Jy gaan elke dag werk toe, maar êrens langs die pad het jy jou passie verloor. Daardie entoesiasme en ywer waarsonder jy nie suksesvol sal wees nie. Jy begin twyfel of jy hoegenaamd weet wat passie is ... Dis soos vloeiende water wat energie verkry deur langs ’n natuurlike weg in die rivierbedding te vloei, eerder as om opwaarts oor ’n berg gedwing te word, beskryf dr. Zani Dannhauser, bedryfsielkundige aan die Universiteit Stellenbosch, dit.“Dis die kanalisering van energie om só die optimale jý na vore te bring,” sê sy.
Of soos Charles Kovess, skrywer van Passionate People Produce (Hay House, 2005), dit stel: “Moet nooit jou passie ontken nie, want dan ontken jy wie jy is en wil wees.”
As jy bloot werktevredenheid ervaar, is dit tyd om die passie terug te sit. “Niks groots is al daarsonder bereik nie,” sê Elmer Groenewald, sielkundige van Durbanville.
Emo Adams, sanger, akteur en skerpskertser, wat al wêreldwyd opgetree het, is veral in die nuus oor sy musikale huldeblyk aan die vermoorde Taliep Petersen. Hulle het 20 jaar lank saamgewerk. Met Kind van Distrik 6 wil Emo dié musiekvervaardiger se naam so lank moontlik lewend hou. “Want Taliep sal altyd my passie aanvuur,” sê hy.
Emo glo hy sou nêrens sonder passie gekom het nie. “Ek is verlief op my werk en gee altyd 150persent.”Só ook Ria Engelbrecht, produksiekoördineerder en skakelhoof van Pieter Cilliers Produksies, wat Kwêla op kykNET vervaardig. “Omdat ek absoluut gaande is oor my werk en dit regtig geniet, is elke dag vir my betekenisvol,” sê sy.Elmer reken passie is ’n kragtige, vurige emosie. Zani sê dis ’n deurslaggewende en onderliggende bron van energie. “Jou energievlakke is wesenlik hoër wanneer jy ’n beroep beoefen wat selfbevorderlik is, een wat jy nie moet voorgee jy geniet nie.”
Passie het ’n noue verband met werkmotivering en toewyding, voeg Sarah Riordan, beroepsielkundige van Kaapstad, by. Sy stel voor jy vra jouself die volgende vrae af om jou passievlak te bepaal: Hoe voel ek oor my werk?Reflekteer my optrede dié gevoel? Watter rol speel my werk in my lewe? Hoe baie dink ek daaraan? Waar pas dit in die rangorde van familie en gemeenskapsdiensin? Elke lewenstadium stel verskillende uitdagings waarin jy jou werk en lewe moet integreer, dus kan jou passie wissel, sê sy.Streef egter daarna, want passie gee jou visie, spoor jou aan en laat jou ’n lewe van oorgawe leef, sê Zani. As jy passievol is, het jy ’n diepgewortelde entoesiasme vir en toewyding aan jou werk, ’n duidelike fokus en innerlike sekerheid oor wat vir jou belangrik is. Jy weet ook wat jou doel of missie is, sê sy.Emo weet waarvan Zani praat. “Ek is só gefokus dat ek nooit nodig het om myself aan te moedig nie,” sê hy. Hy kyk ook voortdurend na die groter prentjie. “Ek weet presies waarheen my lewe op pad is.” Ria vertel sy vind ook inspirasie in die groter prentjie. Sy noem dit “die Kwêla-familie”.
“Dit gaan nie oor hoe ék die dag voel nie. Wat saak maak, is Pieter Cilliers Produksies, Kwêla en die besef dat my bydrae die ‘gesin’ help funksioneer. Ek skuif my eie gevoelens opsy en gee só my beste,” sê sy.

