Paula in haar ateljee op Stellenbosch. Foto verskaf deur La Motte

‘My kuns word gekleur deur die natuur’ Paula van Coller-Louw, kunstenaar van Stellenbosch

Met simboliese kommentaar op die planteryk en delikate, mistieke bloeisels en blomme, dokumenteer die Stellen-bosse kunstenaar Paula van Coller-Louw graag haar omgewing en lewe.

Vyftien van haar kunswerke in olie (party so groot soos 1,5 x 1,8 m) word tot 17 Junie by die Fleurs de La Motte-tentoonstelling op dié wynlandgoed van Hanneli Rupert-Koegelenberg by Franschhoek uitgestal, saam met Toby Megaw se lewensgrootte beeldhouwerk Die bergbruidjie.

“Om saam met groot Suid-Afrikaanse meesters soos Pierneef se werke te hang maak my nederig en is ’n hoogtepunt in my loopbaan,” vertel Paula, wat al aan 55 tentoonstellings plaaslik deelgeneem het en vyf solo-uitstallings gehou het.

“Die landgoed is vroulik en statig. Die blommeprag, die fynbos teen die hange van die Wemmershoek-berge, laventelvelde wat herinner aan die Franse platteland en die klassieke roostuin van Hanneli maak dit die perfekte inspirasie vir kunstenaars.

“Die staproete van 5,6 km maak jou bewus van areas waar blomme soos proteas, speldekussings, laventel en boegoe gekweek word. Ek het opnuut groot waardering vir die kleurspel van die natuur.”

Haar liefde vir kleur en detail het haar geïnspireer om op die kosbaarheid van elke fyn plantjie te fokus. “Ek was begeesterd en het intens gewerk.”

Paula het in Mei verlede jaar met die bergbruidjie begin. Daarna sou die stroopbossie, rose, agapanthus en vele meer volg. En in September, haar geliefde bloeisels.

Sy droom van ’n besoek aan Japan om die kersiebloeisels te sien. “Daar is baie Japannese elemente – eenvoudige lyne – in my kunswerke.”

Paula wil nie haar kuns definieer nie. “Elkeen moet sy eie emosionele afleidings daaroor maak. Dis mistieke kuns en spiritueel.”

As die jongste van vier in Bloem-fontein was sy dol op modderkoekies bak en om buite te speel met haar boetie en twee sussies. Haar pa, Ben van Coller, ’n filosoof, was kurator van die militêre museum en het hulle geleer om fyn waar te neem. Haar ma, Retha Wentzel, was ’n grondslagfase-onderwyseres. “Haar tuin was pragtig.”

Ná haar BA-graad in beeldende kuns aan die Universiteit van die Vrystaat het sy ook ’n onderwysgraad verwerf en ’n ruk lank skool gehou. “My man, Rikus, is ’n internis op Stellenbosch. Ons het ’n tweeling, Ben en Walt (9). Hy is die ongelooflikste pa en help my baie. Ook om my kunspassie uit te leef.

“Mawees is my prioriteit, maar ek het bedags genoeg tyd om te skilder en glo nie aan deurnag werk vir ’n uitstalling nie. Kunswerke moet ‘rus’, ’n maand in jou eie huis hang, sonder dat jy daaraan verander, voor jy dit uitstal.” Haar skeppingsproses is ook ’n reis na binne, waar sy stilte soek.

Naweke breek die gesin dikwels weg na stil plekke in die natuur en lees, speel kaart, bordspeletjies of bou legkaart. “Ek en my man is introverte en herlaai graag met die seuns.”

Paula het met die La Motte-tentoon-stelling ook weer bewus geword van die mens se verantwoordelikheid om die aarde te respekteer. “Die plantmuse is altyd ín my. Ek merk die kronkelstingel van die protea, of die watervallyne van ’n bergbruidjie . . . My emosies roer met elke projek. So ook is daar diepe bepeinsing oor en interaksie met my materiaal. Dán volg harde werk én geduld. My kuns en ek groei saam.”

