Rondloperbrakke, bergies en die hongeres in Afrika. Ander se ellende maak Lana* se hart week. Sy steek maklik haar hand in haar sak daarvoor. “Gee en vir jou sal gegee word,” is haar leuse. Haar man, Frans*,skud sy kop. Hy het ’n meer praktiese benadering tot die lewe én geld. Geld het vroeg al in die huwelik tot struwelinge gelei. Hulle het afsonderlike bankrekeninge, maar sy kyk nooit na ’n bankstaat nie. Die woord “begroting” is nie in haar woordeskat nie. Tot albei se verligting het hy mettertyd ook haar geldsake oorgeneem. “Dis vir hom lékker,”sê Lana ongelowig.

Frans, heelwat ouer as sy, het in sy vyftigs besluit om meer geld vir hul aftrede weg te sit. Bo en behalwe hul pensioenfondse. Skielik is elke sent vir hom belangrik en dit word twee keer omgedraai. Dit maak Lana gedaan en die vonke spat gereeld.“Hy sê hy gee nie om dat ek geld op myself bestee nie, maar hy trek die streep by die hele wêreld se behoeftiges. Dit help nie ek sê ek het nog baie produktiewe werkjare oor nie, hy glo ons moet voorbereid wees op alles. Oor dié een sal ons nooit saamstem nie. Ons filosofie oor geld (en die lewe) is net te uiteenlopend.”

Geld, die slang in die huweliksparadys? Sowat 37% van egpare sê dis die grootste oorsaak van konflik in die huwelik, sê Elma Bartlett,’n kliniese maatskaplike werker van Johannesburg wat fokus op huweliks-, gesins- en trauma-terapie. “Geld maak ’n klomp emosies wakker. Dis gelyk aan mag, sekuriteit en geleenthede en veroorsaak baie angs. Dit reflekteer jou sleutelwaardes. Dis waarom pare nie rustig daaroor kan praat nie.” Daar is selfs navorsers wat meen rusies oor geld is die vernaamste voorspeller van egskeiding.

Pieter du Plessis, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, meen dis ’n bietjie meer ingewikkeld.“Rusies oor geld word dikwels in huweliksterapie genoem, maar hou verband met baie ander kwessies in die huwelik. Navorsers se bevindings daaroor is dus dikwels uiteenlopend.” Dit is soos ’n spinnerak, verduidelik Pieter. As ’n gogga in ’n enkele draadjie daarvan vasvlieg, vibreer die hele spinnerak.

Dus: Is dit geld waaroor julle baklei, of het ander faktore die rusie oor geld veroorsaak?’n Voorbeeld: ’n Egpaar het ’n rebelse kind met gedragsprobleme. Pa en Ma het ’n hewige rusie oor Boetie se selfoonrekening. Pa betaal maar, terwyl Ma kla sy kan nie die nuwe handsak koop wat sy begeer nie. Gaan dit oor geld, of ander dieperliggende kwessies soos dissipline, prioriteite en gesinsverhoudings? Dis dus die oeroue vraag: Wat kom eerste, die hoender of die eier?

Gee jy uit of spaar jy?

Mense benader geld op verskillende maniere. Daar is baie variasies wat hoofsaaklik in twee hoofgroepe verdeel kan word.

Die een groep koop.

(Word deur hul maat gesien as ’n “verkwister”, “kompulsiewe koper”.)

Geld is kosbaar oor wat dit vir jou kan dóén. Dit kan op talle maniere ingespan word om jou meer tevredenheid, plesier, opwinding en vreugde te gee.In ruil vir die regte goedere en dienste (of deur die gee van geskenke) dra dit by tot jou sekuriteit, onafhanklikheid, geluk en welstand. (www.psychologytoday.com)

Pieter verduidelik: Soos wat sommige mense van middels (soos alkohol en pynstillers) en dobbel afhanklik is, koop ander. Jy reageer impulsief op daardie drang om te koop, sonder om oor die finansiële gevolge te besin. Natuurlik val alle mense wat graag geld uitgee, nie in die groep nie. Vir sommige mense is die waarde van geld eenvoudig nie so belangrik nie. Dis die kreatiewe denkers en dromers, die sogenaamde regterbrein-mense. Jy droom en sien die geheelprentjie raak sonder om alles fyn te analiseer. Jy sien byvoorbeeld jou gesin heerlik in ’n viertrekvoertuig vakansie hou,sonder om die rente op en waardevermindering van die voertuig te bereken.

Die ander groep spaar.

(Word deur hul maat gesien as “vrekkerig”, “’n opgaarder”, “suinig”.)

