Doen jy ’n internet-soektog, is daar duisende blaaie oor hoe die “perfekte” CV moet lyk. Die raad verskil egter en dis boonop meestal op Amerikaners gemik, genoeg om jou deurmekaar te maak.

Deesdae geld baie van die ou reëls nie meer nie, sê Gail de Waal Basson, ’n professionele CV-skrywer van die Paarl. “Werksoek het ’n wetenskap geword en jou CV moet deel vorm van jou algehele beeld en strategie. Die jammerte is, die meeste CV’s lyk nie anders as tien jaar gelede nie – hoewel die mark anders is.”

Raad, soos goeie spelling, geld steeds, maar CV’s se struktuur en lengte verskil vandag. Aan die ander kant gaan “moderne foefies” soos video- CV’s jou nie help nie, sê sy. Hier’s wat jy moet weet:

1. Gaan jou spelling na

Maak seker daar is geen spel- en taalfoute nie, sê Gail. “Dit skep onmiddellik ’n swak indruk. Daar is al hoe meer spelfoute in die jonger geslag se CV’s, maar selfs ervare mense maak dié fout.”

Gavin Sher, uitvoerende hoof van die Johannesburgse menslike-hulpbronne-konsultasiegroep Focus Group, stem saam. “As jou CV vol spelfoute is, of onnodige leestekens en hoofletters bevat wat lees bemoeilik, word dit eenvoudig uitgegooi.

“Die program Word het ’n spel-toetser – gebruik dit! Vra ook iemand met goeie taalgebruik om dit na te gaan.”

2. Moenie persoonlike inligting insluit nie

Destyds het jy jou ID-nommer, adres en jou vorige base se telefoonnommers ingesluit, maar deesdae moet jy dit liefs uitlos, sê Arend Willemse, uitvoerende hoof by CV Profs, ’n CV-skryfdiens in Johannesburg.

“Ons leef in ’n era van identiteitsbedrog, en werkgewers verstaan dit. Jy kan jou ouderdom insluit, maar doen dit aan die einde van die dokument sodat die leser jou nie daarop oordeel voor hulle deur jou ervaring gelees het nie.”

As jy die kortlys haal, kan hulle jou kontak vir verwysings en persoonlike inligting, sê Gavin. “Moenie jou sertifikate insluit nie. Werkgewers sal vir bewyse vra indien nodig, maar ekstra aanhangsels maak die dokument onnodig lank.”

3. Gee dit die regte struktuur

Werkgewers gaan nie alles deurlees as hulle nie dadelik beïndruk is nie, daarom is die struktuur baie belangrik, sê Gavin. “Jy moet jouself binne ’n paar sekondes verkoop. Begin met die heel belangrikste: Som jouself in ’n paar sinne op, met pertinente prestasies, vaardighede en ondervinding wat van toepassing is op die werk waarvoor jy aansoek doen.

Lys dan jou vorige posisies, met jou mees onlangse pos eerste en ouer poste laaste, en beskryf wat jy in elk gedoen het. Gee ook gedetailleerde voorbeelde van jou prestasies. As jy byvoorbeeld sagteware ontwikkel het, verduidelik watter sagteware, wat dit kan doen en wat jou rol in die ontwikkeling daarvan was.”

4. Vermy grafika, prentjies en video’s

’n CV is ’n besigheidsdokument, nie ’n spyskaart of teaterprogram nie, sê Gail. Prentjies, blommetjies en raampies trek die aandag van jou ervaring en prestasies af. Moet ook nie ’n vreemde lettertipe of -grootte gebruik om uit te staan nie. Gebruik ’n besigheidslettertipe soos Arial of Calibri in grootte 10 of 12.

Hoewel video-CV’s gewild begin word in lande soos die VSA, werk dit nie plaaslik nie, sê Gavin. “Hier laat selfs korporatiewe onder-nemings se e-posstelsels nie groot dokumente soos video’s deur nie – jou CV sal heel moontlik dan geblok word. Werkgewers het ook nie tyd om na ’n video te kyk nie.”