Die voordele is legio

Passie het verskeie voordele, sê Elmer.
  • Jy word nie so gou moeg nie, want jy’t meer energie.
  • Omdat jou gees opgekikker is en jy doen waarvan jy hou, is jy boonop minder geneig tot depressie, sê dié sielkundige.
  • Jy is meer suksesvol en sal ook ’n groter bydrae kan lewer tot die sukses van die maatskappy.
  • Jy kry veel meer gedoen, sê Zani. “Want jy mors nie tyd met bekommernisse oor wat jy volgende moet doen nie. Jy maak ook nie planne om verantwoordelikhede te ontduik of droom heeltyd oor vakansie hou nie.”
  • Jy doen jou werk beter. Omdat jy omgee, is jy met net jou beste tevrede. Jy is ook meestal die een wat bevorder word. Kortom: Jy het meer werkbevrediging.
  • Jou kollegas kan jou energie aanvoel en jy steek hulle aan met jou passie. “Entoesiasme kan jy nie naboots nie,” sê Elmer.
  • Jou kliënte vra vir jóú. Jy sal boonop maklik nuwes kan werf. Die groot vraag is natuurlik: Hoe kies jy die regte werk, die een waaroor jy passievol is? Waak daarteen om ’n werk vir die geld of ’n bepaalde beeld te kies, sê Elmer. Jou belangstelling kom eerste.
 
 
Zani reken jy behoort eers die sleutelelemente van wie jy werklik is, te identifiseer.Skryf al jou belangstellings en liefdes neer. Oorweeg dan loopbaanmoontlikhede wat hieraan voldoen.
Ondersoek die inhoud én konteks van die werk, sê Sarah. Die inhoud verwys na take, aktiwiteite en nodige vaardighede. Die konteks verwys na die organisasiekultuur, waardes, die etiese raamwerk en/of leierskapstyl. Dit omvat ook werkomstandighede en bevorderingsgeleenthede, als wat jou werktevredenheid sal beïnvloed.
 Vra ander wat jou sterkste eienskappe is en oorweeg ’n werk in dié rigting. As jy nie weet wat jou passie is nie, loop kursusse in persoonlike ontwikkeling. Leer jouself só beter ken, skryf Charles Kovess. Of doen ’n slag iets anders. Emo het al op nege begin dans, maar eers sy passie ontdek toe hy na David Kramer en Taliep Petersen se District Six - The Musical gaan kyk het. “Hulle het ongelooflike stories met musiek vertel en iets daarvan het in my kop bly vassteek,” vertel hy. Vra jouself ook die volgende vrae
  • Sal ek die werk geniet, en indien wel, waarom?
  • Stem die werk ooreen met my geestelike en morele oortuigings? Verwag hulle dalk dat ek teen my beginsels op ’n Sondag moet werk?
  • Voldoen die werk aan my waardes soos vertroue, regverdigheid, warmte en persoonlike groei?