Geld beteken stabiliteit, sekuriteit, mag en beheer en moet gekoester word. En omdat dit so kosbaar is, gee jy dit nie wild en wakker uit nie. Dit moet nougeset belê word. (www.psychologytoday.com)

Pieter verduidelik: Jy het ’n maandelikse begroting, spaar die volle bedrag voordat jy iets groots koop, vermy skuld en belê genoeg vir jou aftrede. Die yskas se deur word vinnig toegemaak en die ligte afgeskakel om krag te bespaar. Jy is ’n sogenaamde linkerbrein-mens wat op die fyner detail let en moontlikhede analiseer. Voordat die viertrekvoertuig gekoop word, oorweeg jy die finansiële implikasies daarvan. Voorts is jy meer bewus van die waarde van geld en hoe om dit ekonomies sinvol te gebruik. (Jou ekonomiese intelligensie is waarskynlik hoër as die eerste groep s’n.) Jy is meer gesteld op orde, roetine, dissipline en hou van struktuur. Jy kan soms neig om obsessief te wees. Alles word vooraf goed deurdink en moet volgens plan en binne ’n bepaalde orde verloop.

Wat bepaal jou benadering tot geld?

Dis ’n kombinasie van jou gene en hoe jy grootgeword het, sê Pieter. Jy kan dit ook aanleer. Dit hou verband met jou waardes en uitkyk op die lewe. Bepaal geld en status jou selfbeeld en geluk? Of is daar ander dinge in die lewe wat vir jou belangriker is?

Jy het boonop die vermoë om keuses te maak en wilsbesluite te neem.Iemand wat van nature ’n verkwister is, kan besluit om iets daaromtrent te doen,selfs al moet jy by kenners aanklop.’n Obsessiewe spaarder kan eweneens besluit om nie meer so suinig te wees nie. Jy sal dus besluit om minder rigiede finansiële besluite te neem en dinge te geniet sonder om altyd eers die koste daarvan fyn te bereken. Sielkundiges help dikwels rigiede mense om bewus te raak van hul obsessiewe persoonlikheidstrekke en hoe om met behulp van denkpatroon-veranderinge meer buigsaam te wees,sê hy.

Hoe gemaak as julle van Venus en Mars afkomstig is as dit by geldsake kom? Hoe word die twee pole versoen? Ons leef in ’n tyd waarin die ekonomie knel,sê Pieter. Alles word duurder en inflasie bring mee dat die sente in jou sak minder werd is. Baie mense is boonop die slagoffer van herstrukturering en werkloosheid. Jou aftrede sluip nader. Jý wil dalk aan elke sent vasklou, terwyl jou man voel julle moet darem ook die lewe geniet, dat julle nie net vir jul oudag kan leef nie.

Die antwoord is om jouself beter te leer ken, begrip vir mekaar te hê en doeltreffend te kommunikeer, sê Pieter. “Verskeie navorsers het gevind geld as sodanig is nie noodwendig die voorspeller vir egskeiding nie, maar die wyse waarop konflik hanteer word. Ek sien dit ook in my praktyk. As jy byvoorbeeld nie bereid is om met jou huweliksmaat te onderhandel nie, nie empaties luister nie en te rigied vasklou aan jou eie oortuigings,staan jy in die pad van versoening,”sê hy. Volgens Elma moet julle nie teenoor mekaar te staan kom en ’n wen-verloor-situasie skep nie. Hanteer dit soos enige ander konflik. Dis julle probleem sáám: Julle kan nie ooreenkom hoe om geld uit te gee nie. Práát ook oor jul emosies rondom geld: “Dit maak my bekommerd/angstig.” Of: “Dis vir my belangrik om ’n mooi plek te hê.”

Bestuur jul geldsake

Geld beteken baie meer as blote rand en sent. Dit beteken kontrole, vryheid en drome. Bepaal wat geld vir elkeen van julle beteken.

Lê die probleem werklik by geld? Of is daar dalk ander onderliggende probleme wat veroorsaak dat julle stry?

Bespreek elkeen se geldpersoonlikheid. Hoe jy oor geld dink, wat dit vir jou beteken en hoe dit jou lewe en doelwitte beïnvloed. Kortom: Is dit vir jou lekker om te spaar, of om geld uit te gee?

Baie mense se optrede en gevoelens teenoor geld kom uit hul verlede. Die voorbeeld en riglyne wat in jou ouerhuis gestel is, gee normaalweg aanleiding tot jou denke en optrede jeens geld. soek die oorsprong van die probleem en die oplossing kan makliker gevind word.

