Die geldsake knyp, petrolpryse styg, kos is duurder en die skuld hoop op. O wee! En nou hoor ons van nóg ’n resessie.

Ja, Suid-Afrika is in ’n tegniese resessie, volgens syfers wat pas deur Statistieke Suid-Afrika bekend gemaak is. Tegniese wát?

Volgens die ekonoom Dawie Roodt is 'n tegniese resessie wanneer ’n land se ekonomie twee kwartale agtereenvolgens krimp.

En ’n tegniese resessie beteken groter werkloosheid.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Dawie deel die volgende wenke:

- Moenie die situasie vererger nie. Behou jou werk, wees produktief en onmisbaar, werk hard.

- Moenie onnodige uitgawes aangaan en skuld maak nie.

- Beplan, beplan, beplan. Wees slim en beplan slim vir die toekoms. 

Jy bly net nie by nie en die einde van die maand lê nog ver ... Kenners sê as jy in beheer wil voel van jou finansies, is die eerste stap om te weet wat met jou geldsake aangaan.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Hier's vier geldwenke as die geldsake knyp:

1. Stel ’n begroting op

’n Behoorlike begroting help jou om jou geldsake op koers te hou – of jy nou wil spaar, skuld vermy of afbetaal, of ’n strenger oog wil hou oor jou uitgawes, sê Graham Craggs, woordvoerder van Budget Insurance.

2. En wat van daai skuld

Weet jy nie waar om te begin met jou skuld nie? Betaal die heel duurste skuld eerste af (die een met die hoogste rente) of die rekening wat die naaste is aan afbetaal. Gebruik dan die geld wat jy spaar om die volgende skuld te takel. Sluit onnodige rekeninge en beperk jouself tot een of twee belangrikes.

3. Spaar vernuftig

Onthou, selfs die kleinste aanpassing/besparing maak op lang termyn ’n groot verandering.

- Gebruik internet- en selfoonbankdienste om rekeninge te betaal.

- Vra afslag waar jy kan. En benut spesiale aanbiedings soos dié by skole waar jy dikwels in die begin van die jaar korting kry as jy die volle bedrag vir die jaar se skoolfonds of aktiwiteite vooruit betaal.

- Koop basiese goed by die groot maat.

- Maak leefstylveranderinge – as jy en jou maat op dieselfde roete ry, pendel saam. Beplan jou ritte beter. Koop ’n maandelikse buskaartjie.

- As julle besluit om in te kort, sorg dat die hele gesin verstaan en saamwerk.

4. Verdien ekstra geld

Daar is baie maniere om wettig geld te verdien as jy net jou vaardighede inspan, maar die mees voor die hand liggende oplossing vir ’n kits-geldinspuiting is om van al jou ongebruikte goed ontslae te raak. Die dagblad Beeld berig ’n onlangse meningspeiling deur die aanlyn advertensiediens Gumtree het getoon hoe graag Suid-Afrikaners artikels opgaar – sommige kan selfs vir duisende rande verkoop word as die eienaars net bereid is om daarvan af te sien.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Só stel jy ’n begroting op

- Maak twee lyste: een van jou inkomste en een van al jou uitgawes.

- Prioritiseer nou jou uitgawes. Nommer een op dié lys is jou skuld. Daarna skryf jy jou ander noodsaaklike uitgawes neer soos jou huispaaiement, petrol, kos en versekering. Heel onder op jou lys van uitgawes is dan luukshede soos fliek en uiteet.

- Begroot ook vir onvoorsiene uitgawes soos doktersbesoeke of verjaardaggeskenke. Dan hoef jy nie skuld te maak om dit te betaal nie. As jy die maand geen onvoorsiene uitgawes gehad het nie, gebruik daardie geld om jou skuld te betaal.

- Tel elke lys se totale bedrag op en kyk of jou begroting klop. As jou inkomste minder as jou uitgawes is, begin dan van onder af op jou lys van uitgawes sny (dus die luukshede soos fliek en uiteet).

- Hou by jou begroting, al is dit hoe moeilik. Jy gaan dalk die eerste maand of twee sukkel, maar daarna word dit al hoe makliker en dis naderhand ’n gewoonte om daarby te hou.

- As jy aan die einde van die maand geld oor het, betaal dit ook op jou skuld af. Jou begroting moet realisties wees, sê René. “Onderskei tussen dit wat jy moet hê en dit wat jy wil hê. Maar moenie al jou ‘wil-hê-items’ sny nie. As jou begroting te streng is, is die kans goed dat jy binne ’n maand of twee daarvan gaan afwyk.”