beantwoord. Ek gaan dus twee scenario’s skets – een waar jou seun aan een van ons plaaslike universiteite studeer en een waar hy in die buiteland studeer. Akkommodasie en lewenskoste beloop gewoonlik so 50% van die totale koste, dus sal ek dit inreken. Kom ons aanvaar jou seun gaan vir vier jaar studeer.

Scenario 1: Studie in SA

Old Mutual het onlangs ’n studie gedoen oor die koste van ’n universiteitsgraad in SA en die volgende bevind:

  1. Die gemiddelde koste vir ’n universiteitsgraad is tans R64 000 p.j.
  2. Die vooruitgeskatte koste vir 2030 is R165 000.

Koste oor 10 jaar (2029):

  1. Universiteit – R165 000 p.j.
  2. Akkommodasie – R100 000 p.j. (gebaseer op die huidige R5 000 p.m., inflasie van 5% ingereken)
  3. Handboeke, sakgeld en reiskoste – R65 000 p.j. (gebaseer op die huidige R3 500 p.m., inflasie van 5% ingereken).

Dus: Totale geskatte koste vir vier jaar se studie aan ’n universiteit in SA, met aanvang 2029: R1 400 000.

Scenario 2: Studie in die buiteland

Studies aan ’n buitelandse universiteit bring addisionele koste mee met die wisselkoers wat boonop in ag geneem moet word.

As jou seun byvoorbeeld in Australië wil studeer, kan jou uitgawes só lyk:

Koste oor 10 jaar (2029):

  1. Volgens syfers van mastersportal.com is die gemiddelde universiteitsgeld AU$26 300 of R350 000 p.j. (aangepas vir inflasie van 2% in Australië en die rand wat met 3% p.j. teen die Australiese dollar verswak).
  2. Lewenskoste bedra sowat AU$28 800/R380 000 p.j. (aangepas vir inflasie van 2% in Australië en die rand wat met 3% p.j. teen die Australiese dollar verswak).

Dus: Totale geskatte koste vir 4 jaar se studie aan ’n universiteit in Australië, met aanvang 2029: R3 080 000.

Gestel jy belê geld in ’n globale ekwiteitsfonds. As jy oor die volgende 10 jaar 10% p.j. op jou belegging verdien en jy raak nie aan die geld nie, dan moet jy van 2019 af R5 500 p.m. wegsit om jou seun se studies in SA te dek, en R12 000 p.m. vir Australië.

Die berekeninge is gebaseer op verskeie aannames, soos gesê, maar dis duidelik: Universiteit is duur, en jy sal boonop baie meer moet wegsit as jy jou kind in die buiteland wil laat studeer.

Vra jou finansiële adviseur vir ’n gedetailleerde ontleding gebaseer op jou beleggingsportefeulje en jou seun se behoeftes. Selfs al kan jy nie tans die minimum wegsit nie, kan jy steeds stelselmatig die bedrag vergroot of enkelbedra byvoeg om so na as moontlik aan jou mikpunt te kom.

Nog vrae? Stuur vir ons ’n boodskap op Facebook of kontak PSG vir professionele en persoonlike advies.

Volg vir PSG Wealth op Facebook en Twitter

Lees ook:

Só belê jy vir jou aftrede + verskillende opsies

Beleggings 101: Hoe laat ek my geld groei?

Het ek my geld reg belê? Kenners gee raad

Moet ek nog in Suid-Afrika belê?