  • Bied die werk genoeg uitdagings, bevorderingsmoontlikhede en sekuriteit?
  • Verkies ek spanwerk?
  • Wil ek meer betrokke by gemeenskapsake raak?
  • Wat is my wrewels? Dalk kan ek my teenstand teen kinder- of dieremishandeling in ’n werk omskep.
  • Wil ek ’n bestuurder of eerder ’n tegniese spesialis word?
  • Wat gee my dryfkrag? Kreatiwiteit, mense, ’n doel, prestasie, navorsing, prestige, handewerk, tale, wetenskap of wiskunde, ’n mooi landskap, mooi voorwerpe, skoonheid of adrenalien? Die uitslag kan jou beroep bepaal, sê www.jobjournal.com
  • Het ek ’n besondere vaardigheid soos om goed met ander te kan skakel?
  • Hou ek daarvan om met apparate soos ’n rekenaar, naaimasjien of mikroskoop te werk?
  • Sal my stokperdjie ’n heeltydse werk kan word?
Kry dit nóú terug
Indien jou werkpassie effens getaan het, kan jy dit weer terugkry, sê Elmer. Maar jy moet oorgaan tot aksie. Kom uit jou groef. Kyk nuut na jou werk. Doen dinge op ’n nuwe manier. As eenmetode nie werk nie, vind ’n ander een. Vra om deel te word van ’n spesiale projek of span. Of kry ’n mentor. Beskou verandering of probleme as uitdagings. Probeer om jou werk aan te pas of uit te brei om jou persoonlikheid beter te pas.Tree passievol op, sê Zani. Gebruik jou passie om projekte aan te pak, kreatiewe oplossings vir moeilike probleme te vind en interpersoonlike konflik op te los. As jy passievol optree, hoef jy nooit weer deur’n vervelige vergadering te worstel nie, sê sy.Jou passie en energie sal ook jou kollegas meer energiek maak. “En al gebeur dit nie, sal jy ten minste goed voel omdat jy iets daadwerkliks gedoen het aan ’n saak waarin jý glo.” Sien om na jou liggaam en siel, en kom só weer in aanraking met jou hart, sê www.selfgrowth.com Passie is ’n gevóél, nie ’n kopding nie.Waak teen verveling deur heeltyd nuwe uitdagings te soek. Skuif jou doelwitte ’n bietjie hoër of skep nuwes. Dis presies wat Emo doen, vandaar sy “nuwe Afrikaanse loopbaan”. Dit het begin met optredes in vertonings soos Ghoema en ook ’n Huisgenoot-konsert. Sy nuwe projek is sy eerste CD, Tall, Dark & Afrikaans, ook die eerste met ’n big band-klank in Afrikaans.“Ek het besonder hard gewerk om my nuwe uitdaging te laat realiseer,” vertel hy. Emo het vooraf marknavorsing gedoen en elke ander big band-CD aangeskaf en bestudeer. “Dis nóg ’n ding van passie, jy moet jouself voortdurend oplei,” reken hy.
 
