Dilemma Hoe kom ek uit die skuld?

Ek begin elke maand met ’n agterstand – sodra al my rekeninge, woonstelverband en kredietkaart betaal is, is die hele maand nog voor my, en ek het skaars geld oor van my salaris vir gewone uitgawes, wat nog te sê iets moois vir myself. Teen die middel van die maand is ek al diep in die rooi. Ek begin al klererekeninge ignoreer, maar ek wil uit die skuld kom. My woonstel is ver van afbetaal, dalk moet ek dit verkoop?

Charné van der Walt, finansiële raadgewer en belastingpraktisyn

Baie mense voel oorweldig deur handelskuld soos kredietkaarte en winkelrekeninge, jy is nie die enigste een nie! Hier is my wenke: Probeer jou inkomste verhoog of aanvul. As dit nie moontlik is nie, pas jou lewenstandaard (al is dit nie hoog nie) aan by wat jy verdien. Dit gaan egter opofferings verg. Behou bowenal jou eiendom. Dit gaan wel vir jou tydelike verligting bring as jy nie ’n verbandpaaiement het nie, maar uiteindelik gaan die jaarlikse verhogings op jou huur jou inhaal, veral as jy nie weer ’n eiendom kan koop nie.

Vat jou tyd en bekyk al jou uitgawes. Waarop het jy die laaste ses maande jou geld uitgegee? Hou dit nou weekliks dop. Sorg dat jy weet presies waarvoor elke uitgawe was. Vra jouself heeltyd af waarom jy koop wat jy koop, anders gaan jy net weer in die toekoms beland waar jy nou is. Dink na oor jou gewoontes, tydverdrywe, stokperdjies en vriendskappe. Oorweeg veranderinge wat nie net beteken dat jy fisiek of emosioneel gesonder gaan leef nie, maar terselfdertyd ook geld spaar. Byvoorbeeld: Vermy liefs aande of naweke weg met vriende wat baie meer as jy verdien, en wat jy nie kan bekostig nie. Of naweke by ’n winkelsentrum waar jy jouself blootstel aan versoekings.

Handelskuld soos klererekeninge moet fyn beheer word, anders beheer dit jou. Moet dit nie gebruik terwyl jy baie skuld het nie. Wees eerlik met jouself. As jy dit nie reg kan bestuur nie, sluit eerder die rekeninge. Gebruik net jou kredietkaart as dit ’n kwessie van lewe of dood is. Dit neem baie langer om uit die skuld te kom as om daarin te beland. Kies om geduldig en positief te bly. Sê: “My doel is nou om uit my skuld uit te kom” eerder as “Ek het nie geld daarvoor nie”.

Stel ’n finansiële plan op (met of sonder ’n mentor of kundige se hulp) vir wat jou minimum terugbetalings elke maand moet wees, en hou daarby. ’n Plan is noodsaaklik, want terwyl jy te veel skuld het, spaar jy nie. Skuldberading gaan jou laaste bietjie vryheid wegneem. Jy gaan op die lang termyn bly wees as jy enige vorm van skuldbestuur kon vermy omdat jy self beheer begin neem het oor jou finansies.

Dilemma Hoe is spaar moontlik?

Ons word heeltyd aangemoedig om te spaar, maar ons kom net uit aan die einde van die maand. Kenners sê boonop jy moet ’n stewige noodfonds hê vir onvoorsiene uitgawes.

Amelia Morgenrood, finansiële beplanner van PSG Wealth

Die meeste mense pas hul lewenstandaard by hul inkomste aan. Teken ’n debietorder wat van jou bankrekening afgaan op die > < dag wat jou salaris betaal word. Dan is dit geld wat jy nooit gehad het nie! Jy sal gou gewoond raak daaraan om daarsonder klaar te kom. Onthou, verhoog jou maandelikse besparing soos jou salaris styg. Elke persoon behoort ’n bedrag te spaar wat gelykstaande is aan 15% van jou salaris. Dit geld vandat jy die eerste keer begin werk. As jy eers later in jou lewe begin, sal dit meer as 15% moet wees. Spaar is ongelukkig nie jou huispaaiement nie. Baie mense glo hul huis is ’n belegging, dat hulle dit eendag kan verkoop en afskaal. Maar aftreeoorde en meenthuise is nie veel goedkoper nie. Ek is self nie ’n aanhanger van ’n groot noodfonds nie, dis net nog geld waartoe jy toegang het en kan uitmors. Indien jy ’n mediese fonds en versekering het, is ’n groot noodfonds selde nodig. Spaar miskien net genoeg as jou motor breek of iets dergeliks gebeur. Elkeen se omstandighede verskil, gaan dink na oor wat die nood was wat jy die laaste tien jaar moes hanteer en hoeveel geld jy elke keer nodig gehad het.

Dilemma: Hoe beskerm ek my bates as ek saamwoon?