5. Moenie ’n boek skryf nie

. . . maar moet ook nie ’n halwe bladsy ingee nie. Twee tot drie bladsye is die ideaal, sê Andrew Morton, besturende konsultant by The HR Hub, ’n menslike-hulpbronne-diensleweraar in Johannesburg.

“Hoe ouer jy is, hoe meer ervaring sal jy hê, maar moenie alles insluit nie. Brei uit oor jou mees onlangse en relevante ondervinding. Noem net daardie eerste pos 25 jaar gelede heel laaste en baie kortliks – as daar plek is.

“Op 25 sal jy ook op ander dinge fokus as op 50. Terwyl jy nog min ervaring het, kan jy relevante skoolprestasies soos leierskapsposisies insluit. Maar los dit as jy genoeg werks-ondervinding het om die twee bladsye vol te maak. Jy kan oor jou geskiedenis uitwei as jy vir die onderhoud genooi word.”

6. Laat neem ’n professionele foto

Dit was eers ongehoord, maar deesdae is dit ’n goeie idee om ’n foto van jouself in te sluit. “Dit gaan nie vir jou die werk kry nie, maar dit maak jou CV meer persoonlik,” sê Gavin.

Dit kan egter jou kanse skade berokken as jy dit nie rég doen nie, sê Gail. “Moenie ’n foto met ’n lae hals, ’n tuitmond en los lokke oor jou skouer insluit nie. Gebruik ’n professionele foto en plaas dit op ’n diskrete plek, so groot soos ’n ID-foto.”

7. Moenie knip en plak nie

Moet nooit die posbeskrywing in die advertensie óf jou vorige posbeskrywings net so in jou CV gebruik nie, sê Gail. Skryf dit in jou eie woorde. Moet ook nie dieselfde beskrywing vir elke vorige werk herhaal nie. As die verantwoordelikhede oorvleuel het, moet jy dit anders verwoord, sê Arend.

“Pas jou CV aan vir elke werk waarvoor jy aansoek doen, want elke werkgewer soek na unieke eienskappe en spesifieke ervaring. Gaan deur die vereistes in die advertensie en wys hoe jou ondervinding jou daardie vaardighede geleer het.”

8. Vermy geykte uitdrukkings

Daar is sekere beskrywings wat byna almal in hul CV gebruik (soos innoverend, passievol en hardwerkend) en werkgewers lees net verby dit, sê Arend. Bewys eerder deur jou ervaring dat jy die eienskappe het.

As jy innoverend is, verduidelik wat jy gedoen het wat vernuwing gebring het, wys hoe passievol jy is deur jou prestasies, en sluit voorbeelde in wat dit duidelik maak hoe hard jy aan ’n projek gewerk het.

9. Los maar die dekbrief

In die dae toe jy jou CV sou pos of faks, was ’n dekbrief nodig, maar deesdae is jou e-pos die dekbrief (tensy die advertensie spesifiek een vra), sê Gavin.

“Heg jou CV aan, gebruik die verwysing vir die posadvertensie as jou e-pos-onderwerp, en skryf ’n kort, hoflike boodskap in die e-pos: Dear Mr Jones, Attached, please find my CV for this position. Thanks for the opportunity, I hope to hear from you in due course.” Skryf in Afrikaans as dit relevant is.

10. Gaan jou sosiale rekeninge na

Sosiale media is deesdae so deel van die lewe dat jy dit ook by jou CV moet insluit, sê Andrew. “Maar los eerder Facebook, Instagram en Twitter uit, en sluit net ’n skakel na jou LinkedIn-profiel in.”

Werkgewers gaan kyk wel deesdae ook na jou ander sosiale-media-profiele, selfs al sluit jy nie die skakels in nie, sê Arend. Maak dus seker jou ander profiele wys jou beste kant – of dit is ten minste privaat, sodat ’n werkgewer nie jou partytjiefoto’s kan sien nie.