Besoek ook www.paulavancoller.com, www.la-motte.com

BESTE LESSE :
  • Om goeie kuns te skep moet jy eerlik met jouself wees.
  • Die wêreld verander, nes die seisoene. Ons moet daarby aanpas en dinge aanvaar wat ons nie kan beheer nie.
  • As jy mal is oor jou werk, sal jy gemotiveerd bly.
Lorna Scott Foto verskaf

‘Fynbos en jenewer is ’n soort brug tussen mens en natuur’ Lorna Scott, eienaar van Inverroche Distillery naby Stilbaai

“Ek is passievol oor die mensdom wat twee millennia gelede aan die Suidpunt van Afrika danksy die ryk verskeidenheid fynbos oorleef het. Nou wil ek ons aromatiese plantegroei met die wye wêreld deel deur die boetiek-jenewers wat ons vervaardig.” Aan die woord is Lorna Scott, ’n oud-politikus.

Die maak van jenewer het vir haar as stokperdjie begin – in ’n koperpot van 1,7 liter. “Ek en my seun, Rohan, het begin eksperimenteer.” En in 2012 is Inverroche gebore. Haar dogter, Lauren, werk ook in die familie-sakeonderneming en ontwikkel jenewer-skemerkelkies en resepte daarvoor.

Lorna vertel daar is by die 9 000 plantspesies in die omgewing waar sy woon. “By Inverroche spog ons met drie fynbos-jenewers: Classic, Verdant en Amber, wat onderskeidelik van fynbos wat naby aan die see, berg en kalksteengebiede groei, gemaak word. Elkeen se resep is met groot sorg ontwikkel en word met die hand gebotteleer.”

Dit was Inverroche wat die tendens om jenewer met die hand te vervaardig in Suid-Afrika begin het. Lorna was trouens die eerste ter wêreld om fynbos as kernbestanddeel in jenewer te benut. Tans is daar sowat 50 plaaslike boetiekjenewers en dit neem daagliks toe, vertel sy.

Ná skool het Lorna drama aan die Universiteit van Pretoria begin studeer, waarna sy as lugwaardin gewerk en twintig jaar in Skotland gebly het. Maar haar hart het bly hunker na haar heimat. “My liefde vir die natuur loop terug na my kindertyd. Ek het grootgeword op Riversdal in die Wes-Kaap. Kleintyd het ons in ’n hartbeeshuisie by Jongensfontein, aan die Goukourivier op die Tuinroete, vakansie gehou.”

Op Stilbaai het sy met haar terugkeer by plaaslike ekonomiese ontwikkeling betrokke geraak en is verkies tot adjunk-burgemeester. “Ek wou die fynbos-erfenis vir die nageslag beskerm en toerisme in die streek bevorder.”

Dié droom is bewaarheid. Mense stroom van heinde en verre na haar distilleerdery om jenewer te proe. Sy vertel: “Ek het nooit geleer om jenewer te maak nie, maar daaroor opgelees. Jenewer is ’n interessante produk. Daar is soveel style en botaniese bestanddele en jy kan aanhou eksperimenteer. My ma het altyd gesê as jy kan lees, kan jy enigiets doen. Ek dink altyd nostalgies terug aan haar lekker pynappelbier wat sy vir ons gemaak het.”

’n Magdom van die subtiele geure om haar laat haar swymel. Van boegoe, die aroma van lemoene, neutmuskaat, appel, tot swartbessie . . .

“In die fynbos in dié streek sit verhale van oorlewing. Die natuur verskaf immers ’n universele konneksie tussen mense. Juis dít is so fassinerend.” Iemand wat sy bewonder, is die wunderkind-entrepreneur Elon Musk – nou 47 – wat ook Suid-Afrikaanse wortels het. “Hy is dapper, neem vinnig besluite en is ’n vasbyter. En hy veg verbete vir die voortbestaan van die planeet.”

Maar haar groot inspirasie bly haar ma en ouma. “My ma het my geleer om nooit haastig op negatiewe mense of situasies te reageer nie, om kinderlik verwonderd en nuuskierig oor die lewe te bly en altyd nuwe dinge te probeer.”

Haar ouma weer het haar geleer as jy skuld het, is jy nie vry nie. Self ontspan Lorna graag met ’n lekker G&T, want wat is meer verfrissend ná ’n lang, warm dag . . .

Besoek www.inverroche.co.za

BESTE LESSE
  • Bly by met die tegnologie.
  • Wees gesond – ’n moeë mens werk nie goed nie en kan nie die regte besluite neem nie.
  • Die lewe verander aanmekaar. Pas daarby aan.
Elise, haar dogter Emma du Plessis en Stella. Foto verskaf

‘Wat is beter as skoonheid uit die natuur?’ Stella Ciolli en Elise du Plessis, eienaars van SKOON.