  “Ek’s so gefokus, ek het nooit nodig om myself aan te moedig nie” - Emo Adams, sanger en akteur
 
Inspireer en motiveer jouself.
Ria sê sy staan soggens op met die wete sy’s bevoorreg om ’n interessante, uitdagende werk te hê. Sy volg moontlike Kwêla-insetsels op, hanteer kykersnavrae, help beplan die skiet van insetsels en die reël van ateljeegaste. “My verantwoordelikheid teenoor mense en diere kry my soggens aan die gang,” sê sy. Maar daar is ook dae dat sy eerder wil tuisbly, soos met ’n persoonlike krisis.“Dan wil ek net die duvet oor my kop trek en bly lê. Maar ek het geleer dis die doodskoot vir jou dag.” Sy strek eerder bietjie, stap met haar honde en gesels met “die Man daarbo”.Dikwels kanaliseer sy doelbewus haar gedagtes in ’n positiewe rigting. “Ek sê vir myself: Pieter (Cilliers) het jou die kans gegee, gebruik dit.” Sy fokus ook graag op die lekkerste deel van haar werk: die interaksie met mense op alle vlakke, kykers en kollegas. “Dis ook ’n voorreg om deel te wees van ’n program wat weekliks inspirerende stories uitsaai.” En boonop die top-program op kykNET is! Hou inspirerende artikels en e-posse, en lees hulle gereeld. Maak jou werkomgewing mooi, interessant en lekker.Kommunikeer weer met jou kollegas. “Interaksie bring warmte,” sê Elmer. Dink weer hoekom jy destyds hierdie werk wou hê. Wat was toe jou prioriteite en drome? (www.nationalseminarstraining.com) Maak jou werk weer plesierig. Open die brug wat jy ontwerp het met vonkelwyn!
Sien, soos Emo en Ria, die groter prentjie. Besef jou brug bring mense veilig anderkant. Gesels met jou bestuurder oor die redes vir jou gebrek aan passie, en los probleme op. As jy reken jy verdien meer positiewe terugvoer, vra daarvoor. Sukses-ervarings skep passie. Emo sê die positiewe terugvoer van sy gehoor is baie inspirerend. Daardie eerste 15 minute op die verhoog is vir hom die lekkerste.“Dan sien ek hul gesigte en hul verwagtinge. Sommige ken my glad nie, ek moet hulle aan my kant kry. As hulle dan net vir ’n tydjie van hul probleme vergeet, het ek in my doel geslaag.” Dan voel dit asof hy ’n toekenning gekry het. “Maar eintlik gaan dit net oor erkenning.”Ria sê sy waardeer ook positiewe terugvoer. Soos wanneer kykers laat weet hulle het Kwêla baie geniet, of ’n regisseur sê dankie vir haar hulp. “Maar ek is nie afhanklik van terugvoer nie. Dit gaan dol, ’n mens kan dit nie altyd verwag nie. Soms moet jy sommer vir jouself sê: Welgedaan! En jouself só herinner dat jy tog ’n verskil maak.”Reflekteer gereeld oor werksuksesse, sê Elmer. En moenie jouself met ander vergelyk nie. Skep jou eie definisie van werksukses. Dit hang van jou af of jy ontwikkel en groei. As daar bevorderingsmoontlikhede is, stel jou kop daarop in. As jy werkprobleme ervaar of onseker is oor iets van jou werk, vra raad of kry professionele hulp van bv. die menslikehulpbron-afdeling. Oordink en waardeer die byvoordele van jou werk, soos fleksietyd, wonderlike kollegas en ’n bestuurder wat jou respekteer.
Sien jou eie vaardighede raak, gebruik dit en wees trots daarop. Omring jou met ondersteunende kollegas en moenie aan negatiewe gesprekke deelneem nie. Praat altyd positief oor jou werk en kyk positief daarna. Emo moet gereeld weg van sy huis in Johannesburg - dis “die minder goeie deel” van sy werk. Maar wanneer hy dan in die Kaap is, bel en besoek hy sy ouers gereeld. Want hulle het hom nog “altyd aangevuur”.Dalk het Martin Luther King Junior, Amerikaanse menseregteleier, werkpassie die beste opgesom: As jy geroep word om ’n straatveër te word, moet jy strate vee soos wat Michelangelo geskilder het, soos Beethoven musiek gekomponeer het of soos Shakespeare poësie geskryf het. Jy moet die strate só goed vee dat ander sal stilstaan en sê: “Hier woon ’n straatveër wat sy werk uitmuntend doen.”

Wanneer moet ek eerder bedank?

Dis natuurlik dat jou passie soms sal taan en jy meer van sommige aspekte van jou werk sal hou as ander. As jy ’n groot deel van jou werk verpes, beweeg aan. Maar dit verg moed.
Besliste tekens van ongelukkigheid sluit in: Jy wil nie soggens opstaan nie en is terneergedruk, sê Elmer Groenewald, sielkundige. As dit langer as twee weke aanhou, is jy dalk depressief. Kry professionele hulp. Vra jouself die vrae hieronder. Jou antwoorde sal aandui of jy dit moet oorweeg om te bedank, sê ons kenners.
1. Is ek nog opgewonde oor my werk en daag dit my uit, of is ek verveeld en gefrustreerd?
2. Vervul my werk my met energie, kreatiwiteit en entoesiasme?
3. Hoeveel tyd bestee ek aan my werk? (Dit sluit dinktyd daaroor in.)
4. Ervaar ek ’n gevoel van behaaglikheid?
5. Is my werkwêreld hard en koud en net op feite gegrond?
6. Doen ek my werk al meganies?
7. Vlieg die tyd of sit en wens ek dit om?
8. Het ander al vir my gesê ek’s nie my ou self by diéwerk nie?
9. Is my gesin gelukkig met my werksituasie?