"Ek lees onlangs dis belangrik om te netwerk. Is dit waar, en wat is die voordele? Wat maak jy as jy min tyd het en dit as ’n beslommernis beskou om alewig ander mense te moet ontmoet?" vra 'n SARIE-leser.

Helen Nicholson, direkteur van The Networking Company in Johannesburg en skrywer van Networking: How to Get Your Black Belt in Business Success (Zebra Press, 2010), sê:

Asjy eers besef hoe belangrik dit is om te netwerk sal jy dit, nes tandeborsel, deel van jou daaglikse roetine maak. Wanneer dit finansieel moeilik gaan, is’n persoonlike ontmoeting – nie oor die telefoon of per e-pos nie – ontsettend belangrik. Sakemense oorleef só die resessie en floreer. Want dis net wanneer jy oorkant ’n belangrike kontak sit dat sy (of hy) jou van haar (sy) veranderende behoeftes en omgewing vertel. Net dan kan jy aan daardie behoeftes voldoen.

Onthou, die krag van netwerk lê nie in die geskatte sowat 250 mense wat elkeen van ons ken nie, maar in die 250 wat elkeen van húlle ken.Jy het dus reeds toegang tot 62 500 kontakte! ’n Reuse-persentasie nuwe besigheid word juis só geskep.

Om te netwerk het talle voordele en dis waar jou mag lê: Jy kry toegang tot private inligting en verskeie vaardighede. Jy hoor wanneer jou mededingers ’n nuwe diens of produk bekend stel en jy kan jouself vra: Hoe kan ons (maatskappy) hulle volgende keer voorspring? Jy kan selfs van ’n pos hoor voor dit geadverteer word. Omdat jy almal en hul vaardighede ken,weet jy presies wie om in watter situasie te kontak.

Onthou: Sy wat eerste weet,wén! ‘Wat kan ek gee?’ en nie ‘wat kan ek kry?’ nie, is hoe jy behoort te dink. Die suksesvolste netwerkers is só ingestel en wonder heeltyd: Hoe kan ek ander bymekaar uitbring? As jy só dink en doen, sal jy algaande baie meer (kontakte) hieruit terugkry as wat jy gee. Maar dit behoort nie eens’n oorweging te wees nie. Elke kontak wat jy by iemand anders uitbring, of met wie jy verbind, moet voordele inhou – vir alle partye.

Selfs al is jy hoe besig, moet jy nie persoonlike ontmoetings afskeep nie. Dis dan dat sukses,soos verkope, begin afneem.Jy kan óral netwerk. Dit verg tyd, ja, maar dit spaar ook baie. Fokus op waar jou talente lê en omring jou met mense wat uitblink in daardie dinge waarin jy nie so goed is nie. Só kan jy hul sterkpunte inspan en hulle kan weer joune benut. Dit is wanneer netwerk werk en jy tyd spaar! Gebruik sosiale media,want dit help om jou persoonlike handelsmerk te bou.

Ongelukkig beteken 5 000 Facebookvriende niks as jy nie jou sakekontakte persoonlik ontmoet en iets vir mekaar beteken nie. Bou jou handelsmerk oral,wees sigbaar. As jy ’n magtige persoonlike handelsmerk het,sal jy makliker kan netwerk. Dit help jou verstaan waar jou waarde lê en wat jou van ander onderskei. Sonder ’n handelsmerk kan jy gesien word as’n no-name brand. Maar jy kan keer dat dit gebeur deur persoonlike ontmoetings.

Wenke

- Netwerk oral: in die hyser, by die tandarts, op die lughawe. Selfs op ’n kinderpartytjie! Jy weet nooit waar jou volgende sake-ooreenkoms vandaan gaan kom nie.

- Sosialiseer met soveel moontlik mense by sosiale geleenthede, maar net vyf tot agt minute elk.

- Wees gesteld op sosiale etiket en keurige taal. Luister aandagtig en vra vrae.

- Wees opreg.

- Laat ander menswaardig voel.

- Bestudeer ’n rolmodel se gedrag en maak dit jou eie.

- Doen sake met meer as een mens per maatskappy ingeval een bedank.

- Sit jou foto op jou visitekaartjie.

- Neem altyd die ander persoon se visitekaartjie, jy kan selfs aantekeninge oor haar daarop maak. Soos: Het ontmoet by xyz, blou oë, blonde hare.

- Probeer name onthou, maak assosiasies.

- Wens kontakte geluk met hul suksesse. Dink oor hoe jy mense bymekaar kan bring en bedank ander agterna as hulle ’n waardevolle kontak na jou verwys het.