Ek en my geliefde bly al tien jaar saam. Hy is deur ’n egskeiding en wil nie weer trou nie. Onlangs het hy sy eie onderneming begin. Ons woon in sy huis (dit het aan sy ouers behoort), maar ek het help betaal vir huisverbouings terwyl hy sy geld in sy nuwe onderneming inploeg. Ek dra ook op die oomblik baie van die lopende huishoudelike uitgawes. Ek weet hy sal my nie inloop nie, maar ek voel tog blootgestel. Tye is moeilik, en dis al my swaarverdiende geld . . .

Floris Slabbert, bestuurder by Ecsponent Finansiële Dienste

Wanneer ’n paartjie nie getroud is nie, is daar risiko’s wanneer elkeen se geld en bates nie duidelik uiteengesit is nie. Stel ’n ooreenkoms op en hou dit eenvoudig. Dit beteken nie dat jy jou geliefde wantrou nie, inteendeel, dit beskerm albei partye, veral as jul testamente nie opgedateer is nie.

Julle moet bepaal hoeveel jy tot die eiendom se opknappings of aanbouings bygedra het, en dit kan dan dien as basis om te bepaal op watter persentasie van die eiendom se waarde jy geregtig sou wees. Dié inligting is ook nodig omdat daar ’n wins sal wees en die SAID kapitaalwinsbelasting sal hef. Die feit dat jy maandeliks die meeste van die uitgawes dek, terwyl die besigheid groei, moet ook in berekening gebring word.

Raadpleeg ’n regskenner om seker te maak dat alles in die ooreenkoms vervat is. Om ’n testament op te stel is ’n belangrikste finansiële stap, en tog vergeet mense dit so maklik, veral as een van die partye deur ’n egskeiding gaan of reeds is. As jou geliefde nog nie sy testament opgedateer het nie, kan sy vorige eggenoot daarop aanspraak maak om te erf.

Stephan van der Meer, direkteur by Van der Meer-prokureurs, Durbanville

In Suid-Afrika het saamwoonverhoudings die laaste jare al hoe meer algemeen geword. Dit neem na raming met sowat 100% per jaar toe. Tog erken die Suid-Afrikaanse reg nie sulke verhoudings nie, en jy verkry geen voordele nie, al woon julle hoe lank saam.

Daarom is ’n kontrak baie belangrik, sodat julle albei kontraktuele regte en verpligtinge het wat julle in ’n mate beskerm. Die inhoud en die aard van elke saamwoon-ooreenkoms verskil, na gelang van jul behoeftes. Maar die algemene vereistes vir enige kontrak moet geld: Daar moet konsensus wees, geen bepalings mag onwettig, teen die moraal van die samelewing of strydig met openbare beleid wees nie, dit moet op skrif wees en julle albei moet dit onderteken. As een van julle later weier om die ooreenkoms te eerbiedig, kan die ander party ’n hof nader en die hof sal in die meeste gevalle die bepalings afdwing.

Die belangrikste wat in so ’n saamwoon-ooreenkoms vervat moet word: openbaring van jul finansiële posisie (losweg gestel: jy moet verklaar wat jy werd is); die verdeling van jul lewenskoste; eiendom wat uitgesluit moet word van die ooreenkoms; hoe die eiendom verdeel sal word as die verhouding beëindig word; en die duur van die ooreenkoms.

Dilemma: Is dit te laat vir aftreebeplanning?

Ek het pas 50 geword. Ek het ná my kinders se geboorte deeltyds van die huis af gewerk. So het ek help afbetaal aan ons verband en kleiner uitgawes. Noudat die kinders op universiteit is, doen ek baie konsultasiewerk, met geen pensioenbydrae nie. My man het ’n goeie pensioen, maar ek wil nie eendag van hom afhanklik wees nie. Ek het elke maand R1 000 oor vir ’n annuïteit nadat ek my deel tot die huishouding bygedra het. Is dit te laat om vir aftrede te begin spaar?

Amelia Morgenrood, finansiële beplanner van PSG Wealth

Indien jy nou daardie R1 000 maandeliks begin spaar en jy het ’n gemiddelde opbrengs van 10% per jaar, sal dit oor 10 jaar sowat R200 000 werd wees. As jy dan ’n inkomste wil trek, sal jy nie meer as R833 per maand kan trek nie. Neem jy aan dat inflasie konstant 6% is, is daardie R833 in vandag se terme sowat R460 werd. Jy kan dus sien dat ’n besparing van R1 000 per maand net ’n inkomste van R460 (in vandag se waarde) oor 10 jaar gaan oplewer.

Ongelukkig het jy min tyd aan jou kant. Dieselfde R1 000 oor ’n tydperk van 30 jaar sou ongeveer R2 miljoen oplewer – met ’n moontlike inkomste van R8 300 per maand.