Niks klop Moeder Natuur as dit by skoonheid kom nie. Dit is ook die inspirasie vir Stella Ciolli en Elise du Plessis, twee susters en oorspronklik Bosveldmeisies van Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo, se velsorgprodukte SKOON.

Dié reeks is nie-toksies, omgewings-vriendelik en nie op diere getoets nie. “Ons praat van skoonheid met hart. Dit bevat ook geen parabene [bestanddele wat help om skoonheidsmiddels te preserveer] nie. En ons is gekant teen formules wat karsinogene [bestanddele wat tot kanker kan lei] bevat,” sê Stella.

Sy het sowat tien jaar gelede in ’n koerant gelees daar kan tot 515 bestand-dele, waarvan baie toksies is, op ’n vrou se liggaam wees weens die manier waarop moderne skoonheidsmiddels vervaardig is. Só begin dié tuisbly-ma toe navorsing doen en eksperimenteer in haar kombuis met onder meer roosbottel-olie as vitamien C-ryke antioksidant, wat volgens aanduidings goed werk teen kanker. Sy het saamgespan met ’n topchemikus en in 2013 is SKOON. gebore.

“Ons het die beste natuurlike formules met werkende aktiewe bestanddele geskep.” Elise het in 2015 aangesluit om die geldsake te behartig.

Die fabriek en kantore van SKOON. op ’n plaas buite Stellenbosch is binne spierwit en ruik na subtiele geure soos laventel en vanielje. Dit kyk uit op purperblou berge en landelike tonele van koeie wat wei.

Tipies SA bestanddele soos maroela, organiese rooibos, heuningbos, roosbottel-olie en boegoe, asook oorsese bestanddele word in hul produkte gebruik. “Ons produkte is heilsaam. Die natuur se krag lê in haar eenvoud. Gehaltebestanddele is genoeg,” meen Stella.

Hul produkte bevat ook ’n verskeidenheid suiwer plantolies ryk in neutbotter, blom- en organiese ekstrakte. “Natuurlike bestanddele staan nie ’n tree terug vir chemiese alternatiewe nie,” sê sy. Dié twee susters is gekwalifiseerde siviele ingenieurs, maar spot: “Ons gebruik ons eie skoonheidsprodukte, maar sou nie sommer oor ons eie brûe gery het nie.”

Stella vertel sy reis wyd om nét die beste kennis in te win om die produk te verbeter en aankope te doen, en sy lees verbete oor enige velprodukte, van wat nonne in die 17de eeu gebruik het, tot die nuutste tegnologie. “Om ’n unieke produk te ontwikkel verg goeie bestuur, maar ook baie tyd, nuuskierigheid, deeglikheid en navorsing.”

SKOON. respekteer alle lewende wesens. Hul fabriek is “groen” – met byvoorbeeld lugversorgers slegs in die laboratorium, waar temperature ter wille van formules gemonitor moet word. “Ons kry maar warm en koud saam met die seisoene,” lag hulle. Hul verpakking het ook die minimum impak op die natuur en is herwinbaar. “Ons vervaardig alles met ’n skoon gewete. As dit goed is vir die vel en die omgewing, is ons gelukkig,” sê Stella.

Elise: “Ons het niks meer nodig as wat die Liewe Vader vir ons gegee het nie.” Sy het haar eie groentetuin, eet haar werfhoenders se eiers en gebruik “groen” huishoudelike skoonmaakmiddels . . . “Ek probeer niks doen wat skadelik vir die natuur is nie. Ons het ons kinders ook so grootgemaak.” Onlangs het SKOON. ’n salonreeks bekend gestel, asook ’n nie-toksiese sonroom.

“Interessant genoeg sukkel die meeste SA vroue met pigmentasie en aknee, nie met veroudering nie,” vertel Stella. “Ons wil dié reeks uitbrei en uitvoer, vroue al hoe meer inlig oor die voordele van natuurlike en nie-toksiese skoonheidsprodukte.” Soos hulle sê: “’n Natuurlike leefwyse groei op jou.”

Besoek www.skoonskin.co.za

BESTE LESSE
  • As jy ’n goeie produk wil ontwikkel, kry ’n unieke konsep.
  • Omring jou met kenners.
  • Skep ’n bemagtigende werksomgewing – ons is ’n klein span vroue, maar elkeen voel gewaardeer en dra geesdriftig by tot ons handelsmerk.