Ontleed jul finansiële posisie. Sit alle skuld en maandelikse uitgawes onder ’n vergrootglas. Wees eerlik met mekaar en moenie verwyte rondslinger nie. Dit behoort elkeen se swak en sterk punte uit te wys en sal ’n aanduiding gee waaraan julle die meeste moet werk.

Besluit saam oor finansiële doelwitte wat vir julle albei belangrik is. Hoe vinnig wil julle jul skuld afbetaal, wat is jul planne vir aftrede. En moenie vergeet van daardie oorsese vakansie waaroor julle nog altyd gedroom het nie.

Begroot, begroot, begroot. Geen huishouding kan funksioneer sonder ’n deeglike begroting nie. Bepaal ook wie verantwoordelik is vir watter betalings. Gaan julle ’n gesamentlike bankrekening hê of jul geld afsonderlik bestuur? Dis baie belangrik dat daar vir elkeen ’n “spesiale geldjie” opsy gesit word waarvoor julle nie aan mekaar verantwoording hoef te doen nie.

Die belangrikste reël van finansiële onafhanklikheid: sit 10% van jul geld opsy en laat dit vir julle werk (die wonder van saamgestelde rente). Maak dié reël deel van jul begroting. As dit nie moontlik is nie, begin met ’n kleiner bedrag, solank julle spaar.

Julle het nou ’n plan en begroting om jul finansies op koers te hou en jul huwelik van die rotse weg te stuur. Hersien dit gereeld en maak seker julle is nog op koers.

Kry hulp by ’n kenner as julle onseker is oor die rigting wat julle moet inslaan.

Bron: Anria van Heerden van Pretoria, ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer; www.forbes.com

Mars en Venus versoen

  • Begin deur jouself, met die hulp van ’n sielkundige indien nodig, te ontleed.Wees bewus van jou benadering tot geld. Besef hoekom dit so is, byvoorbeeld hoe jy grootgeword het, jou vrees vir armoede, hoe jou persoonlikheid daartoe bydra (is jy rigied, obsessief ordelik of happy-go-lucky?), jou aanpassingsvermoë in veranderende omstandighede, ensovoorts,sê Pieter.
  • Dit is ook nodig om jou maat goed te ken en begrip te hê vir sy/haar persoonlikheid,sienings en gedrag. Dit kan jou baie help om hom beter te verstaan en hom te oortuig dat sy benadering tot geld nie in jul beste belang is nie.
  • Besin oor jou waardes. Don’t keep up with the Joneses, they are bankrupt! Daar is dinge in die lewe wat belangriker as jou finansiële posisie is. Sonder om onverskillig oor geld te wees, want dit is ook ’n simptoom van gebrekkige waardes en selfdissipline, sê Pieter.
  • Werk aan jou selfbeeld. “Ek sien so dikwels dat mense se waarde afhang van hoeveel geld hulle verdien. Hulle voel minderwaardig as hulle nie baie geld het nie. Mense word dikwels gemotiveer om suksesvol en ryk te wees. Dit bring egter geen geluk nie. Ons moet eerder streef na sin en betekenis in ons lewe–dan sal geluk volg,”sê Elma.
  • Dit is belangrik dat julle mekaar goed leer ken voor julle trou. Práát met mekaar, sê sy. Oor jul persoonlikhede, verwagtinge oor geld en die huis waarin julle grootgeword het: Hoe versigtig het jou ouers met geld gewerk? Dis ook ’n generasieding: Die generasie wat in die Groot Depressie (die jare dertig) grootgeword het, kyk byvoorbeeld mooi na hul geldjies, terwyl die baby boomers (die generasie daarna) makliker skuld maak.

Praat oor jul waardes. Is jul geluk gegrond op geld en status, of is daar ander dinge wat meer tel as besittings? Bespreek moontlike finansiële scenario’s en hoe julle dit gaan hanteer. Pieter beveel ’n huwelikskontrak aan rakende jou,sy en jul besittings.“Maar onthou, die lewe verander en omstandighede verander. Julle moet kan aanpas by verandering en onvoorsiene finansiële eise,”sê hy. Selfkennis, eerlike gesprekke en begrip as julle oor geld koppe stamp, bly dus die sleutel tot geluk – geld of nie!

KONTAK

Elma: 082 920 0437, elma@barnau.co.za

Pieter: 083 283 2050, pieterdps@gmail.com

Anria: 0861 55 3333, anria@anriavanheerden.co.za

Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se Mei 2013-uitgawe verskyn. Besonderhede kon sedertdien verander.