Jy sal ’n baie groter bedrag moet spaar. Daag jouself uit om te kyk hoeveel jy elke maand kan wegsit. Jy sal ook verbaas wees waar jy oral kan sny.

Wat annuïteite betref: Jy kan 27,5% van jou belasbare inkomste bydra tot pensioenprodukte (annuïteit, voorsorg-fonds, pensioenfonds) en dan hierdie bydraes van belasting aftrek. As jy dus R100 000 per jaar verdien, kan jy net R27 500 aftrek van belasting. Enigiets meer as dit en die annuïteit het nie veel nut nie, net ekstra koste. Jy kan eers dit wat jy meer as 27,5% in ’n annuïteit inbetaal het, aftrek by aftrede, mits jy boekgehou het daarvan. Onthou, jy kan bydraes tot ’n annuïteit nou aftrek van belasting, maar eendag as jy ’n inkomste trek, dan betaal jy die belasting.

As jy dit nie nou van belasting kan aftrek nie, belê dit eerder direk in ’n effektetrustfonds. As jy nie veel weet van finansies nie, kies liefs ’n goeie gebalanseerde fonds wat in verskillende bateklasse belê. Dan sal jy veilig wees (ook binne jou annuïteit). Daar is ’n bekwame fondsbestuurder en jy hoef nie kennis te hê van bateklasse en die finansiële markte nie.

Hoeveel genoeg is vir aftrede, verskil vir elke persoon. Die praktykreël is dat jy met elke miljoen rand wat jy by aftrede het, ongeveer R4 000 per maand kan trek. Indien jy dan hierdie R4 000 inkomste elke jaar verhoog met inflasie, behoort jou geld vir minstens 30 jaar te hou. Die voorwaarde is dat jy dit gebalanseerd moet belê oor die verskillende bateklasse. ’n Geldmark waar jy rente verdien, sal nie jou redding wees oor so ’n lang tydperk nie.

As jy afskaal om ma te wees

Vroue wat ophou werk of afskaal om kinders groot te maak, behoort met hul man ooreen te kom dat 15% van die salaris wat hulle moontlik sou verdien, in ’n annuïteit inbetaal word, sodat niemand toegang daartoe het nie. Die bydraes moet jaarliks met inflasie styg en aanhou tot aftree-ouderdom 65, selfs al begin jy later weer werk.

As jy nie deel was van die arbeidsmag nie en nie genoeg gespaar het nie, is dit ’n ernstige risiko. Jou man kan sterf of van jou skei en jou met te min geld agterlaat. Die reëling behoort ononderhandelbaar te wees. As alles wel reg verloop en julle is nog saam by aftrede, kan julle steeds die inkomste saam geniet. – Amelia Morgenrood, PSG Wealth

Wonder jy waar jy kan sny?

Daar is baie onnodige klein en groter uitgawes wat jou begroting in die rooi druk . . . sonder dat jy dit eens besef.Hier’s ’n paar voorbeelde.

Jou daaglikse koffie- of cappuccino-bederf op pad werk toe. (Net een per dag kan jou tot R400 per maand uit die sak jaag.)

En gebottelde water – koop eerder ’n waterfilter.

Kontant onttrek van ’n ander bank se OTM. Hoë bankgeld, ook vir dienste wat jy nie benodig nie. (Gaan jou state na.)

Bekyk gereeld jou kort- en langtermynversekerings-polisse – jy is dalk oorverseker of betaal al maande of langer vir dinge of dekking wat jy nie benodig nie.

Jy bestee meer op jou (ou) motor (vir herstelwerk) as wat dit werd is. En jy betaal te veel vir motorversekering.

Daai ekstra “ietsies” wat jy in jou winkeltrollie gooi.

Gimnasium-lidmaatskap (en ander lidmaatskap-gelde) wat jy nie gebruik nie.

Bronne: Rita Cool, finansiële beplanner van Alexander Forbes Retail; time.com

Watter soort annuïteit?

As jy ’n annuïteit uitneem, maak seker dis nie die ou generasie annuïteite nie – die kostes is baie hoog!

Vra jou finansiële adviseur reguit om te openbaar wat hulle verdien uit die annuïteit. As dit ’n groterige bedrag is, dan kan jy maar weet dis ’n ou generasie annuïteit. Die fooi moet slegs ’n persentasie van jou premie wees (maksimum 1-3%).

Jy kan dit self uitwerk, vir elke R1 000 wat jy bydra, nie meer as R30 nie. En die adviseur kry dit eers wanneer jy jou premies betaal – voor jy enigiets teken. Maak seker hiervan!

– Amelia Morgenrood

Amelia Morgenrood, finansiële beplanner van PSG Wealth
Stephan van der Meer, direkteur by Van der Meer-prokureurs, Durbanville
Floris Slabbert, bestuurder by Ecsponent Finansiële Dienste
Charné van der Walt, finansiële raadgewer en belastingpraktisyn