Die kenner: Antoinette Naude, finansiële adviseur by PSG Hermanus Portfolio Management & Stockbroking

Antoinette Naude
Antoinette Naude FOTO Verskaf

Is dit veilig om in die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika te belê? Hoe neem ek my geld oorsee?
SARIE-leser

Alle ekonomieë is siklies van aard en wisselvallig; ontluikende markte nog meer so. Ons plaaslike ekonomie beleef al langer as vyf jaar ’n afwaartse neiging. En dit wil voorkom asof die een krisis ná die ander die markte negatief beïnvloed. Dit beteken egter nie dat jy van jou Suid-Afrikaanse beleggings ontslae moet raak nie, inteendeel.

Ongelukkig het die haglike toestand van ons ekonomie tot ’n alles-of-niks-benadering gelei: Jy hou jou beleggings in Suid-Afrika óf jy verskuif alles oorsee. Dit hoef egter nie so te wees nie. Diversifikasie is een van die beste instrumente wat beleggers kan gebruik om hulself te beskerm in tye van onsekerheid en omwenteling. Jy moet skielike en emosionele reaksies vermy en ’n gebalanseerde uitkyk handhaaf wanneer jy bestaande beleggings en nuwe geleenthede evalueer. Jou portefeulje moet ’n kombinasie van topplaaslike en -buitelandse bateklasse (aandele, eiendom, effekte, ens.) bevat.

Daar is nie ’n vaste reël of goue maatstaf wat die ideale mengsel van plaaslike en buitelandse beleggings bepaal nie. Dit moet streng gebaseer wees op jou behoeftes, doelstellings en risiko-voorkeure. Die portefeulje van iemand wat beplan om te emigreer, kan baie anders lyk as dié van ’n individu wat naby aan aftrede is en ’n plaaslike batepoel benodig om verpligtinge en uitgawes te finansier.

Suid-Afrikaners kan tot R1 miljoen per kalenderjaar aanwend vir reisdoeleindes en buitelandse beleggings. ’n Verdere buitelandse beleggingstoelaag (FIA) van R10 miljoen per kalenderjaar geld mits jy ’n sertifikaat van SAID kry. Jou rekenmeester of handelaar in buitelandse valuta kan die belastingvrystelling-aansoek namens jou teen ’n nominale fooi indien. ’n Belegging deur een of albei van hierdie toelaes kan onbepaald in die buiteland bly en in ’n buitelandse bankrekening uitbetaal word as jy een het. 

Pleks van die buitelandse beleggingstoelaag, kan jy ook gebruik maak van rand-gedenomineerde buitelandse beleggings wat die FIA van ’n plaaslike batebestuurder of aandelemakelaar aanwend. Daar is talle rand-gedenomineerde effektetrustfondse om van te kies. Verskeie bekende fondsbestuurders soos Allan Gray, Coronation, Investec en PSG bied ’n reeks rand-gedenomineerde fondse met verskillende risikovlakke.

Buitelandse beleggings word dikwels geassosieer met buitensporige kostes en gekompliseerde strukture. Die meeste beleggers kan egter ’n eenvoudige en koste-effektiewe buitelandse belegging maak. Hou egter altyd die belasting- en boedelblastingimplikasies in gedagte.

* Die menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die skrywer en nie noodwendig van PSG nie. Die skrywer praat in die algemeen en verskaf nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies geskik vir individuele beleggers nie. Die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid daarvan vir jou as individu nie. Aangesien behoeftes verskil, beveel ons aan dat jy ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg.

Nog vrae? Stuur vir ons ’n boodskap op Facebook of kontak PSG vir professionele en persoonlike advies.

Volg vir PSG Wealth op Facebook en Twitter