Neem só beter foto’s

Drie kenners gee elk hul topwenk:

Koos Rossouw, ’n trust-adviseur van Kaapstad, neem natuurtonele met sy slimfoon af en het al twee uitstallings gehou. Hy sê hy vermy helderblou lug en son soos die pes. “Goor weer sorg vir dramatiese foto’s. Mistige weer is uitstekend, veral mis wat ooptrek, en wolkformasies gee diepte en drama aan foto’s.”

Johann Hattingh is ’n professionele fotograaf van Johannesburg, en het ook al slimfoonfoto’s by sy uitstallings ingesluit. “Slimfoon-kameras het ongelooflik verbeter en jy kan maklik dié foto’s deesdae al A3-grootte druk. Maar dit sukkel nog om donker toestande en skerp kontras te hanteer. Maak dus seker die voorwerp wat jy afneem, is nie half in die son en half in die skadu nie.”

Brandon Ryan, ’n grafiese kunstenaar van Durban, is vanjaar deur iStore SA aangewys as een van die 10 top-iPhone-fotograwe in die land. Hy sê komposisie is álles. “Moenie net die voorwerp afneem nie – soek ’n agtergrond wat dit komplementeer, daarmee kontrasteer, of dit laat uitstaan.”

FOTO Johann Hattingh
FOTO Koos Rossouw
FOTO Johann Hattingh

Grootste fotofoute

Bewerigheid. Slimfone het ’n ingeboude funksie om ’n bietjie beweging te neutraliseer, maar jy moet steeds die kamera so stil as moontlik hou om ’n duidelike beeld te kry, sê Brandon. Druk jou bo-arms teen jou lyf vas of rus jou hande teen iets en asem uit soos jy die foto neem om so min as moontlik beweging te verseker.

Vuil skerms. Jou foon is waarskynlik heeldag in jou sak of handsak en jy raak oral daaraan wanneer jy dit gebruik, en dan wonder jy hoekom jou foto’s wasig lyk. Vee jou skerm met ’n sagte lappie af voor jy foto’s neem om seker te maak daar is nie vingermerke of stof op nie, sê Brandon.

Afstand. Hoe meer jy inzoem, hoe onduideliker word die foto, beweging affekteer die beeld meer, en hoe swakker word die gehalte. Probeer altyd nader beweeg eerder as inzoem, sê Johann. “Daar is natuurlik uitsonderings – moet om hemelsnaam nie uit jou kar klim om ’n luiperd te probeer afneem nie!”

FOTO Brandon Ryan
FOTO Koos Rossouw

Moet jy meer redigeer?

Minder is beter, is die kenners dit eens. Koos sê hy speel eerder rond met die redigeringsfunksies waarmee hy die helderheid, kontras, lig en skadu verander. As hy filters gebruik, is dit gewoonlik Slumber of Ludnig. Johann verander weer aan die kleure (saturation) en soms die kontras, en voeg ’n raam by. “Te veel redigering kan die foto se gehalte verlaag. Dis vir my soos musiek: Meer volume maak nie die liedjie beter nie.”

Kreatiewe blok? Maak só

Ruth Davey, stigter van Look Again wat “mindful” fotografiekursusse in Brittanje en SA aanbied, neem meestal met ’n Canon EOS 2000D foto’s, maar leer mense ook om beter slimfoonfoto’s te neem. Deur bewustelik foto’s te neem, sê sy, leer jy nie net om beter foto’s te neem nie, maar om jou wêreld met nuwe oë te ontdek en om jouself beter te verstaan.

Sy gee dié wenke:

As jy sukkel, stop. Wees stil, maak jou oë toe. Wanneer jy hulle oopmaak, kyk met nuuskierigheid na wat ook al reg voor jou is. Watter kleure, teksture, vorms en patrone sien jy? Probeer dít vasvang.

Bekyk die alledaagse met nuwe oë. Kyk met waardering na jou tuin en huis, en jy sal waarskynlik nuwe dinge opmerk: ’n nuwe plantjie wat opkom, die son wat deur jou sitkamervenster skyn, ’n voorwerp wat ’n interessante skadu gooi. Neem dit af.

Probeer die selfie-uitdaging. Let op na aspekte van jou voorkoms waaraan jy nie gewoonlik dink nie – die tekstuur van jou hare, die lyntjies op jou hande, jou refleksie in water. Só kry jy nie net kreatiewe foto’s nie, maar sal jy waarskynlik ook meer positief voel oor jou voorkoms – dis dan fassinerend!

FOTO Brandon Ryan
FOTO Koos Rossouw

Gewildste onderwerpe

Google-data vir 2015 wys die gewildste foto-onderwerpe is mense, kos, motors, sons-ondergange, strande en berge. Johann gee dié wenke om beter foto’s daarvan te neem:

Mense: Sommige foonkameras het ’n effense vertraging, so skakel die “klanke” van jou kamera af sodat mense nie die sluiter hoor, dink dis klaar en wegkyk nét wanneer die foto geneem word nie. Wees ook bewus van die agtergrond. ’n Lamppaal wat uit iemand se kop “groei”, kan ’n mooi portret bederf.

Kos: Kleur is baie belangrik as dit by kosfoto’s kom, so probeer dit in natuurlike lig vasvang. Kunsmatige lig kan ’n wit bord byvoorbeeld oranje of blou laat lyk.

Troeteldiere: Gebruik “burst mode” op jou slimfoon, sodat dit ’n rits foto’s neem as jy die knoppie druk. Só behoort jy minstens een goeie foto tussen die spul onduidelikes te kry as jou hond of kat beweeg.

Motors: Die beste hoek is ’n driekwart-vooraansig, met die wiele ingedraai, sodat jy die hele motor en die bande mooi kan sien. Gooi ’n wit laken oor die vensters as jy die binnekant afneem om sagte, egalige lig te laat instroom.

Sonsondergange: Om net jou foon na die son toe te mik gaan waarskynlik kleurryk maar vervelig wees. Soek eerder ’n onderwerp om af te neem met die sonsondergang op die agtergrond. Speel rond met die “manual exposure”-funksie om ’n mooi donker silhoeët van die onderwerp te kry met die helder son agter.

Strande en berge: Die sogenaamde goue uur, net ná sonsopkoms en net voor sonsondergang, is die beste tyd vir enige foto, maar veral landskappe. Die lig is sag en egalig, die kontras min, en kleure vertoon mooi en warm